Ena Murray Keur 14. Ena Murray
… ek moet nou gaan.”
Hy staan ook op, steek ’n hand na haar toe uit, maar sy ruk los, strompel na die deur soos ’n vlugtende diertjie. Dan sak sy met ’n sidderende kreun inmekaar.
“Jou verspotte kind, ek sal niks aan jou doen nie. Jy het niks te vrees van my nie …” Toe sien hy dat sy weer haar bewussyn verloor het. Hy buk af, tel haar in sy arms op asof sy ’n veertjie is, en staan ’n oomblik besluiteloos in die middel van die vertrek. Dan stap hy na ’n aangrensende kamer en lê haar op die bed neer. Hy skakel die bedlamp aan.
Daar is vreemde merke aan haar keel waar die kraag van haar rok weggeskuif het. Hy buk en frons toe hy dit met ’n kennersoog van nader beskou.
Eers toe hy die laken oor haar trek en die bedlamp wil afskakel, sien hy die dowwe glinstering van ’n trouring aan haar vinger.
2
Rudolf stap diep ingedagte terug na die sitkamer. Hy neem die sopbekers kombuis toe, maar sy gedagtes is nie by wat hy doen nie.
Sy is dus getroud. Hy weet nie hoekom hy so geskok voel nie. Baie meisies trou op agtien, negentien jaar, al lyk hulle soms nog na kinders wat op die skoolbanke tuishoort.
Nee, dis nie die feit dat sy getroud is wat hom ontstel nie, maar die duidelike tekens van aanranding aan haar liggaam. Daardie wrede, rooi hale aan haar keel kan net een ding beteken: iemand het haar gewurg. Haar man? Nadat hy die merke ondersoek het, het hy verder begin soek. Toe hy klaar was, was daar ’n kil woede in hom teenoor die mens wat vir sulke brutale geweld verantwoordelik was. Haar hele liggaam het groot, blou kneus- en skaafplekke getoon.
As dokter het hy al genoeg sulke tekens gesien om dit dadelik te herken – brutale aanranding. Sy het klein en weerloos gelyk terwyl sy voor hom lê en niks het sy doktersoog ontglip nie.
Hy het nie weer die bont rokkie vir haar aangetrek nie, maar die baadjie van sy eie slaappak onder die kussing uitgehaal en haar slap lyfie daarin geklee. Sy het natuurlik byna daarin verdrink, maar dit het nie saak gemaak nie.
Toe het hy haar teen die kussings laat terugsak, versigtig toegemaak en ’n inspuiting gegee. Rus is die belangrikste wat sy op hierdie oomblik nodig het.
Terwyl hy bad en gereed maak om op die rusbank in die sitkamer te probeer slaap, bly sy gedagtes by die klein swerweling in die kamer. Dit kom nie eens by hom op dat dit miskien nie so verstandig vir ’n vrygesel is om haar vir die nag in sy woonstel te huisves nie.
Hy is tog heelwat ouer as sy én ’n dokter. Dit was ook so laat in die nag toe hy op haar afgekom het en sy woonstel was naby.
En hy was tog van plan om haar huis toe te neem nadat hy die enkel behandel het. Sy was reeds binne sy woonstel toe hy moes hoor dat sy geen tuiste het nie. Wat kon hy anders doen?
Ook nou, terwyl die slaap van hom wegbly, kom dit nie by hom op dat sy goeie daad miskien ’n onaangename nasleep kan hê nie.
Hy het net onrustig begin insluimer, toe die telefoon deur die stil woonstel skril. Hy haas hom om dit te bereik, want dit staan langs die bed in die slaapkamer. Hy skakel die bedlampie aan en tel die gehoorbuis op, sy oë op die vrou in die bed. Sy slaap nog diep en rustig, sien hy tevrede.
“Dokter Van der Merwe hier.”
“Ek is jammer, dokter. Suster Nolte wat praat. Dis mevrou Weyers; sy het begin bloed vomeer, en u het gesê ons moet dadelik laat weet …”
“Ek is nou daar.”
’n Bekommerde frons keep tussen sy wenkbroue. Mevrou Weyers … Dis ’n slegte teken, gewoonlik die laaste. Hy kyk vlugtig op sy polshorlosie. Vyfuur. Vinnig verklee hy en met ’n laaste blik na die bed, verlaat hy haastig die woonstel.
Toe hy sy motor by die hospitaalhekke inswaai, lê die eerste vae tekens van ’n nuwe dag in die ooste.
Dis ’n uur later toe Rudolf weer in die parkeerplek van die woonstelgebou indraai. Daar staan ’n vreemde motor in sy motorhuis. Weet die besoekers nou nog nie dat hulle nie van hierdie motorhuise gebruik mag maak nie? Kan hulle dan nie lees nie? Dit staan tog groot op die bord by die ingang geskryf …
Vererg trek hy sy motor by ’n gangetjie in en bestyg dan die treetjies twee-twee op ’n slag. Hy hoop sy slaap nog rustig. Hy steek die sleutel in die slot, maar toe swaai die deur oop en ’n koel stem sê: “Dis nie gesluit nie. Kom gerus binne.”
“Catherine!” Hy druk die deur agter hom toe en kyk verslae na die rooikopvrou wat haar weer kalm op die bank tuismaak. “Wat … wanneer het jy gekom?”
“Sowat ’n halfuur gelede. Ek het verlede nag gekom en moet vanoggend weer dadelik Kaap toe vertrek. Maar ek wou jou darem eers kom groet en leen toe ’n vriendin se motor om by my aanstaande uit te kom.”
Haar stem is ysig, sarkasties. Hy sluk, frons ongemaklik. Iets groots is verkeerd. Sou sy dalk …? Nee. Hoekom sou sy in sy slaapkamer gewees het? Alles is nog doodstil daar. Die deur is nog toegetrek en geen geluid daaragter verraai dat dit beset is nie.
Hy stap nader, buk. “Ons het nog nie gegroet nie. Welkom terug in Suid-Afrika. Het jy jou oorsese uitstappie geniet?”
Sy laat toe dat hy haar voorkop bykom, maar die groen oë is koud onder die rooi kuif. “Ja – maar skynbaar nie so baie soos jy jou … tydjie geniet het nie.” Hy kom weer orent en frons nou openlik. Ergernis flits in sy oë. Hy het verlede nag byna niks geslaap nie én boonop twee pasiënte binne twaalf uur verloor. Hy is moeg en dis sesuur in die môre. Hy is beslis nie nou lus vir ’n geredekawel met sy slim nooi nie.
Hy sê kortaf: “O ja, as jy dood en siekte en lyding as genot kan beskryf …”
Sy draai soos ’n rooi blits na hom toe terug. “Wie probeer jy bluf, Rudolf? Of was dit maar altyd jou gewoonte?”
Hy voel ergernis in woede oorgaan. Vanoggend het hy nie vir hierdie rooikopnooi se praatjies lus nie.
Met moeite beteuel hy sy humeur. Haar stem klink uitsonderlik skril en skerp vanmôre, of was dit maar altyd so?
“As jy my net sal sê waarvan jy praat, sal ek miskien kan verduidelik …”
“O! Miskien kan verduidelik?”
“En hou op met skree! Jy maak die hele buurt wakker!”
“Of die meisie in jou bed, nè?”
’n Grafstilte daal tussen hulle neer.
“Catherine …”
“Ek kom hier ewe gretig aan om jou te verras. Ek was ses weke weg. Ek wil jou net kom groet en hier kry ek ’n wildvreemde vroumens in jou bed!”
“Ek hoop nie jy het haar wakker gemaak nie …”
’n Lelike laggie ontval haar lippe en die groen oë blits. “Nee, hartlam, ek het nie. Nie ’n bom sou haar wakker gekry het nie. Sy is totaal uitgeput na jul … nagtelike eskapades.”
“Catherine!”
“Moenie my daar staan en ‘Catherine’ nie! Wat dink jy is ek? ’n Gek? Wat verwag jy sal ek dink as ek by my aanstaande man se woonstel kom en ’n ander vrou in sy bed en in sy slaapklere aantref?”
Weer moet hy die teuels van sy humeur sterk inpluk. Hy doen sy bes om redelik te wees. “Catherine, ek besef dit is … moeilik … ek bedoel …” Hy sien die vernouing van die groen oë en bars gefrustreerd los: “Maar my maggies, jy ken my mos! Jy weet mos ek is nie daardie soort man wat …”
“Wat vrouens in sy woonstel ontvang en huisves solank sy nooi oorsee is nie?” help sy hom aan. “Nee, ek het werklik nie gedink jy is daardie soort nie. Ek was natuurlik verkeerd. En terwyl ek dit nou met my eie oë aanskou het …”
“Jy het niks aanskou nie,” val hy haar woedend in die rede. “As jy my net kans sal gee om te …”
“O? Ek het gedroom. Ek sien spoke om sesuur die oggend?”
“Nee!