Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach
Waar is die pa? Charles praat nie van hom nie. Sy sal by Marita gaan uitvind wat die pa doen.
“Hou jy van jou boek?” verander sy die onderwerp.
“Dis mooi, tannie.”
Sy gee hom ’n drukkie. “Nou ja, lekker lees. Ek hoop jy het nie te veel geëet en jou magie omgekrap nie.” Sy waai kastig ’n betigtigende vinger.
Hy giggel. “Nee, tannie.”
Haar hart verteder vir hom toe sy wegloop. Hy is ook baie siek en hy kry nie die duurste anti-retrovirale middels nie. Dis vir haar so hartseer om te sien dat die kinders agteruitgaan ten spyte van alles wat vir hulle gedoen word.
Sy loop na waar Edwin by Nanette sit. “Ek veronderstel jy het nie blyplek vir vanaand nie?”
Hy kyk op. “Nog nie gereël nie.”
“Ek het ’n drieslaapkamer-kothuis hier en daar is een kamer oop, as jy by my wil kom bly. Dis nou nie vyfster nie, maar dis naby en jy kan by Nanette kom kuier.”
“Dis gaaf. Kom sommer saam na my motor, dan ry ons soontoe. Ek gaan nie my bagasie al die pad dra nie.”
Hulle groet die kleintjie en stap uit, en so ver soos hulle deur die kliniek loop, kyk mense na hulle. Edwin is wel aan sommige bekend, maar nie almal weet tog van renjaers nie, dink sy. Dis natuurlik oor hy so opvallend is. Hy is nie so lank soos Werner nie, maar hy is besonder aantreklik en goed geklee. Mense gaap hom seker aan net waar hy kom, en dit lyk asof hy dit geniet.
Hulle loop verby ontvangs in die portaal en Lucinda gaan staan. “Eddie, jy ken mos vir Bets Naudé?”
“O ja, hallo, Bets,” sê hy sjarmant. “Hoe’s dinge?”
“Great, dankie.”
Sy straal eintlik, dink Lucinda geamuseer. “Bets het die meeste van die werk vir die partytjie gedoen,” vertel sy.
“O, dis nice,” sê Edwin, maar sy kan sien hy verloor belangstelling en sy lei hom vinnig verder, bewus daarvan dat Bets hulle agternakyk.
Die motor waarmee Edwin gekom het, is natuurlik nie sommer enige huurmotor nie, sien sy. Dis die jongste en grootste model BMW, maar motors is natuurlik vir hom belangrik.
“Mooi motor,” merk sy op. “Ek het nog nooit in so een gery nie, maar wat weet ek van motors af?”
Hy gryns. “Hoe sal dit nou lyk as ek in ’n Corolla ry?”
Ja, voorkoms en beeld is alles, dink sy, maar sy uiter nie dié sarkastiese gedagte nie.
Hy maak vir haar die deur oop en sy skuif in op die leersitplek. Sy verwonder haar aan die luukse binnekant. Sy beduie waarheen hy moet ry en hulle volg die pad onder die bome deur, agter om die kliniek, na die ry kothuise.
“Die tweede een is myne,” sê sy. Hy stop voor die garage.
“Ek kan my motor uittrek sodat jy kan intrek, want dis net ’n Corolla en dié een is nuut en duur.”
Hy lag verleë. “Ekskuus vir die grap oor die Corolla. Nee, hierdie een is gehuur. Ons hoef dit nie soos goud op te pas nie. Los maar jou ou karretjie onderdak.”
Die groot tas wat hy uit die kattebak haal, laat haar wonder hoe lank hy van plan is om te vertoef. Maar sy vra nie en lei hom in na die oop spaarkamer. Dit lyk maar eenvoudig met slegs ’n bed, kas en spieëltafel en dit skep die indruk dat dit altyd leegstaan. Sy kry amper skaam, want sy is seker hy het aan baie luuksheid gewoond geraak.
“Ek hoop dis darem aanvaarbaar.”
“Nee wat, dis oukei.”
“Kom ek stel jou aan my huishoudster voor.”
Anna is in die kombuis, besig om vleis te verwerk.
“Haai, dokter is vroeg,” merk sy op, maar toe kyk sy oopmond na Edwin.
“Haar broer het kom kuier,” grap hy.
“Haai, het dokter dan ’n broer?” lag Anna.
“Nee, nie regtig nie. Wel, ons het saam grootgeword, daarom is hy amper soos een. Dis meneer Edwin van Reenen, Anna, en Edwin, dis my regterhand en matrone, Anna Mowies.”
Hy grinnik. “Aangename kennis, matrone.”
Anna lag skalks. “Aangename kennis, meneer.”
“Anna, trek asseblief die bed in die spaarkamer skoon oor en dek drie plekke vir aandete. Meneer Van Reenen gaan ook by ons bly.”
“Goed, dokter.”
Lucinda draai na Edwin. “Maak jou asseblief tuis. Ek gaan eers terug kliniek toe vir ’n saalrondte, dan sien ek jou weer agtuur as ons eet.”
“Rightie-ou. Dankie, Lucy.”
Voor Anna soen hy haar op die wang, en met ’n verleë blos op haar wange vlug Lucinda uit.
Sy is seker hy sjarmeer al die vroue wat hy teëkom, maar hy toon ’n eienaardige soort besittershouding teenoor haar. Ag nou ja, hulle kom ’n lang pad saam en die band is nog daar, al het sy hom jare lank nie gesien nie.
9
Lucinda sit aan die etenstafel saam met die twee mans en voel die spanning aan. Almal is oordrewe hoflik met mekaar.
Edwin het wyn gebring, rooi en wit, en dring aan dat dit gedrink moet word. “Ek eet nooit sonder om wyn te drink nie. Wit of rooi?” Hy kyk na haar.
“Wit, dankie.”
Hy kyk na Werner sonder enige geneentheid op sy gesig. “En jy?”
“Rooi, dankie.”
Lucinda teug aan die wyn. Daar is ’n voelbare stilte wat sy moet verbreek. Sy probeer dink waaroor sy kan praat.
“Werner is ’n ingenieur wat paaie en brûe bou en hy is tans met ’n projek in Zambië besig,” vertel sy.
Edwin sluk taamlik vinnig aan sy wyn. “O? Afrika het seker baie hulp nodig. Orals is daar mos altyd probleme en alles stort in duie. Dis waarom ek liewer in Europa bly.”
“Waarom het jy dan jou kind na ’n kliniek in Suid-Afrika gestuur?” vra Werner, sy wenkbroue gelig.
Edwin lyk omgekrap en antwoord sommer dwars: “Ek het my redes.”
Lucinda is ook ongemaklik toe Werner frons en vies na Edwin kyk.
“Jy mag ’n swerwer wees, maar jou wortels is in Suid-Afrika,” probeer sy olie op die water gooi.
“Ja, dis seker so,” gee Edwin toe. Hy maak sy glas leeg en skink vir hom nog wyn.
Anna kom met die bakke kos in.
“Dankie, Anna,” sê Lucinda. “Mense, dis selfhelp vanaand. Kry vir julle, dan stuur julle aan.”
Werner bied vir haar die slaai aan. “Kry jy eerste.”
“Dankie.”
Sy skep op en hou hulle skelm dop. Werner het ’n gesonde eetlus, want hy is ’n groot man, maar hy gaan nie oorboord nie. Edwin is egter glad nie skaam nie en pak sy bord baie vol.
Skielik kry sy hom jammer. Hy het nou aardse rykdom in oorvloed, maar in die weeshuis was die hoeveelheid kos wat hulle kon eet altyd beperk. Hulle het wel nie honger gely nie, maar hulle was soms nie vol nie. Edwin het altyd gesê dat hy eendag net soveel gaan eet soos waarvoor hy lus het.
“Wanneer kan ek vir Erik uit die kliniek neem?” vra Werner.
Lucinda vermoed dadelik dat hy dalk voel three is a crowd en dat hy moet wegkom, en sy is spyt daaroor. Die laaste ding wat sy wil hê, is dat Edwin die nuwe en nog brose verhouding wat tussen haar en Werner ontstaan het, moet verongeluk.
“Erik kan nog nie ontslaan word nie. Ek sal hom eers ontslaan as ek seker is dis heeltemal veilig.”
Edwin