Satyn Omnibus 7. Ettie Bierman
ontken sy dan. “Genade, ek is ’n getroude vrou en daar’s nie ’n beter man op aarde as myne nie. Hoekom vra jy?”
“Sommer gewonder.”
“Ek erken Deneys het my knieë lam gemaak, maar dis geskiedenis – oor en verby. Ek kan nie eens meer sy stem onthou nie. Net sy sexy mond wat met ’n meisie se libido kan toor, en hoe lekker hy gesoen het. Dít sal ek nooit vergeet nie! Hy’s ’n sterk ou en as hy ’n meisie vashou, wéét sy sy’s vasgehou. Behóórlik omhels en behóórlik gesoen, tot môre anderdag toe … Jy sal weet wat ek bedoel as jy ’n keer in sy arms was.”
Carmia is geskok. Sy klik verontwaardig haar tong. “Vita! Ek is nie van plan om in die man se arms te beland nie. Ek gaan vir sy ouma werk, dis al.”
“Julle sal in dieselfde huis woon, mekaar in die tuin of by die swembad raakloop of waar ook al, en hy is ’n onweerstaanbare, viriele man …”
“Hy het vir Tasha. En hy vlieg elke dag saam met stringe net sulke viriele lugwaardinne. Hy sal my skaars raaksien.”
“Moenie jouself onderskat nie. Daardie lang bene en katoë van jou kan ’n man nogal uitboul. Maar dis nie die punt nie. Feit is: jy’s ’n vrou. En kaptein Deneys Vermeulen kon nog nooit ’n vroumens weerstaan nie. Een of ander tyd gaan hy jou soen en dan sal jy verstaan wat ek bedoel. En hoekom ek sy mond en sy hande nooit heeltemal sal kan vergeet nie.”
Carmia raak ongemaklik. “Hoe sal arme Andy voel as hy hoor watse nonsens jy oor ’n ander man kwytraak? En dít een van jou ekskêrels.”
Vita lag onbekommerd. “My bekvelderman kan nog steeds nie ’n woord Afrikaans verstaan nie. Maar hy sal nie omgee nie, want hy is self onweerstaanbaar en hy weet ek is dol oor hom. Ek sal hom nie kul nie en hom vir geen ander man verruil nie.”
Op die agtergrond hoor Carmia ’n deur klap. Toe klink ’n mengelmoes laggende stemme op.
“Ek moet ophou klets,” groet Vita. “Dis honger mans hier net waar jy kyk. Al weer tyd vir poetoepap en emma necks. Sterkte, sus! Ek bel jou oor die naweek.”
4
“Ek weet daar’s nie meubels nie, maar enige trek het altyd stapels bokse en losgoed,” sê meneer Jordaan. “Wil jy een van SeeSter se afleweringsvoertuie leen, Carmia?”
Sy skud haar kop. “My werkgewer het vir my vervoer gereël: ’n bakkie en ’n drywer wat kom help.”
“So, wanneer vertrek jy?”
“Vroeg môreoggend.”
Hy sit sy hand op haar skouer. “Jy het goeie werk gelewer, meisie. My deur staan altyd oop as jy probleme het en wil terugkom.”
“Dankie, meneer,” antwoord sy en probeer dankbaar klink.
Sy is by haar lessenaar besig om laaie leeg te maak toe sy ’n kug agter haar hoor. Dit klink bekend, en so ook die vae geur van tuna en suuruitjies. Carmia verstyf. Haar vingers klem om ’n pakkie merkpenne en sy vlieg om.
Arno du Plessis staan anderkant haar lessenaar. Op ’n veilige afstand, sodat dit nie nodig is om ’n vlieëplak of ’n blik insekdoder te gryp om haar mee te verdedig nie.
Hy kug weer, styf en ongemaklik. “Ek voel regtig soos ’n
luis …”
“Korrek!” snerp sy en pluk die volgende laai oop. “Gaan soek ’n hond om op te spring. Of lê op die vloer dat ek jou kan doodtrap.”
“Ek het die tekens verkeerd gelees.”
“Dis nuus! Ek het nie geweet jy kán lees nie,” antwoord sy sarkasties.
Hy skuifel rond, van die een voet na die ander. “Ek het nie besef jy is ’n plaasmeisie nie, outyds en konserwatief, wat nie die moderne stadslewe ken nie.”
“Is dit veronderstel om ’n belediging of ’n verskoning te wees?”
“’n Verskoning. Ek het sommer ’n bietjie gespeel, niks daarby bedoel nie … Van jy die eerste dag hier begin het, het ek gedink jy’s ’n oulike poppie. Ek wou jou beter leer ken. Maar jy was altyd so eenkant en afsydig, niemand kon vatplek aan jou kry nie.”
“Toe druk jy my in die hyser se hoek vas om ’n vatplek te soek?”
Arno word rooi. “Dis nie hoe ek dit bedoel het nie.”
“Ek gee nie om hóé jy dit bedoel het nie, ek hou nie van die eindresultaat nie. Jy is gelukkig dat ek nie ’n saak van seksuele teistering teen jou aanhangig gemaak het nie.”
“Ek weet; Lukas het ook so gesê. Jy het alle reg gehad, en ek vra om verskoning omdat ek so vrypostig was.”
“Het hy jou gestuur?” wil sy wantrouig weet.
“Nee. Ek wou lankal kom verskoning vra oor my gedrag, maar jy het my vermy en gemaak dat jy wegkom as jy my sien aankom.”
“Blameer jy my?”
“Glad nie, want jy het rede gehad. Ek is spyt dat jy bedank het. Ek hoop nie dis oor … oor wat tussen ons gebeur het nie?”
Sy sorteer ’n hand vol potlode: wat in die snippermandjie hoort en wat in die halfvol boks. Dan kyk sy Arno du Plessis vir die eerste keer vol in die gesig.
“Moenie jouself vlei nie. Só belangrik is jy nie – dat ek my joernalistieke loopbaan sal prysgee oor ’n dinges wat nie weet om sy hande tuis te hou nie. Kom ons sê jy was maar één van die ratte wat die wiel aan die draai gesit het. Miskien die finale rat.”
Hy tree vorentoe en haal ’n boks sjokolade agter sy rug uit, sit dit op haar lessenaar neer. “Gee dit weg of gooi dit in die asblik as jy dit nie wil hê nie. Ek wou net graag wys ek is jammer … Jy is steeds ’n oulike poppie en ek wil nie hê ons moet kwaaivriende uitmekaar gaan nie.”
’n Boks sjokolade en hy dink alles is vergewe? dink Carmia bitter. Verwaande ploert!
“Miskien as jy weer eendag in Durban kom, kan ons gaan koffie drink en die strydbyl begrawe?” stel hy voor.
Sy antwoord nie, kyk hom net aan en gaan dan voort met die pakkery. Hy draai om en loop druipstert uit.
Nog ’n paar kollegas kom groet; selfoonnommers en e-posadresse word uitgeruil. Nommers wat gaan rondlê en wegraak en nooit gebel sal word nie. Dis verbasend hoe min vriende sy gemaak het in die tyd dat sy by die koerant gewerk het, dink Carmia. Maar dis die stad; dis anders as die platteland waar mense vir mekaar omgee.
Elsa Truter, een van die skakelbordmeisies met wie Carmia goed oor die weg gekom het, gee vir haar ’n bottel lyfroom as afskeidsgeskenk. Elsa loop saam met haar tot by haar woonstel om boeke en lêers te help dra. Sy kyk in die sitkamer rond terwyl Carmia vir hulle koffie maak.
“’n Gesellige nessie wat jy hier het, maar dis natuurlik niks in vergelyking met die plek waarnatoe jy gaan nie. Ek het eendag ’n artikel oor Margo Vermeulen gelees. Een van haar boeke is verfilm en sy is glo skatryk. Sy bly seker in ’n paleis.”
“Ek weet nie, ek was nog nie daar nie. Maar dit is glo indrukwekkend.”
Carmia sit die skinkbord op ’n stapel bokse neer, al oop ruimte wat sy kan kry. “Ekskuus dat dit sommer kaal koffie is. Daar is nie ’n krieseltjie koek in die huis nie.”
“Dis te verstane. Pleks dat ek gebring het … Ek gaan jou baie mis, al die kere wat ons gaan fliek het of specials op uitverkopings gesoek het. Die ouens by die kantoor is so ’n spul suurknolle, jy’s omtrent al een met wie ek kon gesels. Gelukkig het Arno nog nooit teenoor my ’n pass gemaak nie, ek sou my doodgeskrik het. Maar ek is seker nie sy tipe nie. Waarskynlik te vet of te vaal.”
Carmia voel nog steeds sterk oor wat gebeur het. “Wees dankbaar, Elsa. As hy dit waag, moenie stilbly nie, anders kom hy elke keer daarmee weg. Moenie by meneer Jordaan gaan kla nie – hy sal jou probeer paai en verder niks doen nie. Gaan reguit na die redakteur toe en lê ’n