Ena Murray Keur 14. Ena Murray
nie, het sy onmiddellik gesnap. Sy het dit egter daar gelaat. Dit het niks met haar te doen as hy voorgee hierdie meisie is sy vrou nie.
Dat hy ’n goeie dryfveer het, hoor sy baie gou. Die slaapklerestorie en die res soos deur tant Kitty vertel, het ’n vinnige ronde deur die hospitaal gedoen en natuurlik ook die matrone se ore bereik. Dat dit met ’n goeie knip sout gesluk moet word, het net sy vermoed. Dokter Rudolf van der Merwe het skynbaar totaal vergeet dat sy die meisie al gesien het en haar onmiddellik sou eien. Sy het dit daar gelaat, want sy wou nie nog verder tot sy kommer bydra nie.
As sy nie geweet het die meisie kan nie sy vrou wees nie en dat hy haar maar twee dae gelede die eerste keer in háár kantoor ontmoet het, sou sy, soos die res van die hospitaalpersoneel, nie die vaagste vermoede gehad het dat die dokter met ’n puik stukkie toneelspel besig is nie.
Want dokter Van der Merwe speel sy rol as bekommerde eggenoot onverbeterlik. Ook sy tante, moet die matrone erken, speel haar rol foutloos.
Rudolf is bleek en gespanne. Hy lyk moeg en bekommerd en is elke minuut dat hy van sy praktyk kan wegbreek, langs sy “vrou” se bed. Tant Kitty kry hom net met dreigemente so ver om ’n bietjie te gaan rus. Geen koste en moeite word ontsien om die meisietjie in die bed na die lewe te probeer terugbring nie.
Hoe die hele aangeleentheid haar ook al fassineer, matrone Nel besluit dat sy nie ’n woord sal laat glip oor die ware toedrag van sake nie, nie eens teenoor dokter Van der Merwe nie. Eintlik is sy bly dat hy vergeet het van die moontlikheid dat sy sy “vrou” sou herken. Dit sal hom én haar groot verleentheid spaar.
Twee dae later is sy egter byna net so bekommerd soos Rudolf en sy tante – nie omdat Madie nog bewusteloos is nie, maar om ’n heel ander rede. Sal sy hom daarvan vertel of sal sy liewer swyg, wonder sy terwyl sy die oggend van die derde dag die private kamer binnestap. Sy tref Rudolf en sy tante soos gewoonlik aan weerskante van die bed aan.
“Hoe gaan dit hier?”
“Dieselfde.”
Hy sit soos altyd by die koppenent van die bed terwyl sy hand doelloos met hare speel, sy vingers die trouring om en om haar vinger draai, sy oë strak en stip op die wit gesiggie asof hy haar met die drang van sy blik uit daardie donker put van vergetelheid wil ruk.
Die matrone kyk na tant Kitty. Sal sy nie liewer met haar oor die saak praat nie? Maar sy weet nie presies wat hierdie vrou weet nie. Miskien dink sy werklik die meisie is Rudolf se vrou. Nee, sy sal verplig wees om met hom persoonlik te praat.
“Dokter Van der Merwe …”
Hy vee moeg oor sy oë en kyk op. Weer tref die grysheid van sy gelaat haar. Dit kan nie alles toneelspel wees nie. Sy ken hierdie man darem ook al ’n paar jaar lank, en tot dusver het haar mensekennis haar nog nie in die steek gelaat nie.
Rudolf van der Merwe is nie net ’n puik dokter nie, maar ook ’n puik mens. In die ses jaar dat sy daagliks saam met hom werk, het sy nog nooit iets gehoor wat hom tot skade en skande strek nie. Hy is bemind onder kollegas, personeel en pasiënte.
As hy iets onguurs in sy private lewe verberg, sou dit al die een of ander tyd op die lappe gekom het. Sulke dinge kom altyd aan die lig, al probeer ’n mens dit ook hoe dig hou. As hy byvoorbeeld ’n man was wat sy vrou mishandel het – soos die letsels aan sy “vrou” se liggaam beslis getuig – sou dit uitgelek het. Liggaamlike geweld sal sy nooit met Rudolf kan vereenselwig nie, al lê al die bewyse oënskynlik reg voor haar oë in die wit bed. Die feit dat niemand tot ’n paar dae gelede ook eens bewus was daarvan dat hy getroud is nie, staaf haar vermoede, of liewer vaste oortuiging dat die bewustelose meisie geensins sy vrou is nie.
“As u miskien deur die loop van die dag ’n kansie kan afknyp, sal ek u graag in my kantoor wil spreek, asseblief. Dis … eintlik dringend.”
Hy knik en wonder nie eens hoekom sy hom wil spreek nie. Min dinge maak nou werklik vir hom saak. Selfs sy praktyk is vir die oomblik op die agtergrond geskuif en hy het opdrag by sy spreekkamer gelaat dat hy net vir werklik dringende gevalle ontbied mag word.
Daardie middag, nadat tant Kitty weer byna hardhandig na ’n leë, private kamer verwyder moes word om ’n bietjie te gaan rus en Rudolf teen wil en dank sy plek by die koppenent van die bed moes verlaat om na ’n noodgeval te gaan omsien, begin die blou oë die eerste keer in dae stadig oopgaan en verward om haar rondkyk.
Die jong verpleegster wat half lomerig eenkant sit, bemerk eers ná ’n paar oomblikke die vraende blik op haar en sy spring skuldig op. Sy het sowaar amper aan die slaap geraak en hier lê en kyk die pasiënt vir haar. Sy glimlag breed en laat vrolik hoor: “Aitsa! En kyk wie is eindelik wakker! Hoe voel jy?”
“Goed … dankie. Waar …” Die blik dwaal weer deur die vertrek. “Waar is ek?”
“In die hospitaal. Jy was drie dae, of ámper drie dae, bewusteloos. Onder ’n motor beland; onthou jy nie?”
Sy skud stadig haar kop. “Nee, ek … ek kan niks onthou nie. Dis alles swart … dof …”
“Ag, toe maar wat, dit sal alles regkom as jy eers goed gerus het. Tant Kitty en dokter sal darem vreeslik bly wees om te hoor jy is weer jouselwers. Hy was byna nooit van jou bed af weg nie.”
“Tant … Kitty?”
“Ja. Jou man se tante. Sy is ’n gawe ou dame. Sy het ons volgeprop met lekkergoed en allerhande eetgoedjies solank sy hier langs jou bed gesit en waak het.”
“My … man? Wie … is … my man?”
“Dokter Van der Merwe, natuurlik. Hoe sal jy dan nie …” Die verpleegster frons. “Kyk, hier sit jou trouring.”
Die pasiënt frons skerp, bekyk haar hand waaraan die trouring glinster asof sy dit die eerste keer in haar lewe sien. Toe kyk sy op met ’n verdwaasde uitdrukking in haar oë.
“Ek is … getroud?”
“Maar natuurlik! Hoe …?” Sy frons meteens onrustig. Hoe sal die vrou dan nie weet sy is getroud nie, en dít nogal met so ’n aantreklike man. Maar die blou oë vertel haar dat die pasiënt nie probeer om snaaks te wees nie. Haar oë is leeg; hier is iets verkeerd. Sy moet liewer maar vir suster gaan roep. “Ek gaan net gou vir suster roep, hoor? Hulle het gesê ek moet dadelik kom sê as jy bykom, en hier staan en babbel ek. Ek kom nou, hoor?”
“Nee! Wag … wag eers.”
“Ja?”
“Sê my eers …” weer soek die blik om haar rond, “wie … wie is ek?”
Die verpleegstertjie knip haar oë. Sy weet regtig nie! “Jy is mevrou Rudolf van der Merwe, Madie. Jou naam is eintlik Madelyn, sien ek op die kaart, maar hulle praat van jou as Madie.” Sy probeer ongeërg glimlag. “Onthou jy nou?”
“Madie …” Die koppie skud weer. “Nee. Ek … het die naam nog nooit gehoor nie. Ek kan niks onthou nie!”
4
Terwyl die jong verpleegstertjie haar haas om in die kantoor te kom om die saalsuster mee te deel dat mevrou Van der Merwe bygekom het, maar skynbaar aan geheueverlies ly, lê die pasiënt doodstil.
Dis net die blou oë wat lewendig word met verwarring en vrees en ontsteltenis. Sy knyp hulle styf toe en maak hulle weer oop, maar dit help nie. Dis of ’n deur in haar verstand toegeslaan het en verby daardie toe deur kan sy nie sien nie.
Sy frons en probeer konsentreer. Die verpleegster het gesê sy het onder ’n motor beland. Daarvan kan sy niks onthou nie. Wat het gebeur voor die ongeluk? Dis vergeefs. Sy probeer in ’n ander rigting konsentreer, lig haar arm swak op en kyk weer na die trouring aan haar vinger. Dis tog of dit vaagweg bekend wil voorkom. Dan is sy seker getroud, soos die verpleegstertjie gesê het. Met ene dokter Rudolf van der Merwe. Die naam beteken vir haar niks. Dit bly pikswart hier agter in haar verstand.
’n Bewing gaan deur haar. Dit kan tog nie wees nie! Hoe kan sy nie onthou hoe lyk die man met wie sy getroud is nie? Hoe is dit moontlik dat selfs sy naam geheel