Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman
die pen neer en haar gesig verteder.
Carmia draai om om te sien wat Margo se aandag afgetrek het. En skielik is haar aandag ook nie by woordverwerkingsprogramme, bandmasjiene en redigering nie. ’n Man het by die koffiewinkel ingestap en is besig om tussen die tafeltjies deur te vleg op pad na hulle toe.
3
As Carmia ’n pen of boek of iets in haar hande gehad het, sou sy dit ook dadelik neergesit het. Of sommer laat val het …
Die man wat op hulle afgestap kom, is een van die aantreklikste wesens wat sy al gesien het. Lank en breedgeskouer, met krullerige swart hare en ’n sterk, hoekige gesig. Hy loop met lang, gemaklike treë, lenig, met die grasie van ’n luiperd. Duidelik Margo Vermeulen se goeie gene …
Sy besef dat sy en haar suster ook dieselfde gene deel, want vir die eerste keer stem hulle smaak in mans ooreen. Deneys Vermeulen is ’n beeld van ’n man, wat ’n verwoestende impak op haar het. Toe hy by hulle tafeltjie kom staan, is haar mond skielik droog. Haar hart mis ’n paar slae en bokspring dan tot in haar keel.
“Deneys!” roep Margo uit. “Jy’s vroeg.”
“My besigheid is gouer afgehandel as wat ek verwag het.” Hy buk en soen haar op die wang, voor hy gaan sit. “Oumie lyk uitgevat. Spesiaal om die tandarts te beïndruk?”
“Watwou! Ek kan sonder klere daar sit, hy sal nie eens oplet nie,” spot Margo. “Al waarin hý belangstel, is tande –
en hoeveel hy kan uittrek.”
Deneys lag kop agteroor en kyk dan na sy ouma se metgesel.
Carmia kyk na hom ook. Van naderby is sy gesig bruingebrand. ’n Wye, sensuele mond en ferm ken. Die lig is te dof dat sy kan uitmaak watter kleur sy oë is.
Sy blik luier ’n oomblik oor haar nek en keel, tot by die boonste knopie van haar bloes. En nog ’n entjie verder … Hy grinnik skuldig toe sy hom betrap en kyk haastig weg.
Carmia wil ook lag en sukkel om haar gesig uitdrukkingloos te hou. Eerder as om beledig te wees, voel sy half gevlei. Daar is niks van die arrogansie wat sy by Deneys verwag het nie. In plaas daarvan sien sy goedkeuring, ’n waarderende glimlag om die mooi mond en lagkreukeltjies weerskante van sy oë. Middernagblou, merk sy toe hy sy kop draai en die lig sy gesig vang. Donker blouselblou, soos die hemel op ’n warm somersdag.
“Hallo,” groet hy vriendelik. “Ek glo nie ons het al ontmoet nie?”
“Ekskuus,” sê Margo. “Waar’s my maniere? Dis Carmia, van wie ek jou vertel het, liefie. En Carmia, dis my kleinseun, Deneys, van wie ek jóú ook vertel het, tot vervelens toe.”
“Hallo, Carmia.” Hy steek sy hand na haar uit.
Sy vel voel soos sy verwag het. Koel, met die beweging van spiere toe sy vingers om hare vou. Carmia kan nie onthou wat sy geantwoord het nie, en óf sy geantwoord het.
Maar dan skielik sien sy Deneys Vermeulen se gesig verander. Hy los haar hand. Die gul glimlag verdwyn en word vervang deur ’n behoedsame kyk. Opsommend en takserend.
“Die koerantmeisie?” vra hy koel.
“Dis sy, ja,” antwoord Margo effens te vinnig. “Het jy van die onderhoud vergeet?”
Deneys vryf met sy palm oor sy wang en kakebeen, ’n oomblik lank van stryk. “Ja, ek hét … Jammer. Ek was besig en het nie weer aan haar gedink nie.”
Margo praat voor hy meer kan byvoeg. “My voorgevoel was toe reg! Ek en Carmia het dadelik gekliek en ek weet ons gaan uitstekend saamwerk. Met haar talente gaan sy my werklas met meer as die helfte verminder en die druk verlig. Dit sal beteken ek het meer tyd om te ontspan. Te rus. Semi-afgetree te wees …”
“Ek is nie besig om Ouma te boelie nie,” verduidelik Deneys geduldig, blykbaar soos elke keer wanneer hierdie onderwerp tussen hulle ter sprake kom. “Ek dink aan Ouma, nie aan myself nie. Jou gesondheid, jou bloeddruk en hande … Oumie weet self jy moet briek aandraai, vir jou eie beswil.”
“My bloeddruk is piekfyn,” kap Margo terug. “Daardie doktertjie is op hol oor niks. En dit ís mos briek aandraai as ek ’n assistent het om die meeste van die werk te doen.”
“Ek sal meer tevrede wees as daar géén werk en geen assistent is nie. Nog ’n boek, en nóg een en nóg een – ter wille van Oumie se gesondheid is dit dit nie werd nie. Honderd-en-twintig boeke is mos oorgenoeg. Wat is daar verder om te bewys?”
Margo bly redelik. “Dis nie ’n kwessie van iets bewys nie, Deneys. Skryf is my lewe, jy weet dit. Ek wil aanhou solank ek kan, want as ek die dag ophou en ledig en verveeld moet rondsit, kan julle my net sowel voete eerste by die agterdeur uitdra.”
Hy sug en draai ergerlik na Carmia. “Jammer, dis nie nou die tyd om ons privaat sake op die tafel uit te pak nie. Dis seker nie jou skuld dat jy in ’n situasie beland het waarin jy onwelkom is nie. Ek het dit nie persoonlik bedoel nie, maar soos jy seker kan aflei, verskil ek en Margo oor die situasie. Sy wil soos ’n wegholtrein voortgaan en haarself uitbrand, terwyl ek skerm dat sy haar voet van die petrol moet afhaal, ter wille van haar gesondheid.”
Hoewel sy Margo se skryfpassie verstaan en aan haar kant is, begryp Carmia ook waarom hy besorg is. Sy argument maak sin. Hy ken Margo beter as sy en probeer duidelik om haar teen haarself te beskerm.
Carmia kies nie kant nie en volg ’n veilige middeweg. “Om soggens rustig in ’n gemakstoel met ’n stapeltjie notas te sit en op ’n bandmasjien te dikteer, verg minder inspanning as om heeldag voor ’n tikmasjien te sit. Dit sal my werk wees, asook alle administrasie en navorsing, indien nodig.”
“Die vorige keer toe ons hulp ingekry het, het dit nie gewerk nie,” sê hy styf.
“Tasha het haar bes probeer,” antwoord Margo. “Maar sy is nie ’n taalmens nie. Ek kan nie saam met iemand werk wat nie die verskil tussen ’n komma en ’n kommapunt ken nie.”
“Ouma het haar ook nie juis kans gegee om te leer nie.” Deneys se stem is stroef en hy wys die kelner ongeduldig weg toe dié nog koffie wil bring.
Carmia onthou dat dié Tasha ’n vriendin van Deneys is. Sy wonder of dit dalk die rede vir sy ergernis is – die feit dat hy nie wil hê sy meisie moet gekritiseer word nie.
“Ongelukkig moet ek Ouma-hulle se kuier kortknip,” maak hy verskoning terwyl hy op sy horlosie kyk. “Dit word laat en ons moet by die huis kom. Een van ons suikertrokke het op Pinetown gebreek. Ons moet nog daar aangaan, en ek vlieg môre douvoordag. Die kusvlug, Kaap toe.”
Hy wend hom tot Carmia. “Jy het die moeite van die onderhoud gehad en is volgens my ouma ’n aanvaarbare proposisie. Goed, ek is bereid om jou ’n kans te gee. Ons maak dit ’n proeftydperk van drie maande, waartydens jy óf ons agt en veertig uur kennis kan gee indien die werksooreenkoms nie nagekom word nie. Dit beskerm albei partye. Ek neem aan julle het vergoeding, werksure, huisvesting, ensovoorts uitgeklaar?”
“Ja,” bevestig Margo.
Hy kyk vraend na Carmia. “Is alles vir jou duidelik?”
“Glashelder,” antwoord sy, net so saaklik soos hy.
Daar is nog ’n klompie besonderhede wat sy wou uitklaar, maar dit sal moet oorstaan tot later. Deneys is volgens sy ouma nie die geduldigste mens op aarde nie. Sy wil dit liewer nie waag om die man verder te irriteer nie. Hy het blykbaar die finale sê oor haar aanstelling en netnou is sy haar nuwe werk kwyt.
Hy neem sy motorsleutels en glimlag vlugtig vir Carmia, asof hy besef hy was onbeleef. “Kan ek jou êrens heen oplaai?”
“Nee dankie.”
“Parkeergarage of huis toe?” bied hy weer aan, effens vriendeliker.
“Dis nie nodig nie,” herhaal Carmia. Sy wil nie ’n guns van hom hê nie. En sy wil ook nie hê hy moet die afskilferende ou gebou sien waarin sy woon nie.
“Ek