Die stomme aarde: 'n keur. Wilma Stockenström
bruusk en brutaal. Maar van ’n verbysterende sublimiteit.
Ronel Foster
Dwaas met bril
Die verslae vrou in my bril se raam
vra ek beleefd om uit te klim.
Sy doen dit nie. Daarop
bêre ek die nuttige toestel in sy huisie.
Ek kis die vrou
telkens as sy met haar vinger
tekens trek oor my lense.
Wandel ek dan deur gouddeurweefde strate
in akwamarynaande van mymering
wat my wasig omhul, wandel ek dan
in my eie wêreldjie
waarin kleure plets en biggel,
dis knus, dis goed, en ten minste my eie.
My medemens het sagte kontoere.
Ek gaan my bril vir spesiale geleenthede hou,
net wat welskape en vermaaklik is, beskou.
Maar knaend waar ek kyk, die vrou.
Sy sper haar kake oop,
wyer as God is Liefde en Waarheid.
Soos sprinkane haar wriemelende vingers. Sy stop
hulle in haar mond, en kners
om nie te skreeu, mompel,
vlerke, saagtandpote tussen die lippe.
Voor die blinkende kolle
wat my gesig tot perspektief dwing,
voor my vensters reg rondom
wat sonwarmte binnelaat,
beduie die vrou met my gebare.
Die wolke dryf soos rôe verby.
Die pienk kwal van die son betas
my glasverdieping met ’n sleepsel garedrade,
en in rooskwarts versteen
staan my kake oopgesper
in ’n skreeu:
glaslose diamant wat die glas
gillend sny.
Die bome my vaders en moeders
Die bome, my vaders en moeders,
se lang gespierde arms,
se groot groen rokke,
se kinders by dosyne,
se optog van bloeisels in die parke en langs die strate,
my vaders en my moeders, die bome,
ek slaan my arms om julle,
druk julle blare teen my wang
en vou jul geur soos ’n doek om my hare.
Bly goed wees vir my.
Uile op die pale
Op elke telefoonpaal sit ’n uil
verhewe die wag en hou oor
die pokdalige pad na die ongepeilde.
Wat baat my hul geruisloosheid en geroep,
die honderd-en-tagtig grade
wysheid van hul geel oë?
Wat baat my die oorlewering, die spreekwoordelikheid,
die wis en sekerheid van hul teenwoordigheid,
as niemand sy arms om my bakhou
en niemand my bystaan en fluister
hoe vreugdevol die gaan is?
Gesertifiseer
Ek kan genoeg gloeilampies koop om al
my vertrekke lewenslank te belig,
maar ek verkies die skemer en skemermense
wat voor die droom van dromend lewe swig.
Ek kan ’n absoluut betroubare fisiologiese hartklep
aanskaf, gemaak van polipropileen,
maar liefs lewe ek hortend en hinkepink,
afwykend stug, totdat die harde reën
die huise van die laaste eeu smelt,
totdat taal in al sy uitinge verval.
As mens, tot pyn in staat, wil ek leef,
die uiterste mens, gesertifiseer mal.
Moedertjie-Meisietjie
Moeder, was jy maar my moeder,
maar jy’t ’n minsame meisietjie gebly.
Nou dra jy die ou jas van ouderdom
asof dit ’n tawwerdjie uit die twintigerjare is,
verspotte vrou. Kyk in jou verskilferde handspieëltjie:
daardie verkreukelde papawermond,
het dit kindervoorkoppies gesoen?
Ek, al by die veertig, vryf soms,
ingedagte, stuifmeel af, doodverbaas om geen
giftige geel op my vingertoppe te vind nie.
Ek onthou, moeder, jou skalksheid,
met skaamte. Jy was ’n guitige roos
vir my vaders, ja, jy wat my as pap
baba uitgestal het, wat met my wou popspeel,
jy. Op my beurt vertoon ek jou
aan vriende. Kyk, sê ek, ’n verwelkte meisie
op ’n stokkerige stengel. Treurig? Nee. Sy koketteer
met haar slap wit blare. Sy loer,
maar, o, die plooitjies trek seer om die ooghoeke,
die blare trek los van die kroontjie, en val.
Nou’s jy my poppie, moeder. Doedoe,
poplapmoeder, jou semellyf is klonterig
uitgemergel van sensasie snags. Toe maar,
toe maar, net ek en my vaders, net ons
weet hoe jou liggaam onder jou nagjurk lyk.
Doedoe. Doedoe. Doedoe.
Lêer van ’n leeftyd
In koddige kinderhandskrif: nimmermeer,
nimmermeer sal die maan ’n kommetjie melk
vir swartkatnag wees, die son nimmer-
nimmermeer ’n lemoen vol gelukskyfies.
Dit was tyd om op te hou prentjies teken.
En dié tyd toe sterre takke was oortrek
met bloeisels en skoelappers vir verliefdes
om mekaar mee toe te dek, dié tyd
het vlug soos die swaai van ’n tak oorgewaai.
Hierop word die spekulasiehuis gekoop vir die bewoner
wat sy gewoontes aan die gewoontes van die bure gespe,
en sy grasperk dieselfde groen as die buurgrasperke hou.
En wat sy bure onthaal soos sy bure hom onthaal.
Wat sy kinders skool toe stuur om skool te gaan.
En