Die stomme aarde: 'n keur. Wilma Stockenström
jou!
Die sand stuif ’n laken oor jou!
Die slak versier jou met silwer kettings
en die spinnekop verpleeg jou!
Ek sal weer kom.
Ou gebou
Verweerde gebou, onbeskut op ’n besige hoek,
leun ek agteroor met blouspieëlende oë,
weerloos teen die aantog van voetganger en motoris.
Liefs neem ek die lewe in breë trekke waar. Motors
in roomyskleure om skewe kerke. Vragmotors
belaai met karkasse of kopkool. Konvooie lotelinge.
Bewyse van welvaart. Soms in parke
’n somerstorm van stuiptrekkende plante. Daagliks
die kontrapunt van skoppelmaaie. Bewys van vrede.
Afkyk het ek afgeleer: net wie nog jonk is,
kyk met durf in die gesigte van mense.
A, dat die slopers kom om my oë uit te slaan!
Genoeg het ek gesien. Oorbodige bepeinsinge
bewaar in my kamers, ek, argief van gistergerigtheid,
oumensbewend onder my dun laag dagha.
Afrikaliefde
Soos Inhaca kyk na die kus, is ek gekeer
na jou, met my sagte mond, my borste.
Soos sy nestel ek in ’n baai van vriendelikheid,
groei ek, koraalsgewys maar seker
nader aan jou, my vasteland. Wat
skeel my die koopvaardy agter op die beukende
see? My druipende wortelbome staan
in soel waters slu treetjie vir treetjie nader.
Hoe lank nog eer ek my met jou breë
kasjoeneutbosse verenig, eer ons inmekaarpas,
jou rietbegroeide arm om my,
jou bruin liggaam my liggaam?
Veldverhaal
Onder die siftende geure van apiesdoring
en die driedoringboom by die dam
met rimpelende lig, by die skraps
vee, vir die man in hempsmoue,
in die broeiende veld, die voorvaderlike
uitgetrapte polletjiesgrasveld,
klipperige bed van geboorte en dood
van geslagte en geslagte vaal helde
wat na dip en tabak ruik,
bed met die blou laken van onvoorwaardelike
vervulling, bed breed soos ’n skoot:
die bloedlelie kom op langs die pad,
die heuningby vlieg uit die korf van die dagbreek,
die maan hang aan die kant van die môre,
die somer welp –
so en daarom en daarvoor
maak die vrou met die voorskoot haar gereed.
Mure
Wie se arms is so lank
dat hy sy hande oor anderjaar se miskoekvuur kan verwarm?
Gister se inkoopsak is uitgepak.
Griep gaan vir môre plattrek.
Om vandag te dra, het jy ’n sterk
nek nodig en ’n groot paar voete.
Nee, gister is nie leeg nie.
Knip die sak oop, haal die waaierpalm uit.
Haal die rooi klei uit, en die biersyg.
Nee, gister nie, maar môre is niks.
Vroetel in die sak se voering. Hy’s nie daar nie.
Môre vleg nie palmmatjies nie.
Môre smeer nie aalwynstuifmeel oor sy wang en voorkop nie.
Ons sit binne-in môre, hoe kan hy in die sak wil lê?
Hierdie mure is môre.
Hoe kom ons ooit hier uit as môre net mure is?
Die inbraak van die mamba
Om die huis op die heuwel van die waterskeiding
slaan die mamba sy riemdun jaartse om,
rol sy rubberlyf rats in ringe
om die regop tol van die dubbelverdieping.
Sy tong luister tastend, toetsend, by sleutelgat,
by diefwering. Dan, op die asbesteëldak
druk hy hom snel by die kaggelskoorsteen
in, gly glimswart deur roetswart af.
Toe loei die alarm oor wonings wat hurk
agter bloeiende heinings waar die paaie vurk.
Die howe se deure slaan toe, en middeldeur
skeur die tempel van geld se voorhang.
In die lesingsale gaan die ligte uit. In die warm
skagte wel die water glinsterend op, stoot
kringend uit en oor die goudgevratte stad.
Voltooi was die mamba se taak. Hy
rig hom swaaiend op langs die bed, kyk
klippiesoog na die man wat die waters
skei, en lê sy koue ken op die wit strot.
Vraetyd
Intussen juig ons oor sonsondergange en seë,
skakel verwarmers aan, ry deur knipperende strate,
vredig. Want vroeg het die besef gekom
by ons regeerders om duikbote aan te skaf,
vegvliegtuie, pantsermotors, tenks en projektiele.
Alles word herlei na die trefwoord: verdediging.
In ooreenstemming met die algemene stemming sal ook
ek my aanmeld vir opleiding in noodhulp.
En eendag as ek my eerste gewonde verpleeg,
een potblou dag tussen die puinhope as ek die draagverband
knoop, sal ek hom vra: Hoekom het jy ’n huis gebou?
Een pikswart nag van skouspelagtige ontploffings
sal ek vertwyfeld vra aan die ooglose rekruut: Hoekom
het jy leer lees? En by geleentheid sal ek my betrap
dat ek myself afvra: Vir wie troos jou hande?
As daar geen brood meer is om te bak, geen kinders om te bad,
geen bome om te snoei, waarvoor spalk en verbind
julle dan nog, hande, wat te veel leer doen het?
—
Gewis, ons is nie water genoeg nie!
Laat ons brak taal
riettaal word, en ruigte-en-reiertaal.
Laat die son hom wit
skrik