Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach
Die dag wat sy Charles kom aflaai het, het ek en Jens haar baie vreemd gevind en ons het albei iets vermoed. Duidelik wil sy nie die kind by haar hê nie. Toe hy baie siek word, het sy hom eenvoudig na die beste kliniek gestuur waarvan sy weet, en sy betaal natuurlik. Maar sy het nooit weer hierheen gekom nie. Juis daarom gee tant Mymie baie aandag aan hom. Hy noem haar ouma.”
Lucinda laat sak haar kop in haar hande en haar woorde kom gedemp uit: “Dan kerm ek en Edwin oor ons wees is. Daar is kinders wat veel swaarder het.”
Sy kyk met brandende oë op. “Ek sal maar vir Charles ook ’n moederfiguur probeer wees, as jy dit nie reeds is nie.”
Marita glimlag deernisvol. “Ons het so baie brode om ons botter oor te smeer dat dit maar dun raak. Ek waardeer dit dat jy so sorgsaam met die kinders is. Dis een van die redes waarom ons jou hierheen gelok het.”
Lucinda staan op. “Dankie. Vanaand is ek nogal verward.”
“Dis maar deel van ons werk, my liewe kind. Gaan stap onder die bome, ruik die bloeisels, dan voel jy beter.”
Lucinda glimlag dankbaar en loop uit. Daar is darem een troos wat vanaand voorlê en dis ’n grote: sy gaan vir Werner sien. Hy is die soort mens vir wie sy dié goed kan vertel. Hy sal sy breë skouer aanbied en luister. Sy sien reikhalsend daarna uit om weer by hom te wees.
Lucinda het moeite gedoen met haar voorkoms en sy wag ongeduldig vir Werner om in die sitkamer by haar aan te sluit. Sy maak asof sy ’n tydskrif lees, maar eintlik registreer sy niks, want haar gedagtes is by hom.
“Hallo daar,” kom dit uiteindelik van die deur af, en sy moet met wilskrag haar gesigsuitdrukking neutraal hou. Oorweldigend aantreklik kom hy in, en sy wonder of haar knieë in jellie sal verander as sy opstaan.
Hy kom sit langs haar op die bank. “Erik lyk vir my by die dag beter.”
“O ja, hy sal deurgaans beter lyk. Dit neem nie so lank om die ergste van die malaria af te skud nie.”
Maar as hy sterk genoeg is, gaan julle weg, dink sy meewarig. Watter lugleegte gaan julle nie dan agterlaat nie?
“Hoe was jou dag?” vra hy.
“Wel, laat ek sê ek kan dalk doen met ’n glas van jou whisky.”
“So sleg?” skerts hy. “Dit verg mos baie om jou te laat drink.”
Hy staan op en gaan skink dit. Toe hy haar glas vir haar gee, kyk hy besorg na haar. “Iets het vandag met jou gebeur. Wil jy my vertel?”
Hoe het sy nie daarna gesmag nie! Maar sy antwoord bedaard: “As jy treurmares wil hoor, sal ek jou vertel.”
“Ek kan dit vat. Gooi maar.”
Eers stamelend, maar al vlotter, vertel sy hom van haar en Edwin se besoek aan die matrone, toe van Nanette en laastens van Charles.
“Dis meer treurigheid as wat die meeste mense in een dag moet verwerk,” merk hy op. “En jy neem dit alles op jou smal ou skouertjies.”
“My skouers is glad nie so smal nie, hoor,” protesteer sy. “Ek kan dit ook vat, anders het ek nie ’n dokter geword nie.”
Hy sit sy glas en toe hare neer, kelk haar gesig in sy hande en soen haar teer op die lippe. Sy wil meer hê toe hy haar los, en sy sien iets in sy oë wat hittiger is as sy tere aanraking.
“Ek wil nie soos ’n smartvraat klink nie,” sê sy, “maar ek gaan die maatskaplike werker kontak wat my destyds by die weeshuis besorg het. Soos jy gesê het, dalk moet ek my familie navors.”
“Ja, vir jou eie gemoedsrus.” Hy trek haar teen hom aan en hou haar vas. “Ek het gehoor dat Edwin gesê het jy is mishandel.”
“Deur pleegouers, nie my eie ouers nie.”
“Ek kan nie glo dat mense iemand soos jy sleg kan behandel nie. Ek verbeel my ek weet hoe jy moes gelyk het. Enorme poele van blou oë, swart krulhaartjies, gesig soos ’n feetjie. Klein en tingerig soos ’n tinktinkie.”
Sy lag. “Ag, Werner, jy is laf. Ek kon ook maar stout wees. Ons het soveel kattekwaad in die weeshuis aangevang.” Maar sy is tog geroer deur sy teerheid.
“Dié Edwin voel baie vir jou, nè?”
Sy kyk op in sy oë. “Ja, wel … ons is mos maatjies van kleins af.”
“Maats? Dink jy julle pas by mekaar?”
Die vraag maak haar ongemaklik. “Nie daardie soort maats nie. Nie lewensmaats nie. Ek dink Edwin is veel meer wêrelds as ek.”
“Dis heel waarskynlik ’n kwessie van opposites attract.”
“Nee. Stel dit so: ek het deernis vir hom, maar dis nie die regte soort liefde om … e …”
“Om minnaars te wees nie?”
“Presies.”
“Hy is besonder aantreklik. Selfs ék kan dit sien.”
“Ja, maar soos ’n model of akteur, en hy was nog altyd bewus daarvan.” Sy sal nie prontuit sê dat Edwin ydel is nie, maar al is sy lief vir hom, moet sy dit erken.
“Ek dink daar is dinge wat jy vir jouself moet uitwerk. Jy het genoeg ruimte nodig om dit te doen. Ek gun dit vir jou.”
Wat bedoel hy? dink sy vervaard. Is dit ’n mooi manier om te sê hy distansieer hom eerder van haar? Dat haar lewe te veel van ’n warboel negatiewe dinge is vir hom om te hanteer? Veral ná sy dramas met ’n vrou soos Enid?
“Jy lyk beswaard, maar ek sê vir jou daardie man is gek oor jou. Jy sal ’n besluit moet neem,” sê Werner.
“As ek moet kies …” Maar hy sit ’n vinger oor haar mond.
“Later praat ons weer hieroor. Nie vanaand nie.” Hy gee weer haar glas aan en neem syne, en begin oor Erik en die verloop van sy siekte praat. Al is sy ontsteld, steek sy dit weg en praat professioneel, soos dit ’n dokter betaam.
Van haar romantiese wolk val sy hard terug aarde toe.
Werner kyk na Lucinda en kry ’n aaklige gevoel van verydeling.
Haar sentiment oor Edwin van Reenen wat haar vriendjie was toe hulle albei kinders was, maak haar seker blind vir die feit dat die man na ’n verwaande vrouejagter lyk. Die soort wat graag vat en los en om wie die vroumense soos brommers om vrot vleis draai. Hy flankeer meer met die verpleegsters as wat Lucinda agterkom. Losbandigheid het natuurlik gemaak dat hy MIV-positief is. Dalk het hy nog sy vrou aangesteek, maar sy was minder bestand en hy drink duur anti-retrovirale medisyne.
Werner sug innerlik. Hy wil nie vir Edwin by Lucinda verkleineer nie. Sy sal dink hy is jaloers en ná sy huwelik met Enid is dit een emosie wat hy verfoei.
Hy en Van Reenen sit beslis nie langs dieselfde vuur nie. Van Reenen gaan dalk nog ’n blok aan Lucinda se been word, en vir so iets het hy nou net nie lus nie.
Aan tafel wil Lucinda die wonderlike intimiteit van voorheen hê, maar Werner is terughoudend, al is hy sjarmant. Sy voel asof sy ’n wonderlike geskenk gekry het, maar dis teruggeneem met die belofte dat sy dit weer kan kry as sy groter en meer volwasse is.
Hy soen darem een keer haar hand en sy probeer dié wonderlike sensasie dwarsdeur die ete behou.
“Sal ons in die maanlig gaan stap?” vra hy egter skertsend toe die ete verby is.
“Ja, dit sal lekker wees.”
Hulle loop weg van die ligte van die kliniek in ’n laning bome af en hy neem haar hand. Sy verlustig haar in sy aanraking. Hulle stap in stilte tot aan die einde van die laning en sy luister na die naggeluide om haar: die getjirp van krieke, nagvoëls wat roep, klein diertjies wat in die gras en plante skarrel. Die wêreld raak weg totdat dit net hy en sy is, en sy weet sy is dolverlief. Haar hart is besig om haar verstand te oorheers.
Van ’n afstand hoor hulle die gedreun van ’n motorenjin.