Rooi haring. Schalk Schoombie
eet. Einstein moes eet. Lincoln en Mandela moes eet. Jesus en Boeddha moes eet, al het hulle ook dikwels gevas. Ja, selfs Gandhi, ’n algehele onthouer en vasser van formaat, moes eet. Honger is tog die beste aptytwekker. Onthouding maak die maal ’n absolute sinsverrukking. Gun my dus om julle bietjie langer te laat honger ly …
“Al die groot denkers moes éét om behoorlik te kon dink. Vas en eet is sentraal aan alle godsdienste: siklusse van voeding en onthouding, van honger ly afgewissel met feesviering en kwistige kostafels. In die sweet van ons aangesig sal ons eet, maar ook in die vreugde van ons menswees en samesyn! Eet is sosiale verkeer. Eet is liefde maak. Eet is waar ons vriendskappe smee en transaksies beklink. Eet maak vriende van vyande. Dis die begin en die einde van verhoudings. Van troues tot begrafnisse eet en drink ons ons kort, swaarbelaste bestaantjies om. Ons werk om te kan eet. Ons eet om te kan werk! Ons leef nie van brood alleen nie, nee, maar woorde alleen gaan ook nie ons magies volmaak nie. En dit gaan nie net oor versadig raak nie. Eet is primitief, organies, maar ook iets verhewe. ’n Simboliese gebaar, om ’n heildronk in te stel, brood saam te breek. Verbode vrugte, waar als begin het! Die gedoemde man se laaste maaltyd …”
Geleidelik raak die stilte verbrokkel deur onrustige geluidjies en skuifelings. ’n Paar gaste sit hand-oor-mond, passief of dalk verveeld. Party sluk speeksel weg, adamsappels klimtol.
Sommige sit met versteende glimlaggies, gelate, sommige met vraende fronsies, verwonderd.
Iemand lek sy lippe hoorbaar af: Sjapp! Iemand onderdruk ’n nies: Knnrrrts! Iemand kug: Uggug! Iemand toets ’n vlak laggie: Iegiegie! Party monde hang effe slap oop.
Dit lyk vir Greta of die meeste mense vrede gemaak het met die feit dat hulle moet wag en luister, hongerpyne beteuel, aanvaar dat Hartman se toespraak tydloos en inderdaad ewigdurend kan wees, die geseling voor die beloning. Agter haar gorrrr iemand se maag hard en hy proes verskonend.
Greta is skynbaar al een wat rondkyk, mense se uitdrukkings probeer ontsyfer.
Nee wag, Latoya doen dit ook. Hulle twee koppe roteer stadig, sigsag. Hulle beloer hul medegenooides, probeer gedagtes lees en motiewe peil, bly tog ingestel op Hartman se tergende toespraak.
Bernard Boucher wieg bevange, hande oor boepie gevou, ogies geskreef van ingehoue lag, lus of ongeduld.
Langs haar kyk Darius Swiegers stip na sy naamkaartjie.
“Dit bring my by die groen tamatie, simbool van Tydloos.”
Skynbaar uit die niet verskyn daar ’n klein groen tamatie op Hartman se regterhandpalm.
Hartman kyk selfvoldaan rond. “Waarom ’n groen tamatie? Vrug of groente? Aha! Al word ons hoeveel keer vertel dis ’n vrug, bly die vermoede knaag dis ’n sjef se liegstorie. Tel gerus die groen tamaties op julle tafels op, druk bietjie daaraan, ruik dit. Maak nader kennis met die nederige groen tamatie,” por hy joviaal.
“Vol tot barstens toe met soetsuur smaak en groen goedheid. Pure potensiaal. Dis nie net Kreoolse cuisine, danksy Fried Green Tomatoes se groen tamatieskywe gevryf met growwe mieliemeel en sout en gebraai in olyfolie, wat hierdie verleidelike vrug vier nie. Dis nog hard en styf, die oersimbool van uitgeswelde, toekomstige lekkertes, sensuele jeugdigheid. Groen tamaties, met die belofte van volryp geregte. Ons hoop om vanaand aan hierdie beloftes te voldoen.
“Aanvanklik, toe ek ’n nuwe restaurant in Pretoria oorweeg het, was die plan om meer eksperimenteel te wees, avant garde selfs, om Suid-Afrika se eie elBulli te loods; elBulli, waar jy kon aansit vir ’n hele aand van klein Katalaans-geïnspireerde smulhappies op stokkies en in spesiaal ontwerpte lepels wat die sinne begogel; maar vir my projek alles natuurlik eg-Suid-Afrikaans – ’n uitbundige oes van ons kruiskulturele smake. ’n Malse versnyding van Maleise, Indiese, Xhosa-, Zoeloe- en Boerekos. Toe dag ek weer nee, ek wil nie tantaliseer en terg nie! Happies is nie die essensie van Afrika nie. Pap en potjiekos is. Ryk, dik stomende bredies en bedwelmende kerries en hompe braaivleis en gerookte vis en gebakte winterpoedings! Ryk en lekker! Ons wil troetel en voed en inspireer! In Afrika wil ons groot gaan of huis toe gaan! Eintlik is elBulli so puntenerig revolusionêr, so kleinlik kosmopolities, ’n kliniese koslaboratorium – tradisieloos en nou hopeloos passé!
“By Tydloos streef ons die goue draad na, van pre-Voortrekkerkos tot post-reënboognasie-cuisine. Meer is vir ons méér, soveel meer, en dit beteken allermins ons kan nie ook baie kreatief wees nie, dit beteken net ons skilder op ’n breër doek met groter kwaste.”
Greta ril onwillekeurig. Agter die glasvenster van die voordeur sien sy die buitelyn van ’n man in die sterk skemer. Hy staan bewegingloos maar gespanne, asof oorgehaal. Sy kan nie sy gesig of gelaat uitmaak nie, wel sy breë skouers, dik nek en sterk bene wat wyd geplant is, arms wat langs sy sye hang. ’n Uitdagende houding. Die skim het ’n formele pak aan, buitelyne van ’n rowwe ontwerperskets.
Net ’n nuuskierige verbyganger? Hoe lank staan hy al daar?
Is dit moontlik dat Hartman hom nie kan sien nie?
Maar die sjef is meegevoer en fokus op sy gehoor.
Die res van Hartman se toespraak, kwinkslae en staaltjies vloei saam in ’n guitige stroom van kulinêre retoriek, ’n smorgasbord van verwysings in vele tale, gewyde kosaanhalings en smaakheimwee. Die romantiese ideaal dat voedsel as hoofverleiding die tafel dek in elke verhouding. (“Vertel my wat jy eet en ek vertel jou wie jy is.” – 19de eeuse gastronoom Jean Anthelme Brillat-Savarin. “Daar is geen liefde meer opreg as die liefde vir kos nie.” – George Bernard Shaw.)
En terwyl sy blik oor genooides in die flikkerlig van die lang wit kerse dwaal, sommige nog half verleë met groen tamatie in die hand betrap, noem hy elk by hul wêreldberoemde name, rig weer eens ’n verwelkoming, deel komplimente uit, klap sy hande vroom saam en buig gemaak nederig soos ’n Japannees. Die eer van elk se teenwoordigheid hier vandag!
Hy meld plaaslik verkrygde bestanddele, die feit dat geen krummel in sy kombuis vermors word nie. Ouetehuise, kindersorg en weeshuise pluk die vrugte van sy gulheid op ’n daaglikse basis. Die restaurant het sy eie groente- en kruietuin gekweek en verder word net die beste, mees betroubare verskaffers se produkte oorweeg. (Baie is geweeg en te lig bevind.) Gehalte, gehalte, gehalte! Location, location, location! Tradisie, vernuwing, verrassing!
En nou, beduie hy, sy wange gloeiend en sy ogies onnutsig, het die groot oomblik aangebreek!
Die genooides klap hande en Hartman herhaal sy Japannese buiging.
Met ’n klein kopknik van die maître d’ kry die voetsoldate langs die mure lewe. Hulle beweeg geluidloos tussen die tafels in, iPads uitgehou soos kosbare offerandes. Hulle buk nader met geoefende glimlaggies. Almal mag nou voorgereg bestel.
Greta lig haarself halflyf uit haar stoel op. Sy probeer sien deur die skielike geskarrel van kelners en hongeriges wat ontwaak uit hul gemeenskaplike koma.
Die dreigende figuur in die groeiende donker daar buite is skoonveld.
10
Die kelnerin is ’n rietskraal meisiekind van sestien wat balanseer op spykerhakke – gevaarlik vir skinkbord dra, flits dit deur Greta – en tik elkeen se bestelling klaterend op haar iPad Mini met lang appelgroen naels.
Greta en Bruce kies die gerookte snoekpastei, Bernard die spek-en-hoender-roulade; hy wil vanaand die vleisgeregte kafdraf.
“Wat van jou, Darius?” Greta wend haar tot die bonkige man langs haar terwyl die kelnerin wag.
Darius skud sy kop sonder om op te kyk. “Te ryk vir my.”
“Miskien kan jy net proe,” stel Bruce voor. “Dalk is dit … nammm!”
“Ek weet hoe dit proe!” bars Darius uit en gluur hom aan.
Bruce hensop, ’n vredesgebaar.
“Meneer hoef nie dadelik te besluit nie.” Die kelnerin draai sonder ’n verdere woord weg na ’n ander tafel.
Darius knyp sy neusbrug tussen duim en wysvinger, sluit sy oë styf asof hy onder ’n brander deur duik.