Ena Murray Keur 14. Ena Murray
die bang oë af. “Dis nie nodig om bekommerd te wees nie, mevroutjie. Alles sal regkom.”
“Maar ek kan niks onthou nie,” roep die meisie uit. “Ek ken nie eens my eie naam nie … my … man … Ek kan nie eens onthou dat ek ’n man het nie!”
“Toe maar. Dit sal mettertyd regkom. Dis maar die skok. Sodra jy herstel en rustiger word, sal alles vanself regkom. Jy moet u ook nie probeer dwing om te onthou nie. Ontspan net en dit sal alles vanself weer helder word.”
Die blou oë pleit. “Regtig? Sal ek regtig alles weer onthou? Dis alles so … swart … so … swart hier in my kop.”
“Alles sal regkom. Ek verseker jou. As jy wil, kan ek tant Kitty gaan roep. Sy rus ’n bietjie ’n entjie af in die gang. Sy het die afgelope dae getrou by jou gewaak. Dokter is uitgeroep na ’n dringende geval, maar hy sal seker ook netnou kom.”
“Nee, ek …” Haar oë is ontwykend. Laat die onbekende tant Kitty maar nog rus. “Nee, laat haar maar slaap. Sy … sy is seker baie moeg.”
“Ja. Sy het haar totaal ooreis. Ons kon haar kwalik hier van jou af wegkry. Waarvoor is jy lus? ’n Bietjie tee?”
Sy knik en toe sy eindelik alleen gelaat word, sluit sy haar oë. Haar naam is Madie. Eintlik Madelyn, maar hulle noem haar Madie. Wie presies die “hulle” is, weet sy nie. Seker haar man en dié tant Kitty wat so oor haar begaan is dat hulle haar kwalik van haar bed af kon wegkry. En sy kan haar nie onthou nie.
Die lang, skraal vingers skuif oor haar gesig en weer trek daar ’n bewing deur die maer liggaam. Dis verskriklik om so te voel – om op ’n dag wakker te word uit ’n diep, swart slaap en dan niks te onthou nie, niks van gister te weet nie! Dis so goed asof sy nog nooit geleef het nie, vandag eers gebore is!
Matrone Nel keer vir Rudolf voor toe hy deur die ingangsportaal gestap kom. “Dokter, net ’n oomblik, asseblief.”
Hy draai hom na haar toe en lyk skuldig. “O ja! Ag, ek is jammer, matrone. Ek het totaal vergeet dat u gevra het om my te spreek. Wat is dit?”
“Stap saam met my kantoor toe, asseblief, dokter. Ons moet liewer daar gesels en … daar is ook iets wat ek u wil wys.”
Hy volg haar hoewel die ongeduld in hom klop. Hy voel nie nou lus vir hospitaalsake of sulke goed nie. Hy wil naby haar wees as sy miskien skielik haar oë oopmaak …
“Voordat ons begin praat, wil ek u darem net sê: suster het netnou gebel en laat weet u … vrou het bygekom.”
Sy swyg toe sy die vreugde en verligting in sy oë soos ’n fontein sien ontspring en laat vinnig hoor toe dit lyk asof hy wil opspring: “Net ’n oomblik, dokter. Ek is nog nie klaar nie. Sy ly aan amnesie.” Hy frons diep en sy gaan voort: “Dit sal seker maar net tydelik wees, maar ek het gedink u moet hiervan weet voordat … voordat u by haar kom.”
Hy knik fronsend. “Dankie, matrone. Dis baie bedagsaam van u. Ek waardeer dit. Hoe is haar toestand verder?”
“Volgens suster skort daar verder niks nie, behalwe dat sy ontsteld is oor die feit dat sy niks kan onthou nie. Dokter, ek wil my nie graag inmeng in u private sake nie. Ek sou ook nie, as daar nie nou iets gebeur het wat ek voel … wel, wat u behoort te weet nie.”
Hy kyk haar vraend aan en sy vervolg terwyl sy hom vas in die oë kyk: “Het u vergeet dat sy nou die dag by my in die kantoor was en om werk gevra het? Ek kon nie anders as om haar onmiddellik te eien nie.”
Hy staar haar verdwaas aan en toe gaan daar meteens vir hom ’n lig op. Hy klap liggies met sy handpalms teen sy voorkop. “Natuurlik! Ek het totaal vergeet.” Hy sug en kyk haar selfbewus en ietwat ongemaklik aan. “Nugter weet wat alles die afgelope dae deur u gedagtes moes gegaan het! Ek wil liewer nie dink nie.”
Sy glimlag gerusstellend. “Glad nie sulke verskriklike goed as wat u vermoed nie. Ek ken u darem nie van gister af nie, dokter!”
Maggies, hy het sowaar van matrone Nel vergeet. Wat hierdie waardige en respektabele dame darem van hom moet dink!
“Dankie, matrone. Ek verseker u … dis moeilik om te verduidelik. Dis ’n lang storie, maar as u tyd het om te luister …”
“Ek het, en miskien is dit beter as u my by die geheim inlaat. Ek kan miskien nog help. En wanneer u klaar is, het ek ook iets om u te vertel. Maar vertel u maar eerste.”
Hy is kort en saaklik met sy feite en is onbewus daarvan dat die lewenswyse vrou hier voor hom meer tussen die reëls lees as wat hy besef en dat sy miskien ’n duideliker blik op die hele situasie kry as wat hy of tant Kitty daarop het, juis omdat sy nie emosioneel betrokke is nie.
Hy sluit af, die bekommerde frons terug tussen sy wenkbroue. “En nou ly sy boonop aan geheueverlies. Dit skep al meer en groter probleme. Die enigste manier om uit te vind wie sy is, is om ’n foto in ’n koerant te laat plaas en so na haar mense te begin soek of die polisie se hulp in te roep, en albei is feitlik buite die kwessie. Sy staan reeds hier in die hospitaal as my vrou bekend. Ek moes dit doen om haar en myself te beskerm. U verstaan tog …”
“Natuurlik, dokter. ’n Foto in die koerant of aan die polisie is buite die kwessie,” laat matrone Nel vinnig hoor, haar stem ook bekommerd. Die saak is ingewikkelder as wat sy vermoed het.
“Ja, ek voel ook so. Benewens die feit dat alles op die lappe sal kom, is daar nog ’n ander kant van die saak wat my laat huiwer om met al die feite vorendag te kom, ongeag of dit my persoonlik sal skaad. Ek wil eers sien en weet watter soort mense haar … mense is voordat ek haar na hulle laat teruggaan.” Sy kakebeen sluit vierkantig opmekaar. “Veral noudat sy niks kan onthou nie … Besef u dat daardie bullebak nou allerhande mooi broodjies sal kan bak en dat sy dit nie sal kan weerspreek nie?”
“Haar … man, bedoel u?”
“Ja, of dan die persoon wat haar so verniel het. Dit kan net haar man wees. Wie anders? As ons hom opspoor en hy vind uit dat sy niks kan onthou nie, sal niemand ’n vinger na hom kan wys nie. Begryp u nie? En sy sal moet teruggaan na hom toe. Ek sal dit nie toelaat nie. Oor my dooie liggaam sal ek haar na so ’n man laat teruggaan. Dan … dan …”
Hy vee moeg oor sy oë, skud sy kop en lag kortaf.
“Dis ’n onmoontlike toedrag van sake, maar ek gaan sowaar voort met hierdie klug voordat ek haar weer aan sulke brutale mishandeling blootstel. Ek gaan liewer vir die res van my lewe so aan voordat ek haar teruggee vir ’n man wat haar weer so sal verniel. Dit moet sekerlik vir u belaglik klink dat ek … wel, dat ek so oor ’n totale vreemdeling voel, maar … dis hoe ek sou voel as sy my dogter was.”
Die matrone sit hom ondersoekend en aankyk. Daar is ’n diep frons tussen sy oë terwyl hy die situasie probeer verduidelik, amper meer aan homself as aan haar, en sy laat hom begaan. Laat hom maar voortgaan om te dink dat dit ’n vaderlike gevoel is wat hy jeens die vreemde klein swerweling koester.
“Sy is so alleen en weerloos en … Ag, ek weet nie hoe om te verduidelik nie, maar ek weet dat dit my plig is om haar te probeer beskerm en by te staan.”
“Hoe weet u sy is alleen?”
“Wel, so het ek afgelei van wat sy daardie aand in my woonstel gesê het. Ek het haar gevra waar ek haar kan gaan aflaai nadat ek haar enkel behandel het, en toe het sy gesê sy het nie ’n adres nie. Ek wou toe weet of ek nie iemand kan skakel nie, en toe het sy my vertel haar ma is dood. Sy het van geen ander familie melding gemaak nie. Sy is skynbaar ’n weeskind, heeltemal alleen op die aarde.”
Matrone Nel sug en tel ’n koerant op. “Dokter, wanneer laas het jy die koerant gelees?”
Hy kyk haar verward aan. “Baie lank laas, moet ek erken. Daar was net nie tyd nie.”
Sy hou die koerant na hom uit.
“Dan moet jy begin. Kyk daar. Herken jy daardie foto?”
Hy frons en kyk stip na die laggende gesiggie wat uit die blad na hom opkyk. Toe word hy stadig bleek … wasbleek terwyl hy verder lees. Eindelik