Rooi haring. Schalk Schoombie

Rooi haring - Schalk Schoombie


Скачать книгу
maar gemeet in charisma en sukses is hy ’n totale verloorder.

      ’n Swart gat suig hom in.

      Al probeer hy afsluit, wegrem, al probeer hy die martelaar toegang weier, sluip sy ou metgesel met nukkerige treetjies nader.

      Die hoofpyn is terug.

      6

      Latoya Jones het lelik verslaap. Haar man moet haar skouer ’n dringende plukkie gee.

      “Hoe laat is dit?” gaap sy.

      Haar grys kapsel met rooi en pienk strepe lyk skeefgedruk, effe rotgevreet.

      “Halfses. Jy’t lekker gesnork, baby doll.”

      “O fok.”

      “Het jy dan nie jou wekker gestel nie? Jou selfoon?”

      “Ek en die touch screen is nie maatjies nie, jy weet mos. My naels …”

      “Wel, jy gaan lekker laat wees vir jou groot aand.”

      Hulle laat nie ’n kans verbygaan om mekaar sulke stekies te gee nie, dis waarop hul huwelik gebou is en floreer, tot groot vermaak en verwondering van hul vriendekring. Galgehumor, bitsigheid en ’n skeut vodkatini.

      “Jy kon my vroeër kom wakker maak het,” verwyt sy hom.

      Bromley bekyk haar krities. “Ek wou, toe dag ek jy’t seker jou beauty sleep nodig.”

      “Teef! Sal jou kry, wag maar.”

      Latoya spring aan die werk. Sy ontklee in tien tellings, bespuit haarself met wit walms reukweerder (Bromley se wipneus kreukel) en trippel poedelkaal klerekas toe.

      “’n Sight wat die genooides se eetlus sal demp,” maan Bromley.

      “Mmmm. Te warm vir onderklere. Wat dink jy, my swart nommertjie? Almal gaan vir seker swart dra.”

      “Jy weet jy lyk soos ’n afgedwaalde non in swart, baby doll.”

      “Ha-ha. Jy hoop, jou poefter.”

      “Jy weet jy beter maar ’n pantie dra, nè?” waag Bromley.

      Sy gooi hom met ’n haarborsel, maar besluit dan hy’s reg. Eerder veilig speel.

      Voor die vollengtespieël wikkel sy haar rietskraal lyf ekstaties in ’n blinkswart eenstukmini, wurm haar petite voetjies in haar staatmaker swart stilette wat haar ’n paar sentimeter langer maak, en steek ’n robynborsspeld skuins bokant haar yskoue hart vas. Yskoningin. Dis hoe sy aan haarself dink. Sy’s nie soos ander dollas wat ure nodig het vir aantrek en tittewyt nie. Die lipstiffie neem presies twintig tellings, granaatrooi hale oor pruilbekkie. Haar groot vaalbruin oë is lankal omlyn met permanente grimering vir sulke noodgevalle. Oor fyn plooitjies kwel sy haar nie, dit wys karakter; laat haar sagter en vriendeliker lyk. Net die kapsel bly problematies, ’n eie entiteit wat sy nie reggetrek, -geskud of -gedruk kry nie. (Sy moes nie met die pruik op gaan slaap het nie.)

      “Vanaand is die aand,” vertel sy haar spieëlbeeld. Sy vryf en grou ’n groeisel grys-rooi-pienk vlammetjies orent.

      “Vurige VIP,” glimlag sy skeef. “Vat hom, Flaffie.”

      Bromley loer deur die slaapkamervenster.

      “Lyk my jou ride is hier, sweetie.”

      “Vertrou Hartman om jou vir ’n ride te vat.”

      Latoya kom trek die gordyn weg. ’n Potlooddun wenkbrou lig. “O, hy’t ’n taxi gestuur?”

      “Komaan, het jy die limo verwag?” lag Bromley. “Dalk is jy nie VIP genoeg nie, Flaffie. Maak vrede daarmee, jy’s net die hack.”

      “Hy moet pasop, netnou word hý gehack.”

      Sy drapeer ’n roesbruin Indiese satynserpie om haar skraal skouers.

      “Hoe lyk ek?”

      “Formidabel. Go girl,” Bromley salueer haar met ’n loslit-middelvinger teen die voorkop. “Sit jou donkerbril op in die restaurant. Be a cool bitch.”

      “En hoe moet ek die disse uitken?”

      “Neem kiekies met jou foon, Dummkopf.”

      Dit gaan ’n aand der aande wees. Sy verbeel haar sy’s Cate Blanchett in ’n faux dingo-pels op pad na die Oscars, blinkoog en skerptand, bewus van haar bene se kontoere (watse kontoere?) wanneer sy in die huurmotor klim. Sy’t haar notaboek en iPad tuis gelos; die slimfoon is voldoende sou sy ’n guitige opmerking wou onthou, ’n gesprek skelm opneem of ’n steelfoto neem. Om haar olifantgeheue ’n kick-start te gee.

      Die bekende buurt val blok vir blok weg, die subtropiese plantegroei flits op die lense van haar donkerbril. Sy kan wees wie sy wil. In die stad is almal selfgemaakte monsters, saamgeflans van Botox, glinstering, plastiek, sintetiese weefstowwe. Sy is Latoya Jones omdat sy wil wees. Nie haar regte naam nie, haar nom de plume, haar masker. Sy’t haarself in die spieël herskep, ’n paar keer al, haar opgewerk van TV-skedules tot resensies, nydigheid haar middelnaam, ’n kinderboek oor haarlose monsters onder ’n ander skuilnaam geskryf, uiteindelik haar trotse persona as skinderskrywer vir die voorste Sondagkoerant geboetseer, vooraf weke lank getob oor ’n naam wat vrees sou inboesem. Latoya Jones klink net eksoties genoeg, ’n tikkie boheems, retro à la Grace Jones, kruiskultureel, nierassig. “Groot gif in ’n klein botteltjie.” Haar pa se woorde. Die pen (en die maskarapotlood) is magtiger as enige swaard.

      Bromley weet van haar onderonsies met Hartman, haar “geskiedenis”, maar natuurlik nie als nie. Beter so.

      Naby die nuwe winkelsentrum begin die verkeer opdam. Pendelaars van ander voorstede, Midrand en Johannesburg wag om van die tolpad af te klim. Gladde Afrikaners in hul glimmende SUVs, voorbeeldige kerkgangers wat overdose op rugby en skandale.

      Tussen die luierende voertuie beweeg ’n swart tienerseun, maer en vuil, kaalvoet en bedremmeld, geklee in klere vol gate. Hy hou ’n stuk karton vas; een of ander grapjas-Goeie Samaritaan het vir hom ’n handelsboodskappie in hoofletters daarop geskryf:

      My wife was kidnapped by ninjas. I need R10 for karate lessons. Sy onthou ’n ander bordjie van nóg ’n gehawende straatmens: My vrou het ’n beter prokureur gehad.

      Die seun se swart oë pleit in hare – gewis geen ninja – en sy kyk vasberade weg tot sy ná ’n klein ewigheid kan voel hy het aanbeweeg.

      Hoekom ontstem die bedelaars haar so? Die blote gedagte dat een van hulle haar dalk kan aanraak, haar met iets ongeneesliks besmet, laat elke sel in haar liggaam krimp van walging.

      Miskien is dit die belaglike vrees dat sy ook daar buite kan beland, op straathoeke met vuilgoed onder haar naels, ’n onsedelike pleitgebaar vir elke vreemdeling wat haar pad kruis. Erger nog, die sieldodende honger wat haar van binne af uithol.

      Wat haar die meeste afstoot, is die haglike tendens van die knielende bedelaars. Blote kinders wat in die strate en vlak tussen rye bewegende voertuie kniel asof hulle bid, koppe geknak, kwansuis te swak om te staan en bedel! Skuifelend na hul dood. Waar’s die polisie om sulke oortreders onder die oë van moeë bestuurders te verwyder en die hawelose knielers se patetiese lewens te red?

      Maar dis die idee van honger op pad na ’n feesmaal wat haar eintlik krap; sy verbeel haar smekende handjies wat ’n skoongelekte bakkie uithou vir ’n skeppie ekstra, Oliver Twist in die weeshuiskombuis.

      “Met die hysbak op na die eerste vlak, mevrou. Of neem die roltrap,” beduie die taximan. Sy klim uit op die keldervlak van die parkade. “Jy sal sien waar die mense saamdrom.”

      Haar hart klop nou in haar keel. Met bewende vingers steek sy ’n sigaret aan, rook dit met diep teue halfpad en bêre die stompie in haar handsakkie, dokter haar lipstiffie in ’n handspieëltjie en dwing haarself om afgemete na die roltrap te stap.

      Sy mag eenvoudig nie opgetoë haar entrance maak nie, geagiteerd nog minder. Die regte houding is als, punt-innie-wind, asof sy daar hoort.


Скачать книгу