Droomkrans se engelman. Moryn Hanzen

Droomkrans se engelman - Moryn Hanzen


Скачать книгу
en vrede, en sy lê die paar kilometer teen ’n stadige pas af om alles behoorlik te kan bekyk. Sy glimlag. Hier sal ’n boer sy perd vir drie dae sien weggalop, so gelyk is die wêreld.

      Sy draai selfs die ruit af en haal diep asem. ’n Huisie doem voor haar in die veld op. Sou dit nog bewoon word? wonder sy vlugtig, maar moet dan weer op die pad konsentreer wat skerp na links draai.

      Droomkrans se naambordjie doem onverwags voor Dia op na die lang draai in die grondpad. Sy trap rem sodat die Mini ’n paar meter oor die grond skuur voordat dit tot stilstand kom, die hoofligte skaars ’n handbreedte van die motorhek af. Verlig dat haar motor nog in een stuk is, stoot sy ’n entjie terug en klim uit.

      Ag, nee! Haar hakke begin dadelik in die dik sand wegsak en sy probeer op haar tone tot by die hek stap. Sy hoop nie haar skoene verniel te veel nie, dié rooies het haar nogal ’n hele paar rand uit die sak gejaag.

      ’n Ontevrede frons vorm op haar voorkop terwyl sy na die ketting kyk wat met ’n groot slot om die hekpaal vasgesluit is. Natuurlik. Die sleutel daarvan moet seker aan die groot bos wees wat oom Petoors so plegtig aan haar oorhandig het.

      Die slot is effens verroes en dit gee ’n gesukkel af om dit oop te kry. Uiteindelik glip dit oop net voor sy byna moed wil opgee, en Dia strompel holderstebolder en allesbehalwe elegant, laat staan nog enigsins vroulik, deur die sand om die hek oopgestoot te kry. Haar skoene vul geleidelik met sand in elke denkbare gaatjie, en sy kners op haar tande.

      Vir al wat sy weet, sit en verlekker Han hom êrens tussen die bome aan haar regterkant vanuit sy hut sodat sy tone eintlik krul terwyl hy elke sukkelende treetjie dophou. Sy glimlag sinies. ’n Man bly mos maar ’n man. Onmanierlik of manierlik, skelm of eerlik, aantreklik of nie, hulle is een en almal skuldig daaraan dat hulle mans is.

      Sal sy hom maar iets gee om na te kyk, of hoe?

      Met veel meer flair as wat sy voel en met baie meer moeite as wat dit miskien voorkom, swaai sy haar heupe opsetlik terwyl sy terugstap na haar motor. Daar, Han! Ek hoop jou oë peul uit. Jy brand seker nou om jou opinie met my te deel, nè! Gmf! So krý vir jou …

      ’n Paar dinge gebeur gelyk sodat Dia later nie kon onthou presies watter een eerste was of nie. Die geluid van ’n perd se pote op die grondpad word hoorbaar, die windjie begin skielik sterker waai en haar enkel swik in ’n dik kol sand net voordat sy haar motor bereik. Dia gryp in die lug, maar weet by voorbaat dat sy haar val geensins kan stuit nie.

      Met ’n allemintige hik maak sy met die stukkie aarde voor haar kennis sodat haar een skoen deur die lug trek en twee meter verder te lande kom. Dia besef dat sy sonder twyfel haar wind uitgeval het en hyg desperaat, met haar gesig enkele sentimeters van die grond af, om suurstof in haar seer longe te trek.

      Die wind, wat reeds voor haar val onmanierlik met die minirok se soom begin speel het, lig die agterpant van haar rok en laat skuif dit ver verby ordentlik op. Mag die perderuiter haar asseblief tog net nie hier sien lê nie …

      Sy hyg en snuif en verstik in die sand so reg onder haar neus.

      Die perdepote kom al nader, want ongelukkig word haar wens nie vervul nie.

      “Ek’s bevrees my perd is nie wit nie en nog minder is ek ’n ridder, maar laat my gerus toe om jou op te help, juffrou Malan.”

      3

      Dia herken die diep stem en knyp haar oë styf toe. Al is hy nie in haar gesigsveld nie, hoor sy sommer duidelik daar haak weer ’n skewe glimlag moeiteloos om sy gevoelige …

      Nee, Dia, néé!

      Han se groot hande vat haar onseremonieel alkante van haar middellyf vas en hy sit haar, steeds smagtend na vars lug, versigtig op haar voete neer asof sy niks meer as ’n kaggelornament weeg nie.

      Nou minder as ’n armlengte van hom af, kom sy agter sy staan windskeef met net die regterkantse skoen nog aan haar voet. Sy gluur hom aan, buk en pluk die skoen uit en gooi dit by die oop deur van haar motortjie in. Kan hy nie net sy neus uit haar sake hou nie? Sy marsjeer om die agterkant van die motor om die ander skoen te soek.

      “Nogal rooi, nè?” Dia wens vurig sy kan op die oomblik sy mond met ’n gepaste opmerking snoer, maar alle pittighede ontwyk haar momenteel. Dan glip wat sy liewer nié wou sê nie gladweg oor haar lippe: “Jy glo tog nie nog in dáárdie ouvroustorie nie, meneer Solo?”

      “Solo?” Daar keep ’n geamuseerde frons tussen sy oë.

      “Han Solo! Dis nou ás die mense op Zoetwater al ooit van so ’n karakter gehoor het.”

      Lagplooitjies vorm om Han se oë en helder sy gesig op toe hy haar verwysing na die Star Wars-karakter snap: “Zoetstroom, juffrou.” Hy kug agter sy hand. “Ouvroustories, sê jy?” Sy glimlag verbreed. “Ek kon vandag eerstehands sien dat die ouvroustorie oor rooi skoene aan ’n dame se voete nie die waarheid is nie.”

      Dia staar ’n paar oomblikke woordeloos na hom, na sy hoekige ken met die duikie in. Dan snap sy tot haar verleentheid … Hy het heelwat meer gesien as waarop sy enigsins trots is. Vererg klim sy kaalvoet terug in die motor. Sy trek so vinnig weg dat die motor se bande in die los sand tol.

      Laat sy tog net van die man af wegkom.

      Skuldig loer sy in die truspieëltjie.

      Han staan ’n rukkie roerloos in ’n digte stofwolk voor hy sy swart perd met die grootste gemak bestyg. Toe sy etlike sekondes later eers weer voor haar kyk, besef sy dat die smal tweespoorpaadjie al haar aandag gaan verg en pluk die stuurwiel gou na regs.

      Met ’n gestamp en ’n gewip is sy terug in die pad.

      Sy verwonder haar aan die skilderagtige toneel van die groot wit opstal wat teen die voet van ’n enkele groot heuwel pryk. Dankie tog, dis toe glad nie ’n bouvallige gehuggie nie. Die son steek nog net-net bokant die heuwel uit sodat dit ’n ongelooflike mooi toneel maak.

      Sy neem haar voor om dit vanuit hierdie hoek te kom skilder sodra sy nesgeskop het.

      Kan dit regtig waar wees dat hierdie pragtige plek nou hare is? Sy hou voor die motorhuis stil en vat die winkelsakke, haar handsak en toiletsakkie van die voorste sitplek af. Kaalvoet begin sy aanstap oor die hobbelrige klippaadjie wat na die ruim stoep en groot voordeur lei.

      Toe sy voor die toe deur met kunstige houtsneewerk van ’n kameeldoringboom daarop staan, onthou sy vies dat sy die sleutels in die slot by die hek vergeet het.

      Vererg stamp sy haar voet.

      Uit die potplant agter haar rug, kom ’n skel gekekkel.

      Dia sit die pakkies neer en stel baie versigtig ondersoek in na die oorsprong daarvan. Tussen die blare van die geil rooi malva sit ’n kapokhen en broei. Toe Dia die blare wegtrek, pof sy haar vere op en word die gekekkel as waarskuwing luid herhaal.

      Dia laat sak die blare glimlaggend.

      Om die hoek van die huis kom ’n groot gemmerkat lui-lui aangestap en skuur teen Dia se bene. Haar glimlag raak al breër. Sy voel sowaar klaar welkom op Droomkrans, ondanks Han.

      Sy streel die kat se rug wat op sy beurt spin van genot. “En wie’s jy?” Dis duidelik dat die kat baie van die aandag hou. Siska … die arme dier moes seker aan haar behoort het. Sou oom Petoors of … wat’s sy naam nou weer … Jan? Nee, Jans! Sou hulle dalk vir die kat sorg?

      Die geluid van perdepote wat naderkom, laat Dia haar voet ’n tweede keer stamp sodat die hen opvlieg en verwoed aan die kekkel gaan. Natuurlik sal Han die geleentheid nie laat verbygaan om haar onverantwoordelikheid om die sleutel in die slot te los onder haar neus te kom vryf nie.

      Sy regop gestalte op dié van die spogperd is indrukwekkend, ondanks al haar negatiewe gedagtes oor hom. Hier is beslis oorgenoeg inspirasie op Droomkrans vir nuwe skilderye. Meer as wat sy ooit kon droom.

      Sy skud haar kop by die gedagte. Vir Han sal sy nie skilder solank sy lewe nie.

      Hy glip van die hings se rug af en stap nader, die bos sleutels swaaiend aan sy wysvinger,


Скачать книгу