Rooi haring. Schalk Schoombie

Rooi haring - Schalk Schoombie


Скачать книгу
die oorblywende twee tafelgenote daag op en daar word oor en weer voorgestel, hand geskud, voor almal hulle sit kry.

      Bernard Boucher, ’n kort, gesette Fransman met windskewe middelpaadjie, plat moesie langs sy wipneus en ’n wynrooi krawat, maak ’n selfbewuste grappie oor sy naam (“slagter”). Hy’t gehoor Afrikaners hou van vark, wild en alle soorte rooivleis, en hy spesialiseer in heeldierverwerking – niks van die slagdier gaan verlore nie, alles word gesny en verwerk om verorber te word, ore, snoet, pote, afval – hy beduie vaagweg met kappende pofferhandjies ondertoe – na ander gesogte lekkernye: “Délicieux! Magnifique!”

      Greta lag. Enigeen wat vark kan verwerk, verdien respek; self het sy ’n sagte plekkie vir ham of spek in haar pastadisse.

      Laastens kom die bonkige kêrel met die rooi boskasie en deurskynende bakore wat sy buite eenkant sien staan het, aan haar linkerkant inskuif. Die enigste man onder die genooides wat naastenby by haar kan kers vashou wat lengte betref.

      Hy mompel sy naam skaars hoorbaar: “D-Darius … Swiegers.”

      ’n Verwilderde kyk van onder ruie rooi wenkbroue waarsku haar om liefs nie haar afleiding uit te spreek nie. Sy knik en probeer geen simpatie wys nie. Die sjef se ouer, minder bekende broer.

      “Bly te kenne, Darius. Ek’s Greta Burger.”

      Uiteindelik sit al die gaste. Die eetplek is propvol en gons soos ’n gerookte bynes, agtergrondmusiek nog net hoorbaar in die crescendo’s. Greta ruik heerlike kosreuke van die kombuis af, maar die swaaideure bly toe. Bruce beduie na die spyskaarte.

      “Sal ons?”

      “Ek wou nog uitvra oor kosspeurder, maar ja … die spyskaart,” gee sy toe.

      “Later,” belowe hy met ’n knipoog.

      Oral begin kelners die lang kerse opsteek. ’n Klein betowering daal.

      Die spierwit spyskaart, gedruk in dieselfde sierskrif as die uitnodiging en naamkaartjie, beloof in vyf tale (Afrikaans, Engels, Xhosa, Frans en Spaans) ’n outydse vyfgangmaal met twee keuses vir elke gang (die tafelslaai tel nie as ’n maalgang nie):

      Voorgereg

      Gerookte snoekpastei met dille en appelliefiemoes

      Spek-en-hoenderfilet-roulade met gepiekelde rabarber-en-mango-mosterd

      Tweede voorgereg

      Kwarteleiers in kweperkoljandersous

      Kerrievis en rooiui-marmelade

      Koel tafelslaai

      Komkommer, radys, bokkaas, kersietamaties en fynboskruie

      Hoofgereg

      Gedekonstrueerde lamsherderspastei met aspersies en dragonasyn

      Lensiebobotie met groentamatieblatjang en geelrys

      Tweede hoofgereg

      Bieftoring met soetpatatskyfies en somergroente

      Springbokfilet in rooiwyn met pere en peppadews

      Maleise hoenderkerrie met soetrissiemarmelade

      Wit preisop met varkfrikkadelle

      Nagereg

      Melksnysels met wildebessie-kompot

      Vye, koejawels, heuning-koeksisters en vanieljeroomys

      “Die chook was seker af,” peins Bruce en tik op die deurgehaalde gereg.

      “Chook?”

      “Chicken.”

      “A! Lyk verder belowend.”

      Greta het maande laas boerekos gehad, die naweek toe sy by tant Geitjie op Nigel oorgeslaap het. Sy is verras dat haar mond water. En heimlik verlig daar kom nie netvet, slaphakskeentjies, boerewors, soetpampoen en groenbone aan bod nie …

      “Ek wil alles probeer,” glimlag Bruce.

      Greta verduidelik geduldig aan die Fransman wat bobotie, blatjang, melksnysels en koeksisters is – Maleise kerriekos en Boeresoetgoed – Hartman se klein buiging na tradisionele geregte wat hy met nouvelle cuisine versoen het. Monsieur Boucher se ogies blink terwyl hy sy keuses maak – voorspelbaar elke vleisgereg.

      Darius staar broeiend na die spyskaart, dit lyk of niks hom aanstaan nie. “Geen seekos of hoenderhoofgeregte nie,” is sy kortaf kommentaar.

      “Ek mis weer uhm … milk tart,” erken Bruce.

      “Dalk omdat die Nederlanders, Portugese, Grieke en selfs Chinese hulle eie weergawes van melktert bak? Dus, nie inheems genoeg nie?” wonder Greta.

      “Is melksnysels nie strictly speaking ’n main course nie?” vra Bruce.

      “Wel, ja … dis maar melkkos, uit die depressiejare toe die Afrikaners deegstringe in melk met suiker en kaneel gekook het, maar ek dink dis nogal gewaagd van Hartman om dit as nagereg op te dis, saam met ’n bessiekompot vir kompleksiteit en balans. Kan nie wag om te proe nie!”

      Skielik klink Greta vir haarself pretensieus, ’n kossnob, asof sy al die wêreldklas-fynproewers om haar probeer beïndruk. Bruce vang haar oog en glimlag. Sy bloos.

      Tieng-tieng-tieng-tieng!

      Iemand klingel dringend met ’n mes teen ’n glas.

      Hartman gaan toespraak maak.

      9

      Dat Hartman sy verwelkoming in vyf tale gelyk lewer (soos op die spyskaart), is pure afshow. Dit weet die gaste wat sit en luister met groeiende verbasing, hongerig en getreiter deur onweerstaanbare kosgeure uit die kombuis, dit weet die kordate maître d’ en die sommelier met sy wit handskoene, die twaalf jong kelners wat soos soldate teen die mure roerloos op aandag staan.

      Daar’s niemand in Tydloos wat Hartman dit kan nadoen nie, nie eens die mees berese sjefs en resensente nie, en dus niemand wat alles wat hy kwytraak woord vir woord kan volg nie. Hulle kan hoogstens aflei na watter taal hy kort-kort oorslaan, verlig probeer bybly wanneer hy wel ’n taal besig wat hulle verstaan. (Net sir Sherman Wilberforce hou redelik by, en hy leun terug in sy vetlae, selfvoldaan, skynbaar verveeld.) Hartman se toespraak is iets wat die media, plaaslik en internasionaal, om die beurt bekoorlik, amuserend en frustrerend vind, met die absolute oortuiging dat niémand in die nuwe restaurant die volle inhoud van sy toespraak kan verteer nie. Hulle kan hoogstens later notas vergelyk. Hulle moet aanvaar dat alles wat hy sê op ’n manier gedupliseer of subtiel weerspreek word, dat sekere idiomatiese uitlatings nie in ander tale voorkom nie, en dat die betekenis van sy toespraak dus oorvleuelend, onderbrekend en bloot by benadering tot hulle deurdring. Hulle vermoed dis deel van sy strategie; om hulle op ’n soort dwaalspoor te lei, met kosmites, woordspeletjies en slinksheid, om dit speels tuis te bring dat smaak kultuur- en streeksgebonde is: Almal word groot in ’n spesifieke milieu met disse en geure wat die smaaksintuie en jou wêreldbeskouing beïnvloed.

      “Goeie vriende, tafelgenote, medesjefs en fynproewers, hartlik welkom by Tydloos. Vriende en kollegas wat ver gereis het. Bloggers en media-ondersteuners wat my kosavonture oor dekades heen gevolg het. Familie ook, my broer Darius! Welkom, welkom almal. Julle is vanaand my dierbare uitgesoekte gaste. En ons weet tog ’n BBP kan iets anders wees … ’n BP.”

      Greta spits ore: Hoe kan ’n BBP iets anders wees? ’n BP? ’n In-grappie?

      “Dis vir my die diepste eer. Julle is die eerstes om my feestafel in die Jakarandastad te deel. Daar’s ’n gasteboek op die toonbank by die uitgang waarin julle asseblief jul name moet skryf en kommentaar lewer op julle ervaring van Tydloos. Vir almal wat ná julle kom aansit. Ek verwelkom dit. Sonder julle kommentaar kan ons nie verbeter nie, kan ons nie ons diens opgradeer en groei as koskunstenaars nie.

      “Al is eet ’n tydgebonde aktiwiteit, wil ons hier tydlose ervarings skep. Oor ’n jaar of drie, oor ’n dekade, ’n leeftyd, sal julle vanaand onthou. My hoop is dat julle elke gereg helder sal herroep.

      “Om


Скачать книгу