Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach
Jy kan natuurlik nie nou reis of jouself ooreis nie, maar later, as jy daarvoor kans sien, kan jy dit gerus oorweeg om hier tussen die Toskaanse heuwels te kom aansterk. Dis so mooi hier dat dit terapeuties móét wees. Giulio sê ons is nog nie gereed vir gaste nie, die bouery is lawaaierig en dis te vuil. Die tuine waar daar gebou word, lyk tans betreklik verwoes en daar word ’n groot gat vir ’n swembad uitgegrawe. Ons sal die tuin moet herstel en weer van voor af beplant. Die plek moet tog aantreklik lyk en juis nie te strak nie. Giulio sê jy sal oor ongeveer ses maande welkom wees om hier te kom vertoef, as jy dan al lus het. Jy en jou man en wie ook al wil saamkom, natuurlik ook die fraaie Rafaella. Julle sal ons persoonlike gaste in ons eie huis wees, beslis nie in die nuwe gebou nie.
Ons dink voortdurend aan jou en jou mense in hierdie swaar tyd.
Groete van jou vriendin
Louisa
Rafaella onderdruk die diep sug wat haar keel vol lê. Giulio en sy ma dink aan hulle, sal hulle selfs verwelkom. En haar eie naam is darem ook genoem! O, om hom net weer te kan sien! Sy lewe in vrees dat ’n ander vrou hom gaan gaps, of reeds vasgetrek het. Die Italianers is dan ook so sjiek en vol passie …
Sy kyk na haar ma. “Dis ’n wonderlike uitnodiging. Ek dink julle moet dit opneem sodra Mamma in staat is om te reis.”
Rachel glimlag. “Jy moet saamkom om my te help versorg,” sê sy ondeund.
“Jou ma wil tog te graag matchmake,” terg Jacopo. “Ons sal die een of ander tyd móét gaan. Miskien oor ’n jaar.”
“Eers oor ’n jaar?” vra Rafaella afgehaal.
“Miskien al vroeër.” Haar pa het ’n reusevonkel in sy oog. “Ek wil tog juis gaan navorsing doen vir my boek, hoe gouer, hoe beter. Ons kan net nie die Di Mareneschi’s gaan verontrief voordat hulle gereed is vir ons nie. Bouwerk krap tog ’n mens se ruimte vreeslik om.”
“Sê my net betyds wanneer julle wil gaan sodat ek kan reëlings tref. Ek dink dis nou tyd dat ek ook vakansie neem. By Masondo gaan dit nie juis rustig nie en die wye wêreld wink.”
“O, is dit net die wye wêreld wat wink?” terg haar ma uitgelate.
Rafaella voel haar wange gloei. Sy lag verleë, maar dis lekker om haar ma so vrolik te sien.
Op die dag voor Kersfees kom René en Bennie aan en Aldo gaan haal hulle by die O.R. Tambo-lughawe. Rafaella het twee dae verlof geneem en kan darem Kersfees saam met die familie deurbring. Jwana neem soos altyd verlof tot twee weke ná Kersfees en Rafaella spring in om te help met die kos- en skoonmaak en haar ma se versorging. Sy gaan doen Kersinkopies saam met haar pa, maar hy verdwyn op sy eie ekspedisies, soos hy elke jaar maak. Hy wil nie hê iemand moet by wees as hy geskenke koop nie.
Vanjaar sou hulle nie ’n Kersboom gehad het nie, maar toe Jacopo hoor die seuntjie kom, het hy by ’n kwekery oos van die stad ’n kleintjie in die hande gekry.
“Dit sal die outjie mos nou besig hou om die boom te versier,” het hy gesê toe hy dit in die sitkamer staanmaak.
Rafaella is uiters nuuskierig om haar broer se geliefde te ontmoet en kan nie wag dat hulle aankom nie. Toe sy die motor by die hek hoor, los sy eers die pasta wat sy besig is om te berei, was haar hande en gaan voordeur toe. Haar pa is pas terug van een van sy koop-ekspedisies en probeer maak asof hy nie ook sterf van nuuskierigheid nie. Hy sit kastig rustig in die sitkamer met ’n koerant.
Die vrou wat uit Aldo se huurmotor klim, is betreklik lank en mooi gebou, met donker hare. Sy dra ’n blou langbroek, ligblou hemp en sandale. Die seuntjie wip agter uit die motor. Hy is klein en skraal in sy kortbroek en T-hempie en het bruin hare. Hy kyk gefassineer na die groot huis. Rafaella se hart vul met deernis. Daar is iets kwesbaars aan dié oulike kind. Iets wat enige vrou se moederinstinkte sal roer.
Aldo en René haal saam die bagasie uit, en toe hy haar voordeur toe bring, sien Rafaella dat sy ’n aangename gesig het, hoewel nie uitsonderlik mooi nie. Wat wel baie mooi is, is haar helderblou oë.
“Hallo, ek sien Aldo het vir hom ’n Irish beauty gevind,” grap Rafaella goedig.
René lag, lyk verleë. “Nee, ’n beauty is ek nou nie, maar jý is! Aldo het vertel sy sussie is mooi, maar hy moes gesê het beeldskoon. Dis so lekker om jou te ontmoet, Rafaella.”
Rafaella besluit dat sy baie van René gaan hou, en nie oor die kompliment nie, maar oor wat sy intuïtief kan aanvoel – haar warmte, menslikheid.
“Ek is baie bly julle kon kom. Julle is baie welkom. Ons Kersfees word sommer opgehelder.”
René glimlag breed. “Dankie. Bennie het baie daarna uitgesien. Gaan groet tannie Rafaella, my ding.”
Hy kom skamerig nader, gee Rafaella formeel die hand. Sy skud dit en kyk in twee groot bruin oë.
“Aangename kennis, Bennie. Ons is bly jy het kom kuier.”
“Aangename kennis, tannie. Is tannie regtig ’n dokter?”
Almal lag. “Ja, ek is, maar nie so ’n grote soos oom Aldo nie.”
“Hallo, hallo, hallo,” hoor sy haar pa se hartlike stem agter haar. Kon seker nie meer ’n oomblik langer wag nie! “Welkom, welkom hier by ons.”
Rafaella kyk hoe hy belangstellend groet, hoe hy sy seun se vriendin opsom. Sy sien dat hy ook sommer dadelik van René hou. Hy het ’n slag met kinders, en die seuntjie reageer daarop.
“Kom ons maak julle tuis en drink iets lekkers,” sê Jacopo. “Ek het vyf soorte koeldrank vir Bennie gekoop, en ’n hele pak lekkers.”
“Ek sal dít moet rantsoeneer,” sê René kastig streng. “Ons wil nie met ’n kind met maagkrampe sit nie.”
Rafaella kyk na haar broer, wat behoorlik blom. Sy kry eintlik lag om hom so te sien. Hy kom natuurlik agter dat René en Bennie dadelik ’n goeie indruk op sy familie maak, en die familie op hulle.
“Jong, jy sal ons dadelik moet help om die boom te versier,” sê Jacopo vir Bennie. “Dit moet reg wees as Vader Krismis vanaand kom.”
Die outjie lag en klap sy hande. “ ’n Boom! Mamma, ’n Kersboom!”
“Ja, my liefding, ons het lanklaas ’n Kersboom gehad.”
Dié Kersfees gaan vir almal lekker uitdraai en boonop vir Rachel troos, dink Rafaella ingenome.
“Kom ek maak julle tuis en dan gaan stel ek julle aan Mamma voor,” sê Aldo, breëbors-trots.
Terwyl Rafaella en Aldo kos maak asof hulle twintig gaste ontvang, is Jacopo en Bennie hard aan die werk om die boom te versier. Hulle het helderkleurige, blink balle, tooisels van alle soorte, ’n groot goue engel vir bo-op en verskeie sjokoladetjies met hanglussies. Hier en daar help Rafaella kastig, maar net om belangstelling te toon. Die geskenke word onder die boom gesit. Sy vermoed dié kind met ’n enkelma het lanklaas sowat van ’n familie-Kersfees ervaar, en sy kry lekker om te sien hoe hy dit geniet, en hoe Jacopo hom soos ’n liefdevolle oupa gedra.
René het dadelik, verpleegster wat sy is, oorgeneem met die versorging van Rachel en het aangebied om haar vir die aand mooi te klee. Rafaella vermoed die twee vroue het heelwat om oor te gesels. Haar ma sal natuurlik alles omtrent dié toekomstige skoondogter wil uitvind.
Toe alles gereed is, die kos en drinkgoed reg, die boom versier, almal aangetrek is vir die geleentheid, bring René vir Rachel uit.
“Tadaaaa, klap hande vir die eregas!” roep sy vooruit.
Rachel loop stadig in, versigtig, geklee in een van haar mooiste rokke. Almal juig.
“Dankie, René, my vrou lyk soos ’n bruid,” glimlag Jacopo.
Rafaella sien hoe hy skelmpies ’n traan wegvee. Haar hart loop oor. Haar ma sou vir iemand wat nie weet wat sy makeer nie, heel normaal gelyk het. René, in ’n mooi blou rok wat wyd uitklok, is vanaand nogal treffend. Aldo lyk verlief. Bennie