Uit die beek 2018. Barend Vos
Woensdag 21 MAART 2018 Lees Psalm 119:11-16
Die grootste vreugde?
Ek verlustig my in u voorskrifte … (v. 16).
Die dag dat God se kinders bo alle twyfel vasstel dat die Here se woord ’n erewoord is, maak dit hulle onbeskryflik dankbaar. Dit is ’n lewensbelangrike ontdekking. Hierdie Godskinders sê dan graag vir almal om te hoor: Sy woord is vir my ’n lig op my pad.
En dan streef hulle hartlik daarna, onder meer deur Bybellees en selfs Bybelstudie, om hierdie woord te soek, te vind, en te volg. Soms kom daar teleurstellings, soms ontwikkel ’n dieper dankbaarheid. Maar die waarheid is dat die verhouding met die bevrydende Godswoord steeds groei. Jou oë sien die evangelie ál makliker daarin raak en jou hart word keer op keer daardeur verwarm.
Dit is tog vreemd om in hierdie psalm te lees dat God se woord – juis ook die “voorskrifte” (v. 12), die “bepalings” (v. 13), die “verordeninge” (v. 14), die “bevele” (v. 15) – die skrywer laat jubel. Hy verlustig hom daarin, sê hy. Dit gee hom trouens “meer vreugde as al die rykdom van die wêreld” (v. 14).
Genugtig! Dan laat wonder dit jou oor jou worstelinge met dáárdie woord. Jou dikwelse onvergenoegdheid daarmee, met die einste voorskrifte, bepalings, verordeninge, bevele. En jy twyfel sterk daaraan of jy ooit hieroor sal juig.
Maar almal is nie eenders nie, en wat vir jou ’n stryd is, laat dalk nie eens ’n ander een se wenkbrou lig nie. Die stukkie Skrifwoord wat soos brood vir jou gebreek en gegee word, lyk nie noodwendig soos dié waarmee ’n ander een gevoed word nie. Die Here, die hartekenner, die uitdeler, weet dit. En daarom tel jou huiwerige glimlaggie oor jou woordgeskenk straks, wie weet, net soveel soos ’n ander een se uitbundige halleluja.
____________________
Here Jesus, Woord van God: Praat gedurig met my! Leer my, troos my.
Donderdag 22 MAART 2018 Lees Hebreërs 5:5-10
Gehoorsaamheid
So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee … (v. 5).
Só word Hy toe ons Hoëpriester. Om vir ons in die bres te tree. Ons kan onsself nie verdedig nie. Ons beste offers is, soos al ons ander beste pogings, noodlottig besmet. Hy moes namens ons ’n offer bring.
En Hy het. Eens en vir altyd. Dit is die evangelie.
Goeie nuus, ja, ’n blye, blye boodskap, maar nie ’n maklike verhaal nie. Die Hebreërskrywer verwys daarna met swaar, seer woorde soos “dood”, “gebede en smekinge”, “harde geroep en met trane” (v. 7).
Dit het Hom gekos, hierdie Hoëpriester-met-die-hoofletter. Dit het alles gevra. En, sê die skrywer, Hy het alles gegee. “Gehoorsaamheid” (v. 8) was die woord, die hoofletterwoord. Hy, die Seun, het dit deur lyding geleer.
Tot vandag toe is dit dié woord vir alle priesters, dit wil sê almal wat vir iemand anders in die bres tree. Ja, hulle word geken aan hul gebede vir dié namens wie hulle bid, hul opofferings vir dié wat dit van hulle vra. Soos die Hoëpriester is ook hul oë sag, hul priesterlike kyk die ene deernis en ontferming.
Maar veral, verál, is dit hul gehoorsaamheid wat hul lewe en optrede kenmerk, die gehoorsaamheid aan die God wat hulle geroep het. Hulle weet maar te goed dat Hy nie van hulle verwag om wonderwerke te verrig nie. Hy vra bloot dat hulle Hom sal gehoorsaam. As Hy sê dáárheen, dat hulle sal gaan. As Hy sê hiérdie mens, dat hulle nie sal teëstribbel nie. As Hy sê nou!, dat hulle nie sal huiwer nie.
____________________
Here, gehoorsaamheid is ’n bitter swaar woord. Maar dit is ál wat U van my vra. Help my daarmee, asseblief.
Vrydag 23 MAART 2018 Lees Johannes 12:20-26
Bewonderaars
“As iemand My wil dien, moet hy My volg …” (v. 26).
Die Joodse paasfees lok toe soos altyd ’n klomp mense, ook Grieke wat vir Jesus wou ontmoet. Só vertel Johannes ons. Hulle het sekerlik gehoor van alles wat Hy doen en sê, en nou wil hulle kom kyk waaroor die bohaai gaan. As hulle gelukkig is, kan hulle huis toe gaan en vertel: Weet julle wat het óns gehoor en gesien?
Maar vir hierdie nuuskieriges en bewonderaars en toevallige meelopers het Jesus ’n harde boodskap: Die pad agter My aan is geen gemaklike, breë hoofweg nie. Dit is in vele opsigte ’n alternatiewe roete, ’n smal, uitdagende kronkelpad. Daar kom dikwels donker dieptes voor.
En dit is lewensgevaarlik. Jesus gebruik woorde soos “sterf” en “lewe verloor” (vgl. v. 24-25) wanneer Hy hieroor met hulle praat. Dissipelskap is duur.
Bewondering, aan die ander kant, kos niks. Dit is maklik, dikwels opwindend en hou soms groot beloning in. Dit is ook doodveilig, want dit geskied uiteraard op ’n afstand. En ’n bewonderaar het altyd vriende, hulle vir wie jy die objek van jou bewondering kan uitwys en sê: Kyk net daar! En: Is dit nie bewonderenswaardig nie!
Gelukkig vir bewonderaars hoef hulle nie veel meer as dit te doen nie. Gelukkig word daar van bewonderaars niks gevra en nie juis enigiets verwag nie. As hul bewondering mettertyd taan, dan is dit maar so …
Ongelukkig, sê Jesus, vra liefde veel meer as bewondering. As liefde ontbreek, sê Hy, verbeur jy die Vader se eer. En jy verloor al die sin en betekenis wat jou lewe sou kon hê.
____________________
Ek kan nie sonder U nie, Here. Wys my gereeld die pad agter U aan, u spore, en maak my gewillig én opgewonde om dit te volg.
Saterdag 24 MAART 2018 Lees Johannes 12:27-33
Om julle ontwil
“Nou is Ek diep ontsteld” (v. 27).
In plaas van “ontsteld” kon Hy maar gesê het … “bang”. Onseker. Hartseer. Kon Hy gevra het: Wat wil Vader van My hê? Vra Vader steeds die hoogste offer van My?
Maar dan kom Hy in opstand teen hierdie beproewing en Hy sê: Maak soos U wil. Dit is hoekom Ek hier is. U het My gestuur om u Naam te verheerlik.
Dan kom daar ’n stem – was dit die donderweer? Dalk ’n engel? En Jesus sê: Julle het dit gehoor, julle het Hom gehoor. Ek sê vir julle: Dit was om julle ontwil.
En dit sou, agterna beskou, die diepste motief vir die Christusoffer word: Om julle ontwil. Alles, álles – juis ook daardie heilige hartseer, die onmenslike onsekerheid, die lyding en sterwe van die koringkorrel – sou “om julle ontwil” (v. 30) wees. Ter wille van ons.
Ook die uitwerping van die Bose, en daarmee saam alle ontsteltenis wat met hom, daardie bobaas van die onderwêreld, gepaardgaan. Om ons ontwil word hierdie ellendeling verpletter.
En ons? Ons wat aan die ontvangkant van hierdie ingryping is? Ons word opgeroep om dié beslissende oorwinning te vier, om getroos daaruit te leef. Om elke dag opnuut moed te skep oor ’n stem wat na ons toe gekom het. Oor die hoop wat vir ons opgevlam het. Oor die vrede wat op ons neergedaal het.
Oor ’n genade-offer, onbegryplik groot, wat om ons ontwil gebring is.
____________________
Vader, verheerlik u Naam ook in ons. Leer ons u wil. En maak ons ore oop om, al is ons bewerig en onseker, u stem vir ons lewe te kan hoor.
Sondag 25 MAART 2018 Lees Jesaja 50:4-9
Hý help my
Die Here my God het my geleer … (v. 4).
Uitdagend. Selfversekerd. Getroos.
Dit is maar drie van die moontlike woorde wat by lesers opkom wanneer hulle die skrywer se verduideliking lees oor wat die Here se rol in sy lewe en optrede is.
Uitdagend, ja, want soos ’n refrein loop dit deur