Ena Murray Keur 15. Ena Murray
donker gebly.
“Ek kan nie sien nie!” Dit was ’n besef wat soos ’n verlammende skok op haar brein ingewerk het. Sy het dadelik beangs begin roep, en toe het die suster gekom, haar op ’n baie professionele toon gerusgestel: “Dis net tydelik. Dis skok. Jy sal herstel. Niks om oor bekommerd te wees nie.”
Haar stem het so kalm geklink, so seker, en die ergste onrus het bedaar. Toe die dokter op sy ronde kom, was dit ook haar eerste vraag: “Dokter, hoekom kan ek nie sien nie?”
Ook sy stem was so kalm, byna ongeërg, dat die onrus nog verder afgeneem het. Dit gebeur soms, veral as mens ’n groot skok of ’n baie harde slag teen die kop gekry het. Namate jy herstel, sal dit regkom.
En toe kom De Waal – De Waal wie se gesig sy kwalik voor haar geestesoog kon oproep. Op hierdie oomblik sukkel sy nog om sy gesig helder te onthou. Sy het hom so lank laas gesien, en dis eintlik die jong seunsgesig wat sy elke keer voor haar sien. Sy onthou so goed daardie bekende aarseling in sy stem. De Waal kon nooit doelbewus vir haar jok nie. Daardie effense aarseling het hom altyd verraai. En vandag … netnou … het hy geaarsel. Dit was skaars merkbaar, maar sy het intens op sy antwoord gekonsentreer, en dit onmiddellik gehoor.
Nou weet sy. Sy is blind.
Blind!
Sy wil liewer nie daaraan dink nie. Sy wil nie. Sy sal nie! Sy mag nie daaraan dink nie. Sy moet aan iets anders dink. Waaraan sal sy dink?
Aan Mamma … Sy sal aan Mamma dink. Haar ma se gesig verskyn duidelik voor haar geestesoog. Sy sien elke rimpel, elke grys haar, en die oë, daardie stilblou oë wat soms so gelag het, soms ernstig was. Sy onthou die openbarende gesprek wat hulle so lank terug gevoer het, en sy hoor die stem. Die sagte, beheerste stem soos sy dit altyd geken het. Ek hoop jy sal altyd nie net van buite nie, maar ook van binne mooi wees, my kind.
’n Fronsie keep tussen haar wenkbroue in. Weer skram haar brein weg. Is sy ook mooi van binne? Het sy ook mooi van binne gebly? Weliswaar is daar niks ernstigs waaroor sy haar hoef te skaam nie. Daar was baie versoekings die afgelope jare. Vir ’n mooi vrou is daar voortdurend slaggate, maar oor die algemeen, weet sy, het sy besonder standvastig bly staan in ’n wêreld wat so dikwels verrotting meebring. Die wêreld van die kalklig is nie ’n gesonde wêreld nie.
Maar tog is daar iets waaroor sy op hierdie oomblik skaam is: dat sy haar ma die afgelope jare so afgeskeep het. Sy was geweldig besig. Sy was gedurig in aanvraag. Haar werk het haar byna dag en nag besig gehou. Daar was nooit ’n vry naweek nie. Maar sy kon tyd ingeruim het as sy werklik wou. Sy was so bitter min huis toe die afgelope jare. Dan was dit ook maar net vir ’n heen-en-weertjie. En so een maal ’n maand ’n kort briefie, niksbeduidend.
Sy voel ’n skaamteblos oor haar gesig vlek. Nou eers, noudat sy tot stilstand gedwing is, sien sy hierdie dinge raak, besef sy hoe sy as dogter gefaal het. Sy is haar ma se enigste, en sy is al wat sy het noudat Pappa dood is. Sy is alleen. Sy lewe van ’n pensioen. Eenmaal het sy haar ma ’n groot tjek gestuur. Dit was aan die begin van haar loopbaan. Toe het haar ma haar betig, gesê dat sy weet die stadslewe is duur, dat sy haar geldjies self moet gebruik, sy kom baie goed reg met Pappa se pensioen.
Sy het nooit weer geld gestuur nie, net nooit weer daaraan gedink nie, want die lewe het so duur geword, die woonstelhuur het gestyg, haar klere het ’n fortuin gekos, die petrol vir haar motor … Maar die lewe het ook vir Mamma duurder geword …
Dis asof sy half verbysterd is op hierdie oomblik. Was sy werklik so selfsugtig die afgelope jare? Het sy werklik net vir haarself gelewe? Sy besef nou dat sy vir die eerste keer in ’n baie lang tyd werklik aan haar ma dink. O, sy was daarvan bewus dat sy ’n ma het, maar sy het nie aan haar gedink soos ’n dogter aan haar moeder behoort te dink nie.
Maar sy sal vergoed. Van nou af gaan dit anders wees. Sy sal haar moeder meer gereeld gaan besoek, vir haar meer geld gee. Sy sal …
Dan skok haar gedagtes tot stilstand. Besoek? Gee? Wat het sy om te gee? Sy het nog altyd ’n baie goeie inkomste gehad, maar sy het dit ewe roekeloos uitgegee op al die mooi goed wat sy so begeer het. Sy sit met kaste vol klere, pragtige meubels en ’n motor … maar dis ook al. En nou beteken dit niks, want sy kan dit nie sien nie! Sy is blind!
Daardie kaste vol mooi klere beteken niks, want sy sal nie eens meer daarheen kan stap en vir haar ’n mooi uitrusting met die regte bykomstighede kan uitsoek nie. Die mooi meubels in haar woonstel sal nou maar net ’n stoel en ’n tafel word, iets wat sy sal kan voel, maar nie kan sien nie. En haar motor sal verkoop moet word. Blinde mense bestuur tog nie. Sy sal ook niks vir haar ma kan gee nie, want sy sal nie meer ’n verdienste hê nie. Waar het jy al ooit gehoor van ’n blinde model? Wat eintlik waar is, is dat sy totaal afhanklik gaan word. Waar gaan sy heen sonder inkomste? Daar is net een plek om heen te gaan, net een pad wat sy kan loop – die pad terug huis toe. Sy sal van haar ma afhanklik wees.
Nee! Ag, nee! Dit kan mos nie wees nie! Dit kan nie met haar gebeur nie! Haar brein gryp koorsagtig na iets anders om aan te dink. Sy kan nie nou aan haar ma dink nie …
De Waal … Sy sal aan De Waal dink. Maar sy sukkel, want dis asof sy nie sy gesig goed kan onthou nie. Sy stem klink vir haar effens anders as wat sy dit onthou. Dit het dieper geword. Dis ’n mooi, sagte stem. En sy hand wat hare vasgehou het, was groter, stewiger as die hand wat hare so dikwels in hul kinderjare vasgehou het.
Sy voel effens verbaas. Sy weet so min van hom af, besef sy. Sy weet nie eens wat hy presies doen nie! Sy weet hy het sy B.Com.-graad verwerf en is terug na hul tuisdorp. Maar daar het sy kontak verloor. Sy besef nou ook eers dat haar ma selde na hom in haar briewe verwys het. Soms het sy net gesê dat De Waal vir ’n heen-en-weertjie by haar was, maar dis lankal dat De Waal se naam nooit meer in haar briewe voorgekom het nie, en sy het dit nie eens opgemerk nie!
Maar nou is hy skielik terug in haar lewe – die vreemde, volwasse De Waal. Hy het natuurlik maar net uit plig gekom ter wille van haar ma. Hy het sy hulp aangebied, maar sy weet dis net ’n beleefdheidsgebaar. Sy glo hy sal haar help as sy hom sou vra, maar ook dit sal blote beleefdheid wees. Hy het immers so te sê grootgeword in hul huis. Uit dankbaarheid sal hy beleef wees teenoor ’n meisie wat hy eens goed geken het maar wat nou tragies blind geword het …
Sy spartel weg van daardie woordjie, tas blindelings na iets anders. Helmut … Die dokter het vanoggend gesê hy is op slag dood. ’n Goeie vriend, maar hy is dood. Sy sal hom nooit weer sien nie. Hy sou ’n steunpilaar vir haar kon wees in die moeilike tyd wat sy weet vir haar voorlê, maar … hy is nie meer daar nie. Sy is alleen.
Dis ’n besef wat al sterker in haar word soos die lang dae verbyrol. Sy is alleen.
Natuurlik het hulle haar almal kom besoek, haar vriende en vriendinne, die sakemanne wat altyd van haar dienste gebruik gemaak het, die baie fotograwe en ook die persmense met wie sy so baie in die verlede te doen gehad het. Ja, hulle het almal gekom … met lieflike ruikers, groot ruikers wat hulle voor haar blinde oë kom neersit het.
Hulle was almal baie gaaf en o, so taktvol. Sy moet gou gesond word. Hulle verlang na haar. Sy moet gou terug by hulle wees. En daardie kontrak en die ander een wat reeds geteken was … Dis natuurlik net voorlopig gekanselleer totdat sy weer op die been is … Natúúrlik!
Maar sy weet dat dit baie lank sal duur voordat sy op die been sal wees. Dis nog iets wat haar kwel – die doodse gevoel in haar bene. Van haar onderlyf af tot by haar voete is sy stewig in verbande gewikkel, want sy het heelwat skrape en snye opgedoen. Maar sy het die verpleegster geglo toe sy gesê het dat dit maar die stywe verbande is wat maak dat sy nie haar bene kan roer nie. En oor die snye hoef sy haar nie te bekommer nie. Dit sal geen letsels laat nie.
Maar daar is tog tye wanneer hulle die verbande afdraai om die wonde, wat mooi aan die genees is, weer te behandel en te verbind. Dan probeer sy om haar bene of haar tone te roer … en sy kan nie. Maar dit sal wel regkom, verseker hulle haar, en sy glo dit vas. Daar kan tog nie iets met haar bene ook verkeerd wees nie. Dis erg genoeg dat sy haar oë verloor het. ’n Mens kan darem seker nie tegelyk blind én verlam word nie! Dis tog nie moontlik nie! Die Vader sal nie so iets toelaat nie!
Maar op ’n dag word die verbande