Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste
verberg.
Skaamte en vernedering speel wipplank in Fransien se gemoed. Sy was bereid – nee, nie net bereid nie, eintlik oorgretig – om die volle pad te loop, maar Jans het haar verwerp. Sy is nou seker dat hy nooit regtig vir haar omgegee het nie. Daar is geen ander verklaring vir sy optrede nie. Miskien was sy té gretig, miskien te onervare. Miskien net nie vrou genoeg vir hom nie …
Dis hierdie laaste, pynlike gedagte wat haar uiteindelik tot aksie aanspoor.
Stadig kom sy regop en loop na die deur toe. “Gaan, asseblief. Ek sal môre beskikbaar wees vir ondervraging, maar nou wil ek gaan rus.”
Sonder ’n woord staan Jans op en stap uit. Hy hoor hoe sy die deur agter hom sluit. Daar is ’n finaliteit in die geluid wat soos ’n koue hand om sy hart klem.
18
Agter die toe deur sak Fransien in ’n verdrietige bondeltjie neer. Haar liggaam ruk van ingehoue snikke.
Haar lewe lank loop sy met die vrees dat haar vroulikheid eendag geweeg en te lig bevind sal word. Op skool het die seuns nooit in haar belang gestel nie, want sy was te “mannetjiesagtig”. Sy het nooit laat blyk hoe seer dit haar gemaak het nie.
In die stad het sy wel met mans uitgegaan, soms selfs in ’n hewige vryery betrokke geraak, net om ook soos ander meisies te wees. Altyd was sy die een wat halt geroep het, die een wat koelkop gebly het.
Sy het boeke gelees – selfs hygromans – en na elke romantiese rolprent gaan kyk. Diep in haar onderbewussyn het die twyfel geknaag. Miskien was meneer De Lange en Tessa en Chris reg. Miskien ís sy mannetjiesagtig. Miskien is sy nie vrou genoeg om ’n man lief te hê nie.
Selfs nadat sy haar voorkoms verander het en vrouliker begin aantrek het, het die twyfel gebly. Hoekom is sy nie soos ander meisies nie? Hoekom raak sy nie ook verlief soos ander nie? Is daar nie dalk regtig iets fout met haar nie? Sy was wel nooit aangetrokke tot ’n ander vrou nie, maar sy was ook nog nooit aangetrokke tot ’n man nie.
Tot Jans Jansen in haar lewe gekom het. Hy het haar vroulikheid laat blom. Vir ’n klein rukkie was sy werklik vrou, met al die begeertes en emosies waaroor sy al so baie gewonder het. Nou kan sy nog twee emosies by die lysie voeg: sy weet hoe dit is om verraai en verwerp te voel.
Toe Fransien oplaas opstaan, is sy moeg gehuil. Die trane het reeds droog geword op haar wange en haar lyf is koud en stram. In die sitkamer staan haar inkopies van die oggend vir haar en lag. Inkopies wat sy gedoen het met Jans in haar gedagtes, so verlief en verspot …
’n Skielike opwelling van woede laat haar die paar goed wat sy al uitgehaal het, terug in die sakke bondel. Met ’n vasberade trek om haar mond maak sy die deur oop en smyt die sakke met inhoud en al buite langs die vullisdrom neer. Sy wil niks hê wat haar aan vandag kan herinner nie.
Môre sal sy soos ’n wetsgehoorsame burger vrae beantwoord oor ’n moord waarvoor sy die hoofverdagte is en waarvan sy niks weet nie. Sy sal haar kop hoog hou en haar hormone in toom.
Maar vanaand … vanaand sal sy saggies en lank in haar kussing huil, want haar gemoed is rou en haar hart so bitter seer. ’n Lewe sonder Jans … Hoe gaan sy dit regkry om aan te gaan? Daar is ’n amper fisieke pyn in haar binneste. As sy hom maar liewer nooit leer ken het nie …
Dis ’n diep ongelukkige Jans wat by sy chalet aankom. Hy het al voorheen gewonder of die polisie die regte loopbaan vir hom is, maar dis die eerste keer dat hy sy beroep met sy hele hart verwens.
Hoe langer hy Fransien ken, hoe sekerder raak hy dat sy nie in staat is om ’n moord te pleeg nie. Die sogenaamde getuienis teen haar hou nie steek nie. Sy was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek, maar om dit in sy seniors se koppe te kry is ’n ander saak.
Moedeloos bly sit hy op sy donker stoep en probeer sy malende gedagtes orden. Iewers is daar iets wat hulle miskyk, iets wat Fransien se onskuld sal bewys. As hy dit net kan opspoor!
Boonop dink sy nou hy het ’n speletjie met haar gespeel om inligting uit haar te kry, en hy kan haar seker nie kwalik neem daaroor nie. Hy kan homself gerus skop. As hy sy afstand gehou het soos wat hy moes, was alles nie nou so ’n groot gemors nie. Hoe gaan hy ooit weer haar vertroue terugwen?
Daar bly net een opsie oor: hy moet die moordenaar opspoor en daardeur haar onskuld bewys. Daarna kan hy al sy aandag aan haar gee. Dis in elk geval wat hy van die begin af moes gedoen het – wóú gedoen het. Dis net so verduiwels moeilik om nugter te dink en sy hande tuis te hou as hy by haar is!
’n Geluid by Fransien se chalet laat hom vinnig opkyk. Hy weet nie wat hy verwag het om te sien nie, maar dis beslis nie hoe sy is om in die middernagtelike ure vullissakke uit te sit nie. Wat sou in die sakke wees wat sy so driftig neergesmyt het? Hy was nog nooit ’n voorstander daarvan om in ander mense se vullis te krap nie, maar uit die aard van sy werk was hy al meermale verplig om dit te doen.
So saggies moontlik sluip hy nader en maak een van die sakke oop. In die donker sukkel hy om uit te maak wat daarin is. Met ’n skuldige kyk oor sy skouer raap hy die hele spul op en dra dit na sy chalet toe. Hy maak seker dat sy gordyne dig toe is voor hy die lig aansit om die inhoud van die sakke te inspekteer.
Dronkgeslaan keer hy die inhoud op die rusbank uit. Die ragfyn onderkleertjies wat heel onder in die sak was, laat uiteindelik ’n lig by hom opgaan: dis die inkopies wat Fransien saam met Mitzi gedoen het.
Die opwinding wat in hom opvlam by die besef dat die verleidelike stukkies kant waarskynlik met hom in die gedagte gekoop is, verander vinnig in ontnugtering. ’n Duideliker boodskap as die weggooi van die klere kan hy nouliks vra. Fransien wil baie duidelik niks verder met hom te doen hê nie.
’n Lang ruk staar hy na die hoop klere voor hom. Dan begin hy dit versigtig opvou en terugpak in die plastieksak, ’n vasberade trek op sy gesig.
“Sy sal julle op ons wittebrood dra,” belowe hy die flentertjies lap voor hy dit in sy kamer gaan bêre.
Vir die eerste keer in jare verslaap Fransien. Haar selfoon lui haar nege-uur wakker en sy sukkel om haar geswelde ooglede van mekaar te kry.
Jans se stem in haar oor bring die gebeure van die vorige aand helder na vore. Haar dapper voornemens ten spyt, moet sy sukkel om die knop in haar keel afgesluk te kry.
“Môre, Fransien. Daar is ’n paar goed in verband met die moordondersoek waaroor ek met jou moet praat. Hoe laat sal jou pas?” val hy met die deur in die huis.
“Hoe laat is dit nou?” Haar stem is hees van al die huil en sy hoop nie hy kom dit agter nie.
“Nege-uur.”
“Is tienuur te laat?”
“Nee, dit pas my. Ek sal in Santie Brink se studeerkamer wees.”
“Goed.”
Sy druk die selfoon dood. Haar kop wil bars. Afgesien van haar geswelde ooglede is daar donker kringe onder haar oë, en haar hare is windskeef geslaap.
“Jy lyk oes, Fransien. Te veel gehuil, te min geslaap en nog niks koffie gehad nie. Jy sal jou vinnig moet regruk, ou sussie, want tienuur moet jy fris en vars en so koel soos ’n komkommer wees. En jy gaan nié weer tjank nie!” praat sy hard met haarself, want die seer gevoel diep in haar bors dreig om haar weer in trane te laat uitbars.
Ná twee koppies koffie, twee hoofpynpille en ’n stort voel sy ietwat beter. ’n Koue, nat waslap op haar oë het die swelsel heelwat verminder, maar sy sukkel ’n kwartier lank om die donker kringe onder haar oë met die karige inhoud van haar grimeersakkie te probeer verbloem. Moedeloos gryp sy naderhand ’n bloedrooi lipstiffie en kleur haar lippe sorgvuldig daarmee in. Vandag moet die helder kleur van haar mond maar die aandag van haar oë aflei.
Die sakke met klere en goed is weg, maar sy is nie verbaas daaroor nie. Die vullisverwyderaars was seker lankal hier. Iewers is daar iemand wat dink Kersfees het hierdie jaar vroeg aangebreek!
In Santie se studeerkamer sit Jans reeds agter die lessenaar. Superintendent Johnson en Gerrie is ook daar. Die