Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman
gestuur het. Selfs in my wildste drome het ek nie gedink dat dit my by iemand soos jy sou laat uitkom nie. Ek het gesê ek is skaam vir meisies. Ek is, al lyk dit nie so nie. In die teenwoordigheid van ’n vreemde aster is my tong gewoonlik in tien knope geknoop en my hande natgesweet. Maar nie by jou nie. By jou voel ek op my gemak, asof ons ou vriende is. Ek het geweet dit sal só wees. Reeds by die lees van jou eerste brief het ek ’n drang ervaar om jou persoonlik te ontmoet. Dis hoekom ek so voorbarig was om te vra of ons een aand saam kan uitgaan of na ’n toneelopvoering kan gaan kyk.”
“Dit was nie voorbarig van jou nie.”
“Dit was, en dis lief van jou om te stry.”
Mynie wonder hoe dit moontlik is dat hierdie fantastiese mansmens eensaam en verstote kan voel. Sy sou gedink het die meisies staan tou om hom gevang te kry en kansel toe te sleep. Hoe is dit moontlik dat hy nege jaar lank die vangnette ontsnap het en ’n alleenlopende wewenaar gebly het?
“Het jy lus om iewers te gaan eet, Mynie, of is daar dalk ’n toneelopvoering of ’n fliek wat jy graag wil sien?”
“Wat wil jy graag doen?” vra Mynie inskiklik.
“As ek kan kies, wil ek liewer nie in ’n stampvol gehoorsaal gaan sit waar ek na die verhoog moet kyk en nie met jou kan gesels nie. Sal ons eerder iewers gaan eet?”
“Dit sal heerlik wees, dankie.”
“Waar?”
Terwyl sy aarsel en aan ’n restaurant probeer dink waar sy nie saam met Heinz du Preez was nie, kry Conrad ’n blink gedagte. Hy wil dit voorstel, maar besluit dan dat dit moontlik nie billik teenoor Mynie Cronjé sal wees nie. Sy het so ’n mooi rokkie en nuwe skoene aan en sy was heel duidelik vanoggend by ’n haarkapsalon …
“Wat wou jy voorstel?” vra Mynie toe hy begin praat en dan weer stilbly.
“Nee, dit sal sonde wees om jou nie uit te neem en so af te wys dat die hele Johannesburg kan sien met watter oulike nooientjie ek vanaand ’n afspraak het nie.”
Mynie snap eers nie wat hy bedoel nie, dan lag sy. “Was jy lus dat ons tuisbly, dan maak ek aandete vir ons?”
“Tuisbly, terwyl ék aandete maak,” korrigeer Conrad haar. “Iemand so mooi soos jy kan nie nog boonop handig wees nie. Ek sal kos maak terwyl jy by my in die kombuis kuier en net sit en mooi lyk.”
Mynie dink bekommerd aan haar leë kombuiskaste, maar dis asof Conrad Duvenhage ook oor ’n sesde sintuig beskik.
“Ek weet daar is ’n goeie supermark naby jou woonstelgebou. Ek sal alles daar gaan koop wat ek nodig het vir spaghetti à la Calamaretzioni.”
“Wat is spaghetti à la Cala …?”
“My eie konkoksie. Die agt en twintigste manier waarop ’n mens spaghetti kan opdis – en die nuwe resep wat ek beloof het om jou te leer. Stap jy saam, dan gaan koop ek gou die spaghetti, inkvis, seekat, garnale, tamaties en speserye.”
By die voordeur steek Conrad berouvol vas. “Ek het nooit eens gevra nie … Ek is jammer, Mynie, maar eet jy allerhande soorte seekosse?”
Mynie gril vir garnale en krewe wat met stekelrige voelers en tentakels op jou bord lê en jou met verwytende oë aanstaar as jy jou mes en vurk optel. Sy sê dit egter nie vir Conrad nie. Saam met hom sal sy enigiets eet, selfs droë brood en water geniet.
“Ja … ja, ek het nie fiemies nie.”
“Piekfyn. Dan maak ek ook vir ons ’n kreefvoorgereg. Sal ons gou winkel toe gaan?”
Vanaf die kussing wat Conrad vir haar met groot sorg op die kombuisblikkie neergesit het en terwyl sy besig is om kaas te rasper – iets wat Conrad eers nie wou toelaat nie omdat dit haar mooi hande sal verniel – vra Mynie: “Het jy … baie antwoorde op jou advertensie in Profiel ontvang?”
“Elf.”
“En vir al die meisies teruggeskryf en … en gaan kuier?” Mynie is vies vir haarself oor die gevoel van jaloesie wat skielik in haar opgewel het.
“Nee.” Conrad glimlag baie mooi vir haar. “Uit hoflikheid het ek alle eerste briewe beantwoord, maar bygevoeg dat ek ongelukkig nie in verdere korrespondensie belangstel nie. Dis net vir jou wat ek aanhou skryf het. Jy is ook die enigste een vir wie ek gaan kuier het.”
“O …”
Conrad se laggie is tergend. “Is dit al wat jy kan sê? O … Is jy nie verlig nie?”
Mynie bloos skielik weer en weet nie wat om te sê nie. Met Heinz was dit twee jaar gelede amper dieselfde. Ook hy het haar voete met die eerste ontmoeting onder haar uitgeslaan, haar blosend en hakkelend en stamelend gelaat. Maar nie so erg soos vanaand nie … Weet Conrad Duvenhage watter uitwerking daardie half skaam, half tergende glimlaggie op ’n meisie se hart het?
“Ek is bly jy het geskryf jou vriende noem jou Mynie,” sê Conrad. “Maryna is ’n groot mondvol vir so ’n fyn ou mensie soos jy.”
Hy weet nie dat sy amper sestig kilogram weeg nie, dink Mynie skuldig. Hy dink sy is ’n skamele ses-en-vyftig. Skielik voel sy lus om te bieg. Hulle verhouding moet op die regte grondslag begin. Daar mag nie valshede en onwaarhede tussen hulle wees nie.
“Conrad …” begin sy verleë.
Conrad Duvenhage lyk verras. “Ek het al begin dink jy sal dit nooit regkry om my op my voornaam te noem nie. ’n Paar keer was ek meneer Duvenhage, maar dis die eerste keer dat jy my Conrad noem. As dit dalk vir jou makliker is, kan jy Connie probeer. Baie van my vriende noem my so.”
Dis seker wat sy vrou hom genoem het, dink Mynie. Sy besluit dat Conrad dalk beter sal wees.
“Conrad, ek wil oop kaarte met jou speel …”
Conrad se oë is so groot soos pierings. Sy gesig is dadelik ernstig en hy kom op die wasbak langs Mynie sit terwyl hy haar hand in albei syne neem.
“Jy hou nie van my nie,” waag hy ’n raaiskoot.
Inteendeel! wil Mynie uitroep. Sy het met die eerste oogopslag halsoorkop verlief op hom geraak. Sy volstaan egter met ’n stemmige: “Nee, dis nie dit nie.”
“Wat dan? Jy hou nie daarvan dat ek jou kombuis omkrap nie? Ek sal alles weer opwas en netjies aan die kant maak.”
“Nee, jy is welkom en ek weet jou kos gaan heerlik smaak. Conrad … ek het intussen ’n dieet gevolg en oefeninge gedoen, maar – maar ek weeg nog steeds sewe-en-vyftig en ’n half kilogram. Nie … nie ses-en-vyftig, soos ek vir jou geskryf het nie.”
Conrad se diep, warm lag weergalm deur die kombuis. Hy druk ’n vlugtige soentjie op Mynie se vingers en sê dan verleë: “Ook ék wil bieg …”
Nou gaan hy sê hy het ’n vrou en tien kinders, dink Mynie. Wat dan? Vir hom tot siens sê en hom nooit weer sien nie?
“Mynie …” Conrad kyk na sy skoenpunte, na sy vingernaels en na die drie kastrolle op die stoof. Oral, behalwe na Mynie. Hy sluk ’n slag, glimlag pleitend, en dan kom die woorde oorhaastig uit, asof hy bang is sy moed begewe hom as hy stadig praat. “Ek ry ook nie met ’n Mercedes wat verlede jaar se model is nie. Ek het vir jou gejok. Dis voorverlede jaar se model. Ek was bang jy wil nie met ’n ou uitgaan wat met ’n Noagse ou krok ry nie.”
Mynie se skaterlag is net so geamuseerd soos syne netnou. As dit ál is waaroor hy wou bieg …
“Ja, dis al,” grinnik Conrad in antwoord op Mynie se vraag. “Daar is niks verder waaroor ek wil bieg nie, geen geraamtes in my kas nie. Behalwe natuurlik Liza wat sewe jaar gelede oorlede is, maar van haar het ek vir jou geskryf.”
“Sewe? Ek het gedink dis nege jaar.”
“Nege, natuurlik,” korrigeer Conrad homself haastig. “Ek was ingedagte. Hoe ruik my spaghetti vir jou? Dis amper gereed. Sal ek tafel dek, of verkies jy om op die mat voor die radio te eet terwyl jy vir ons een van Beethoven se klavierkonserte