Rooi haring. Schalk Schoombie

Rooi haring - Schalk Schoombie


Скачать книгу
knik na ’n joviale, ronde man met ’n wynrooi baadjie en ’n monokel soos ’n blink sikspens op sy linkeroogbank, ’n Dickens-karakter of byderwetse Oscar Wilde wat selfvoldaan tussen groepies deur rol, kwinkslae uitdeel wat klokslag lagbuie lok. Latoya gril dramaties.

      “O, daai ou pretensieuse poep! Sir Sherman Wilberforce, selfaangestelde kritikus, meesterbouer van gastronomiese netwerke, spesialiseer in ‘kreatiewe kruisbestuiwings’ en nooi foendies na ‘food happenings’ waar sjefs saamspan met beeldhouers, filmmakers, musici, digters en filosowe om surrealistiese geregte te skep. Hy glo kos is die toppunt van kultuur. Die mees verfynde vorm van menslike uitdrukking. Gaha-ha! Hy’s reg oor die uit-drukking!”

      Latoya se knopskouers ruk in ’n vreugdelose laggie. Dadelik is sy bewus van Greta wat haar takseer, haar bestudeer soos ’n voorheen onbekende spesie. Sy verstyf en wil-wil haar vervies.

      Maar Greta stuur die gesprek in ’n ander rigting. “Nogal min vroue onder die genooides.”

      “Behalwe vir ou suurgat Irma Lourens van Soetigheidjies in Dullstroom, is dit net ek en jy … en die agterstevoor kaalbas op die donkie!” beduie Latoya snipperig.

      “Dalk moet mens aanvaar die kosbedryf bly die eksklusiewe domein van mans?”

      “Net op Hartman Swiegers se gastelys, ja. Kyk na sy vriendekring en jy sal verstaan waarom.”

      “O, ek sien wel slim vroue met hul eie kosprogramme op televisie, wonderlike kookboeke deur vroue, kostydskrifte met vroueredakteurs, maar klokslag wanneer ’n hotel se uitvoerende sjef om kommentaar gevra word, is dit ’n man …”

      “Vroue sal veel eerder hul eie besighede begin as om vir veeleisende base in kliniese hotelkombuise te werk,” meen Latoya.

      “En waarom net enkelinge nooi?” wonder Greta. “Geen metgeselle.”

      “Jy’t dit opgelet, nè?”

      “Dalk om getalle te beperk? Die restaurant kan immers net soveel sitplek bied.”

      “Daar’s ander afleidings wat mens kan maak oor Hartman en kie.”

      “O ja?”

      “Maar ek ken jou nie goed genoeg nie,” besluit Latoya kortaf.

      “Jy ken ook nie jou lesers nie … dit sal jou tog nie verhoed om te skryf oor almal op die rooi tapyt nie?”

      “Touché.”

      Dit voel vir die skinderskrywer asof die onderonsie die twee vroue, een kort en een lank, albei maer, op dieselfde golflengte verenig het. Latoya kyk lugtig na die lang, vriendelike vrou. Sy kan sien Greta is enersyds op haar hoede gestel. Albei vermoed sekerlik: Wedersydse respek is dit nie – eerder ’n verkennende kameraderie tussen potensiële antagoniste. Bromley spot haar altyd dat sy ly aan ’n bepaalde moderne afwyking: paranoia.

      ’n Kelnerin met slank bene, minirok en skinkbord kom verby; Latoya sit haar leë glas rats op die skinkbord en gryp ’n vol een.

      By die ingang is daar iets aan die gebeur. Die restaurantdeure gaan oop en sagte klassieke musiek spoel uit, gaste begin naderskuifel.

      “Hier kom die maestro nou,” sis Latoya deur haar tande en beur vorentoe om beter te sien.

      Hartman Swiegers, in ’n diepgroen pak, wit kraaglose hemp en swart puntskoene, glimlag enigmaties en knik na alle kante, lig sy arms, oop handpalms na bo gedraai: welkom, welkom.

      ’n Paar mense begin hande klap. Die steltlopers strooi blinkers oor stralende gesigte.

      7

      Seker dat niemand hom sien nie, spoeg Willing Dlamini een keer geluidloos, sekuur in die mango-mosterd (vir die forelvoorgereg) en meng dit ongeërg, soomloos met ’n houtspaan in die oranje, romerige tekstuur weg.

      Dit laat hom dadelik beter voel. Die stres om te presteer mag hom nie vanaand onderkry nie. Sjef verwag groot dinge van hom!

      Getrou aan sy naam is Willing die een wat stilbly en bevele uitvoer, ’n veeldoener wat enige werkstasie kan beman (sy finale titel is nog nie bepaal nie), ander se blapse kan uitsorteer en oorvat waar ’n seker hand nodig is; wanneer die bieffilet pienk (maar nie bloederig nie) moet oopval onder die lem, wanneer visgeregte sag en sappig uit die braaipan gelig moet word, pampoenbloeisels in deeg gerol en in kokende olie gedoop moet word.

      “Mlungisi!”

      Vir die eerste keer in maande hoor hy ’n fluistering van sy Zoeloenaam in die geskuifel en piep van skoensole op die kombuisvloer.

      Is dit die voorvaders wat hom herinner wie hy regtig is? Hy, kleinkind van ’n egte indoena?

      Mlungissssi … vasmaker, opknapper, regmaker, fixer.

      Die betroubare een.

      Hy weet hulle hou hom fyn dop, skud hul gryskoppe en brom soos grotgeeste: Wat maak hy hier van alle plekke? Hy wat so vinnig leer en nie skrik vir die jongste kooktegnieke van die witman nie, in die beste kombuise in die land. Koekbak kry hom nog onder, maar hy oefen in sy bachelor-kombuis met sy verroeste ou stoofoond in Sunnyside, hy kry wenke by Marie-Louise, die een vol soet laggies wat kunswerkies van deeg vou en vleg met haar meelvingers.

      Willing sweet soms, vloek selde (al kan hy die drukking in hom voel opbou), raak selde paniekbevange wanneer die bestellings begin instroom – strokies wat deur die drukker uitgespoeg, gelees en deur Sjef uitgebulder word voor dit aan die sentrale tafelrak geplak word. Hy steek sy spanning weg agter sy jeugdige gesig, ’n besadigde masker, veral vir Hartman.

      In die kombuis is hy Hartman se man. Sy regterhand, sy adjudant. Eintlik, as hy doodeerlik wil wees, is hy Sjef se skoensool.

      Ja, Sjef! Nee, Sjef! Trap my, Sjef! Spoeg op my, Sjef!

      Wat moet die voorvaders in uNkulunkulu dink? Het hy sy hart oopgespalk, sy herkoms verraai vir ’n voorskoot, hom neergebuig voor die groot wit kosgod?

      Willing smoor die onwelkome gedagtes. Hartman het hom in beheer gelos en hy kan nie fokus verloor nie. Dit verg een simpel glipsie, een haastige oordeelsfoutjie, en die kettingreaksie hou heeldag nie op nie.

      Nadat Jimmy Brown vroeër vandag uitgejaag is, het Hartman sy moue doodluiters opgerol, sy voorskoot met die embleem van ’n groen tamatie omgebind en soos ’n generaal deel geword van die stryd, die bron van ’n onophoudelike stroom bevele, sarkastiese grappe en vloeke. Nou en dan ’n knipoog aan iemand terwyl die sweet oor sy wange soos trane biggel, dalk selfs ’n kompliment of ’n ondeunde glimlaggie. Duidelik in sy element.

      Hulle is te min mense vir die taak, kla Lina. Hulle het minstens nog vier werkers nodig.

      Hartman beduie hy weet, maar hy sal wag tot hy mense kan kry wat hy vertrou. Veeldoeners soos Willing, Lina en Marie-Louise.

      Hoe plofbaar en onvoorspelbaar is Hartman nie! Niks ontgaan sy rustelose aandag en bitsige tong nie. Nou en dan moet hy aan sy span illustreer dat hy nog net so verwoed saam in die kombuis kan arbei, nog net so vaardig is met hand, mes en menger.

      Willing moet erken die formidabele sjef se voorbeeld het die oorblywende drietal aangespoor om die onmoontlike te vermag, die voorbereiding met militêre presisie af te handel. Hulle word werkende, geoliede dele in ’n fabriek se produksielyn, meganies in pas, georganiseerd soos miere; hulle haal selfs saam asem, hulle buk, kap, roer en was. Iets onderbewusteliks, ’n dans van raak vat, aangee, werksvlakke skoonvee, uit mekaar se pad bly.

      Elke ekonomiese beweging tel.

      Willing is verslaaf daaraan, al voel hy soos ’n drukkoker. Hy voel tuis hier, deel van ’n uitgesoekte spannetjie. Spesiaal.

      Al was sy pa, Zacharias, ’n skofbaas op die Witwatersrandse myne, net een keer in ’n jaar tuis, het sy ma, Noxolo (Moeder van Vrede), hom van kleins af ingeprent om volgens ou Zoeloe-gebruik net respek aan ouer mense te betoon, sy oë neergeslaan, opdragte uit te voer sonder om teë te stribbel. Eerbiedig, ’n mens tussen mense. Hy moes net praat wanneer hy aangespreek word. Daar was


Скачать книгу