Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste
maar Fransien hou haar hand op. “Vrek. Dis wat ek gesê het: As hy weer sy pote op my sit, maak ek hom met my kaal hande vrek.”
Jans leun terug in sy stoel. “En het jy dit bedoel?”
“Dis ’n manier van praat. Nie alles wat ’n mens in ’n oomblik van woede sê, kan letterlik opgeneem word nie.” Fransien doen haar bes om kalm te bly, al is haar bloeddruk besig om te styg.
“Maar sou jy dit kon doen? Iemand met jou kaal hande doodmaak, meen ek?” lok hy haar moedswillig uit.
Nou het sy genoeg gehad. Sy kyk hom vas in die oë en haar stem drup van die stroop toe sy hom antwoord: “O, beslis. Veral voor ontbyt – maak my net kwaad genoeg. Maar nou moet julle my asseblief verskoon. Mitzi-hulle wag vir my.”
Sy het die genoegdoening om Jans se ore te sien rooi word toe Tony Johnson en Gerrie dit uitproes van die lag.
11
Die tweeling wag haar by die voordeur in, uitgelate omdat tannie Fransien by hulle kom kuier.
Mitzi skud haar kop oor dié opgewondenheid. “Die twee is nooit juis skaam nie, maar soos hulle darem oor jou tekere gaan!”
Ná ontbyt help Fransien vir Mitzi die tafel afdek en die skottelgoedwasser inpak, terwyl Daan en die meisiekinders ry om die koerant te gaan koop. Asof so afgespreek, vermy hulle albei die onderwerp wat voorop in hulle gedagtes is, naamlik die moord op Chris de Wet.
Uiteindelik kan Fransien dit nie meer hou nie.
“Mitzi, is ek gevoelloos omdat ek nie hartseer is oor Chris nie? Ek het nie eens ’n enkele traan gestort nie. Dis amper of ek ’n berig oor ’n vaag bekende persoon in die koerant gelees het. ’n Mens dink goed soos: ‘Siestog, hy was nog so jonk’ en ‘Sy arme familie’, maar dit raak jou nie regtig nie. Ek en Chris was twaalf jaar saam op skool, ek behoort tog meer te voel as skok en spyt oor ’n vermorste lewe?”
“Nee, maat. Jy is allesbehalwe gevoelloos. Onthou, jy en Chris was nooit vriende nie. Boonop was hy tien jaar uit jou lewe, en ek glo jy het selfs die herinneringe aan hom so ver moontlik uit jou lewe probeer stoot. ’n Mens probeer mos maar altyd die onaangename dinge vergeet. Tegnies gesproke wás hy vir jou ’n vreemdeling. Ek dink ook jou gevoelens is ’n bietjie afgestomp ná alles wat gister gebeur het. Om Chris en Langes en selfs vir Tessa weer in die oë te kyk ná soveel jaar, moes baie van jou geverg het. Voeg daarby die feit dat jy op Langes se liggaam afgekom het, die gebeure tussen jou en Chris, en die verdere skok van die moord op hom. Eintlik is dit net logies dat jou onderbewussyn sou oorneem om jou te beskerm. Moenie jouself verder kasty met onnodige skuldgevoelens nie.”
Fransien se oë skiet vol trane. “Jy ken my te goed. Soos altyd slaan jy die spyker op die kop. Ek vóél skuldig – oor meneer De Lange en oor Chris. Ek het nie van hulle gehou nie, en ek het dit gewys. Nou sal daar nooit ’n kans wees om dit reg te maak nie.”
“Dis nou genoeg hiervan. Vee af daardie trane – ons het tien jaar se kuiertjies om in te haal. En niks wat ons vandag sê of doen, kan iets verander aan gedane sake nie. Jy is baie goed met kinders, dis tyd dat jy trou en jou eie kry,” verander Mitzi uit die bloute die onderwerp.
“Goeie idee! Verskaf net die pa, dan kan ek ’n plan maak,” speel Fransien saam.
“Ek is ernstig, Fransien. Jy word nie jonger nie. Wil jy dan nie kinders hê nie?” Mitzi hou op werskaf en kyk ondersoekend na haar vriendin.
“Natuurlik wil ek kinders hê, ten minste drie of so. Ek sê mos: verskaf net die pa. Dis nou ongelukkig een van daardie klein dingetjies waarvoor ’n mens ’n man nodig het,” skerm Fransien ongemaklik.
“So ja! Dit lyk beter. Kom ons twee gaan sit in die tuin, dis heerlik buite. Daardie drie sal nie gou terug wees nie. My dogters hou van inkopies doen, en hulle pa doen gewillig mee. Hy vat hulle by al die speelgoedplekke in, sodat hulle vir hom kan wys waarvan hulle hou. Dis nou kamtig sodat hy kan weet wat om te koop as dit geskenktyd is. Maar ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie – hy is self mal oor speelgoed.”
Die wit tuinstoele met die helder kussings vorm ’n mooi prentjie teen die groen gras. Fransien voel hoe ’n vredigheid oor haar daal toe hulle in die koelte van ’n groot treurwilger gaan sit.
“Dis waar ek kom sit as ek omgekrap voel. Ná ’n halfuurtjie hier buite sien ek gewoonlik weer kans vir die lewe,” sê Mitzi.
“Haai, Mitz! Ek kan nie glo dat die lewe jou ook kan onderkry nie. Jy lyk dan so gelukkig en tevrede. Jy het alles wat die meeste vroue begeer: ’n goeie man, twee pragtige kinders, ’n lieflike huis en tuin, geen finansiële probleme nie …”
“Daaroor sal ek nie stry nie. Ek is baie gelukkig, maar jy weet hoe is ons vroumense. Soms wil ek net ’n tydjie op my eie hê. Twee kinders wat ewe oud is, kan nogal veeleisend wees. Albei wil heeltyd Ma se aandag hê. Pa is heeldag by die werk, en as hy by die huis kom, wil hy ook Ma se aandag hê. Ek kla nie daaroor nie, hoor! My gesin is my lewe, en dis vir my ’n vreugde om aan hulle aandag te gee. Maar ek vermoed ek is weer swanger …”
“Dis wonderlike nuus! Wanneer sal jy seker wees?”
“Ek het oormôre ’n doktersafspraak. Daan is natuurlik so opgewonde soos ’n kind. As dit ’n seun is, kan hy vir hom al daardie wonderlike speelgoed koop wat hy self so begeer!”
Fransien lag vir die kamma moedelose uitdrukking op Mitzi se gesig.
“Nou ja, deesdae vlug ek maar kort-kort hierheen. Dis seker maar my hormone wat –”
“Moenie eens van hormone praat nie!” val Fransien haar onnadenkend in die rede. Onmiddellik wens sy sy kan haar tong afbyt, maar dis klaar te laat. Niks ontsnap Mitzi se oë en ore nie.
“Hoekom? Pla jou hormone jou?”
Fransien voel hoe haar gesig warm word. Sy vermy Mitzi se blik doelbewus. “Dis sommer niks.”
Nou is Mitzi agterdogtig. Die feit dat Fransien duidelik ongemaklik is en haar opmerking probeer wegpraat, sê vir haar iewers is daar ’n slang in die gras.
“Toe nou, Fransien! Uit daarmee! Ek kan sien jy steek iets vir my weg.”
Dit maak nie saak watse jakkalsdraaie Fransien probeer gooi nie, Mitzi is soos ’n bloedhond wat ’n spoor gevat het. Einde ten laaste kom sy maar met die sak patats vorendag.
“Ek dog jy sê hy is ’n vaalseun en nie jou smaak nie?” vryf Mitzi haar woorde van die vorige aand onder haar neus.
“Dit was gisteraand. Alles was so deurmekaar, en ek het hom nog nie geken nie,” probeer Fransien haarself verweer.
“My liewe vriendin, wat het verander van gisteraand af? Glo my, alles is nog steeds deurmekaar, en jy ken die man steeds nie van Adam se kant af nie. Van wanneer af kry jy hierdie snaakse gevoel – die jelliebene en goete?”
“Wel, dit het gisteraand een of twee keer gebeur. Ek het gedink dis maar van al die spanning, of van iets wat ek geëet het … of so iets,” eindig Fransien lamlendig.
“O aarde, hier kom moeilikheid! Ek het nog altyd gedink die dag as jy val, gaan jy hard val. En hier is dit nou.” Mitzi is tegelyk opgewonde en bekommerd. “Sê nou hy is getroud?”
“Hy is nie, hy het my gesê.”
“Sê my, vriendin, presies wat alles het hierdie sogenaamde koffiedrinkery van julle behels? Dis nou nie juis die soort inligting wat ’n mens op ’n toevallige ontmoeting uitruil nie.”
Mitzi klink só agterdogtig dat Fransien haar laggend moet verdedig: “Ons het net koffie gedrink en gesels, regtig. Op die stoep, ten aanskoue van die hele wêreld.”
“Dit sê niks. Die ‘hele wêreld’ was waarskynlik nog vas aan die slaap.”
“Wel, ja,” gee Fransien toe. “In elk geval, of hy getroud is of nie, hy stel nie in my belang nie. Hy kry hierdie uitdrukking van intense verveeldheid as hy na my kyk. So ’n