Vroue van die Bybel 2. Esté Geldenhuys
moet ons baie meer in ag neem as net die gedeelte wat ons lees. Die uiteinde van die verhaal van Lot en sy gesin word in Genesis 19 vertel, maar om regtig te verstaan waaroor dit alles gaan, moet ons eers na Genesis 11 terugblaai. In hierdie hoofstuk lees ons van die baie belangrike keuse wat Abraham voor Lot gelê het. Hulle het albei baie wagters en baie vee gehad. Om konfrontasie te vermy het oom Abraham voorgestel dat sy broerskind kies – neem hy die landskap links of regs? Abraham sou in die ander deel gaan woon.
Daar was water in die Jordaanstreek en waarskynlik oorgenoeg kos vir die diere. Op die oog af klink dit of Lot die beste deel gekies het. Maar dit is baie belangrik om te besef dat daar waarskynlik nie ’n groot verskil was tussen Abraham en Lot se besittings nie. Daarteenoor die groot kontras van Lot se vlug uit Sodom voordat dit vernietig is, toe hy daar weg is met net sy vrou en twee dogters. Sowaar, slegs sy gesin! ’n Mens sal nooit weet wat hy alles agtergelaat het nie, maar hy kon niks saamneem nie. En dit laat ’n mens wonder – het Lot die beste keuse gemaak toe hy eerste gekies het?
Die feit dat Lot en sy gesin besluit het om hulle in Sodom te vestig, kan beteken dat hulle die nomadiese bestaan ter wille van vee vir ’n vaste blyplek verruil het. Dan was daar ook die keer toe Abraham met 318 van sy eie manskappe vier konings agtervolg het om Lot en sy gesin asook ander mense van Sodom en omstreke te red. Abraham was ryk en invloedryk (Gen 14). Snap die kontras tussen Abraham en Lot.
Toe Lot in die Jordaanstreek gaan bly het, moes hy hom en sy gesin ook losgemaak het van sy oom. Hy was nie meer blootgestel aan sy oom se wysheid, insig en invloed nie. Wanneer ons ons onttrek aan mense wat ’n goeie invloed op ons het, loop ons die gevaar om ons ook los te maak van dinge wat heilsaam is.
Hierdie gedagte eggo in die waarheid van Jesaja 1:9 wat verwys na die “oorblyfsel” wat vir Jesaja en sy tydgenote oorgebly het. Dan lees dit – as dit nie vir hierdie oorblyfsel was nie, sou die mens soos Sodom en Gomorra geword het. Dit was juis die invloed van die oorblyfsel wat hulle daarvan gered het. Ons kan hóé oulik wees, maar niemand het volmaakte insig behalwe God nie. Ons het dit nodig om van mekaar te leer en ons gedagtes aan ander te toets. ’n Leerbare gees bring ons nader aan God.
Sodom, die plek wat Lot gekies het om met sy vrou en kinders te gaan woon, het sy naam gekry weens die daad van sodomie. Gaan kyk gerus self wat die Woord oor sodomie leer (onder meer in 1 Kor 6:9-10; 1 Tim 1:10). Volgens God se Woord is sodomie ’n gruwel in sy oë. Ná die vernietiging van Sodom en Gomorra het die name van hierdie twee stede ’n voorbeeld geword van die uiterste ongeregtigheid en sonde.
Genesis 18 vertel die wonderlike verhaal van die besoek wat die HERE God self aan Abraham gebring het. Die HERE het tydens die besoek vir Abraham vertel dat Hy Sodom en Gomorra en nog drie stede in die omtrek gaan verwoes. Dit is toe dat Abraham sy nou beroemde gesprek met die Almagtige gehad het waarin hy gevra het dat Sodom gespaar sal word as daar 50 … en uiteindelik vyf regverdige mense in die stad sou wees. Daardie selfde aand, nadat die twee engele by Lot aan huis gegaan het, het almal wat in die stad gewoon het by Lot se huis vergader. Volgens Genesis 19:4 – die hele bevolking, almal saam. Daar wás dus nie vyf regverdige mense in die stad nie.
Lot se gesin se laaste aand in Sodom moes baie traumaties gewees het. Eers die woedende klomp mans wat voor sy huis handgemeen wou raak, maar uiteindelik almal met blindheid geslaan is. Daarna die duidelike opdragte en aanwysings vir die vlug: Lot moes met al sy mense vlug na die berge toe. Hulle moes so gou moontlik uit die Jordaanstreek kom, hulle mag nêrens gaan staan of vertoef het nie en hulle mag glad nie omgekyk het nie.
Lot se skoonseuns wou nie saamvlug nie. Uiteindelik het Lot so bly talm dat die engele hom, sy vrou en dogters teen dagbreek aan die hand moes gryp en met hulle uit die stad uit hardloop. ’n Mens kan jou kwalik voorstel hoe groot die skok in hierdie gesin se binneste moes gewees het. Wat dink ’n mens in sulke oomblikke? En dan was daar die vermaning – moenie vertoef of terugkyk nie. Hierdie vier mense kon aangedryf word deur die wete dat alles vernietig gaan word en dat hulle dit wil vryspring. Of daar kon iets gewees het soos ’n vraagteken – kan dit so erg wees? Kan dit waar wees? Is daar regtig iets besig om te gebeur hier agter ons?
Was dít dalk die gestoei wat in Lot se vrou se kop aangegaan het? Sy hét vertoef en sy hét teruggekyk. Soos haar man, het sy ook gekies.
Ons keuses bepaal telkens ons uitkoms.
Interessant dat sout preserveer. Hierdie vrou is toe nie vernietig saam met Sodom en Gomorra nie, maar sy het bly staan as ’n pilaar van sout, gered uit Sodom en Gomorra, maar nie verlos van die invloed daarvan nie.
Hier is twee baie belangrike dinge wat ons moet oorweeg ten opsigte van Lot se vrou en die feit dat sy getalm het, asook haar omkykery.
Elkeen van ons wéét wanneer ons met iets moet klaarmaak. Dit kan ’n werk wees, ’n vriendskap wat nie heilsaam is nie, ’n slegte gewoonte waarmee ’n mens moet breek, dalk iets waarvan ’n mens afhanklik is … en dit kan óók koek wees of ’n tweede bord kos! Maar dit is iets wat ons altyd weer laat talm en terugkyk … net nog een keer … net so vir oulaas … en dan kom oulaas weer en weer verby.
Snap hierdie ontsaglik belangrike beginsel: Ons vlees is voortdurend in stryd met ons gees. Dit is ook waarvan Paulus gepraat het toe hy verwys het na dít wat hy nie wil doen nie, maar dan tog bly doen, teen wil en dank. Om werklik te kan groei in ons gees, moet ons dít wat ons in die vlees pootjie telkens hokslaan. Dit is soos twee bakke van ’n skaal – dít wat jy aan die een kant wegvat, sal jy aan die ander kant wen. Hoe meer ek vir begeertes uit my vlees kan nee sê, hoe meer gesag sal ek in my gees kry om juis nee te sê vir dít waarmee ek moet breek.
Niemand kan dit namens ons doen nie, ons moet dit self regkry. Solank ons bereid is om neer te lê, om end te kry met dinge wat ons in die vlees laat struikel, sál ons oorwinning in ons gees beleef. Maar solank ons iets wil bewaar omdat dit vir ons vreugde en genot in ons siel verskaf, sal ons iets in ons gees verloor. Lot se vrou het getalm en teruggekyk omdat sy nie die vleeslike goed kon laat gaan nie en sy is in haar begeerte gepreserveer.
Die tweede belangrike ding: Lot se vrou het nie oorwin nie, maar vasgesteek in die herinnering van wat sy gedoen en beleef het in haar lewe in Sodom … sy het in skande, of dan shame, bly staan.
Dikwels word mense groot met slegte dinge wat in hul lewe gebeur en selfs by herhaling plaasvind. Dinge soos molestering of verkragting, ouers wat skei, bankrotskap, ’n alkoholis-pa of dominerende man wat jou voortdurend verskree of verkleineer.
As sulke goed te lank aanhou of selfs net een keer met woedende drif in ons gestort word, kan ’n mens kom by ’n plek waar jy jouself as ’n “fout” beleef. Die Engelse uitdrukking vat dit so raak saam: “Guilt says I made a mistake. Shame says I am a mistake.”
Wat gebeur in ons wanneer ons besmet raak met shame ? Hierdie ding wat die shame veroorsaak het, word ons identiteit. Dit word wat ons van onsself glo en daarom talm ons en bly terugkyk daarheen. Verder veroorsaak dit dat ons nie eerlik kan kommunikeer nie, nie met onsself óf ander mense nie. Dit skep vrees vir nog shame. Dit breek ons eiewaarde af. Dit wat shame ons laat inasem, is vrees, skuldgevoelens en om afgesny te voel – ontkoppel.
Shame veroorsaak eetversteurings, afhanklikheid – van kos of middels soos medikasie of alkohol. Dit bring aggressie en depressie mee. Mense knou ander af ter wille van selfhandhawing. Mans beleef die “cowboys don’t cry”-ding wat sê “wees net sterk”, terwyl vroue alles wil doen en dit perfek wil doen sonder dat iemand agterkom dat hulle eintlik swaar kry.
Hoe kom ’n mens hier uit voordat jy dalk ook in sout gepreserveer word? Gered, maar nie verlos nie!
•Weet dat jy nie ’n fout is nie omdat God nie foute maak en ook nie een gemaak het toe Hy jou geskep het nie.
•Weet dat absoluut alle mense foute maak. Terwyl ’n mens foute erken en daarmee werk en daaruit leer, moet jy weet dat foute nie jou waarde as mens bepaal nie. Jou waarde is aan die kruis van Jesus bepaal en niks wat jy doen of nie doen nie, kan enigiets tot daardie waarde toevoeg of daarvan wegneem nie.
•Weet dat jy almal wat jou seergemaak het, moet vergewe. Terwyl jy hulle waarlik vergewe, laat jy daarmee jouself en die ander dan ook vry uit die kou van onvergewensgesindheid.