Ena Murray Keur 14. Ena Murray
arm ’n bietjie stywer om haar gaan. “Stadig aan die begin, kleintjie. Jy mag jou onder geen omstandighede ooreis nie.”
Iemand verskyn in die deur en ’n man stap nader.
“Ek hoor ons pasiënt is al gereed om huis toe te gaan.”
“Ja. Madie, dis dokter Vorster. Ek dink ek neem haar maar huis toe. Tant Kitty kan daar net so goed vir haar sorg.”
Die ander man frons en laat huiwerig hoor, sy oë op die bleek gesiggie: “Miskien sal dit tog wys wees om haar nog ’n paar dae hier te laat bly, Rudolf.”
“Nee!” Sy antwoord is onnodig heftig. Sy kollega kyk hom verbaas aan. “Nee, ek vat haar huis toe. Ek kan daar eintlik beter vir haar sorg as hier.”
Sy kollega haal die skouers op. O, wel, Rudolf is self ’n dokter. Sy blik keer terug na die fee-agtige gesiggie. Hy glimlag. Mens kan die man ook nie kwalik neem nie.
Madie voel hoe sy opgetel word en sy hoor haar man vra: “Sal tante die koffer bring?”
“Natuurlik. Hier is maar net nagklere in. Stap jy maar voor.”
Sy is onbewus daarvan terwyl die man haar deur die hospitaalgange na buite dra, dat hy met ’n gebed in sy hart stap, biddend dat niemand haar sal herken nie. Sy weet nie dat hy en tant Kitty mekaar verlig aankyk toe sy eindelik veilig in die motor is en hy die koffer by tant Kitty oorneem en agter in die bak sit nie. Sover gaan dit goed, sê die oë vir mekaar.
Op pad na die woonstel kyk Madie belangstellend, amper dringend om haar rond. Daar moet tog iets wees wat sy herken. Al is dit net ’n boom, of ’n straathoek of … enigiets! Maar dis of sy die eerste keer hier ry en alles vir die eerste keer sien. Dis verskriklik om so sonder ’n verlede te wees.
Haar blik val op die linkerhand aan die stuurwiel. Daar is fyn haartjies op die rugkant. Dit moet tog vir haar bekend wees. Dis haar man se hand. Alles van en aan hom behoort vir haar dierbaar bekend te wees, want sy is tog veronderstel om hierdie man te bemin.
Ook toe hulle by die woonstel aankom, is daar niks bekends vir haar nie. Met ’n gebed in haar hart wag sy dat tant Kitty die slaapkamerdeur moet oopmaak en vooruit stap terwyl Rudolf haar weer in sy arms dra.
Maar ook hier, selfs in hierdie kamer waar sy as vrou saam met die man wat haar nou sag op een van die enkelbeddens neerlê, die intiemste ervaring van haar lewe moet gesmaak het, is daar niks wat die sluier wegruk nie. Die kamer lyk selfs onpersoonlik en koud vir haar, so asof dit nie haar kamer kan wees nie.
Haar blik dwaal onrustig om haar rond, soek vergeefs na iets op die spieëltafel, ’n blikkie poeier of room of ’n lipstiffie, of enigiets wat haar kan vertel dat sy tog tevore hier gebly het. Maar daar is niks … niks …
Sy kyk na die ander enkelbed. Dit moet Rudolf s’n wees … Sy krimp weg onder die laken. Hoe kan sy ’n kamer deel met ’n man wat sy nie ken nie! Tant Kitty het verdwyn om iets te drinke te gaan maak en Madie is intens bewus van die man hier langs die bed wat stil en uitdrukkingloos na haar staan en kyk.
Dat hy haar onrustige soeke gesien het, asook die wegdeinsing toe haar oë op die ander bed in die kamer val, kom sy agter toe hy meteens langs haar op die kant van die bed plaasneem en haar een hand in syne neem.
“Madie … kyk na my. Nee, kyk reguit in my oë, kindjie.” Sy gehoorsaam gedwonge. “Meisie, daar is niks om voor bang te wees nie. Ek gaan niks van jou vra nie, net dat jy heeltemal gesond en sterk moet word. Asseblief!
“En moenie jouself so dwing om van gister te onthou nie. Gister is nie van belang nie. Die enigste ding wat van belang is, is dat jy weer jouself raak.”
“Maar wie is ek?” vra sy dringend, smekend en sy sien sy gesig verstrak.
Hy antwoord met ’n vreemde drif: “Jy is my vrou en niks en niemand gaan jou seermaak nie.”
5
Rudolf ontmoet weer haar verwarde, vraende blik en vervolg vinnig, sy stem vaderlik en teer: “Daar is niks om voor bang te wees nie, Madie. Tant Kitty sal hier bly terwyl jy nog aansterk. Sy sal hier by jou in die kamer slaap sodat sy altyd by jou is as jy iets mag nodig kry.”
Hy sien die vinnige val van die ooglede en die verraderlike blos wat weer oor die bleek gesiggie skiet. Hy het dus die uitdrukking in haar oë netnou toe sy na die tweede bed in die kamer gekyk het, reg vertolk.
Maar hy gee voor dat hy niks opgemerk het nie en gaan op vroliker toon voort: “Voorlopig, solank jy in die bed moet bly, sal ons eers so aangaan. Ons kan later die saak bespreek, maar ek dink dis tyd dat ek … ons ’n erf koop.”
Tant Kitty kom binne met tee vir hulle en ’n glas melk vir Madie.
Rudolf sê: “Ek sê nou net vir Madie dat ons gerus ’n huis met ’n mooi erf kan aanskaf. Dit sal darem baie beter wees as hierdie beknopte woonstel. Is jy lief vir blomme? Dan kan jy ’n blomtuin begin …”
Hy swyg toe hy haar oë sien. Haar antwoord is gedemp: “Ek … weet nie. Ek dink so.”
Kitty probeer vinnig sy glips toesmeer: “Oor daardie goed kan julle maar later besluit. Ons moet haar eers weer sterk en gesond kry. Kom, kind, drink jou melk.”
Gehoorsaam neem sy die glas en hou haar ooglede neergeslaan. Die verwarring neem in haar toe. Hoekom sal haar man haar vra of sy van blomme hou? Hy behoort te weet, of nie? Of het hulle werklik so onlangs getrou dat hy nog so min van haar af weet?
“Hoe lank is ons al getroud?”
Haar vraag kom direk en die blou oë kyk reguit na Rudolf wat op sy beurt vlugtig na tant Kitty loer.
“’n Paar maande.”
“O.” Dit verklaar dus hoekom haar nagklere en pantoffels en kamerjas nog so splinternuut vertoon.
Rudolf staan op, buk af en soen haar vlugtig op die voorkop. “Ek moet net ’n draai by my spreekkamer gaan maak. Ek het dit die afgelope dae baie afgeskeep. Tot siens, kleinding; soet wees. Tante, u kan vir haar ’n ligte maaltyd maak en sy moet alles opeet. Maar baie lig. Haar maag is baie verswak.”
Madie laat toe dat tant Kitty om haar kloek soos ’n moederhen en haar selfs later toemaak vir die nag asof sy nog vier jaar oud is. Sy is een keer met die hulp van tant Kitty badkamer toe en het toe besef, nadat sy uitgeput terug in die bed was, dat Rudolf gelyk het. Sy voel nie siek nie, maar dit sal nog ’n tydjie neem om haar krag te herwin.
Tant Kitty trek die slaapkamerdeur agter haar toe en Madie sluit haar oë gehoorsaam. Rudolf is seker uitgeroep, daarom dat hy nog nie terug is nie, dink sy. Sy is dankbaar daaroor. In tant Kitty se geselskap kry sy dit reg om te ontspan, maar as Rudolf by is, maak ’n eienaardige spanning hom van haar meester. En dit laat haar baie bekommerd voel.
Hoekom sal sy in haar man, wat so dierbaar en teer teenoor haar is, se teenwoordigheid gespanne en ongemaklik wees? Hoekom sal sy selfs skaam en verleë voel om hom in die oë te kyk? Al het sy alles van gister vergeet, moet die gevoel wat sy vir hom behoort te koester, tog oorgebly het. Maar pleks daarvan dat hy met elke verbygaande minuut vir haar bekender en bekender word, word hy ’n al groter vreemdeling.
Sy stry teen die slaap wat haar wil oorval. Dis nog iets wat vir haar ’n bron van verwarring is. Noudat sy tyd het om daaroor te dink, tref dit haar – sy bedagsame, amper vaderlike houding. Dis amper asof sy eerder ’n dierbare dogter vir hom is as sy vrou. Hy spreek haar aan as kleinding of kleintjie of iets dergeliks, en toe hy netnou weg is, het hy haar teer op die voorkop gesoen. ’n Man wat vir sy vrou baie lief is, en veral terwyl sy ernstig siek was, sal haar op die lippe soen.
Die oomblik toe hulle alleen was, het hy haar ook nie soos ’n ander man in sulke omstandighede sou doen, in sy arms geneem nie. Hy het op die kant van die bed kom sit, haar hand geneem en haar verseker dat sy niks te vrees het nie, dat tant Kitty in die ander bed in die kamer sal slaap.
Die frons tussen haar wenkbroue verdiep. Sy is nie so ernstig siek nie. As sy iets mag nodig kry in die nag, kan hy haar mos ook maar