Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman


Скачать книгу
en haar gangkas is vol tekenboeke, potlode, verf, kwaste en kryt. Sy soek ’n lang stuk vetkryt uit, stap na die gangmuur en skryf met groot, swart hoofletters daarop: EK HAAT HEINZ DU PREEZ! Dan voeg sy as nagedagte by: EN DAARDIE WITKOP!

      Dít laat Mynie beter voel. Sy gaan maak vir haar ’n pot tee en ná drie koppies voel sy sterk genoeg om oënskynlik kalm en tevrede in die sitkamer met ’n tydskrif te gaan sit. Die advertensies en artikels boei haar nie. Een van die kortverhale lyk of dit interessant kan wees, maar nadat sy die eerste paar paragrawe gelees het, blaai Mynie eers na die einde. Ja, dis soos sy gevrees het … Die held en heldin vind mekaar en leef lank en gelukkig saam tot in alle ewigheid. Mynie gooi die tydskrif eenkant toe. Sy vee die trane uit haar oë en gaan haal vir haar nog ’n koppie tee. Sal alles haar dan altyd aan haar eie ongeluk en eensaamheid herinner?

      Toe sy weer in die leunstoel gaan sit, sien Mynie die tydskrif voor haar voete op die mat lê. Sy sien ook by watter rubriek dit oopgeval het.

      “Nee, so desperaat is ek darem nog nie,” sê sy. Dan skrik sy. Hoe het hulle gesê? Die eerste teken van neurose is wanneer ’n mens hardop met jouself begin praat.

      “Ek is nie neuroties …” Mynie bly stil en stap ’n draai deur die stil woonstel, asof sy vasgekeer voel. Maar selfs toe sy met die gang langs terugkom, voel sy nie beter nie.

      Sy gaan sit by die telefoontafeltjie, op soek na iemand om mee te gesels. Maar eers by die tiende lui onthou sy dat Elma mos saam met ’n groep vriende Durban toe is vir die naweek. ’n Ander meisie wat saam met haar skoolhou, is ook nie tuis nie. ’n Paar tennisvriende en ander kennisse is ook uit. Wat het sy verwag? Dat almal, net soos sy, met Jan Tuisbly se karretjie ry? En dit op ’n Saterdagaand?

      Mynie blaai deur haar telefoonboekie. Daar is baie name in, maar dis vriende met wie sy in twee jaar glad nie in verbinding was nie. Hulle sal dalk nie eens meer weet wie dit is as sy sê dis Mynie wat praat nie. “Mynie wie?” sal hulle vra. En sy sal ook nie eintlik weet waaroor om te gesels nie. ’n Mens bel in elk geval nie uit die bloute – nadat jy twee jaar lank amper van die bestaan van die persoon vergeet het – en huil op sy of haar skouer en sê jou kêrel het jou nie meer lief nie en hy het ’n ander nooi en dis Saterdagaand en jy is alleen en jy voel eensaam en neuroties nie. ’n Mens doen net nie so iets nie …

      Toe Mynie by die derde laaste bladsy van die boekie kom, aarsel sy. Johan Willemse … ’n Ou studentekêrel van haar wat een aand onder die wilgerboom gesê het hy sal nooit ophou om haar lief te hê nie. Hy sal vir haar wag – in die hoop dat sy eendag na hom toe sal terugkom …

      Het arme Johan daardie aand gevoel soos sý vanaand voel? wonder Mynie. Sy voel soos ’n skurk omdat sy so wreed was. Johan was ’n oulike ou. Nie so aantreklik soos Heinz nie, maar baie meer opreg en met meer getrouheid in sy pinkie as wat Heinz in sy hele lyf het. Hoekom het sy die standvastige Johan vir ’n losbol en ’n laventelhaan verruil? Hy is tien van Heinz du Preez se soort werd. En hy hét belowe om vir haar te wag.

      Mynie se hart bons in haar keel toe sy die nommer skakel. Dalk het Johan getrek. Dalk woon hy nie meer in dieselfde huis nie.

      Dis ’n vrouestem wat antwoord.

      “E … Wie praat?” huiwer Mynie.

      “Mevrou Willemse.”

      “Johan se … ma?”

      “Johan se vróú. Wie is dit wat hom soek?”

      “Jammer, verkeerde nommer,” sê Mynie haastig. Net voordat sy die gehoorstuk neersit, hoor sy in die agtergrond ’n babatjie huil.

      So, dis die waarde wat mens aan ’n belofte kan heg wat twee en ’n kwart jaar gelede onder ’n wilgerboom in ou Potchefstroom gemaak is.

      Dis haar verdiende loon, dink Mynie met ’n onderstebo glimlaggie. Dis omdat sy arme Johan destyds so wreed behandel het en ook omdat sy vanaand so voorbarig was. Van kleins af het haar ma haar geleer dat ’n welopgevoede meisie nie ’n man bel nie. Sy wag tot hy met haar in verbinding tree. ’n Ordentlike meisie hardloop nie agter ’n man aan nie.

      Al rede hoekom Johan Willemse haar sou skakel, dink Mynie wrang, sou wees om te vra of sy nie peetma vir sy jongste spruit wil wees nie. ’n Verspotte liedjie maal meteens deur haar gedagtes: Almal het maats, net ekke nie …

      Mynie gaan sit weer in die leunstoel en tel weer die tydskrif op. Sy is versigtig om nie na die bladsy te kyk waar dit netnou per ongeluk oopgeval het nie. Sy soek na ’n storie met ’n ongelukkige einde, waar die held doodgaan of waar die heldin ’n liefdesteleurstelling gehad het en besluit om ’n non of ’n kluisenaar te word. Profiel se redakteur is egter óf mensliewend óf hy glo nog aan feetjies, kaboutertjies en sprokiesverhale. Die arme tydskrif beland hierdie keer op Mynie se paar skoene wat sy netnou uitgeskop en op die vloer voor die radio laat lê het.

      Sy dink nie daaraan dat dit logies is dat die bladsye weer sal oopval waar dit in die middel met twee draadjies vasgekram is nie. Sy is ook nie bygelowig nie, maar sy wonder nogtans of dit nie dalk ’n teken is nie, of daar nie dalk ’n doel is waarom die ellendige tydskrif elke keer by die rubriek vir penmaats oopval nie …

      Half teen haar sin lees sy ’n paar van die advertensies.

      Aalwyn op B. Ek is ’n eensame blommetjie wat teen die berghang kwyn. Sal iemand my nie pluk nie? Mans van 20 – 30 wat nie rook of sterk drank gebruik nie, kan die pen opneem.

      Ridder van Reddersburg is ’n 20-jarige, aantreklike swartkopoutjie met blou oë, 1,75 m lank en weeg 76 kg. Stel belang in visvang en mooi meisies. Slegs briewe met foto’s sal beantwoord word.

      Oudag in Hillbrow. Ou omie met ’n pankop en kierie. 100 jaar oud. Hou van ruk-en-rol en ysskaats. Doedies tussen 18 – 80, met die oog op ’n spoedige ontmoeting en moontlike huwelik.

      Daar is nog kolomme en kolomme daarvan en almal min of meer in dieselfde trant. Maar dan sien Mynie een wat anders is, een soos ’n stem roepende in die woestyn, een wat haar eie gemoedstoestand eggo.

      Wewenaar. Geen afhanklikes. 40 jaar oud. Wil korrespondeer met ’n dame wat verstaan wat dit beteken om eensaam en verstote te wees. Alle briewe sal beantwoord word.

      Mynie lees die advertensie drie keer deur. Dis eerlik, nie verspot nie, sonder tierlantyntjies en op die man af. Dis ’n persoon wat homself nie onnodig prys nie, wat nie spitsvondig probeer wees nie, wat werklik eensaam en verstote voel, net soos sy …

      Mynie gaan haal ’n pen, skryfblok en koeverte. Dan krul sy haar weer in die leunstoel op en lees die advertensie ’n vierde keer. Hy het nie gesê hy is ’n hiperaantreklike krulkop of ’n breedgeskouerde blouoog-ridder of ’n bruingebrande, skatryk boer nie. Hy het ook nie gesê hy hou van dans, popmusiek en partytjies nie. Albei dinge tel in sy guns. Hy is nie verwaand nie. Hy probeer nie beïndruk nie. Hy is eerlik. En wat soek ’n ou wat van mooi meisies, dans en partytjies hou se advertensie in elk geval in ’n hoekie vir eensames? As dít sy stokperdjies is, behoort hy soveel nooiens te hê dat hy nie kan voorbly nie. En daardie pankop – seker ’n klomp skoolkinders wat gekskeer.

      Maar hierdie wewenaar … Dis eg en opreg. Hy is eerlik en reguit. Hy probeer hom nie jonger of meer romanties voordoen as wat hy is nie. Hy is veertig. ’n Prosaïese ouderdom. Maar dis hoe oud hy is, en dis die ouderdom wat hy aangee. Ook reken hy nie dat voorkoms so belangrik is nie. Dit dui op ’n gebalanseerde uitkyk op die lewe. Hy besing nie sy eie deugde nie, hoewel hy waarskynlik aantrekliker is as Beautiful Dreamer of Seksie op Springs of enige van die Venusse, Casanovas, Pêrels, Orgideë en Lovely Lonely Lovers – op enige moontlike plek wat met ’n L begin – waarvan die rubriek wemel.

      Mynie kan nie verklaar waarom sy weer na die advertensie kyk en dan die skryfblok nader trek nie. Dalk is dit omdat haar moraal vanaand ’n laagtepunt bereik het. Miskien omdat sy self eensaam en verstote voel. Moontlik omdat sy verveeld is. Straks omdat dit Saterdagaand is en sy niks meer opwindends het om te doen as briewe skryf nie. Dalk omdat hierdie een werklik ’n stem in die barre woestyn is wat tot haar roep. Miskien omdat sy aan die noodlot glo wat haar die tydskrif laat optel het en dit by die penmaatrubriek laat oopval het. Moontlik omdat sy hoop die geluksgodin


Скачать книгу