Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste
irriteer hy haar die meeste van die tyd tot in haar siel – veral wanneer daardie waas van verveeldheid oor sy oë trek, soos nou weer. Maar elke keer as hy glimlag, raak haar knieë pure jellie en haar hart slaan ’n slag of wat oor. Hierdie verspottigheid moet end kry, vandag nog!
Jans staar afwesig voor hom uit. Hy moes van beter geweet het as om weer vanoggend by Fransien te kom koffie drink. Dit raak al moeiliker om sy afstand te behou. Sy kop waarsku hom daarteen om by haar betrokke te raak, maar sy liggaam is net nie meer gehoorsaam nie. Hoe sal dit wees om sy vingers deur daardie deurmekaar krulle te trek, net een keer daardie satynagtige vel teen sy eie lyf te voel?
Fransien probeer die geselskap aan die gang hou, maar ná ’n rukkie gee sy moed op. Dis duidelik dat Jans se aandag glad nie by haar is nie.
Stadigaan begin sy haar vererg. Die buffel! Sy is baie duidelik vir hom niks meer as ’n gerieflike koffiedrinkplek nie.
“Is jy klaar?” Haar stem is skerper as wat sy bedoel het.
Jans kyk amper verbaas na die leë beker in sy hand.
“Wat? O! Ja …”
Hy staan vinnig op om die beker op die skinkbord te sit, net toe Fransien buk om dit by hom te neem. Vir ’n oomblik is hulle so naby aan mekaar dat hulle byna aan mekaar raak. Hulle blikke verstrengel en Fransien se asem stok in haar keel. Daar is ’n smeuling in Jans se oë wat sy nie kan misverstaan nie: hy is net so bewus van haar as wat sy van hom is.
“Gee, ek sal die skinkbord invat. Ek moet in elk geval verkas, ek het baie werk.”
Sy woorde bring haar stadig terug na die werklikheid. Asof in ’n droom loop sy voor hom uit kombuis toe. Sy buk ingedagte om die deurmatjie reguit te trek. Jans, wat kort agter haar was, kan net nie vinnig genoeg tot stilstand kom nie.
Hy probeer vergeefs om orent te bly en die skinkbord terselfdertyd te balanseer, maar sy poging werp nie veel vrugte af nie. Hulle tuimel in ’n hoop neer, met die gekletter van die skinkbord en die breekgeluid van porselein in hulle ore.
Jans kom eerste tot verhaal. Nog voordat hy op sy voete is, begin hy al baklei.
“Is jy simpel, vroumens? Jy kon ons al twee verongeluk het!”
Fransien sukkel nog om haar asem terug te kry, want sy elmboog het haar in haar ribbes getref en hy het met sy volle gewig op haar te lande gekom. Sy is onmiddellik witwarm van woede.
“Wát? Wil jy nou sê dit was mý skuld? Dis jy wat nie kyk waar jy loop nie! Kyk nou net die gemors!”
Sy trek haar moeisaam regop en begin skud die suiker van haar klere af.
“Het jy seergekry?” kry Jans dit reg om terselfdertyd ergerlik en bekommerd te klink, maar dit paai Fransien geensins nie.
“Nee, wat! Wat is ’n gekraakte ribbetjie of twee nou?” Sy begin om die stukke bymekaar te maak.
“Wag, ek help jou gou.”
Maar Fransien druk hom onsag eenkant toe. “Los maar. Jy het mos baie werk.”
“Ek sal die bekers betaal …” probeer Jans weer.
Fransien strek haar tot haar volle lengte uit en probeer neerbuigend na hom kyk. Die feit dat hy heelwat langer as sy is, bederf egter die effek aansienlik.
“Dankie, maar dis nie nodig nie. Ek kan darem twee bekers bekostig. Het jy nie gesê jy het baie werk nie?”
Sonder ’n verdere woord draai Jans om en stap met ergerlike treë terug na sy chalet.
Fransien kyk hom met haar hart in haar oë agterna. Sy weet sy was onredelik, maar sy kon haar net nie keer nie. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde het sy haar verbeel dat hy met iets anders as verveeldheid na haar kyk. Sy besef egter nou dit was sinsbedrog en die teleurstelling is groot.
Dis tyd dat sy haar bakvissiestreke laat staan en die werklikheid in die gesig staar: hierdie vaalseun is nie vir haar nie. Hy maak wel haar hart en hormone en bloedsomloop en knieë en als deurmekaar, maar sy doen niks vir hom nie …
Nadat sy die gemors opgeruim het, moet sy eers gaan stort. Daar is suiker selfs tot in haar hare, en haar humorsin kom tot haar redding terwyl sy in die stort staan. Dat hulle sowaar soos twee kinders vir mekaar die skuld kon gee vir iets wat ’n blote ongeluk was! Sy proes dit uit van die lag. Ook maar goed die hele debakel het nie toeskouers gehad nie.
Ná ontbyt ry sy dorp toe. Heel eerste gaan koop sy nuwe bekers. Nou het sy die dag vir haarself en wil sy net ’n bietjie rondkuier by ou bekendes …
So kuier-kuier vlieg die dag omtrent verby. Oral waar sy kom, moet sy eers in detail vertel hoe dit met haar ouers gaan en wat sy deesdae doen. En koffie drink, natuurlik!
Dis al laatmiddag toe sy terugry. Daar hang ’n loom stilte oor die oord en sy sien uit na ’n vinnige swem voor aandete.
Die swembad is weer eens feitlik verlate. ’n Omgekrapte ma probeer twee rooikopseuntjies oorreed om uit die water te kom terwyl die pa gelate toekyk.
Fransien trek haar boklere uit en luister geamuseerd hoe die vrou, wat vaagweg bekend lyk, om die beurt by die twee karnallies pleit en dreig. Haar glimlag verdwyn egter vinnig toe sy die volgende dreigement hoor.
“Daardie oom is ’n polisieman. Hy gaan julle in die tronk sit as julle nie nou dadelik uitklim nie.”
Met benoude kyke in die rigting van die aangeduide gevaar klouter die twee nou rats uit en storm na hulle ma toe. Met die twee bibberende lyfies in groot handdoeke toegevou, begin die vierstuks wegstap, terwyl die ma nog eenstryk baklei oor haar spruite se ongehoorsaamheid.
14
Met wild kloppende hart vou Fransien haar klere tydsaam op en sit dit op die naaste bankie neer voor sy omdraai. Jans staan ’n paar tree van haar af, en van sy lui glimlag is daar nou geen teken nie. Met ’n ontevrede frons kyk hy die vertrekkende groepie agterna.
“Nou toe nou! Die groot, kwaai poeliesman!” spot Fransien.
Sy ergerlike blik word nou op haar gerig. “Ek haat dit as mense die polisie as paaiboelies gebruik!” bars hy onverwags uit. “Ons is veronderstel om mense te help, maar hoe moet ons dit doen as kinders van kleins af geleer word om vir ons bang te wees?”
Sy gesig lyk soos ’n onweerswolk en Fransien kan die versoeking nie weerstaan om hom ’n bietjie te treiter nie.
“Kry vir jou ’n spieël,” raai sy hom lieftallig aan.
“’n Spieël? Wat de duiwel moet ek met ’n spieël maak?” Jans lyk geïrriteerd.
“Oefen om te glimlag. Daardie frons is genoeg om enige skurk die skrik op die lyf te jaag, wat nog te sê twee onskuldige kinders!” kry sy haar hou in.
Sonder ’n verdere blik in sy rigting draf sy swembad toe, net om op die kant gestuit te word deur ’n ystergreep om haar boarm.
“Net ’n oomblik, asseblief.”
As sy stem nie so hoflik was nie, sou sy haar arm eenvoudig losgeruk het, maar nou kyk sy net vraend oor haar skouer.
“Wat is dit?”
Jans laat gaan haar arm en vou sy arms voor sy bors. “Hoekom hou jy nie van my nie?”
Daardie verveelde kyk wat Fransien so irriteer, is weer in sy oë en sy praat sonder om te dink: “Want ek hou nie van die manier waarop jy na my kyk nie!”
“Hoe kyk ek na jou?”
Die vraag is onskuldig, maar Fransien kyk agterdogtig na hom. Hy lyk nog net so verveeld, maar sy kan sweer daar was lag in sy stem.
“So! Soos jy nou kyk! Asof jy tot in jou siel verveeld is en my geselskap net verdra omdat jy goeie maniere het!”
“Nou wil jy hê ek moet liewer só na jou kyk?”
Hierdie keer was dit nie haar verbeelding