Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach
Sy dink aan hul mooi katedraal met sy gewyde atmosfeer, die pragtige katedrale van Italië met hul kunswerke, waar mense vannag die mis sal bywoon. Op daardie oomblik ervaar sy ’n intense steek van verlange na Giulio. Wat doen sy gesin vir Kersfees? Gaan hulle dalk na die Duomo in Milaan? Na die kerk in Cortona waar daar van Fra Angelico se kunswerke is? Moet Giulio werk? Mense word op Kersfees ook siek. Die operasterbroer is seker by hulle, dalk met ’n vrou of twee by. Bewonderaars … Wie is aan Giulio se sy?
Wat help dit tog om daaroor te tob, berispe sy haar. Hulle sit aan die ander kant van die aardbol. Maar … daar gebeur dalk iets goeds in die toekoms …
Die aand verloop vrolik, met heelwat geëet en gedrink.
“Dis die lekkerste kos wat ek nóg geëet het,” roep Bennie, toe hy sy tweede bak nagereg aanpak. “Dis die lekkerste Kersfees ooit!”
Rafaella kyk na haar ouers wat knus bymekaar sit. Haar ma moet voel dat sy ’n begenadiging ontvang. Aldo en René in hul kokon van liefde lyk dolgelukkig, ten spyte van die tragedies van die lewe wat hulle heeltyd aanskou. Net sý, Rafaella, het niemand, maar sy wou dit so gehad het. Vandat sy Giulio ontmoet het, kan sy net geen belangstelling in ander mans opbou nie. Sy weier ferm alle versoeke om afsprake. Liewer alleen as om voor te gee sy kuier lekker saam met ’n man in wie sy nie regtig belangstel nie. ’n Man wat haar sal wil soen en waarskynlik vatterig sal raak.
“Oom Aldo sal vir jou lekker kos maak in Kaapstad, my ding,” belowe René haar seun, en kyk laggend intiem na Aldo.
“Ek sal moet, lyk dit my,” sug hy kastig moedeloos. Hy kug hard, asof hy aandag op homself wil vestig. “Ek het ’n aankondiging om te maak.”
Almal kyk afwagtend na hom. Rafaella dink sy weet wat kom.
“Ek het René gevra om met my te trou en sy het ja gesê.”
Hul ouers klap spontaan hande, en Rafaella gee Aldo ’n stywe druk, dan vir René.
“Dis die mooiste Kersgeskenk wat ek nog ooit gekry het,” sê René bewoë.
Bennie kriewel van sy stoel af en hardloop na sy ma. Sy fluister iets in sy oor. Hy werp hom op Aldo, wat hom ’n klapsoen gee en hom op sy skoot tel.
Rafaella is verheug. Haar ma vee haar oë met ’n snesie af.
“Ons is darem ’n sentimentele lot,” snuif Rachel. “Kyk hoe grens ons van blydskap.”
Die volgende oggend word geskenke uitgedeel. Een is ’n rooi fiets, van Aldo vir Bennie, wat histeries van blydskap is.
“Aldo het my gestuur om dit te gaan koop,” bely Jacopo. “Ek moes dit eers wegsteek in die motorhuis.”
Aldo gee vir René ’n verloofring met ’n peervormige diamant. Sy lyk so gelukkig dat Rafaella haar kliphard beny.
“Eendag kom jou beurt ook,” hoor sy haar oplettende ma sê, en Rafaella kyk skuldig na haar.
“En waarskynlik vroeër eerder as later, as ek reg lees hoe die wind waai,” grap René. “Ek en jou ma het dik stukke gesels.”
“Julle is ooroptimisties en voortydig,” sê Rafaella. “Ek wonder darem wie julle in gedagte het. Iemand moet my nog eers die hof kom maak, en daar is niemand op die horison nie.”
“O, daar is iemand op die verre horison,” beweer Rachel. “ ’n Dokter van ver.”
“Ag nee, Mamma! Dis net wensdenkery,” protesteer Rafaella verleë.
Maar sy gaan aan die hoop vashou, dit ’n werklikheid probeer maak. Sy wil ook eendag geluk hê soos dít wat sy voor haar sien. Daar gáán nog ’n lig skyn wat haar skaduwees verjaag.
5
Rafaella se Sondagmiddagete word ’n klompie maande later met ’n verrassing onderbreek.
“Dit is tog al Julie en ek voel regtig sterk,” sê haar ma. “Ek sien beslis kans om die Europese herfs in Toskane te gaan aandurf.”
“Net sewe, agt maande ná die operasie?” vra Rafaella, heimlik baie bly. Sy hét opgelet dat haar ma goed herstel en die uitdagings dapper oorkom.
“Mamma reken sy is nou al sterk genoeg en sy het gister ’n oorredende brief van Louisa di Mareneschi ontvang wat haar uitnodiging nog ’n keer herhaal,” sê Jacopo. “Mamma het haar natuurlik op hoogte gehou van alles wat hier aangaan en haar verseker dat sy aan die herstel is.”
Rafaella kan die blydskap nie van haar gesig afhou nie. “Nou toe nou. Kan ek saamkom?”
Rachel lag. “Natuurlik kom jy saam, weg van daardie hospitaal waar jy jou so doodwerk. Ek wil begin September gaan. Jy moet net sien hoe skryf Louisa oor die herfs in Toskane. Dit klink absoluut verruklik. Ek sal jou die brief laat lees.”
Ná ete gaan hulle in die sitkamer koffie drink. Rafaella verslind die brief:
Die baie toeriste word minder hier teen September-Oktober. Dan vier ons mense fees, voor die winter toeslaan. Julle sal nie glo hoe mooi dit dan hier kan wees nie. Die bosse en wingerde verkleur goud en rooi. Elke dorp het in dié tyd sy voedselfees. Ons noem die feeste sagres, en dit bestaan al eeue lank. Dit is ook die oestyd van olywe en kastaiings. Druiwe word gepars vir rooiwyn. Ons het ook wingerde, olyfboorde en kastaiingbome op La Renza, en in die herfs oes spanne werkers wat jaarliks vir ons kom help. Dis ’n vrolike tyd van die jaar, en terapeuties vir mense wat opbeuring nodig het. In Lucca en Florence word feeste van lig gehou. In Oktober, as die kastaiings geoes word, is daar kastaiingfeeste in Cortona and Arcidosso. Dan eet ons kastaiing-pizzas, -pasta en -polenta. Cortona en Arezzo se groot spesialiteit is ook porchetta – geroosterde varkvleis – en die beste beesvleis in Italië kom van die Chiana-vallei naby Cortona. Dus, as iemand ’n eetlus het, hiér kan dit bevredig word.
Luigi kom ’n rukkie rus en vakansie hou ná ’n besonder besige operaseisoen, dus kan julle hom ook ontmoet. Met Giu-lio gaan dit baie goed. Die contessa wil hê hy moet met haar kleindogter afhaak, maar hy hou nog uit.
Ek stel voor dat julle in September kom, indien dit moontlik is. Die rusoord is so te sê voltooi. Julle bly egter by ons in die villa. Sal dit nie lekker wees nie?
Rafaella voel ’n lamheid deur haar trek toe sy van dié contessa-kleindogter lees. Haar ma hou haar stip dop.
“Ek sien jy skrik,” sê Rachel. “Ek dink dis regtig hoog tyd dat ons na Cortona gaan, voordat iemand anders daardie hubare beeld van ’n jongman opraap. Ek dink eintlik dat Louisa ons in der waarheid waarsku dat ons nie te lank moet uitstel nie. Sy het al genoem dat sy hoop Giulio kry ’n vrou soos jy en nie ’n oppervlakkige vlinder wat sy werk nie ernstig kan opneem nie. Hy het skynbaar in die verlede so ’n meisie gehad, en die hele affêre het baie sleg uitgedraai.”
“E … ja. Giulio het my iets van haar vertel,” sê Rafaella. “Sy het blykbaar op sy broer verlief geraak en sy is toe dood in ’n motorongeluk.”
Rachel maak ’n snorkgeluidjie. “Die broer moet darem erg uitsonderlik wees as ’n meisie iemand wat so aantreklik en intelligent soos Giulio is vir hóm los. Maar nou ja, ’n operaster is seker iets uitsonderliks …”
“The matchmaker strikes again,” spot Jacopo. “Maar ek stem saam. Dis nou in alle opsigte die beste tyd om te gaan.”
Rafaella kry sterk die gevoel dat geen tyd verspil moet word nie. Net môre bedank sy. Net môre.
“Hoe lank beoog julle om te bly?” vra sy.
“Dit hang af,” sê haar pa. “Miskien selfs tot einde Desember. Ek het langverlof wat my toekom. Ons sal natuurlik nie heeltyd by die Di Mareneschi’s bly nie. Ons kan ook by die familie in Pisa gaan kuier en daarna ’n rukkie in Milaan vertoef. Die winter daar is koud, maar die operaseisoen van La Scala begin vroeg in Desember en ons wil ’n paar vertonings gaan sien, veral natuurlik dié waarin Luigi sing.”
“Louisa het my vertel dat hy in die nuwe seisoen onder meer die rol