Ena Murray Keur 14. Ena Murray
selfs paniekerig. Dit kan ’n mens verstaan. Sy het niks by haar gehad nie. Nie eens ’n handsak nie. In haar roksak was ’n tienrandnoot.” Hy skud sy kop. “Ek weet nie wat ek moet doen nie, tante. Dis seker my plig om haar geval by die polisie te gaan aanmeld, maar as ek dink aan die wurgmerke aan haar keel …”
“Wag eers,” raai sy tante hom aan. “Laat ons eers die hele agtergrond hoor. Miskien sal sy my in haar vertroue neem. Dan kan ons besluit wat die regte en beste optrede sal wees.”
Hy bring die motor tot stilstand. “Ja, miskien; maar … intussen?”
Hulle kyk mekaar bekommerd aan. Toe laat tant Kitty sag hoor. “Jy het eintlik nie ’n keuse nie, het jy? Jy is voorlopig verplig om by jou oorspronklike storie te bly, nie waar nie?”
“Oorspronklike storie?”
“Wat jy aan Catherine vertel het – dat sy jou vrou is. Wat kan jy anders doen?”
Hy frons skerp. “En die letsels?”
“Sy het by my gekuier en is daar aangerand, maar van die skok het sy tydelik aan geheueverlies gely. Die eerste keer dat jy weer van haar gehoor het, was toe hulle jou netnou gebel het. Dis al.”
Hy kyk haar skerp, ongelowig aan. “Ek het nie geweet tante kan so maklik kluitjies bak nie. Liewe genugtig, ek sou nooit aan so ’n verduideliking gedink het nie.”
“Ook maar goed dat ek kom kuier het en my jou stuursheid nie te sterk aangetrek het nie.”
Hy sug en gee haar hand ’n dankbare drukkie.
“Dankie, tante. Ek is jammer, maar van gister af is alles deurmekaar. Goed, die storie klink redelik, maar is ’n mens nie veronderstel om sulke aanrandings by die polisie aan te meld nie?”
“Ja, ek dink so, maar wie sê jy het nie? Hoe sal hulle hier in die hospitaal weet of jy dit aangemeld het of nie?”
“En die slaapklere waarin sy gevind is?”
“Sy dra altyd jou slaappakbaadjie. Daar is baie vrouens wat in hul mans se slaapklere slaap.”
“O?”
“Ja.”
Hulle het by die hospitaal stilgehou, en sy stap saam met hom na die ongevalle-afdeling. “Rudolf, onthou net om soos ’n bekommerde eggenoot te lyk en op te tree.”
Hy knik, wetende dat dit nie veel toneelspel van hom sal verg nie. Hy is op die oomblik ’n diep bekommerde man, eggenoot ofte nie.
Die jong hospitaaldokter lyk selfbewus en ongemaklik toe hy sy senior in die deur sien verskyn. Hy en die twee verpleegsters se oë ontmoet vlugtig, en Rudolf kners op sy tande. Die saak was dus klaar onder bespreking.
Hulle het daardie voorletters gesien en reeds begin gis hoe die meisie in een van sý slaappakbaadjies beland het. Hy stap vinnig nader en die kommer lê duidelik en eg in sy oë toe hy oor die stil gestalte op die ondersoektafel buk.
“Hoe gaan dit met haar? Wat het sy oorgekom? Het jy haar al ondersoek?”
“Ja. Sy ly erg aan skok. Ek vermoed harsingskudding ook. Die stamp moes taamlik hard gewees het.”
“Stamp?”
“Ja. Sy het voor ’n motor beland.” Thys Wessels se ooglede sak. “Eintlik beweer die man dat sy voor sy motor ingeloop het, maar …”
“Dis twak. Is jy seker sy is verder heeltemal oukei?”
“Ja, dokter. Daar is niks gebreek nie, maar sy is vol letsels.”
“Hm. Wel, kry haar in ’n private kamer. Sy moet liewer vannag hier bly. Is sy onder verdowing?”
“Ja, maar sy was bewusteloos toe ons haar gekry het.” Hy wink na die verpleegsters. “U het gesê private kamer?”
“Ja, natuurlik. Ek verkies dat my vrou privaat lê.” Hy gee voor dat hy nie die skok op die drie gesigte sien nie en vra ongeërg: “Die bestuurder van die motor … het hy haar gebring?”
“Ja, hy sit nog daar voor.”
“Goed. Neem solank my vrou op. Ek wil met hom praat en dan kom ek boontoe. Ek sal graag wil hê dat my tante vannag by haar bly. Sy was ’n opgeleide suster.”
“Dis alles reg, dokter.”
Hy stap uit en sien dadelik die man wat eenkant onrustig staan en rook. Hy loop reguit op hom af.
“Hoe gaan dit nou met haar, dokter? Ek is regtig baie omgekrap. Sy het nog die een oomblik op die sypaadjie gestap en die volgende oomblik spring sy reg voor my motor se wiele in …”
“Sy is gelukkig nie ernstig beseer nie. U kan met ’n geruste hart huis toe gaan. En, terloops, u hoef dit nie by die polisie aan te meld nie. Dis maar net vriendelike raad. U ruik na drank.”
Die man kyk hom verontwaardig aan. “Ek het twee sopies in, maar ek is nie dronk nie. Ek sê jou sy het …”
“Wel, laat dit wees soos dit wil, maar u is nie honderd persent nugter nie. U sal in groot moeilikheid beland as die polisie u vanaand onder oë kry. Gaan huis toe en vergeet van die hele affêre, raai ek u aan.”
Hy laat hom nie twee keer nooi nie. Hy moet liewer maar die dokter se raad volg en spore maak. Hy is nie dronk nie, maar hy weet goed hy het nie net twee drankies agter die blad nie. En terwyl sy nou nie te ernstig seergekry het nie …
Rudolf kyk hom met gemengde gevoelens agterna. Die man behoort aan die polisie oorgelewer te word. Hy het geen tyd vir dronk bestuurders nie, maar …
In hierdie selfde ongevalle-afdeling van die groot stadshospitaal word die produk van daardie soort bestuurder daagliks ingedra – lewende lyke, verminktes, sterwendes, onskuldige mense wat slagoffers is. Maar vanaand moes hy een van hulle laat gaan, amper soebat om nie die ongeluk by die polisie aan te meld nie, ter wille van háár.
Hy is geneig om die man se storie te glo dat sy selfmoord wou pleeg. Hoe desperaat moet sy nie op daardie oomblik gewees het nie!
Hy wil haar nie nou blootstel aan ’n polisieondersoek en ondervraging nie. Hy wil eers self agter die hele storie kom. Daar moet ’n rede wees waarom sy so aan die vlug bly, en hy moet weet wat dit is voordat die gereg ingeroep word. Sy lippe sluit styf opmekaar. Geen wet sal hom beweeg om haar te laat teruggaan na ’n sadis van ’n man nie.
’n Teerheid oorweldig hom toe hy langs die hospitaalbed staan en neerkyk op die wit gesiggie, die swart hare soos ’n donker wolk oor die wit kussing. Dit tref hom dat Catherine nogal ’n raak beskrywing van haar gegee het. Sy lyk soos ’n nimf, so asof sy enige oomblik voor hul oë kan verdwyn.
Sy gesig word hard en vasberade. Kom wat wil, maar van hierdie oomblik af gaan hy haar nie weer onder sy oë laat uitgaan nie.
Rudolf vind hierdie gevoel teenoor die onbekende meisie nie vreemd nie. Van kleins af het hy rondloperkatte en -honde by die huis aangedra, siek voëltjies gedokter en wilde diertjies verpleeg. Dis hoekom hy dokter geword het, hoekom hy so gewild onder sy pasiënte is, en reeds op betreklik jeugdige ouderdom ’n bloeiende praktyk opgebou het.
Sy pasiënte is altyd bewus van die empatie, die simpatieke begrip van hul dokter; dat hierdie man alles menslik moontlik vir hulle sal doen.
Nou kyk Rudolf af op die skraal, bleek gesiggie en sy word vir hom een van daardie bang, wilde diertjies wat hy as kind huis toe gedra en met liefde versorg en verpleeg het. Sy is hulpeloos en weerloos; sy het iemand nodig om haar te beskerm. Sonder huiwering neem hy daardie verantwoordelikheid op hom.
Hy buk af en lê sy lippe ’n oomblik vaderlik op die bleek voorkoppie. Die verpleegster kyk vinnig weg, effens verleë. Die hele hospitaal is in rep en roer. Niemand het geweet dat die gawe dokter Rudolf van der Merwe getroud is nie. En die vreemde omstandighede waarin sy vrou in die hospitaal opgeneem is, dra net verder by tot die geheimsinnigheid wat sy huwelik omhul.
Maar dat hy baie lief is vir haar, is seker, dink die jong verpleegster.