Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach
ek by haar eksman aanlê.”
Hy knik, maar lyk geensins kwaai nie. “Jy moenie dink ek eet so iets vir soetkoek op nie, Lucinda. Daarvoor ken ek jou nou al te goed. En komende van haar … wel, dit sou lagwekkend gewees het as dit nie so beledigend was nie. As jy en Werner tot mekaar aangetrokke is, dra dit my seën weg. Ek sal nooit glo dat jy jouself goedkoop sal maak nie, en buitendien het ek agtergekom dat Werner besondere waardering vir jou het. Ongelukkig moes ek Enid vredesonthalwe belowe dat ek jou sal konfronteer.”
Lucinda kyk dankbaar na hom. “Dankie vir die vertroue. Ek moet eerlik wees en erken dat ek en Werner … wel, dat ons besef het ons is aangetrokke tot mekaar. Maar ek ken hom skaars. Al wat ek weet, is dat hy ’n groot maatskappy het en dat hy ’n wonderlike pa is. Dat hy ’n wonderlike, simpatieke mens is, wat beslis ’n menslikheid het wat Enid Huber jammerlik kortkom.”
“Ai, ek weet dit maar te goed. Jy weet, sy het ryk grootgeword in ’n aristokratiese en snobistiese Engelse familie. Haar pa was ongelukkig ’n man wat die Engelse as ’n ‘rotter’ bestempel, want hy het die familierykdom uitgemors. Natuurlik moes sy met ’n ryk man trou, al was dit ’n Suid-Afrikaner wat nie in Engeland wou woon nie. Juis oor haar familie so snobisties is, het hulle Werner as ’n parvenu beskou, maar darem nuttig as ’n skoonseun. Hulle sien op sy familie neer en hy is baie gegrief daaroor. Ek sê nie hy en Enid was nie destyds verlief nie, maar Enid is ’n gebruiker en Werner sou hom nie laat gebruik het as sy nie dadelik swanger geraak het met Erik nie. Hy sal enigiets vir sy seun doen – jy het dit met jou eie oë gesien. Werner is ’n self-made man, maar hy het deur ondernemingsgees, briljante beplanning en harde werk ryk geword. Die Hubers was arm, maar ’n broer van sy ma het hom verder laat leer, want hy het al op skool gewys dat hy briljant is. Hy ken swaarkry, en dit het van hom ’n simpatieke mens gemaak. Hy het al die jare vir sy ouers en sy twee susters gesorg en vir almal huise gekoop. Sy ouers is al oorlede, maar sy susters en hulle gesinne stop hy gedurig in. Sowat van vrygewigheid het jy nog nie gesien nie. Daar het jy hom in ’n neutedop.”
“Dankie dat jy my vertel het.”
Nou styg Werner net soveel meer in my estimasie, dink sy gelukkig.
Toe Werner die aand terugkeer na haar huis, voel Lucinda asof sy hom met ’n omhelsing kan verwelkom, maar sy hou haar in en groet net vriendelik. Dalk hou hy nie daarvan as sy skielik demonstratief raak nie. Hy dink dalk sy val sommer in sy skoot, dat sy oorgretig is om hom te kry.
Hy is geklee in ’n pak en das en dra sy briewetas, maar hy sit dit neer, trek sy baadjie uit en woel sy das los.
“Sjoe, watter frenetiese dag, maar ek het baie dinge gedoen gekry.”
Lucinda kry egter die gevoel dat iets hom omgekrap het en dat dit nie net die besige dag was nie. Hy bevestig haar vermoede.
“Ek het gou by Erik aangegaan en Marita daar gekry. Sy het my vertel van die petalje met Enid.”
Lucinda haal haar skouers op asof dit haar nie traak nie, al voel sy eintlik verneder dat hy moes hoor sy eksvrou dink sy probeer hom vang.
“Ag, Jens weet in elk geval dat Enid gejok het. Hy het gesê hy praat net met my om haar tevrede te stel.”
Hy skud sy kop meewarig. “Eers was ek kwaad, maar Marita het my verseker hulle glo dit nie dat jy onprofessioneel opgetree het nie. Enid was nog altyd jaloers en dit het ons lewe versuur.”
Ek is nie verbaas nie, dink Lucinda, vroue vind jou seker onweerstaanbaar. Sy sien mos hoe kyk die verpleegsters na hom.
“Ek gaan net gou stort, dan sluit ek by jou aan en kan ons gesels,” sê hy en neem sy briewetas. Met sy baadjie oor sy arm loop hy uit.
Hy kom na ’n rukkie terug, vars en skoon in gemaklike klere en met ’n bottel in die hand.
“Ek het whisky gebring, want ek sien jy hou nie alkohol aan nie. Wil jy ’n dop saam met my drink?”
Sy huiwer. “As jy dit baie flou maak, met baie water en ys.”
“Jy hoef net ’n paar druppels te drink om my geselskap te hou,” skerts hy. “Net alkoholiste drink alleen, word gesê. Ek sal by Anna gaan glase en ys bedel.”
Hy is al tuis en so deel van my huis, dink sy liefdevol. Hy draai Anna om sy pinkie, en dié laat haar dit geval.
“Hier is die ou drankie wat so lig van kleur is dat jy dit skaars as whisky kan herken,” terg hy toe hy die koue glas wat van die baie ys rinkel na haar uithou.
Sy proe daaraan en knik. “Net reg.”
Met ’n behaaglike sug kom sit hy langs haar op die bank en teug. “Moedersmelk, sê ek altyd.”
Lucinda geniet dit om na hom te kyk. Hy is vir haar amper die volmaakte man. Amper te goed om waar te wees.
“Ek kan nie glo dat iemand ’n buitengewone vrou soos jy nog nie opgeraap het nie,” mymer hy en loer vir haar deur halftoe oë. “Of is jy ’n mannehater?”
Sy lag. “Allesbehalwe, maar ek is ’n beroepsvrou wat nog net nie beskikbaar was nie. Ek werk eenvoudig te hard om veel tyd vir die teenoorgestelde geslag te hê.”
Daar het nog niemand van jou kaliber oor my pad gekom nie, Werner Huber, anders het ek dalk getrou, dink sy.
“Dis wat ek gevrees het. Jy is heeltemal te verknog aan jou werk en pasiënte. Toe maak ek ’n plan. Ek het ingekoop in die kliniek, en nou gaan julle nie van my ontslae kan raak nie.”
Sy kyk hom verbaas aan. “Wat bedoel jy met ingekoop?”
Hy grinnik. “Ek het vir Jens en Marita ’n aanbod gemaak om ’n aandeel in die kliniek te koop. Hulle behou nog die beherende aandeel, maar die res behoort dan aan my.”
Lucinda gaap hom oopmond aan. “Jy speel!”
“Nee, dokter O’Neill. Ek is doodernstig.” Sy skud haar kop ongelowig. “Is die knoop al deurgehak? Het Jens-hulle jou aanbod aanvaar?”
“Hulle was baie bly en ons moet dit nog net finaliseer. Ek beoog om my hier op die landgoed te kom tuismaak; dis groot genoeg om my ook te akkommodeer. Ek gaan my argitek in Kaapstad laat weet om vir my ’n huis te ontwerp wat hier tussen die wingerde sal pas. Iets Kaaps-Hollands, wit met ’n grasdak, gewels en priële.”
Sy is so bly dat sy amper opspring. “Dis goeie nuus.”
“Besef jy nie dit sal my jou baas maak nie? Ek is bekend as ’n tiran wat almal woes na my pype laat dans.”
Sy lag en kyk hom uitdagend aan. “As ek vir Tygerberg-hospitaal en vir Jens en Marita kan werk, kan ek vir jou ook werk. Ek is nie ’n voetesleper nie.”
“Nee, dit weet ek, want ek het gesien hoe jy jou beroep benader. Eintlik is ek baie beïndruk deur jou toewyding en kennis. Jy kan aanbly, en ek sal selfs vir jou ’n verhoging met my vennote beding.”
“Dit klink na omkopery.”
“Ek moet keer dat jy weggaan deur jou genoeg aansporing te gee om te bly.”
Het hy maar geweet dat hy haar reeds in die holte van sy hand hou, dink sy, oortuig daarvan dat haar beker van geluk oorloop.
Hy sit sy glas neer, neem hare en sit dit ook neer. “Jy sal my iets moet gee om my soet te hou.”
“Wat?” vra sy, maar hy trek haar nader, teen hom aan. Hy draai haar gesig met een hand na hom en soen haar talmend op die mond, sodat dit vir haar voel asof ’n bruising deur haar trek en sy haarself amper in die betowering verloor.
“Ek wil dit heeltyd doen as ek jou sien,” sê hy skor toe hy haar los. “Ná daardie eerste aand toe jy by my en Erik gebly het, het iets met my gebeur en dit raak net al erger. Ek begin al koorsagtig raak soos my seun met malaria. ’n Mens noem dit begeerte, maar dis meer ook. Nou wil ek my kleim begin afsteek. Jy sal mý ook moet genees.”
Sy lag en nestel teen hom aan. “Ek is tot jou beskikking, meneer Huber.”
’n