Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach
haar op.
Sy stap ’n halfuur later skoon en vars by die sitkamer in en hy maak sy skootrekenaar toe.
“Jy lyk sprankelend,” komplimenteer hy. “Daardie blou klere doen iets vir jou. Maak jou oë helderder en hulle ís so mooi blou, soos die blousel wat my ma vir ons wasgoed gebruik het toe ek klein was.”
“Jy moet ophou om my te vlei,” raas sy kastig.
Hy sit die rekenaar op die tafel neer en terwyl sy rug na haar gedraai is, hoor sy hom sê: “Ek bedoel elke woord.”
Sy voel soos ’n totaal nuwe, totaal ander wese as sy by hom is. Haar sintuie is opgeskerp en hy word die spil waarom alles draai. Dis asof sy hom sintuiglik aanvoel as hy naby is. Is sy besig om haar kop en hart te verloor?
Anna verskyn in die deur. “Die ete is gereed. Dokter-hulle kan maar kom aansit. Ek weet julle is altyd haastig.”
Tot Lucinda se verleentheid knipoog sy vir haar voordat sy in die gang verdwyn.
“Nou ja, kom, dokter,” skerts Werner en beduie dat sy vooruit moet loop.
Die bottel rooiwyn is reeds oopgemaak om asem te haal, sien sy, en daar is twee wynglase gedek.
“Sit, hardwerkende medikus wat alle mense op die hande dra,” beveel hy. “Ek sal vir jou wyn skink.”
Toe hulle elkeen met ’n wynglas sit, kom Anna met twee opgeskepte borde kos in. “Lekker eet, julle twee,” grinnik sy skelm en Lucinda probeer opnuut haar verleentheid wegsteek.
Dit lyk asof Anna dink hierdie is ’n romantiese geleentheid, dink sy. Sy hoop maar Werner het nie die knipoog gesien nie.
“Ek word regtig bederf,” sê sy vinnig.
“Ja, jy verdien dit.”
Tot haar verbasing sien sy hoe hy vir Anna knipoog en dié met ’n giggel wegloop.
“Watse gekonkel gaan hier aan?” vra sy gemaak verontwaardig.
Sy gesig is sedig. “Niks. Ons dink maar net jy is oorwerk. Gesondheid!”
Hy klink glase met haar en sy moet in sy oë kyk. “Gesondheid.”
Sy het al gehoor dat mense spot iemand verdrink in iemand anders se oë, en nou ondervind sy dit self. Soms kan sy hom nie reguit aankyk nie, maar as sy dit doen, is dit of hulle oë mekaar vashou en indrink, en die aarde staan stil op sy as.
“Iets is besig om tussen ons te gebeur,” sê hy meteens, sy stem sag en innig.
“W… wat?”
“Moenie vir my sê jy voel dit nie ook nie, dokter Lucinda O’Neill, met jou besondere sensitiwiteit vir ander se gevoelens? Ek het nog nooit iemand so uitsonderlik soos jy ontmoet nie. En elke keer as ek jou sien, en kyk hoe jy met my siek kind werk, raak my gevoel vir jou net meer intens.” Sy stem liefkoos haar.
Sy voel net soos ’n waskers by ’n vuur, asof sy wil smelt. “Ek … jy is vir my ook uitsonderlik. Maar dis …”
“Maar wat?”
“Wat van jou vrou? Gaan julle nie versoen raak nie?”
Tot haar spyt lyk dit asof sy die toweroomblik laat breek het soos ’n glas wat aan skerwe spat. Hy sit sy wynglas neer en frons.
“Sy het dit voorgestel nadat ek haar ingelig het dat ek Erik by haar wil wegneem. Maar ek glo nie dis nou meer moontlik nie.”
Hy steek egter sy hand uit en omvou hare, sodat die warmte en lekker deur haar vloei.
“Is dit regtig nie meer moontlik nie?” prewel sy.
“Nie nadat ek ’n sekere dokter Lucinda O’Neill ontmoet het nie.”
Hy staan half op en trek haar hand nader om by te kom om dit te soen. Op dié oomblik weet sy dat sy besig is om vir hierdie man te val en dat niks haar val kan keer nie.
Sy blik is warm toe hy na haar kyk. “Ek weet ek ken jou nog net ’n paar dae, maar ek sal jou graag beter wil leer ken.”
Sy weet haar oë skitter en haar hart swel van emosie in haar bors. “Ek sal jou ook graag wil leer ken.” Hy glimlag en kyk af na die borde kos. “Ek dink ons kos is al koud. Ons beter dit eet, want ek weet Anna het nagereg gemaak.”
Sy knik en val weg aan die koue kos, maar nou het sy in elk geval nie meer ’n eetlus nie.
7
Al is Lucinda die volgende dag besonder besig, dink sy nogtans heeltyd aan die romantiese ete van die vorige aand. Dit het ongetwyfeld ’n waterskeiding in haar lewe veroorsaak.
Sy en Werner het die bottel wyn uitgedrink, oftewel sy het twee glase gehad en hy die res, en hulle het al Anna se kos geëet, maar hulle was deurentyd meer bewus van mekaar as van die aandete. Toe vertel hy haar dat hy vir dringende besigheid Kaapstad toe moet gaan, maar dat hy teen die aand terug sal wees.
Sy voel amper asof die dag sonder hom baie mank en gebrekkig is. Ná die ete die vorige aand het hy haar gesoen en sy het kamer toe gesweef, met ’n glimlag aan die slaap geraak en van hom gedroom.
Dis seker hoe liefde voel: asof jy in ’n waas van onwerklikheid rondsweef met geluk borrelend in jou hart, dink sy toe sy by Erik se kamer ingaan. Ongelukkig is Enid Huber daar, uitgevat en bejuweel soos gewoonlik. Verpleegster Jenny, wat met die medisynetrollie uitkom, trek vir Lucinda ’n gesig om te kenne te gee dat die vrou haar irriteer.
“O, hier kom die dokter nou eers aan,” sê Enid smalend. “Dis al tienuur. Ek dag Erik is die siekste pasiënt. Hy is weer die ene koors.”
“Die koors is meestal onder beheer, mevrou,” sê Lucinda bedaard, al vererg sy haar. Regtig, hier is een mens wat haar op haar tande laat kners.
“Jy kom net vroeg as my man hier is,” sis Enid.
Lucinda kyk haar vas in die oë. “Hy was gedurig hier. Vanoggend is hy vir die eerste keer weg. En ek het nie om sy onthalwe na u seun kom kyk nie. Ek is die dokter wat Erik moet gesond maak.”
“Ag, hoor net hoe vroom. Moenie dink ek kan nie sien dat jy jou kloutjies in Werner Huber probeer kry nie. Hy is mos ryk en vernaam. Jy is skaamteloos. Ek gaan jou by dokter Krause verkla vir onprofessionele gedrag.”
Lucinda is saggeaard, maar ná die mishandeling van haar kleintyd verby was, het sy besluit dat sy nie weer sal toelaat dat iemand op haar trap nie. Hande op haar heupe kyk sy Enid Huber ’n bars.
“Ekskuus? U beledig my mos nou. Sover ek weet, is u en u man geskei en het hy dus die reg om met ander vroue vriende te wees. In elk geval probeer ek geensins my kloue in hom slaan nie. Ek en hy respekteer mekaar.”
Enid lag smalend. “O, noem ’n mens dit respek? Ek sou dit iets anders noem. Ek gaan jou in elk geval van onprofessionele gedrag aankla.”
“Doen dit, mevrou. Ek het niks om my oor te skaam nie.”
Hulle gluur mekaar aan. Toe draai Enid om en loop uit, asof sy van plan is om haar dreigement summier uit te voer.
Die siek kind kreun op sy bed en Lucinda gaan na hom toe. Hy moes gehoor het dat hulle staan en stry.
“Ek is jammer dat ons so geraas het,” sê sy en streel oor sy voorkop, wat nat van die sweet is.
“Pappa,” prewel die kind.
“Hy kom weer later. Wees jy maar net rustig. Ek sal ’n rukkie by jou bly.”
Sy bibbering en bewing neem naderhand af en hy lê met toe oë. Eers toe hy rustig lyk, sluip sy uit.
“Lucinda, verskoon dat ek jou steur, maar ek wil iets met jou bespreek,” sê Jens toe hy haar buite die kindersaal voorkeer.
“Nou?” vra sy, en weet sommer waaroor dit gaan.
“Ja. Kom asseblief saam na my kantoor.”
Op