Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste
gelukkig bymekaar is, vat die eensaamheid aan haar.
Die mens is nie net ’n aanpasbare dier nie, hy is ook ’n tropdier, mymer sy stilweg.
7
’n Skielike beroering in die saal laat Fransien opskrik uit haar mymering.
“Die speurder uit die stad,” konstateer Mitzi.
Die man wat saam met superintendent Johnson by die deur inkom, lyk moeg. Sy klere is gekreukel en die skaduwee van ’n dag oue stoppelbaard is op sy gesig.
“Siestog, hy lyk gedaan. Seker honger ook nog. Wag, ek gaan hoor gou of die polisiemanne iets wil eet,” besluit Mitzi vinnig.
Sy gaan stel haar aan die jong speurder voor. “Goeienaand, ek is Mitzi Dreyer. Tony, ek dink nou eers daaraan dat julle seker nog nie kans gehad het om te eet nie. Hier is so baie kos, julle kan gerus saameet.”
“Jans Jansen,” erken die speurder die bekendstelling. “Ek weet nie van jou nie, Tony, maar ek sal ’n eetdingetjie waardeer. As u dalk vir ons ’n sitplek ook kan organiseer, sal dit gaaf wees. Effens eenkant, as dit moontlik is?”
“Dit sal maklik genoeg wees. Ek reël sommer met die kombuis om vir die manne wat buite besig is ook drink- en eetgoed uit te vat,” sê Mitzi.
Sy stap na ’n tafel in die hoek en praat met die paartjie wat daar sit. Hulle knik instemmend en staan op om by ’n ander tafel plaas te neem. Met ’n glimlag beduie Mitzi vir die mans om by die leë tafel te kom sit.
Nog iemand het intussen by die twee speurders aangesluit. Kaptein Jansen stel die lang rooikop, Gerrie, aan superintendent Johnson voor. Superintendent Johnson is blykbaar besig om die ander twee op hoogte van die ondersoek te bring, maar kaptein Jansen sit verveeld en rondkyk. Nou en dan vra hy iets of knik met sy kop.
Fransien sit ingedagte na hulle en kyk. Die speurder van Moord-en-roof is toe glad nie wat sy verwag het nie. Eintlik weet sy nie juis wát sy verwag het nie. Die man lyk so doodgewoon soos die spreekwoordelike buurseun!
Jans Jansen se blik gaan opsommend deur die saal. Sou die moordenaar een van die gaste wees? Sommige maak asof hulle nie bewus is van die speurders se teenwoordigheid nie; ander beskou hulle openlik nuuskierig.
’n Jong vrou met ’n opvallende bos donker krulle en groot donker oë vang sy oog. Sy sit hom aandagtig en bekyk en moedswillig kyk hy terug. Hy het die genoegdoening om te sien hoe sy bloos en wegkyk.
Fransien bloos bloedrooi toe sy besef dat die speurder haar betrap het. Hy kyk net ’n oomblik in haar oë, voor sy blik verveeld verder deur die saal dwaal.
’n Vrou wat so maklik bloos, is ’n rariteit, en Jans se belangstelling is onwillekeurig geprikkel. Uit die hoek van sy oog sien hy dat die vriendelike Mitzi Dreyer by die donkerkop se tafel gaan sit.
“Wat ’n oulike man!” sê Mitzi toe sy weer by Daan en Fransien aansluit.
“Wie?” Fransien kyk vraend na haar.
“Kaptein Jansen, man!”
Fransien deel nie haar opgewondenheid nie. “Hy? Ag nee, Mitz. Hy is nou regtig niks om oor huis toe te skryf nie.”
“Probeer jy snaaks wees, of is jy net blind?” Mitzi klink verontwaardig.
Fransien loer weer na die speurders se kant toe om te sien of haar vriendin iets raaksien wat sy miskyk.
“Wat sien jy, Jans?” Die jong Gerrie kyk nuuskierig in dieselfde rigting as die verveelde kaptein Jansen.
Tony Johnson skud sy kop effens. Dit lyk nie vir hom asof die speurder uit die stad énigiets raaksien nie. Inteendeel. Die man staar verveeld voor hom uit, skynbaar onbewus van alles rondom hom.
’n Glimlaggie trek aan Jans se mondhoeke. “Niks.” Hy haal sy skouers op en staar nog steeds onsiende in die verte.
“Sies, Jans. Moenie vir jou onskuldig hou nie. Jy het jou dooie kyk!” baklei Gerrie.
Tony kyk onbegrypend na die twee. Mis hy dalk iets?
Gerrie merk sy verwarring en help hom uit sy onkunde. “Jans kry soms hierdie kyk in sy oë – dit lyk of hy niks of niemand raaksien nie. Ons noem dit die dooie kyk. Die ding is net: hy gebruik daardie kyk om ’n mens van die spoor af te kry, sodat jy nie moet agterkom as iets hom interesseer nie.”
Tony lag effens. “Wel, as jy weet hy gebruik die sogenaamde dooie kyk om jou van die spoor af te kry, is dit mos nie meer doeltreffend nie, of hoe?”
“Die groot probleem,” verduidelik Gerrie verontwaardig, “is dat die dooie kyk een van twee dinge kan beteken: óf hy is geweldig geïnteresseerd óf hy is geweldig verveeld!”
Tony lag uit sy maag uit.
“Die jong mannetjies het nie werk vir hulle hande nie. Dis waarom hulle sulke slaaptydstories uitdink om hulle besig te hou,” is Jans se enigste reaksie op sy junior se uitlatings.
Vir ’n rukkie weerstaan hy die versoeking om reguit na die donkerkop te kyk. Hy is hier met die uitsluitlike doel om ’n moordsaak op te los, en dís waaraan hy sy aandag gaan gee. Eintlik voel hy ergerlik met homself en – onredelik en onverklaarbaar – ook met háár, omdat hy vir ’n paar oomblikke vergeet het waarom hy eintlik in hierdie saal sit. In elk geval, met Gerrie in die nabyheid kan hy dit nie waag om in ’n vroumens se rigting te kyk nie. Die mannetjie is glad te oplettend en sal hom ongenadig terg.
Fransien kyk na Mitzi. “Nee wat, hy is wat die ouer mense sal noem ’n regte vaalseun. Nie my smaak nie.”
Mitzi sug. “Ek gee moed op! Daar is geen hoop vir jou nie. Op die rak sal jy bly sit, hoor jy my? Op die rak sal jy bly sit!” dramatiseer sy terwyl sy haar vinger vermanend voor Fransien skud.
“Sjuut!” Fransien probeer kwaai frons, want ’n hele paar koppe het nuuskierig in hulle rigting gedraai.
Jans kyk asof terloops in Fransien se rigting. Haar aandag is by Mitzi, wat teatraal iets beduie, en sy is nie bewus van sy blik op haar nie. Hy hou die wisseling van ingehoue lag en erns op haar gesig gefassineer dop.
Toe sy opkyk en haar donker oë syne ontmoet, skeur hy sy blik met moeite weg.
Die jong dame lyk nie juis hartseer nie, ’n mens sou tog meer empatie met die vermoorde by ’n vrou verwag, vind hy doelbewus fout met haar in sy gedagtes. Wel, miskien het sy nie die vermoorde geken nie. Hier is maar min mense wat regtig hartseer lyk, kom sy sin vir regverdigheid onmiddellik na vore.
Verveeld bekyk hy die res van die gaste, voor hy na sy tafelgenote draai.
“Het julle klaar geëet? Dis tyd dat ons aan die werk spring. Waar is die dame wat die slagoffer geklap en gedreig het? Ons sal met haar begin.”
“Ek sal haar gaan roep,” bied Tony aan.
8
Fransien sug gelate toe superintendent Johnson weer langs haar kom staan.
“Juffrou De Swardt, kaptein Jansen wil u graag ’n paar vrae vra. Volg my, asseblief.”
Soos ’n lam ter slagting stap sy gedweë agter hom aan. Hoeveel keer sal sy nou nog ondervra moet word, en dit net omdat sy Chris de Wet die klap gegee het wat hy verdien het?
In Santie Brink se studeerkamer moet hulle ’n paar minute vir kaptein Jansen wag.
Tot Fransien se verbasing stel hy hom formeel aan haar voor en gee haar ’n stewige handdruk.
“Goeienaand, juffrou De Swardt. Ek is kaptein Jans Jansen van Moord-en-roof. Noem my asseblief Jans.”
Hy neem agter die lessenaar plaas en beduie na die lang rooikop. “En dis Gerrie, my regterhand.”
Die jonger man groet haar met ’n breë glimlag en gaan sit eenkant, gereed met ’n notaboekie en pen.
“Juffrou De Swardt, u het –”
Fransien