Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste

Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste


Скачать книгу

      In ’n vorige lewe, voor Jans Jansen, sou Fransien haar vererg het vir sulke eiegeregtigheid. Die nuwe Fransien sleep hom laggend kombuis toe om by haar te sit terwyl sy koffie maak. Bewus van sy blik op haar, is daar ’n effense bewing in haar hande terwyl sy kop onderstebo hulle bekers regsit en melk warm maak.

      “Fransien … Hou op vroetel.” Die lag lê vlak in sy stem.

      Verleë vou sy haar hande voor haar en kyk op.

      Jans kom staan voor haar met sy hande op haar skouers, sy oë ernstig, ondersoekend op haar gerig. Hy glimlag stadig en Fransien voel hoe die aarde onder haar padgee. Asof hy weet dat haar bene skielik soos jellie voel, trek hy haar versigtig in die kring van sy arms in.

      Toe sy mond saggies aan hare raak, is dit die soetste, die ligste van liefkosings. Nooit kon sy droom dat ’n aanraking so sag soos die bewing van ’n vlindervlerk die bloed só deur haar are sou laat sing nie.

      Dis Jans wat uiteindelik sy kop oplig. Fransien maak ’n protesterende geluidjie in haar keel. Steeds verdwaal in ’n wonderwêreld van emosie weier sy om hom te laat gaan.

      Jans stry ’n kort, vergeefse stryd met homself. Hy mág nie verder by haar betrokke raak nie. Dinge het reeds te ver gevorder; hy is lankal nie meer so objektief as wat hy moet wees nie. Dan gee hy hom met ’n onderdrukte kreun oor aan die vlam wat hom van binne verskroei.

      Hy trek die sagte vroueliggaam stywer teen hom vas, streel met sy lippe soekend oor haar geslote ooglede, haar gesig, die boog van haar nek. En laer af, op ’n wilde verkenningstog wat die bloed soos ’n stoomtrein deur sy are laat jaag.

      Intens bewus van die aandrang van sy liggaam teen hare, van die nuwe dimensie in sy liefkosings, laat Fransien haar gretig meesleur deur die vloedgolf van hartstog wat oor haar spoel. Die wêreld en sy dinge vervaag tot niks. Al wat saak maak, is die strelende hande wat die kontoere van haar liggaam so maklik volg en die warm mond wat ’n vuurpad oor haar vel skroei.

      Stadigaan raak hulle bewus van die dringende gelui van ’n selfoon. Net die feit dat ’n oproep so laat in die nag iets dringends kan wees, dwing Jans om Fransien te laat gaan.

      Hy haal sy selfoon uit sy sak. Sy stem is skor en sy asemhaling nog onreëlmatig toe hy antwoord: “Jansen.”

      Hy luister ’n oomblik. Dan druk hy die selfoon dood met ’n verslae uitdrukking op sy gesig.

      “Wie was dit? Is daar fout?”

      “Verkeerde nommer. Verdomp!”

      Daar is soveel magtelose frustrasie in sy uitbarsting dat Fransien hom eers geskok aanstaar, voordat sy onbeheers begin giggel. Hy gluur na haar en begin dan verleë saamlag.

      Met ’n vermanende voorvinger in haar rigting preek hy vir haar: “Lag maar, juffroutjie, lag maar! Hier het ons nou ’n klassieke voorbeeld van ‘saved by the bell’. Moet net nie daarop reken dat jy elke keer so gelukkig sal wees nie! Terloops, waar is daardie koffie waarmee jy my hier ingelok het?”

      “Ekskuus? Sover ek kan onthou, het jy jouself vir koffie genooi,” antwoord Fransien uit die hoogte. “Met duistere bedoelings, soos ek sedertdien moes uitvind,” voeg sy met vonkelende oë by.

      “Mmm. Miskien moet ons liewer die koffie los. Dis al baie laat, en ek is nie so gelukkig soos jy om vakansie te hê nie. Ek moet môre werk.”

      Jans klink ingedagte en Fransien voel ’n skielike beklemming om haar hart. Sy woorde het die rede vir sy teenwoordigheid hier weer skerp na vore gebring. Sodra die moordenaar opgespoor is, sal hy weggaan. Dat sy self ook oor ’n week moet teruggaan huis toe, kom nie by haar op nie.

      “Vorder julle? Met die ondersoek, bedoel ek?” Haar stemmetjie is skielik dun en onseker en sy merk nie Jans se skielike skerp blik nie.

      “Dis nog te vroeg om te sê. Daar is heelwat leidrade wat ons opvolg,” antwoord hy ontwykend.

      Die skielike verandering in haar gemoedstemming krap hom om en hy is meteens haastig om weg te kom. ’n Deel van hom kom egter in opstand daarteen om haar alleen te los terwyl sy so ongelukkig lyk.

      “Lekker slaap. Onthou om jou deur te sluit. O ja, ek sal môreoggend my koffie kom drink.”

      Hy trek haar saggies nader, maar wat ’n ligte nagsoentjie moes wees, verander vinnig in ’n vurige liefkosing. Jans voel hoe die hartstog weer in hom begin opbou. Met ’n uiterste poging tot selfbeheersing stoot hy haar uiteindelik weg.

      “As ek nie nou loop nie, slaap ek net hier. Nie dat daar van slaap veel sprake sal wees nie …” eindig hy veelbetekenend.

      ’n Blos sprei oor Fransien se gesig en hals. Met ’n gedempte “Lekker slaap” sluit sy die deur agter hom.

      16

      Fransien is weer vroeg wakker. Ten spyte van die onrustige nag wat sy agter die rug het, tintel ’n aangename gevoel van afwagting deur haar. Jans gaan by haar kom koffie drink.

      Verder as dit wil sy liewer nie dink nie. Sy is besig om haar hart te verloor en dit maak haar bang. Sy kan nouliks glo dat ’n man soos Jans werklik in haar sal belang stel. Al wat sy weet, is dat dit ’n baie lang dag sonder hom gaan wees.

      “Kom by, Fransien. Jy het jare sonder hom oor die weg gekom, maar nou skielik wil jy nie eens dink aan ’n dag nie. Pateties, sussie, pateties, sê ek jou!” spreek sy haarself streng aan.

      “Wat trek ’n mens aan as jy weet die man van jou drome kom by jou koffie drink?” wonder sy desperaat voor die klerekas. Sy kan tog seker nie slaapklere aanhê soos gister nie. ’n Sweetpak is weer te onvleiend, ’n rok te formeel, ’n kortbroek te uitlokkend …

      Haar probleem word opgelos deur die klop aan die deur terwyl sy nog probeer besluit. Aangesien sy nie tyd het om iets anders aan te trek nie, hou sy maar haar slaapklere aan en trek net ’n handdoekstofjapon bo-oor aan.

      Selfs met sy hare in alle windrigtings verslaap en ’n dag oue stoppelbaard op sy gesig, is Jans die mooiste ding wat sy nog ooit gesien het. Soos die vorige oggende het hy net ’n ou oefenbroekie aan, en die spel van spiere onder gladde, bruingebrande vel laat allerhande onbehoorlike gedagtes by Fransien opkom.

      “Môre. Het jy lekker geslaap?” Haar stem klink darem normaal, al is die res van haar liggaam besig om haar skaamteloos te verraai.

      Jans het ook sleg geslaap. Hy kan nie sy aangetrokkenheid tot hierdie vrou ontken nie, maar sy werk was nog altyd die belangrikste prioriteit in sy lewe. Dis sy passie, sy manier om ’n verskil te maak, om onreg te beveg.

      Daarom durf hy nie by Fransien betrokke raak nie; sy is immers ’n verdagte in die moordsaak wat hy ondersoek. Hel! Wat help dit om homself om die bos te probeer lei? Sy is dié verdagte in die moordsaak! Sy vaste voorneme om haar voortaan eerstens as verdagte en daarna as ’n begeerlike vrou te sien, verdwyn egter soos mis voor die son toe hy in die skaam bruin oë kyk.

      “Mmm … ja. Wonderlike drome gehad.”

      Die stout kyk in sy oë laat die bloed in Fransien se gesig opstoot, en skielik kan sy ook nie meer haar stem vertrou nie. Verbouereerd vlug sy kombuis toe om die koffie te gaan haal, met sy sagte laggie in haar ore.

      Dankbaar dat hy haar nie volg nie, spoel sy haar gesig sommer by die opwasbak met koue water af en dep dit met die mou van haar japon droog. Teen die tyd dat sy klaar is met die koffie, gloei sy nie meer so erg nie en is haar asemhaling weer onder beheer.

      Jans het intussen op die stoepie gaan sit en sy neem hulle koffie sommer soontoe. Dis ’n pragtige, helder oggend en daar daal ’n diepe rustigheid oor Fransien terwyl hulle in stilte sit en koffie drink. Dís hoe dit hoort. Wat ook al verder gebeur, dit was so bestem dat hulle mekaar hier moes raakloop. Hierdie pragtige oggend saam met hierdie wonderlike man was van die begin af in haar lewensplan ingeweef.

      Jans rek hulle tydjie saam so lank moontlik uit, maar eindelik is hy verplig om op te staan. “Sal jy so sewe-uur reg wees vir ontbyt? Ek kan nie later as agtuur aan die werk spring nie.”


Скачать книгу