Rooi haring. Schalk Schoombie
“Die snoek … is wonderskoon,” sug sy en neem ’n laaste hap. “See maar nie té sout nie, smeltsag, glad nie droog of oorweldigend nie. Die soetsuur van die appelliefiemoes komplementeer die wilderige soutsmaak van die gerookte vis perfek.”
“Monsieur Boucher, hoe proe die hoenderroulade?” wil Bruce weet.
Die Fransman smaksoen sy blink, saamgebondelde vingers, onderdruk ’n wind.
“Bruce, het jy verstaan waarna Hartman verwys toe hy van BBP’s praat? Wat was dit nou weer? ‘Ons weet tog ’n BBP kan iets anders wees … ’n BP.’ Ek dink dis wat hy gesê het. Hoe so anders? Wat’s ’n BP? Net belangrik, nie te veel nie?”
Bruce vee sy mond met die servet af. “Ha-ha. Daai ou klomp. Jy’s beter af as jy niks daarvan weet nie.”
“Klink of ek ál een is wat nie weet nie …”
“Jy’s ’n … nosy …? Nee, inquisitive vrou,” skerm hy.
“Iets fout daarmee?”
“Glad nie. Ek hou daarvan. Maar soms, believe me, is dit beter om nie te weet nie.”
“Verbode vrugte bly die aanloklikste.”
“Het jy regtig nog nooit van die … Bloedpruime gehoor nie?”
“Moes ek?”
“Mense in die wêreld van kos en boeke weet van hulle. Nogal exclusive? Jy sal nie in die media van hulle lees nie. ’n Old-fashioned soort van … dinner club?”
“Dalk is ek nie oud genoeg nie.” Greta kan haar tong byt, vies dat sy die aandag op ouderdom moes vestig. “Interessante naam.”
“Ja, dit verwys na …”
Maar voor Bruce kan voortgaan, sluit Darius by hulle aan.
“Jammer, jammer! Moenie dat ek jul pret bederf nie,” beduie hy hortend en vermy oogkontak terwyl hy gaan sit. Greta wil vra of sy hoofpyn beter is, maar sy botheid laat haar liewer swyg.
Darius se borskas styg en daal, sweet drup oor sy breë voorkop. Sy jagende asem klink asof hy ’n ent gaan draf het. Dalk is die man regtig siek, wonder sy bekommerd.
Tydens die opeenvolgende maalgange, elk ’n gastronomiese onthulling wat applous lok, vele volgeskinkte glase uitsoekwyn wat ’n gemeenskaplike lighoofdigheid oopsprei, kruiskulturele gesprekke wat haar kop laat draai, prik die gevoel van vroeër Greta weer, ’n naamlose ongemak.
Met ’n stadige, diep asemteug rol sy haar rugstring reguit, lig haar midrif soos in haar joga-oefeninge, skud haarself wakker en glimlag.
’n Kelner mik met ’n bottel, maar sy keer met ’n hand oor haar glas.
“Jy bly agter,” merk Bruce op.
Sy vat haar handsak en staan op. “Soet wees. Ek’s nou terug.”
Tyd om self te gaan kyk waar die kleedkamer is, dalk terloops by die kombuis in te loer om te sien waar die hartlike sjef sy septer swaai.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.