Ena Murray Keur 15. Ena Murray

Ena Murray Keur 15 - Ena Murray


Скачать книгу
geskud. “Daar was nie sulke kanse in my tyd nie, my kind. En buitendien, my liefling, ek sou jou en Pappa se troue liefde deur die jare vir niks verruil het nie. Ek is ryk, Karina, al verstaan jy dit nie vandag nie.”

      Hoe ryk Karina self op daardie oomblik was, het sy nie besef nie, dink De Waal nou terwyl sy motor voortsnel. Sy was ryk, baie ryker as baie van die ryk kinders van die dorp met ’n moeder soos tant Miemie. Maar tóé kon sy dit nie besef nie, die waarde van die moeder voor haar, die eenvoudige skakelhuisie waarin sy gestaan het, nog nie na waarde skat nie.

      Toe sy uit is, het hy binnegestap. Tant Miemie het hom vraend aangekyk.

      Hy het geknik. “Ja, ek het afgeluister, tante. Ek is jammer en ek weet tante het my nie so geleer nie, maar ek is bly ek het.” Hy het probeer glimlag. “Nou weet ons mos waar ons staan.”

      “De Waal …”

      Hy het sy hand opgehou. Selfs nie met sy “ander ma” kon hy hierdie teer, seer saak bespreek nie. In elk geval, nie dadelik nie. “Ek … ek wil dit nie bespreek nie, tante, asseblief. Ek is nie vir haar kwaad nie. Daar is net een ding …”

      Met teerheid en liefde het sy na hom gekyk, na hierdie seun wat so dapper sy hartseer agter ’n skewe glimlaggie probeer verberg het asof hy reeds ’n grootmens is. “Ja, my seun?”

      “Karina is verkeerd, tante. Ek gaan nie ’n sukkelaar bly nie. Eendag … Ek het ook my ideale, tante.”

      “Natuurlik het jy, De Waal, en ek twyfel nie aan jóú ideale nie.”

      Sy insig was skerp op daardie oomblik. “Tante meen … tante is bekommerd oor Karina s’n?”

      Sy het gesug. “Ja,” het sy eerlik erken. “Ek is bekommerd oor my kind, De Waal. Karina se ideale gaan haar ver weglei van hierdie huis af. Sy gaan eendag op vreemde paaie stap en … ek is so bang sy gaan die pad terug huis toe vergeet …

      En sy het amper, besef De Waal grimmig toe hy na die snelheidsmeter kyk. Karina het die afgelope jare byna die pad huis toe vergeet. Terwyl hy op universiteit was, het hy haar selde gesien. Nadat hy afgestudeer het, het hy teruggekeer en soos Karina voorspel het, ’n boekhouer geword. Maar in sy agterkop was groot planne, planne wat met die jare vorm begin aanneem het. Hy het besef dat sy tuisdorp ’n groeipunt gaan word, en hy het begin waag. Hy was nie verkeerd nie. Drie jaar later het hy ’n klein onderneming oorgeneem, en sedertdien kon niks hom stuit nie. Vandag is hy een van dié sakemanne van die dorp, en brei hy nog steeds uit.

      En in hierdie jare het Karina selde die pad huis toe geken, want sy het ook háár ideale bereik. Sy was beroemd, ’n topmodel. Sy het haar eie woonstel in die stad gehad, luuks gemeubileer, haar eie motor, en haar foto was gereeld in die koerante en tydskrifte. Sy was hoog in aanvraag. Sy het gereeld oorsee modelwerk gedoen. Sy het ook binne ’n paar jaar al haar ideale verwesenlik … en die pad terug huis toe het begin toegroei.

      Hy het die stille hartseer in tant Miemie se oë gesien tydens sy besoeke. Later het hy liewer nie meer na Karina verneem nie, sodat hy haar nie in verleentheid sou bring nie. Op ’n dag het hy besef dat hy ’n dwaas is, dat hy nog steeds vasklou aan gister se drome – en homself ernstig aangespreek. ’n Volwasse man durf nie toelaat dat ’n droom uit sy kinderjare hom kortwiek in die lewe nie. Dis kinderagtig en onwaardig. Karina Oosthuizen het lankal van sy horison verdwyn. Sy beweeg in ’n ander sfeer as hy. Hulle is soos twee hemelliggame, elkeen op sy eie baan. Ontmoet sal hulle nooit nie. Dis tyd dat hy vir hom ’n vrou soek, ’n gesin begin en ten volle begin lewe. Waarvoor werk hy immers?

      Daardie selfde aand het hy uitgery na oom Isak de Villiers se herehuis toe en die volgende dag het hy en Rhona die ring gaan koop.

      Sy besoeke aan tant Miemie het begin afneem, die afgelope maande heeltemal ten einde gekom. Sy gesonde verstand het hom vertel dat hy ter wille van sy toekomstige geluk liewer alle bande met die verlede moet verbreek.

      Maar toe skielik maak die lewe ’n draai, ’n draai wat niemand verwag het nie … en nou is hy op pad na Karina toe …

      Hoekom? Hy skram weg van die vraag. Dis sy plig, maak hy homself wys. Hy doen dit ter wille van tant Miemie, die vrou aan wie hy soveel verskuldig is. Sy eie pa, en ook oom Thys, is oorlede. Tant Miemie is alleen. Hy móét haar help, kyk wat hy kan doen. Hy is niks aan Karina verskuldig nie, dis ter wille van tant Miemie dat hy nou op pad Kaap toe is.

      Toe hy ’n ruk later langs die hospitaalbed staan, sien hy egter nie meer tant Miemie se smekende oë voor hom nie.

      2

      Niemand sal die beeldskone model herken onder al daardie verbande nie. Dis net die oë, neus en mond wat oop is.

      Spontaan reik sy hand na hare uit. Die ooglede fladder en die oë gaan oop, staar by hom verby … pragtige, blinde oë.

      Dit voel vir hom of iets hom wurg.

      “Wie … wie is dit?” vra sy.

      Hy sluk, spartel om sy stem normaal te laat klink. “Dis ek … De Waal.”

      “De Waal …?” Sy vra dit asof sy hom nie onthou nie.

      Sy hart trek pynlik saam. Ja. Ja, hulle het vreemdelinge vir mekaar geword. “Tant Miemie stuur al haar liefde en goeie wense. Haar hart is op die oomblik ’n bietjie onstuimig – niks meer as gewoonlik nie, hoor – en sy laat weet jy moet sterk wees en gou gesond word.”

      “Mamma …”

      Dis weer stil, so verskriklik pynigend stil.

      “Hoe voel jy, maatjie? Baie pyn?”

      “Nee. Niks. Net … dood.”

      Hy laat sy kop sak. Die dokters het hom gesê dat hulle haar onder sterk verdowing hou. Sy het geen pyn nie, maar is verdowing nie miskien erger nie? Hy wonder of sy reeds weet, reeds besef wat met haar gebeur het, maar hy het nie die moed om te vra nie.

      “De Waal …”

      “Ja?”

      Haar vingers roer bewend in die palm van sy hand. “Ek kan niks sien nie. Dis alles donker … baie donker. Hoekom … hoekom kan ek nie sien nie. Is ek blind?”

      “Dis net ’n tydelike versteuring, Karina. Die dokters sê jy het ’n geweldige slag teen jou kop gekry. Jy moet eers rus en herstel. Dit sal …” Hy sluk. Mag God gee dat dit so sal wees! “Dit sal mettertyd weer regkom. Jy moet jou nie ontstel nie.”

      Sy antwoord nie, lê net doodstil, sluit weer haar oë, en hy weet nie of sy hom glo nie. Hy kyk half wanhopig om hom rond. Wat sê ’n mens nog? Wat kan jy nog sê?

      “Jy moet sê as daar enigiets is wat ek vir jou kan doen. Enigiets. Het jy alles wat jy nodig het? Is daar iets wat ek vir jou kan kry?”

      “Nee, dankie. Ek het alles. Daar is niks …” Sy aarsel. “Mamma …” Die stem verdof ietwat. “Jy moet …”

      “Ek kyk na haar. Moenie jou oor haar bekommer nie, asseblief. Ek sal haar bring sodra die dokter dit veilig genoeg ag.”

      “Dankie.”

      Hy gee haar hand ’n drukkie. “Ek sal nou moet gaan. Ek mag jou nie vermoei nie. Tot siens, Karina. Word gou gesond. Laat weet my as jy my nodig het of as ek iets vir jou kan doen. Belowe?”

      “Dankie. Sê vir Mamma … sê vir haar ek het haar lief en sy moet gou gesond word.”

      “Ek sal.” Hy aarsel, buk af en soen haar op die punt van die neus soos hy dit so dikwels gedoen het toe hulle nog kinders was. “Soet bly. Ek sal weer kom.”

      “Dankie, De Waal. Tot siens.”

      By die deur draai hy terug, kyk lank na die gebroke mens op die bed, stap dan vinnig uit.

      Karina sluit haar blinde oë styf toe, maar nie styf genoeg om die trane te keer nie. Sy weet dit nou. Vanoggend toe sy vir die eerste keer werklik besef het wat om haar aangaan en wat gebeur het, wou sy dadelik weet hoekom sy nie kan sien nie.

      Sy


Скачать книгу