Chirurg van harte. Susan Pienaar
Betadine ontsmet.
Izelle plaas die skalpel in Natasja se hand, en net vir ’n oomblik huiwer sy, want sy het ’n sweempie van Hugo se naskeermiddel geruik. Sy maak die eerste snit onder die naeltjie, kyk dan toe terwyl die kliniese assistent die abdomen met koolstofdioksied opblaas. So ja, nou kan sy sien waar die laparoskopiese kamera ingaan.
Sy snuif agter haar masker. Haar hare het aan Hugo se gesig geraak. Tog, die geur is lig en subtiel. Kyk nou net hoe beïnvloed die man haar denke tot in die teater!
Sy maak haar oë toe, haal diep asem en blaas dit stadig uit. Plotseling verdwyn alle gedagtes en is dit net sy en die pasiënt, die span en die prosedure.
Dis al skemer toe Natasja in die parkeerarea voor die versorgingsoord stilhou. Sy het haar oupa die afgelope paar weke bitter min gesien, maar het hom darem gebel wanneer sy kans gekry het. Dit gaan rof by trauma. Sy was die afgelope naweek op roep en voel steeds nie uitgerus nie.
Sy neem haar handsak en vat die sak met lekkernye raak voor sy uitklim en sluit. Sy het ballerinaskoene by haar Levi’s-jeans en wit bloes aangetrek omdat haar voete so seer is van staan en opereer. Eers het sy nie lus gehad nie, maar toe tog liggies onderlaag aangewend en op die ou einde geëindig met blink groen oogskadu en ’n laag maskara. Dit doen iets vir haar moraal wanneer sy moeite met haar voorkoms doen, veral in ag genome die uitmergelende werk wat sy doen en eenderse klere wat sy dag na dag moet dra.
Ai tog, as haar oupa haar net vanaand herken, sal sy so dankbaar wees. Sy gaan staan voor sy oop kamerdeur stil en hoor hoe hy hardop lag. Haar hart word sommer lig toe sy instap. Sy glimlag breed vir Oupa, maar voor sy nog rondkyk, voel sy al die vibrasie van aantrekkingskrag.
Sy steek in haar spore vas toe Hugo ’n opening in die gordyn toetrek en naderkom. Haar hart skop teen haar ribbes. Hy is eenvoudig die aantreklikste man nóg in ontwerpslenterdrag.
Vies oor haar gedagtes, draai sy na Oupa toe. Verdomp! Die één aand wat Oupa helder is, kom staan en bederf dokter Massyn dit nou. Hy is reeds baie lastig in haar gedagtegang. Plaas hy haar om vadersnaam net uitlos. Sy gaan hom ignoreer.
“Hallo, my liefste oupa,” sê sy vrolik en glimlag vir hom. “En hoe gaan dit vanaand hier?” Sy plant ’n soen op sy wang.
“Nee, soos jy kan sien, gaan dit goed, Tasjatjie,” sê hy met ’n knik in Hugo se rigting.
Dokter Massyn staan nader en steek sy hand uit. “Naand, Natasja.”
Terwyl Oupa vir hulle kyk, moet sy nou maar haar hand in syne sit: “Hallo, dokter.”
Waarneembare krag vloei uit sy hand na hare. Sy het vuurwerke verwag, nie kalmte nie. Verbaas kyk sy op in sy gesig. Daar is ’n onmiskenbare vonkeling in sy oë, asof hy haar gedagtes kon lees.
Sy sluk swaar en draai liewer na Oupa toe: “Kyk watse lekkernye het ek vir my oupa met die soettand gebring.” Hy sit regop teen kussings in die bed, en sy sit die papiersak op sy skoot neer.
Oupa loer in die sak. “Mm, heerlik, Tasjatjie.” Hy beduie na sy ingeboude kas. “Steek gou weg voor daai nuuskierige suster … u-hm … Jordaan sien. Sy weet mos te vertelle ek is halfpad diabeet en dat ek die soetgoed moet los. Gmf, asof ek ’n kind is wat nie my kos opeet wanneer ek lekkergoed geëet het nie.” Hy beduie met ’n vinger. “Kyk wat … u-hm … Hugo vir my gebring het. Daar iewers … heel onder. Fyngekerfde biltong, en in die ander papiersak is droëwors.” Hy glimlag selfvoldaan vir Hugo.
Natasja staan met haar rug na Oupa en Hugo gekeer. Sy vou die slaghuispapiersakke se randjies om en om, sit hulle dan langs haar pakkie neer. Dit is gaaf en bedagsaam dat Hugo vir Oupa wil bederf … So hoekom voel sy afgehaal oor haar oupa so oor die biltong straal?
Sy voel Hugo se oë op haar en draai om.
Hugo moet nou maar hoor, want sy moet sê wat nodig is: “Oupa moenie die biltong voor etenstyd eet nie. Netnou kla die susters of matrone weer dat Oupa nie eetlus het nie. En dan gee hulle vir Oupa daai pille om Oupa se eetlus aan te wakker.” Ag, laat sy die saak liewer los. “Oupa is glad nie ’n diabeet nie, maar ons het mos darem ook saamgestem dat Oupa eers kos moet inkry voor Oupa die lekkernye eet.”
Oupa knik net, beduie dan na Hugo: “Tasja-tjie, herken jy my weldoener wat my gisteraand huis toe gebring het? Jy’t hom nie gegroet nie.”
Oupa besef nie dit is al ’n klompie weke gelede nie, maar sy mag hom nie reghelp nie, want dit ontstel hom gewoonlik. Uit die hoek van haar oë sien sy Hugo kyk geamuseerd na haar. Sy gaan hom g’n ’n tweede keer groet net om haar oupa gerus te stel nie. “Ek hét hom gegroet, Oupa. Oupa het seker net nie gehoor of gesien nie.”
Oupa Gerrit frons hewig en trek-trek aan die laken oor sy bene. “Suster Jordaan sê ek is baie helder deesdae. Sy reken ek onthou beter en sien allerhande dinge raak … maar dalk … nou twyfel ek weer.”
Natasja kyk na Hugo met oë wat sein: “Kyk nou net wat het jy veroorsaak!”
Sy kyk na haar oupa: “Maar, Oupa, suster Jordaan is reg. Ek het juis vandag vir Izelle gesê ek kan nie gló hoe goed Oupa deesdae onthou nie,” dik sy aan.
Hugo skud sy kop. “Oom, daar skort niks met oom se geheue nie. Ons het netnou nog gelag oor die voetbalgrappie, onthou oom?”
Hy glimlag effens afwesig. “Ek onthou dit, ja.” Hy sug. “Ag, ja …”
Hugo staan op. “Nee wat, oom is so helder soos daglig.” Hy kyk na Natasja. “Ek dink ek sal Natasja maar ’n rukkie alleen by oom Gerrit los om haar ook kans te gee om te gesels.” Hy loop gee Oupa ’n handdruk. “Dit was nou regtig ’n lekker kuier by oom. Ek kom loer weer in, dan gesels ons oor als en nog wat.”
Oupa Gerrit glimlag afgetrokke. “Nee, dis reg.”
Sy moet Oupa probeer opkikker. Natasja wag tot Hugo by die deur uit is voor sy sê: “Kan ek vir Oupa van die biltong aangee?”
Oupa frons. “Het jy biltong gebring?”
“Nee, dokter Hugo Massyn het vir Oupa die biltong gebring.”
Hy kyk afwesig na haar. “Hoe lyk jy dan nou so … u-hm … halfbekend? Ken ek jou?”
Natasja se moed sak tot in haar skoene. Sy buk nader en vat sy hand. “Dis ek, Oupa. Natasja. Onthou Oupa my nie?” vra sy pleitend.
Hy kyk uitdrukkingloos na haar. “Ek is moeg,” mompel hy, lê agteroor en maak sy oë toe.
Natasja staan ’n hele rukkie vir haar oupa en kyk, soen hom op die wang en trek dan die laken tot onder sy ken op voor sy uitstap.
Trane verblind haar sig sodat sy ’n arm teen die deurkosyn stamp. “Eina, dêmmit!”
Hugo leun teen sy motor terwyl hy vir Natasja wag. Hy wil haar vra om gou iets saam met hom te gaan eet. Al probeer hy, kan hy haar nou maar eenmaal net nie uit sy kop kry nie. Tensy hy natuurlik opereer, dan is sy aandag ten volle by wat hy doen.
Hy frons. Die oomblik wat hy Natasja iewers in die hospitaal sien, of soos netnou daarbinne, strek daar iets soos ’n styfgespande lyn tussen hulle. Dit is die vreemdste ding wat hy nóg ondervind het. Hy kan sweer sy voel dit ook aan.
Voetstappe op gruis klink op. Kan nie Natasja wees nie, sy sal seker nog ’n rukkie kuier. Hy kyk oor sy skouer.
O hel, Natasja … Sy stap verby sy Jaguar na haar motor, maar hy sal haar darem betyds kan keer voordat sy inklim. Hy vou ’n hand om haar arm. “Natasja!”
“Wat is dit, dokter Massyn?” Trane loop teen haar wange af. “Het jy nie al genoeg skade vanaand aangerig nie?” Sy krap ’n spul snesies uit haar handsak.
“Wat? Ek het g’n skade … Hoekom huil jy?”
Sy vee met ’n snesie oor haar wange. “Omdat my oupa my vergeet het nadat jy uit sy kamer gestap het. Hy het glad nie eens geweet wie ek is nie.”
Jammerte wel in sy hart op. Dit moet hel-uit erg wees, sy’s baie lief vir oom Gerrit: “Toe nou maar, môre herken