Versamelde werk: Sheila Cussons. Sheila Cussons
ion>
Versamelde werk
Tafelberg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Sheila Cussons Versamelde werk mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
GESTALTES 1947
Twee drome
Dit is ’n brandende see en ek is daarin, ’n klein geparaliseerde liggaam ongeveer ses jaar oud. Rondom my is dit donker, asof hierdie see aan die onderkant van die wêreld woed. Die vlamme is in die golwe; hulle knetter soos vuur agter glas maar het geen hitte nie, net ’n vreeslike kleur en klank.
Ek is, êrens in ’n helder kol binne my paniek, daarvan bewus dat die enigste lig in my spartelende liggaam gekonsentreer is, want alleen die vlamme wat die naaste aan my beweeg, is ’n donker en deursigtige rooi; dié wat buite hierdie woedende kolk vou en terugvou, is byna onsigbaar, en agter hulle strek ’n waterduisternis of ’n duisternis van vuur – ’n swart vuur met ’n rooi hart en binne die hart my blink sparteling terwyl ek herhaaldelik na my vader roep.
Dit is donkerder, maar diep en skoon. Dit is miskien vroeër of later as die swart vuursee. Ek is trots en vol verwondering en ek gehoorsaam ’n bevel: om effens vorentoe te stap en dan op te kyk. ’n Ligte wind begin waai, baie koel, en dit is die teken. Met my kop agteroor kyk ek op, na ’n wonderlike sterreboog. Links en regs van my op dieselfde vlak as dié waarop ek staan, spring twee wit pilare omhoog en oneindig ver bo my ontmoet hulle mekaar, vorm hulle die boog, eenvoudig, manjifiek.
Ek weet wat ek moet doen en beweeg nader: die sterre waaruit die geweldige argitektuur ontstaan het, is nou een vir een sigbaar, net soos die skakels van ’n ketting, dog verblindend. Ek is byna onder die boog.
Skielik, ’n nuwe kennis, dit is nog nie tyd nie. Iets is aan jou openbaar: jy sal dit onthou, lank na ander dinge vergeet is. Wat so pas gebeur het, moet nog gebeur. Verstaan jy?
Ek ontwaak, en lê stil omdat ek nie meer wil lewe nie. Smart begin, soos pyn in ’n nuwe wond, maar iemand, of liewer, ’n soort abstrakte verstand wat nie hier in die kamer hoort nie, redeneer rustig met my. Dit is nog nie tyd nie, dit is joue maar jy moet nog wag daarvoor.
Ek moes toe geslaap het. Twee dae lank is ek geseën. Ek weet, want daar was iets op my voorkop: ’n sagte drukking of ’n sensitiwiteit van die vel.
Oë
Die kind het altyd ure voor haar ouers wakker geword. Eensame, skemerige ure. Die gordyne is nog toegetrek en sy wonder of dit al dag is.
Deur die tralies van haar bed soek sy na die persoonlikhede van vader en moeder, alhoewel sy weet dat hulle nog nie teruggekeer het nie. Kinders is bang dat hulle ouers hulle eendag vir die laaste keer sal verlaat. Kinders is bang vir stil kamers waarin ouers slaap; die afwesigheid van ouers: wie sal beskerm? Slapende liggame is so weerloos. Dog hulle is streng en stil. Tussen die ouers lê die skaduwees, en om hulle gesigte is dit nog nag. Soek na hulle gesigte: dalk is hulle nog dáár – die liggame is leeg soos huise waarin niemand meer woon nie. Is hulle oë nog toe of al oop? Is hulle vreeslike oë oop, of toe? Kyk hulle oë? Net die skaduwees kyk na die kind. Die skaduwees is stom. Hulle was nooit mense nie, hulle verstaan mense nie. Hulle staar; nie vriendelik nie, nie onvriendelik nie, maar afsydig. Daar is niemand agter die oë nie. Dit is lank, lank gelede toe daar nog niemand was nie, net leegte en stilte en skemering. Dis die ouers se skuld dat dit lank gelede is. Hulle slaap doen dit. Hulle wil weggaan van die kind, weg na ’n tyd lank voor die kind.
Die lakens is wit soos die maan en in die voue is dit swart. Daar is ’n geluid asof iets oor ’n vloer vee. Dit gaan só: vee, stil, vee . . . dit is die ouers se asem. Dit is die enigste ding wat in die kamer lewendig is. Dit is besig, dit werk in die ouers: vee, stil, vee, stil, vee . . . maar hulle weet nie wat dit doen nie. Hulle is te ver.
’n Snaakse lig, soos ’n lint, is nou in die kamer. Dit lê op die vloer met een punt tussen die gordyne gevang en die ander punt op die vader se regteroog. Nou kan die kind sien dat die oog tóé is. Dit is maar net ’n oog wat slaap.
Die maan
Die kind is nou in haar bed en sy maak dit alles warm rondom haar. Onder haar vel brand die winterskurfheid aangenaam, want haar moeder het bene, arms en gesig met ’n lekker salf gevryf.
Vandag het sy ’n veld vol lang geel gras ontdek en nou is sy oral vol skaafplekkies wat ’n fyn, prettige pyn afgee. Sy is nie alleen nie, sy luister na die klein taaltjie van haar liggaam wat nog nie heeltemal vaak is nie. Sy kyk rond in die donker; tel blink puntjies en swart vlakke en hoeveel keer die gordyn van links na regs effens beweeg, soos ’n slinger, soos ’n persoon wat heen en weer loop. Dan kom die maan.
Die kind weet nou al wat die maan wil hê, waarheen hy gaan. Stil en skelm kom die maan hierheen: eers net ’n wit strepie agter die gordyn, dan ’n wit skyfie, dan ’n ronde wit ding se helfte, dan driekwart van ’n ronde ding: langsaam onafwendbaar. Die maan wil die kind hê. O ja, sy ken die maan en sy weet dat hy alles van haar weet, meer as die ouers. En daar is nog iets omtrent die maan, iets wat jy nie kan vertel nie, want dit is te vreemd: die maan is lank gelede. Sien, jy kan dit nie sê nie. Die kind weet al hierdie dinge omtrent die maan terwyl haar kop onder die komberse is.
Maan-oë
Binne elke oog is daar ’n kleurkol wat kan sien. Dis nie die wit nie maar die kol wat kyk. As dit wat gesien word, mooi en opwindend is, word die kolle helder asof ’n lig daarin skyn. Partykeer is die kolle dof en donker. Dis hierdie dinge wat ons menslik maak.
Die moeder het eendag vir haar ’n prenteboek gegee. Dit was vol tekeninge van dames, maar iets met hulle oë was verkeerd. Jy kon nie sien of die oë oop of toe is nie, want in die middel van die wit was daar geen kyk-kolle nie. Saans wou die kind nooit na die tekeninge kyk nie en saans wou sy nie haar sandale met daardie gaatjies in die leer, naby haar bed hê nie. Die gaatjies het die voorkoms van oë gehad: oë sonder kykers, soos dié van daardie vrouens, soos dié van die ouers wanneer hulle slaap, soos die eerste wit skyf van die maan.
Die kind
“Dominee, het jy ook ’n naeltjie op jou maag? Ek het een.”
“Wil jy glo, ek dink ek het ook ’n naeltjie. So ’n klein holtetjie, so ’n dammetjie vir ’n vissie; baie mooi, dit lyk soos ’n skulp, effens, die binnekant van so ’n skulpie. – Is dit wat jy gesien het?”
“Ja, is dit wat jý gesien het?”
“Ja.”
“Ek het nie geweet almal het een nie . . .”
Wonde
My moeder is gewoond aan wonde. As verpleegster het sy gedurig met hulle kennis gemaak en geweet wat ’n mens in sulke gevalle moes doen. Snaakse medisynegeure, bruin jodium, ’n dun naald, katdermdraad, die watte soos wolkies. Ek het hulle vreesbevange waargeneem toe dit my beurt was. Want ek het geval en die hoek van ’n stoeptrap het my lip oopgeskeur. Op die gladgeskuurde sement het ’n paar helderrooi bloeddruppels bly lê, druppels uit my. Kinders is klein en sag, maar selfs die bloed van kinders is hartstogtelik. Kyk hoe blink dit, hoe rooi. Op die bleek steen hoe durwend, wat ’n stelling. Binne-in my is nog oneindig veel daarvan, maar daar woon dit nederig en gedwee. Buite op die steen is dit woedend.
Toe kom die pyn, maar my moeder werk vinnig en behendig met die naald en die hopies watte. Net ons hoor hoe ek skree en stik. Rondom die huis lê die laatmiddag. Kan die veld en die berge ook hoor? Die honde blaf.
Die oom is ’n jong, blonde opgeruimde man. Toe hy nog jonger was, het ’n koeël hom in die dy