Klassiek reeks: Mahala. Chris Barnard
Afrika dié en Afrika is sonder genade. Afrika kry niemand jammer nie. Portugal was anders.”
Pio het uit die enjinkamer geroep, maar Rodrigue het eers sy seroetjie klaar gerook voordat hy hom aan Pio gesteur het. Hy het die seroet gesuig tot dit sy duimnael brand, dit toe onder sy hakskeen doodgetrap en opgestaan. “Die swartes,” het hy gesê, “kan ook niks doen as jy nie bystaan nie. Die diesel lek seker weer.”
Toe was hulle opnuut alleen. Delport en die meisie. Al wat van die kaptein oorgebly het, was ’n ná-trekkie van sy seroetrook. Maar Delport was reeds geruster, minder behoedsaam, en hy het gewag dat sy moet praat. Hy wóú ineens hê sy moet praat.
Maar sy het nie. Nie dadelik nie.
Die getjok van die enjin was ’n verborge, maar gerusstellende geluid iewers onder die oppervlak van die water. Hy kon die geluid onder sy skoensole voel. Die son was aan die wegraak en agter hulle op die horison was die lug grys en pers asof daar die nag dalk reën sou kom.
Op die bodek het een van die swart kinders gehuil en ’n vrou se stem het die kind vakerig berispe. Die bokke en pluimvee was rustiger as gewoonlik, maar af en toe het ’n wit of grys veredonsie vlak by Delport se gesig verby gewieg en afgesak water toe en in die stroom agtergebly.
Toe hy weer kyk, was die meisie besig om haar swart leersak leeg te maak. Voor haar voete het daar reeds ’n pakkie suiker gestaan en ’n koekie seep, ’n buis tandepasta, ’n nuwe botteltjie reukwater, ’n blikkie sout. Hy het sit en kyk hoe sy die res uitpak: ’n tydskrif, twee sagtebandboeke, en iets in koerantpapier toegedraai wat soos hout geklink het toe sy dit neersit.
Toe die sak leeg is, sit sy dit langs Delport neer. “Die sak, senhor.”
“Hoekom maak jy dit leeg?” wou hy weet.
“Die sak is vir jou. Vir die reisgeld.”
“Hou die sak,” het hy gesê. “Ek wil dit nie hê nie.”
“Jy sal my laat beter voel as jy dit neem.”
“Hou dit,” het hy gesê. “Pak terug jou goed. Hoe gaan jy dit buitendien gedra kry sonder ’n sak?”
Sy het die goed op die vloer eenkant toe begin skuif. “Ek sal heeltemal goed regkom.”
Hy het op sy knieë gehurk en die sak nader getrek en die goed begin terugpak, sonder om iets te sê. Sy wou keer. “Senhor,” het sy gesê, maar hy het aangehou terugpak. Toe hy die ding in die koerantpapier optel, het die papier geskeur en ’n stuk hout het tussen hulle geval. Dit was ovaal en soos ’n bord uitgehol. Hy wou dit optel, maar sy was vinniger as hy. Sy het dit besorg opgeraap en omgedraai.
“Het dit iets oorgekom?” wou hy weet.
“Nee,” het sy ná ’n oomblik gesê. “Gelukkig nie.” En toe verlig gelag en dit na sy kant toe gedraai. “Dis pragtig, dink jy nie so nie? Ek het dit vir tagtig eskudo’s gekoop.”
Hy het opgekyk in die twee hol oë. Dit was ’n masker van olienhout, van die soort wat die Indiërs in Caipemba verkoop. Hy het in die twee hol oë vasgekyk, ’n sekonde lank, en toe die neus gesien, en toe die breë wangbene, en toe die mond wat effens druip aan die hoeke. En iets wou bekend lyk. Hy het weer na die oë gekyk onder die swaar oogbanke, en ’n oomblik gevoel hy kry nie asem nie, maar toe was die gevoel weg en ’n vreemde koue het teen sy nek afgesak en oor sy skouers en oor sy maag tot in sy bene.
“Hou jy nie daarvan nie?” het die meisie gevra. “Ek dink dis wonderlik. Dis met ’n knipmes gekerf en dit kos maar tagtig eskudo’s!”
Hy het geknik en weggekyk. Daar het weer ’n wit dons buite voor sy gesig verbygesak. En die kind het nie meer gehuil nie. Dit was doodstil en die getjok van die enjin het die stilte in eweredige stukkies gekerf.
Die meisie het nog steeds die masker vir hom gehou, maar hy het nie meer gekyk nie. Want die gesig was Ritter s’n en hy wou nie na Ritter kyk nie.
Ritter het in die deur gestaan en sy oë was so dood soos die hout in Mália Domingo se hande. Hy het in die deur gestaan, sy een hand teen die sifdraad en sy ander hand in sy boshemp se sak. Die vertrek het na die soet sweet van dekgras geruik en na An wat pas nog op die bed gelê het. Hy wou dit nie doen nie. Hy was nie van plan om dit te doen nie, maar toe hy onthou van die glas in sy hand, het hy sy arm omgeskiet en die glas het deur die lug getrek en in Ritter se gesig gebreek en die volgende oomblik was hy in die kombuis langs die koue stoof en toe buite in die reën.
Dit was die tweede keer dat hy soos ’n lafaard gevlug het en dit was die laaste keer dat hy Ritter gesien het.
“Wat makeer?” het die meisie gevra. “Voel jy sleg?”
Daardie nag het hulle in Empangeni by vreemde mense geslaap. En die hele nag het hy verniet op Ritter gewag.
Nege jaar is lank as jy dit van dag tot dag moet omkry. Nege jaar is lank as jy wag, en nog langer as jy in die wildernis wag. Maar as jy terugkyk, is dit ’n vlugtige oomblik – die oomblik waarin jy jou oë geknip het.
Iewers in die verte het die meisie van die son gepraat. Maar haar stem het weggeraak en hy het sy hande na sy gesig toe gebring en hulle teen sy slape vasgedruk. En haar stem het teruggekom en hy het haar hoor vra of sy vir hom kan gaan water haal.
Hy het sy kop geskud en gesê: “Nee dankie.”
Dis nie die masker nie, het hy skielik gedink. Miskien is die ooreenkoms nie eens so groot nie. Dit was net die helder oomblik waarin hy skielik weer Ritter se gesig onthou het. Ritter het in die deur gestaan en dit was sý oë en hy het alles weer onthou en alles weer gevoel en weer opnuut geweet dat hy Ritter nog steeds verwag. En dit was dít – dié wete. Want soms was hy oortuig dat hy dié vrees ontgroei het; dat hy nie meer wag nie; dat hy met homself vrede gemaak het. Maar dié oomblik het hy duideliker as ooit geweet dis nie so nie. En dít het hom duiselig gemaak.
Hy kon die meisie se hare ruik en dit was die eerste keer in ’n baie lang tyd dat hy weer ’n vrou geruik het – ’n vrou se hare en ’n vrou se vel. En die meisie was weer in die effense lig voor hom en hy het haar bruingebrande skouers gesien en haar naam onthou.
Die son was nou onder.
Links en regs het die water groen en donker gelê en daar was nie meer bosluisvoëls nie, maar iewers teen die sifdraad het ’n muskiet eentonig gesing en weggeraak en singend teruggekom, óm sy gesig gedraai en weggeraak.
“Ek hou van die masker,” het hy oplaas gesê. “Het jy dit in Caipemba gekoop?”
“Ja.”
“Waar?”
“Sommer op die sypaadjie. Daar het ’n blinde Indiër gesit en hy het mandjies vol houtsnywerk gehad – maskers en diertjies wat uit hout gesny is, en houtkrale, en goed van ivoor.”
“Hoekom het jy die masker gekoop?” het hy gevra.
“Ek het daarvan gehou. Dit was anders as al die ander gesigte. Dit was ’n Europese gesig.”
“Ek hou daarvan,” het hy gesê. “Ek sou dit graag by jou wou koop. Ek sal jou ’n honderd eskudo’s gee – dan maak jy wins.” Sy het nie geantwoord nie.
“Ek maak maskers bymekaar,” het hy gesê. “Ek het al ’n stuk of twintig. Dié een is iets besonders.”
Sy was nie baie gewillig nie; dit kon hy sien. Sy het onseker geglimlag, die masker opgetel en daarna gekyk. “Jy maak dit moeilik, senhor,” het sy gesê. “Ek skuld jou al klaar geld. Ek moes dit eintlik vir jou present gegee het, maar …” Sy het verleë en net effens gelag en met haar hand oor die houtgesig gestreel. “Dis so mooi. Ek sou dit graag wou hou.”
“Dis iets besonders,” het hy weer gesê. “Dit sou mooi inpas by die ander wat ek het.” Hy het na haar toe gekyk. “Honderd-en-vyftig eskudo’s, senhora.”
“Asseblief,” het sy gesê, en dit was byna asof sy pleit. “Ek sou dit graag wou hou.”
Dit was daardie oomblik tussen