Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach
Anna,” sê sy.
Anna is net weg, toe draai hy weer haar gesig na hom. “Gou nog een voordat ons gaan eet.”
En sy mond sluit soet en heerlik oor hare, verken haar ’n bietjie en los haar dan.
Sy loop byna in ’n dwaal eetkamer toe en gee nie eens om dat Anna hulle sien soen het nie.
“Lucinda, weet jy wat gebeur het?” vra Marita, wat die volgende dag in die deur van haar kantoor staan.
“Werner het ’n aandeel in die kliniek gekoop?”
Marita lag. “O, jy weet al. Wel, ons kon nie nee sê nie, want die aanbod was eenvoudig te goed. Jy weet dié plek is duur om aan die gang te hou, en ons koop net die beste toerusting.”
Sy kyk skewekop na Lucinda. “Snaaks dat hy nou, nadat hy ons reeds lank ken, ’n aandeel wil koop. Dink jy dis net oor ons sy seun gesond gemaak het?” Met ’n skelm, betekenisvolle glimlag loop sy weer. Lucinda voel met haar handpalms aan haar brandende wange. Sowaar, sy is darem te oud om soos ’n tiener te bloos.
Skielik loer Marita weer om die deur. “Terloops, Enid Huber vlieg môre terug Engeland toe. Sy en Werner het tot ’n vergelyk gekom. Erik kan by hom bly totdat hy heeltemal herstel het, en dis seker twee maande of meer.”
Toe sy weer verdwyn, slaak Lucinda ’n diep sug van verligting. Dit lyk asof die toekoms al rooskleuriger word, en sy kan nie onthou of sy ooit voorheen so gelukkig was nie.
8
“Jy hoef nie vir ons so baie geld te gee nie, dok,” sê Bets. “Daar was ’n anonieme skenker wat ’n koevert vol honderdrandnote langs my rekenaar gelaat het. Kyk.”
Sy wys vir Lucinda die dik pak note.
“Liewe hemel! Ek het dan gesê ek borg die partytjie. Dis nie dalk die dokters Krause wat dit gedoen het nie?”
“Ek dink nie so nie. Hulle het ook geskenk, al is ek nie veronderstel om dit vir dok te sê nie.”
“Ek word darem lelik ondergrawe,” mor Lucinda kastig, maar dit doen haar hart goed om te sien dat almal tot die partytjie wil bydra.
Sy is egter agterdogtig. Werner weet van die partytjie, en Erik is soveel beter dat hulle hom vir ’n kort rukkie in ’n rolstoel gaan bring – nie dat die partytjie baie lank kan duur met al die siek kinders nie. Later gaan sy Werner konfronteer.
Sy tel die geld. “Dis genoeg om vir al die kinders geskenke te koop en ’n leerskare te voed. Sal jy en tant Mymie alles kan hanteer, of moet ek saamkom?”
“Nee, ons sal regkom en daar is van die verpleegsters wat ook sal help. Dok is te besig, en daar het nuwe pasiënte ingekom. Laat dit aan ons oor,” sê Bets.
Twee ure voor die partytjie moet begin, is die kindersaal in beroering soos dit met ballonne en papierlinte in alle kleure versier word. Almal wat nie te siek is nie, probeer skynbaar help. Lucinda gaan kyk kort-kort, maar sy is vreeslik bekommerd. Nanette vra na haar pa, maar hy het nog niks van hom laat hoor nie.
As jy haar in die steek laat, draai ek jou nek om, Edwin van Reenen, sê sy tandeknersend vir haarself.
Toe die tyd aanbreek waarvoor almal genooi is, stap sy in en gaan staan by Nanette. Dié sit op haar bed, met ’n mooi nagrokkie aan en haar hare geborsel dat die blonde krulle soos ’n ligkrans staan. Sy lyk opgewonde, maar Lucinda se hart sink toe sy opmerk dat die kleintjie duidelike tekens van vigs toon en dat sy kortasem is.
“Charles, kom sit hier by Nanette,” roep sy en die seuntjie kom nader. Sy tel hom op en sit hom ook op die bed. Hopelik trek hy Nanette se aandag af van die deur wat sy gedurig dophou.
Lucinda is bly en verlig toe Werner vir Erik instoot. Erik lyk ook siek, maar hy is heelwat beter en hy glimlag. Sy beduie dat hulle moet naderkom.
“Jy het nie dalk ’n koevert iewers verloor nie, het jy?” vra sy saggies vir Werner.
Hy lyk vir haar gans te vroom toe hy antwoord: “O, watse koevert? Ek dink nie so nie.”
“Hmm …” Sy kyk hom agterdogtig aan. “In elk geval, dankie aan die anonieme weldoener.”
Hy glimlag net.
Die saal word vol van die verpleeg- en ander personeel en toe kom Bets en tant Mymie in met trollies waarop daar geskenke en eetgoed en twee koeke met kersies is. “Tralala,” sing Bets, haal ’n sigaretaansteker uit en steek die kersies aan.
Lucinda sien dat Jens en Marita ook ingekom het, maar waar is Edwin? Hy moet mos hier wees as Nanette die kersies doodblaas. Sy kry die kind vreeslik jammer.
Bets stoot die trollie met die koeke nader. “Dok, jy is die seremoniemeester.”
Toe klap sy haar hande. “Stilte, asseblief! Dokter Lucinda, wat die organiseerder van hierdie feestelikheid is, gaan nou die verjaardagwense oordra en dan gaan ons sing vir ons twee maats wat verjaar.”
Almal bly stil, maar hier en daar lag kinders. “Welkom, almal,” sê Lucinda. “Nanette en Charles verjaar en ons wens hulle geluk. Julle twee moet nou al die kerse doodblaas. Eers Nanette, hier.”
Nanette leun oor na die brandende kersies en blaas, maar nie almal is dood nie.
“Weer,” moedig Lucinda haar aan, maar die kind bars in trane uit.
Lucinda tel haar op. “Toemaar, toemaar. Nie almal kan kerse die eerste keer doodblaas nie.”
Nanette kruip in haar nek in en sy sus haar. Om hulle voel dit grafstil.
“Kom ons kyk of Charles dit kan regkry,” sê Werner. “Probeer, ou grootman.”
Charles blaas, maar twee kerse brand nog.
“Veels geluk, liewe maatjies, omdat jul verjaar …” begin Bets hard sing en almal koor saam.
Nanette kruip steeds in Lucinda se nek in, maar naderhand kyk sy met haar traanbevlekte gesiggie op.
“Pappa,” sê sy skielik. Toe Lucinda omkyk, sien sy hoe Edwin, herkenbaar en tog baie anders met sy blonde kuif en sy bykans filmster-aantreklikheid, sy pad deur die mense baan.
“Hallo! Hallo! Ek sal mos nie my dogter se verjaardag misloop nie!” Hy dra ’n groot geskenk en blomme, en trek almal se aandag met sy baldadigheid.
Lucinda gee Nanette vir hom aan, want sy steek haar armpies na hom uit. Hy gryp die kind en dans met haar. Almal lag en mense praat, en hulle is die middelpunt van die vrolikheid.
Lucinda neem Charles se een geskenk en gee dit vir hom. “Geluk, liefie.”
Hy was besig om Edwin-hulle met verwondering te bekyk, maar toe hy die geskenk kry, begin hy dit dadelik oopskeur.
“Dis nou die beroemde renjaer van wie ek jou vertel het,” hoor Lucinda Werner agter haar aan Erik sê en sy kyk om. Hulle oë ontmoet en stuur boodskappe.
“Wow,” hoor sy Erik sê, hoogs beïndruk.
Bets en tant Mymie sny koek en deel lekkers en koeldrank uit, en geskenkpakkies vir al die kinders. Om hulle is dit ’n rumoer, maar Lucinda kyk na Edwin, wat laggend naderkom en Nanette op die bed neersit.
“Lucy, Lucy, lig van ons lewens,” sing hy en omhels haar. Hy soen haar innig en druk haar terug om na haar te kyk.
“Jy is nog net so blerrie mooi soos altyd, Lucy. En nou is jy die dokter wat jy altyd wou gewees het. Great stuff. Ek het geweet jy het dit in jou.”
“Hallo, Eddie,” glimlag sy, maar sy het die drankasem geruik en sy besef dat hy nogal aangeklam is. Sy hoop net niemand kom dit agter nie. “Ons was bang jy kom nie.”
“Ag, ek het ’n uur en ’n half gelede geland en toe moes ek eers ’n motor huur om hierheen te ry. Dis nogal ver van die Kaapstadse lughawe af. Hoe gaan dit met jou?”
“Uitstekend, dankie. En met jou?”
“Nee,