Uit die beek 2018. Barend Vos
wat daardie ou, ou genesingsverhaal so goed ken. ’n Plan wat baie se lewe sou red. Hulle moes bloot geleer word om óp te kyk, dan sou hulle lewe.
Nou, voeg Jesus by, het God in hierdie nuwe geskiedenis vol verdorwenheid weer ’n plan gemaak, ’n ander plan. En, ja, Nikodemus, jy kyk nou na Hom. Ek is daardie Ander Plan. Kyk net op, kyk na My, en jy sal lewe.
Só lyk God se liefdesdaad vir hierdie wêreld wat Hy met soveel sorg gemaak het. Die skepping met sy skepsels wat so erg onder selfvernietiging deurloop dat daar byna geen hoop meer vir hulle en hul wêreld is nie. Soos die ou volk is dié nuwe bedeling ook klaar met die wêreld.
Maar, sê Jesus aan Nikodemus, moenie bang wees nie. Julle sal nie verlore gaan nie. Ek heet ook Nuwe Hoop. My Naam is Geen Veroordeling. Ek is die Redder vir jou en jou wêreld. Ek gee die lewe in oorvloed, tot in ewigheid. Ek het julle lief.
Glo julle My?
____________________
Ek glo, Here! U is my lewe. U leer my om op te kyk, na waar my hulp vandaan kom.
Saterdag 17 MAART 2018 Lees Johannes 3:18-21
Lig
“En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom,
en tog het die mense eerder die duisternis … liefgehad …” (v. 19).
Die mens is darem maar ’n vreemde ding. Tog te lief vir die lig, veral as dit die kollig is. As jy die manjifieke middelpunt van al die aangename aandag is. Maar moenie dat daardie lig in die donker hoekies begin skyn nie! Moet tog nie dat die lig dinge begin openbaar wat liefs verborge moes bly nie.
Dit, sê Jesus, is die onderskeid tussen mense. Hier lê die grens: dié wat lief is vir die lig en boonop daardeur aangetrek word, al word hulle soms daardeur verlei, teenoor diegene wat duisend maal eerder die duisternis verkies en daar wegkruip.
Dit is die bedreiging wat Jesus bring, dié van die lig. Waar Hy is, is daar geen duisternis nie. Geen donker hoekie nie. Geen wegkruipplek nie. As Hy oor jou lewe skyn, word die donkerte verdryf, oral. Alles kom aan die lig.
Dit is vir baie mense eenvoudig te erg. Dit is nie dat hulle teen die lig gekant is nie. Maar hulle sou verkies om daardie lig op hul eie voorwaardes toe te laat. Op vooraf bepaalde plekke. Op tye en by geleenthede wat hulle pas. Hierdie blakerende helderheid wat so sonder skroom kom ontbloot, pas hulle hoegenaamd nie.
Hulle sou dus, dit weet ons nou, van die lig ontslae raak. Hulle sou dit met geweld uitdoof, in die waan dat hulle nou van Hom verlos is. Dié ironie ontglip hulle: Hy is hul Verlosser. Sy lig, Hý, is hul enigste kans om van die duisternis wat hulle in sy kloue het, bevry te word.
____________________
Jesus, lig van my bestaan, U skyn ook oor my. Dit maak my bly, en soms bang.
Sondag 18 MAART 2018 Lees Jeremia 31:31-34
Ek
Ek sal my woord op hulle harte skryf … Ek sal hulle God wees … Ek sal hulle oortredings vergewe … (v. 33-34).
Die Here sê Hy sal ’n nuwe verbond met hulle sluit. Hy sê Hy sal weer voor begin met hulle. Hy sê Hy sal hulle weer vergewe. Hy sê Hy voel nog altyd dieselfde oor hulle.
Hy herinner hulle aan die feite: Dit is húlle wat die vorige verbond gebreek het. Dit is húlle wat losgeruk en weggehardloop het toe Hy hulle aan die hand gevat het en wou lei. Dit is húlle wat gesondig het.
Maar hoor ook dít, sê Hy: Ek vergewe julle, Ek begin weer voor met julle, Ek begin skryf aan ’n nuwe storie oor julle. Ek is steeds jul God.
Ek is wat Ek is. Ek sal altyd wees wat Ek sal wees.
Só is die God wat ons aanbid. Hy was nog altyd só. Die Een wat die inisiatief neem, wat ons aan die hand neem. Die God van weerbegin, die Here wat die ou dinge uitvee en alles nuut maak.
Elke keer dat Hy met ons uit sy Woord praat, gebruik Hy die geleentheid om presies te sê wie Hy vir ons is. Ons vind ’n onmeetlike vrede in sy gerusstellende herhaling van “Ek”. Hierdie “Ek” is die skans tussen ons en ons ontrou, tussen ons en ons ellendige keuses. Hierdie “Ek” tree vir ons in die bres wanneer die Bose, veral ook die boosheid in ons binneste, ons aanvat. “Ek” is ons behoud, ons grootste hoop, ons enigste troos.
____________________
Here, skryf asseblief my hart vol! En laat u
Gees dit gereeld aan my voorlees.
Maandag 19 MAART 2018 Lees Psalm 51:1-12
’n Rein hart
Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees … (v. 12).
Ons ontsnap nie aan die skerp waarheid van Psalm 51 nie, nè? Hier lees ons dit weer. En dit is seker goed so, al loop die bloed wéér. Al moet ons weer met die kindjie-klein-gebedjie gekonfronteer word, ons eie smeking: “Jesus, maak my hartjie rein!”
Klaarblyklik is daar ook grootmense, selfs konings, wat hulle op hierdie soort soebatgebed verlaat. Kyk maar vir Dawid …
’n Belangrike vraag dié keer is egter: Presies wat bedoel die bidders daarmee? Oftewel: Hoe lyk ’n rein hart? Dawid gee ons wel ’n leidraad of twee. Saam met al die hartroerende belydenisse en skulderkennings én die uitgebreide beeldspraak waarin “was my skoon” (v. 4) ’n groot rol speel, gebruik hy ook woorde soos “opregtheid” (v. 8) en “blydskap en vreugde” (v. 10) en “standvastig” (v. 12).
Sy verstaan van ’n rein hart het dus alles met ’n soort leefstyl te doen. Die lewe met ’n onverdeelde hart. Met ’n hart wat op God se hart gerig is. Met beter keuses en daarom groter vrede. Met die kennis en die konsekwente doen van God se wil vir sy lewe.
Dalk is die belangrikste vraag: Hoe kry ek ’n rein hart? Eenvoudig, sê Dawid. God skep dit in jou. Hy vernuwe jou gees. Hy maak jou standvastig.
Ook maar goed so, want jy sal dit nooit self regkry nie. Jou goeie voornemens en beste besluite is nie ’n waarborg vir sukses nie. Inteendeel. Die enigste Een wat jy met jou hart – die oue, die vuile – kan vertrou, is Hy wat sý hart op jou verloor het. Hy wat gereeld sê jy is sy hart se punt.
____________________
Here-van-my-hart, ek behoort aan U.
Maak my ’n waardige draer van u liefde.
Dinsdag 20 MAART 2018 Lees Psalm 119:9-10
Jongmense
Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart … (v. 10).
Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? vra die psalmdigter hier. Ag, verskoon tog dié vraag. Wie op aarde vra nog sulke vrae? Wie wens nog hiervoor? En wat presies is ’n skoon lewe nou eintlik?
Dit is wel so dat daar min mense is wat nie op hul lewe terugkyk en sien hoe grotesk hulle langs die pad drooggemaak het nie. Veral in hul jongmensdae. Hulle kyk terug op die roete waarlangs hulle gekom het en staan dikwels verstom oor die wonderwerk dat hulle dit hoegenaamd oorleef het.
Wat van dié vraag: Het ’n skoon lewe ’n verband met ’n rein hart? Dit lyk tog so, want is dit dan nie hierdie vraende psalmdigter se dapper voorneme nie – gehoorsaamheid met ’n hele hart? ’n Onverdeelde hart, soos dié waarvoor Dawid in Psalm 51 pleit? As dit die geval is, dan word ons hier goed gehelp. Want, het Dawid oor die verkryging van ’n rein hart gesê, dit is God se werk. Hy skep ’n rein hart uit ’n sondeverbryselde een.
Kan dit wees dat God ook die vraende, sugtende mens hier te hulp kom? Die vuil opruim? Die gemors wegneem? Alles skoonmaak? ’n Nuwe moontlikheid voorberei?
As dit alles waar is, dan is die “Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou?” (v. 9) tog ’n goeie vraag om te vra. Noodsaaklik, selfs. Vergeet egter van die jongmensfrase; vra eerder oor alle mense. Nog beter: Vra sommer reguit oor mense soos ek.
____________________