Rooi haring. Schalk Schoombie
’n Wit vlag met ’n groot embleem van ’n enkele groen tamatie wapper aan ’n silwer paal in die aandluggie, ’n rooi tapyt uitgerol soos ’n dik rooi tong waarop lenige modelle in aandrokke paradeer vir die kameras. ’n TV-kameraspan soek sy volgende slagoffer.
Sy herken ’n paar gesigte in die bondel; borge en bot sakemanne in snyerspakke, sosiale vlinders in laehals-aandrokke; ’n paar stroewe, plomp kêrels wat sy nie dadelik kan plaas nie – waarskynlik beroemde sjefs van oorsee. Artieste in voorskote en sjefshoede gee lang treë op stelte en doen wiggeltoertjies met tamaties en suurlemoene oor die genooides se koppe. Sy hoop om ’n tamatie te sien val. Wat ’n sirkus! Rent-a-crowd wat seker verdwyn sodra die belangrikes in die restaurant is. Vietse kelnerinne in swart mini’s dra skinkborde met kelkies sjerrie rond. Latoya laat nie op haar wag nie, raap twee op en sluk die alkohol soos shooters weg. Niemand herken haar nie, ná al die moeite en gejaag! Sy sal seker haar rubriekfoto moet opdateer – dit is byna ’n dekade oud.
Grepe van gesprekke bereik haar.
“Boerekos is vanjaar retro. Dit maak ’n comeback.”
“Botter ook! Die sagte soort …”
Latoya luister in met gespitste ore terwyl sy tussen groepies deurglip; hier en daar gemaak besluiteloos talm. Telkens raak mense gedemp wanneer hulle haar opmerk. Almal blykbaar sonder metgeselle – volgens uitnodiging – maar voorspelbaar soek soort steeds soort. Dis net sy wat nie haar soort kan eien nie.
Sy besef opnuut: Sy’s net ’n ploert, outsider, weirdo; oral genooi maar nêrens welkom, minder belangrik tussen die Baie Belangrikes. Sy word net geduld vir die publisiteit, hype en blootstelling wat sy kan genereer (selfs al is dit negatief). Hulle is oortuig daar’s nie iets soos slegte publisiteit nie, volgens oorlewering die leuse van die Amerikaanse sirkusbaas PT Barnum. Respek is haar nie beskore nie. Sy’s een van daai gehate spesie – die media-aasvoël.
“Kan Hartman regtig so naïef wees om te dink ’n boererestaurant kan slaag in ’n stad waar almal bediendes het wat kookkursusse loop?” smaal iemand. “In kitskosmekka?”
“Braaivleis raak nooit uit die mode nie.”
“Wel, ons sal sien hoe retro is die spyskaart.”
Niks ontgaan haar nie. Sy lees elke situasie, kombinasie en kliek – som die groepering op en bêre dit sorgvuldig vir latere gebruik: die foodies, veterane, wannabes, die sogenaamde fynproewers, wie fluister agteraf oor haar.
Waar’s Hartman? Kruip hy weg? Is daar dalk ’n krisis in die kombuis? wonder sy en lek haar dun lippe af. Sulke brokkies kan ’n hele Sondagrubriek byt gee.
Twee interessante enkelinge vang haar oog, duidelik twee outsiders. Hulle huiwer op die periferie van die glanskring; onwillig om aandag te trek. Soos Latoya het hulle ook nog nie ’n groepie gevind waar hulle inpas nie.
Die eerste is ’n stewige man met breë skouers en rooi hare wat ongemaklik in sy swart, styfpassende pak rondtrap. Effens krom, dalk moeg, onregeerbare rooiblonde hare, bakore wat pienkerig deurskyn in die laaste sonstrale. Growwe gesig, haakneus, groot hande wat hy senuweeagtig oormekaar vryf asof hy hulle onder ’n buitekraan was.
’n Entjie verder op die binneplein, naby die plasfontein by die bronsstandbeeld van ’n kaal vrou wat agterstevoor en wydsbeen op ’n donkie sit, klou ’n lang vrou aan haar sjerrieglasie.
’n Laaistok, dink Latoya, arme drommel! Mid- tot laat dertigs, steil bruinblonde hare, boekerige bril. Die langste persoon in die omtrek. Kon sy nie maar die hakskoene gelos het nie? Het sy al gehoor van kontaklense? Nes Latoya kyk die lang vrou ook die bondel BBP’s skroomloos deur, geamuseerd, met ’n fronsie van geboeide aandag. Onderwyseres? Lektor? Bibliotekaresse?
Op ’n dieper vlak voel Latoya onrustig oor die lang vrou. ’n Voorbode van kompetisie? Gaan vind uit, besluit sy en begin naderstap.
“Hallo daar! Lyk my jy’t die perfekte hoekie gegaps.”
Die vrou glimlag verras, neem Latoya se uitgestrekte hand en druk dit, ’n vraag op haar gesig.
“Om almal te sien wat aankom. Latoya Jones. Sunday Focus.”
“O, aangenaam. Greta Burger. Hou van jou hare … funky.”
“Dis wat almal sê. En funky beteken stink.”
“O nee. Dis … koel! Pienk, rooi én grys.”
“Watter publikasie?” knip Latoya haar kort.
“Ek skryf ’n kosblog.”
“Ag, nou toe nou! Jy’s my een voor!”
“Ek kies elke week ’n restaurant om oor te skryf,” bevestig Greta.
“Dit het ’n bietjie uit die mode gegaan, nie waar nie?”
“Wat?”
“Restaurantresensies. Almal is deesdae kenners en kritici. Almal gee sterre vir alles. Almal is foodies.”
“Wel, ek doen die blog vir myself en ’n paar goeie vriende. Hoekom iemand anders dit sou wou lees, kan ek nie raai nie. Maar blykbaar is daar wel sulkes. Baie vleiend.”
“Miskien is jy net beskeie,” stel Latoya voor.
“Nee, dit verbaas my regtig wie my blog lees en kommentaar lewer, wie my uitnooi na deftige geleenthede soos … wel, soos dié.”
“Nou ja, vanaand tel ons onder die VIPs,” peins Latoya. “Gepiekel in ons belangrikheid …”
“Baie belangrik … en baie interessant,” voeg Greta by terwyl haar blik oor die deftige groepies dwaal.
“Dink jy so? Wel, ek en jy is ten minste interessant. Die ander is professionele vrate en gieriges, hulle wil munt slaan uit die hoogkultuur van fynproe en vraatsug. Slu en vlak, herkouende sotte wat net dink, praat en droom oor kos, kos, alewig kos! Persoonlik vind ek die hele proses effens … grillerig.”
“Kosmaak?”
“Kosmaak, eet, instop, kou-kou-kou en sluk, spysvertering, sooibrand, die hele inwendige … verwerking! Bo in en onder uit,” beduie Latoya met klein suggestiewe gebare. “Ek dink nie graag oor al die onsigbare prosesse nie, die happe en sappe en neweprodukte.”
“Dan’s jy beslis op die verkeerde plek,” lag Greta spontaan.
“Ja, jy’s reg,” moet Latoya teësinnig erken. “Maar ook net halfpad. My besigheid is nie kos nie. Dis mense.”
Die laaste sonlig weerkaats op ’n dosyn sonbrille.
“Ek hou baie van kos en resepte, maar mense is vir my ook ’n soort, uhm … stokperdjie,” bieg Greta. “Jy ken seker al die mense …”
“’n Hele paar, nie almal nie. Ek maak dit wel my besigheid om uit te vind wie’s wie.”
“Ek ken weinig,” sug Greta. “Wat sê dit van my? Ek leef verkleef in my klein oester. Ek volg nie die bekendes nie. Die internet laat jou toe om jou eie grense te bepaal …”
Latoya pluk byna haar donkerbril af van verbasing.
“Jy ken tog seker die topsjefs wat hier is?”
“Ek weet hoe Hartman lyk, dis al,” mompel Greta verleë. “Nooit ontmoet nie.”
“Die een met die rooi strikdas en bypassende rooi skoene is Elmore P Spudman. Daar word bespiegel die P staan vir pedofiel. Of pork bellies. Amerikaanse kos-entrepreneur wat stinkryk geword het uit varkmagies en verwerkte kosse. Hy versamel restaurante soos ander biljoenêrs seiljagte en Klimts en Hockneys versamel. As hy hou van Hartman se nuwe plekkie, sal dit sy eerste belegging in Suid-Afrika wees.”
“Maar … sal Hartman sy droom sommer so uitverkoop?”
“Elkeen het sy prys. Elmore sal ’n 51 persent-aandeel koop. Die gerug loop dat Hartman die plek vir Elmore sal bestuur vir ’n aardige bedraggie – in dollars