Droomkrans se engelman. Moryn Hanzen

Droomkrans se engelman - Moryn Hanzen


Скачать книгу
hand voor haar oop mond en hoop dat dit vinnig genoeg sal afkoel om te sluk.

      “Ag,” gaan oom Petoors duidelik onwillig voort, aangesien tant Souf steeds soos ’n steeks donkie swyg, “Han is maar ’n bietjie … anders, dingetjie. Hoe sal ek nou sê? ’n Soort befoeterdheid wat mens nie aldag agter élke bos uitskop nie, jy weet? Wil nie eigentlik met ons ander meng nie. Hou hom maar eenkanterig.”

      “Nou hoe op aarde het dié befoeterde mansmens hom by die opstal ingewurm, oom?” dring Dia nietemin oorbluf aan. In haar gedagtes vorm sy ’n prentjie van haar en drie mans onder dieselfde dak op ’n onbekende plot. Sy, wat die geleentheid met beide hande aangegryp het om uit die stad weg te kom; oom Petoors, skynbaar bemoei- én praatsiek; Jans, jonk en moontlik nog … jeukerig daarby, self seker verwese weens die kultuurskok van stad na platteland, so stel sy hóm voor; en laastens, die ene Han – befoeterd, al is hy ook self van iemand anders se goedgunstigheid afhanklik.

      “Nee, dingetjie, ingewurm het hy hom darem nou nie juis nie,” onderbreek die oom haar dwalende gedagtes. Die oë agter oom Petoors se brillense bly soekend na hulp êrens teen die dak terwyl hy skynbaar sy verduideliking probeer formuleer. Meteens is hy glad nie meer so praatsiek soos ’n paar oomblikke gelede nie. “Hy was eigentlik vóór my en Jans al daar. Hy weet te vertel dat hy ’n getekende dokument van Siskatjie in sy besit het om te bewys dat hy lewensreg het op Droomkrans.”

      2

      Lewensreg! Dia trek haar asem skerp in. Hoekom weet sy niks daarvan nie? “Ek het darem seker ’n sê in die saak?”

      “Dit wil so voorkom, my ou kindjie, maar Quinten het gesê ons moet Han maar net met rus en vrede laat. Nie te veel aan hom loop staan en karring nie,” kom dit byna verskonend van onder sy snor.

      “Ek sal onthou om die saak met die prokureur te bespreek wanneer ek die dokumente gaan teken,” maak Dia ’n punt daarvan om te wys dat sy haar darem kan laat geld wanneer dit nodig is. Die situasie met oom Piet Petoors en Jans Watsenaam is al klaar ’n onverwagse tameletjie, wat nog te sê daarvan om ’n befoeterde mansmens ook onder jou dak te hê.

      En hier het sy byna honderde kilometers met sterre in die oë gery oor ’n afgeleë, stil plekkie van haar eie.

      “Hy sal jou nie pla of in die pad wees as jy hóm nie hinder nie, dingetjie,” probeer oom Petoors troos. “Ons sien hom ook net wanneer hy gesien wil word. Ander tye skiet hy wortel voor sy rekenaar en wee die siel wat hom dán gaan hinder. Is glo druk besig met navorsing, as mens nou waarde wil heg aan een van Zoetstroom se gunsteling-bostelegramme. Waaroor kan g’n lewende siel ongelukkig sê nie.”

      “Wel, hy moet tog seker die kombuis en badkamer gebruik, of hoe, oom?” Dia besef die vraag neig tot sarkasme, maar sy kan haarself eenvoudig nie keer nie. Dis darem ’n bietjie te veel gevra dat sy saam met nie minder nie as drie wildvreemde mans onder een dak gaan intrek. En dit terwyl die plek háár regmatige eiendom is.

      “Ek sou so reken, maar darem mos nie die opstal s’n nie.”

      Dia se gedagtes wil-wil ’n onopgevoede grotbewoner optower wat hom glad nie aan ’n huis se … geriewe steur nie, maar oom Petoors kleur die prentjie meer volledig in. “Hy woon mos in die hut, doer anderkant, tussen die hoge bome.”

      Vir etlike sekondes is al die wind uit Dia se binneband. Hier sit en vererg sy haar bloedig vir ’n man wat op hoorsê befoeterd is, wat nie eens saam met haar onder een dak gaan woon nie.

      Sy bars uit van die lag, baie na aan ligte histerie oor die onmoontlike situasie wat sy op Droomkrans te wagte is: “Regtig?” snik-lag sy terwyl oom Petoors en tant Souf mekaar eers verslae aankyk voordat hulle ook een na die ander saam met haar begin lag. Meteens het hul gelag nie brieke nie sodat die trane naderhand loop.

      Die lang gestalte van ’n besonders breedgeskouerde man vul die koffiewinkeldeur. Dia probeer herhaaldelik om haar lag te sluk terwyl hy fronsend na hulle luister asof dit die aakligste geluid is wat hy nog ooit gehoor het. Hy mik om weer uit te stap, maar die jong meisie wat ’n paar minute gelede die broodjies gebring het, stap hom met ’n breë glimlag tegemoet.

      Dia grawe in haar handsak op soek na ’n sneesdoekie om die skade te probeer afvee wat sy vermoed haar loperige maskara gedoen het. Dit klink of die meisie vir hom vra of hy sy bestelling kom haal het.

      Tant Souf se lag droog onmiddellik op toe sy van die stroewe man se teenwoordigheid bewus word. Met ’n tuitmond por sy oom Petoors dringend aan om ook te bedaar. Toe die oom sy oë opslaan na die lang gestalte, trek sy mond op ’n ernstige plooi. Sy welige snor het abrup ophou vlieg terwyl hy net effens in die rigting van die man met die donkerblonde hare en stoppelbaard knik.

      “Dis nou hy, kind! Hán.” Die tante fluister-praat so hard dat Dia verbaas wonder hoekom sy hulle nie maar liewer net aan mekaar voorstel en klaarkry nie. Sy is blykbaar een van daardie mense wat eenvoudig nie sag kan praat om haar lewe te red nie.

      Blykbaar het Dia op ’n onverklaarbare wyse onsigbaar geraak, want die man ignoreer haar asof sy glad nie saam met oom Petoors en tant Souf aan tafel is nie. Hy stap na die toonbank om te betaal. Haar oë volg sy gestalte met veel meer belangstelling as wat sy wil toegee. Dis asof sy blote teenwoordigheid alle ander dinge meteens tot stilstand gebring het.

      Van sy effense deurmekaar hare tot by die punte van sy stowwerige stewels – sy skat minstens nommer twaalf – straal hy … iets uit. Dia voel hoe haar wange warm word. Van wanneer af staar sy nogal na vreemde mans? Haar oë volg die tydsame beweging van die breërandhoed in sy regterhand wat teen sy bobeen tik-tik.

      Heelwat teësinnig om enigiets aangaande die nors man te bewonder, moet sy erken dat, in die stad waar dit krioel van metromanne, stadsjapies en viertrekmanne, sy nog nooit iemand met ’n indrukwekkender gestalte as dié van die sogenaamde befoeterde Han gesien het nie – deurmekaar hare, stowwerige skoene en al! Sy verwens haarself as sy ’n paar oomblikke te lank na sy netjiese agterstewe in die verweerde blou jeans staar en skud haar kop liggies asof sy die beeld daarvan só dadelik sal kan uitwis.

      Dia draai doelbewus terug na oom Petoors en hulle raak soos twee uitgelese meteoroloë aan die gesels oor Zoetstroom se reënvalsyfer en klimaat. Sy sien hoe die oom se oë kort-kort na die toonbank dwaal terwyl daar ’n ontevrede trek om sy mond rem. Sy snor se punte sak al hoe laer af toe die meisie agter die toonbank ’n fluistergesprek met Han aanknoop.

      Oom Petoors se betekenisvolle blik in tant Souf se rigting ontgaan nie Dia se oplettende oë nie, maar die tante tuur oënskynlik onsiende by die deur uit na waar ’n verdwaalde warrelwind die stof in die grondpad opraap en daarmee vort gaan.

      Toe Han eindelik omdraai, haak sy deurdringende groen oë met ongewone intensiteit vir etlike tellings in dié van Dia vas. Sy slaan haar oë gou neer met die vreemdste gevoel dat hy tot in die heel verste verskuilde hoekies van haar menswees kyk.

      Dis asof die hele atmosfeer in Die Spens skielik soos ’n mislukte soufflé platval nadat Han die plek verlaat het. Tant Souf skraap ’n paar verdwaalde suikerkorreltjies in haar hand van die tafel af en oom Petoors mompel binnemonds iets van werk wat moet klaarkom.

      Met die sleutel in haar hand, groet Dia en bekyk die wêreld om haar met heeltemal ander oë as toe sy sowat ’n uur gelede hier stilgehou het. Die atmosfeer van Zoetstroom begin langsaam nesskop binne-in haar. ’n Heerlike koel windjie speel met die soom van haar rok. Sy haal die selfoon uit haar handsak om te kyk hoe laat dit is, maak haar berekeninge en skat dat sy nie later as halfses op Droomkrans behoort te wees nie.

      Haar ligblou Austin Mini staan langs die groot akkerboom waar sy dit vroeër geparkeer het. Dit is tot teen die dak volgepak met alles wat vir haar belangrik genoeg was om saam te bring. Die res is in haar kunswinkel se stoorkamer toegesluit. Volgens haar pa is daar meubels in die huis, sy bekommer haar dus nie oor wat voorlopig moes agterbly nie.

      Agter die donkerbril dwaal haar oë na al die ou geboue so ver soos wat die oog kan sien. Sommige daarvan is maklik om te eien. ’n Paar meter van Die Spens is die poskantoor aangrensend aan die polisiestasie. Oorkant die pad sien sy nog ou geboue met naamplaatjies op die deure. Die


Скачать книгу