Ena Murray Keur 14. Ena Murray
die venster en kies die hasepad met sy klere en al!
Hy klap met sy vuis op sy knie. Vervlaks! Sy kan nie net so wegloop nie! Daardie enkel van haar moet nog baie pynlik wees. Meer nog, sy is nie eens ordentlik aangetrek nie! Sy slaappakbaadjie sal wel soos ’n minirokkie om haar sit, maar tog. Hoe dink sy gaan sy deur die strate kom?
Dan ook, ten spyte van sy woede, en hoewel hy dit met die grootste teësin aan homself erken, voel hy nog steeds bekommerd oor haar. Sy het niks by haar nie, geen heenkome nie. Wat gaan van haar word? Sy is vreemd in die stad. Daarvan is hy seker.
Hy spring op en stap na die stoel waaroor haar rok hang.
Hy voel in die bosakkie – die enigste plek waar daar dalk iets sal wees wat hom meer van haar sal kan vertel. ’n Enkele tienrandnoot is al wat te voorskyn kom.
Sy lippe sluit grimmig opmekaar. Dis al wat sy by haar gehad het. Nou het sy nie eens dít nie. Maar hoekom dan nie ten minste eers haar rok aantrek nie?
Sy het nie gisteraand vir hom voorgekom asof daar iets met haar verstand skort nie, maar nou begin hy wonder. Hoe meer hy wonder, hoe meer verdwyn sy ergernis en neem sy kommer toe. Selfs toe hy ’n ruk later in sy motor klim om met sy hospitaalrondes te gaan begin, lê die kommer nog in sy oë en soek sy blik vergeefs deur die strate na ’n vreemde wesentjie met swart hare in die baadjie van ’n te groot slaappak geklee.
Natuurlik soek hy vergeefs, en toe hy die eerste saal binnestap, gee die verpleegsters mekaar ’n vinnige kyk. Dokter Van der Merwe is baie gewild onder die hospitaalpersoneel; hy is ’n gemoedelike mens en kom met almal oor die weg, maar as hy die oggend soos ’n donderstorm lyk wat elke oomblik kan begin uitsak, moet daar niks skeefloop nie. Vanoggend is een van dáárdie oggende.
Terwyl Rudolf met sy werk besig is en dit net met die grootste selfbeheersing regkry om sy aandag daarby te bepaal, swerf ’n vreemde wesentjie doelloos buite rond, onbewus van die vreemde blikke wat sy van verbygangers ontlok. Almal sien haar vir ’n hippie aan.
Maar sy het te veel bekommernisse om haar te steur aan wat mense van haar vreemde en buitengewone voorkoms dink. Weliswaar besef sy dat sy nog steeds in die goeie dokter se slaappakbaadjie geklee is, maar aangesien dit ver genoeg na onder reik om deur te gaan vir ’n jurkrokkie en sy die knope almal toegeknoop het, kan dit haar nie baie skeel nie. Dis nie nou van soveel belang nie.
Wat van belang is, is waarheen sy gaan en wat sy gaan doen – en daarop kan haar verstand geen antwoord vind nie.
Daardie middag sit Rudolf alleen in sy woonstel. Nou kry hy dit nie meer reg om die gesiggie waarmee hy al die hele oggend wegkruipertjie speel, te ontwyk nie.
Die bekommerde frons bly tussen sy wenkbroue. Hy kry dit net nie reg om die petalje te vergeet nie. Selfs terwyl hy besig is, bly ’n dowwe prentjie hom by en die oomblik dat hy sy gedagtes toelaat om te dwaal, sien hy haar gesiggie so duidelik dat hy haar sou kon skets as hy ’n kunstenaar was. Wat hom veral bybly, is daardie wrede merke om haar keel en op haar liggaam, daardie verlatenheid wat oor haar gehang het.
Haar woorde: “Ek het nie ’n adres nie,” het hom diep aangegryp. Hy weet daar is sulke mense, maar dis die eerste keer dat hy met so iemand in aanraking kom.
Hy self is nie iemand met vele bande nie. Behalwe vir tant Kitty is daar nie juis ander mense wat aan hom verbind is nie.
Maar nou het dit oornag, letterlik en figuurlik, verander. ’n Skraal gesiggie met blou oë vol skrik en angs het haar verskyning gemaak in die netjiese raamwerk waarin sy lewe afgebaken is, en met geen wil ter wêreld kry hy dit weer uit sy sisteem nie. Hoekom sou sy so geheimsinnig en vinnig verdwyn het?
Hy weet nie dat sy wakker geword het van Catherine se skril stem en bekommerd gelê en luister het na die verskriklike aantygings wat daar gemaak word nie. Toe Catherine dreig om hulle aan die polisie te gaan verkla, het sy regop op die bed gespring asof ’n koeël haar getref het. Sy was nie eens bewus van haar enkel wat nog baie gevoelig was nie.
Die woord polisie was soos ’n elektriese skok en sy het weer eens die swart waas van vrees oor haar nugter denke voel skuif. Op daardie oomblik het sy weer die paniekbevange meisie geword met net een gedagte: sy moet vlug.
Sy het nie eens onthou dat sy nie ordentlik geklee is nie.
Sy het na die venster gesluip, dit saggies wyer oopgestoot en ongeag die pyn in haar enkel, vinnig deurgeklim. Sy moes wegkom. Hulle wil die polisie ontbied.
Maar al wat Rudolf weet, is dat sy hom eintlik baie swak behandel het; dat sy daarvoor verantwoordelik is dat ’n jare lange verhouding skipbreuk gely het. Al is dit die minste waaroor hy hom nou bekommer. Om die waarheid te sê, hy voel glad nie so ontsteld oor Catherine as wat hy behoort te wees nie. Daar is selfs ’n tikkie verligting in sy hart, so asof hy op die nippertjie ’n ramp vrygespring het. Wel, as daar een mens is wat bly sal wees om van die jongste verwikkelinge te hoor, is dit tant Kitty. Maar as sy die res van die storie moet hoor …
Dan lui die telefoon en toe hy die gehoorbuis by sy oor bring, herken hy onmiddellik die stem aan die ander kant.
“Rudolf.”
Hy laat ’n diep sug hoor en sê gelate: “Middag, tante.”
“Wat gaan daar by jou aan?”
“Tante?”
“Rudolf, ek is nie jou speelmaat nie! Watse getrouery is dit agter my rug waarvan ek niks weet nie?”
“Vervlaks!” Dit glip uit voordat hy dit kan keer en ’n gevaarlike stilte volg, maar hy kom dit skaars agter. As hy daardie rooikat in die hande kry … Was dit nodig om dit aan tant Kitty te gaan uitblaker? Hy het haar gesê die ou mens weet nog nie daarvan nie.
“Het jy miskien iets gesê?”
“Ja. En ek sal binne enkele oomblikke dalk iets ergers sê.”
“So? Hoekom? Omdat jy jou laat vang het deur ’n meisietjie van vyftien met swart hare en ’n engelgesiggie, volgens wat Catherine sê?”
“Moenie laf wees nie … ek bedoel, dis twak, tante! Sy’s g’n vyftien nie. Genade, ek sal in die tronk beland …”
“Jy is nie ver daarvandaan nie, as ek sake reg opsom. Hoe oud is sy dan?”
“Sy is amper twintig … en sy is nie my vrou nie.”
“Maar Catherine sê …”
“Na die duiwel met Catherine. Sy is besete. Ek is nie getroud nie!”
“Dan is dit nog erger as wat ek gedink het, want daardie vroumens was verlede nag in jou woonstel. Of lieg Catherine weer?”
“Nee, maar … ja, sy was, maar …”
“Binne-in jou bed?”
“Ja, maar …”
“En in jou slaapklere?”
“Ja! Ja! Ja! Maar …”
“Sy het dus verlede nag by jou geslaap?”
“Sy het in my woonstel, in my bed en in my klere geslaap, maar nie by my nie!” sê hy onnodig hard. Hy voel lus om iets te gryp en deur die venster te smyt. Is al wat vroumens is van gister af skoon getik? Tot tant Kitty ook?
“Seun, ek ken die Van der Merwes. Ek is self een, al het ek ’n oujongnooi geword.”
“Tante! Wat bedoel u? Tante dink tog nie …”
“Ek dink jy is ’n swak Van der Merwe! Toe nou. Dis nie nodig om so hard te snork nie. Luister, ek dink jou ou tante moet ’n slaggie vir jou kom kuier. Aangesien daar dié keer geen gevaar is dat ek en daardie rooikat mekaar daar sal raakloop nie, sal ek sommer vir ’n paar dae kom. Dit kom my voor jy het hulp nodig met jou huweliksakies.”
“Tant Kitty, dis glad nie snaaks nie. En ek dink u moet maar eers nog ’n rukkie hier wegbly. Ek het genoeg probleme …”
“Twak! Watse moeilikheid kan ’n jonggetroude paartjie nou al