Klassiek reeks: Mahala. Chris Barnard
laat my skuldig voel,” het sy gesê, “maar jy kan die leersak vat. Dis nuut en dis meer werd as die masker.”
Toe skielik, uit die stilte, het die bootfluit amegtig begin blaas en dit was ’n verlate geluid op die wye water. En op die bodek het daar hoenders begin kekkel en ’n kalkoen het verskrik gekloek.
“Ek wil niks verniet hê nie,” het hy gesê. “Ek wou die masker koop.”
Regs van hulle was die oewer nou naby en hy het opgestaan.
“Hoekom blaas die fluit?” het sy gevra.
En hy het deur die sifdraad gekyk tot hy die lanterns kon sien en toe na haar toe gedraai waar sy nog steeds die masker sit en vashou. Hy het al geweet waar hy dit sou hang: teen die binnemuur reg onder die buffelkop. En hy het geglimlag en gesê: “Ons is by die eerste halte.”
Pio het met sy skuifelpassie ingekom en die olielamp opgesteek en toe was dit ineens heeltemal donker buite. Van die swartes was besig om af te klim. Party had niks by hulle nie; ander het mandjies met vrugte en kruideniersware en droë vis op hulle koppe gebalanseer; nog ander het gesukkel om hokke met hoenders en eende en ander pluimvee teen die loopplank af te kry. Eers toe almal af was wat wóú af, het Rodrigue op die oewer gaan stelling inneem en die nuwe passasiers se geld geneem. Daar het ’n lantern naby sy kop gebrand en hy was nat van die sweet in sy swaar en verslete uniform. Kort-kort het hy ’n verdwaalde tor of mot van sy gesig af weggeklap en dan ’n entjie verder van die lantern af beweeg.
Delport het homself betrap dat hy met die meisie praat. Sy het hom iets oor Rodrigue gevra en hy was besig om haar alles te vertel wat hy van die kaptein weet. En dit het hom skielik ’n gevoel van opwinding gegee wat hy nie mooi kon begryp nie. Hy was besig om met ’n vreemdeling in die donker te sit en praat en hy kon nie onthou wanneer dít laas gebeur het nie. En terwyl hy gepraat het, het hy gedink: dis vreemd dat ek dit nou moet doen, pas nadat ek weer aan hóm herinner is. En iets het vir hom gesê hy is miskien tóg by die vrees verby; hy is nie meer bang nie; Ritter is iemand in ’n ander wêreld. Ritter is dood.
En hy het aan Rodrigue se woorde gedink van ’n paar maande tevore. Hulle het in die stuurkajuit gesit op pad na Caipemba dié oggend en Rodrigue was dronk en vol woorde. En Rodrigue het gesê, terwyl hy sy naels met ’n vuurhoutjie sit en skoonmaak: “Die rivier is die veiligste plek in Afrika, amo. Hy raak nóg kant nóg wal. Hy is iewers tussen twee oewers.”
Hy het die stukkende vuurhoutjie van hom af weggeskiet en gesnuif en sy brandewyn opgetel. “Terwyl jy op die rivier is, is jy nêrens. Jy dryf in die niet, soos Nietzsche of iemand gesê het. Jy’s net ’n gedagte.”
En terwyl hy daaraan dink, het hy dit vir die meisie vertel, sonder om te weet of sy verstaan, en sonder om hom daaroor te bekommer. “Hy’s eienaardig,” het sy gesê. “Hy het my so verskriklik uitgevra.”
“Hy vra maar almal so uit. Hy weet alles van elke blanke passasier op sy boot. Hy beskou dit as sy werk om alles van almal te weet.” Toe praat hy met João se woorde. “Hy leef in ander mense. Miskien omdat hy self nooit gelewe het nie.”
“Dit moet seker ’n eentonige werk wees,” het sy gesê, “om altyd op en af te ry. Dieselfde rivier. Elke dag.”
En iewers uit die verlede het hy Rodrigue dit hoor beaam. “Dis so. Ek is in transito. Altyd. Jy begryp wat ek bedoel? Elke dag is gister in trurat. En oormôre is soos vandag.” Op en af, vier keer ’n week, tussen Caipemba en Schwulst se klein rietdak-hotel by Lotsumo – die vyfde halte.
Op die bodek was iemand besig om voel-voel op ’n sensa te tokkel. Dit was ’n yl geluidjie in die lou donker, maar dit was soet en vol refreine en almal bó behalwe die bok het geluister. Die bok het af en toe geblêr.
En dit het Delport die koorsbome by Mkuze laat onthou, en die man met die sere by Catuane wat vir An sy dooie vrou se klere gegee het, en die honger by Moamba toe An nie meer wou verder nie, en die sensa die middag by João Belo wat onder hulle groen kamervenster speel terwyl die son sak en ondergaan oor ’n verlate wêreld.
Hy het na An verlang, want sy was nie meer by hom nie. Die bleek gesig onder die muskietnet was ’n dooie mens.
João het ook gevlug. Rodrigue ook. João het vir ’n vrou gevlug wat hom wou liefhê en Rodrigue vir ’n mislukking. Maar João en Rodrigue was tevrede daarmee – hulle het dit self gesê. Hy sou ook kon wees, as An net dieselfde gebly het.
Die meisie se kop het teen die gaas geleun en hy het na haar gekyk en gevra: “Is jy moeg?” En gedink: hoe gewoond is ek nie al om dié vraag te vra nie!
“Dis so bedompig,” het sy gesê. “Kan ons nie boontoe gaan nie?”
“Niemand sal jou keer nie,” het hy gesê.
Hy wou nie gaan nie, maar toe sy wag, het hy opgestaan en haar gevolg. Hulle het teen die houttrap uitgeklim tot op die bodek en hy het langs haar gaan staan. Daar was ’n houtreling buite om die dek, en party het teen die relings geleun en oor die rivier gekyk. Ander het op hopies bymekaar gesit, ’n kring rondom hulle mandjies en pluimvee. Die bok het verdwaald aan sy tou gestaan en uitstaar in die donker.
“Dis koeler hier,” het sy gesê.
Hulle het tussen die sittendes deurgeloop, oor die mandjies en pakkette en ogiesdraadhokke geklim. Die slag van die enjin was nou duideliker en Delport kon die skoorsteen teen die sterre sien en die yl rokie wat in die donker trek.
“Dis die eerste keer dat ek op so ’n rivierboot kom,” het sy gesê. “Dis net soos ek my dit voorgestel het.”
Die sensa het nog iewers in die donker getokkel en hier en daar het ’n stem lui gepraat. Die dag het sy tol geëis.
“Jy is getroud?” het sy gevra.
Hy kon pynappels ruik en hoendermis en knoffel.
“Ja,” het hy gesê en geknik.
An sou seker al slaap. Of lê en lees.
“Kinders?”
Hulle het tot by die voorste relings gegaan en oorgeleun, staan en kyk hoe die kiel die stroom oopsny. “Een,” het hy gesê.
“Hoe oud?”
Hulle was nog nie by die eilande nie. Dit sou nog ’n kwartier duur. Dan die tweede halte. Hy het gewonder wat van sy draer geword het. Hy kon hom nie in die donker sien nie.
“Nege,” het hy gesê, “omtrent,” en nie van haar nuuskierigheid gehou nie. Hy sou veel liewer met Rodrigue wou gaan sit en gesels.
“Is dit ’n seun?”
Hy het geknik sonder om seker te maak dat sy dit sien.
“Dit moet seker eensaam wees,” het sy gesê, “vir so ’n kind.”
“Vir almal.”
Die donker was taai en roerloos en selfs die voortstuwende boot het geen koeligheid gebring nie. Die twee woorde het in die lug bly hang en hy kon nie begryp wat hom dit laat sê het nie. Dit was tog sy eie saak.
“Ek is maar twee weke hier,” het sy gesê, “en die eensaamheid maak my dood. Ek voel partykeer ek kry nie asem nie. Dis dié dat ek gister Caipemba toe is. Ek wou net weer mense sien.”
Sy oë het tussen die donker gestaltes gesoek na sy draer. Maar hy kon hom nie sien nie.
“Jy’t vir Rodrigue gesê jy’s ’n week hier,” het hy sag gesê.
Sy het van die water af opgekyk na hom toe en omgedraai, en, soos hy, met haar rug teen die reling geleun. “’n Week in die kamp. Ons is al twee weke uit Beira weg.”
Sou Gonçalo die boot verpas het? Dit het al vantevore gebeur. Maar nooit met dié skepsel nie. Gonçalo was nog altyd die getrouste op die werf.
“Julle mag nie hier skiet nie,” het hy gesê.
“My pa-hulle het permitte.”
“Ek het hulle nie geteken nie.”