Vroue van die Bybel 2. Esté Geldenhuys
om te vergewe – jouself én ander.
•Kies om jou gedagtes te vernuwe, veral oor wie en hoe jy is. Bid 2 Korintiërs 10:4-5 waar jy kies om jou gedagtes gevange te neem en aan Jesus te onderwerp.
•Ontvang dan Woord-waarheid oor jouself en jou doen en late. Ontdek ook jou oomblikke van swakheid – daardie oomblikke wanneer ou gedagtes en seerkry die oorhand wil kry. Herken daardie oomblikke en kies om nie toe te laat dat daardie gevoelens oor jou heers nie. Bid dat die Heilige Gees jou kreatief sal laat dink in sulke oomblikke sodat jy jouself uit die soutpilaar kan uitdink!
Dit is moontlik! Moet net nie talm en terugkyk nie.
Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword (2 Kor 5:17).
Here Jesus, ek loof U dat ek is wie ek in U is en nie wie ek dink ek is nie! Amen.
Lot se dogters
Die produk van hul omstandighede?
Lees Genesis 19:1-26
Voordat ’n mens spesifiek oor Lot se twee dogters begin dink, moet ons net eers weer onthou wat ’n vrou se plek in Bybelse tye was. Nadat die volk uit Egipte gekom het, was daar wette wat ten opsigte van die vrou gegeld het. Dit het byvoorbeeld bepaal dat die ma van die huishouding aan kinders hul name gegee het. Die ma moes met respek behandel word en kinders moes haar gehoorsaam.
God het al hierdie dinge in die tyd van Moses bepaal. In die nog meer antieke tye het ’n vrou geen regsgeldigheid gehad nie. Hulle het nie ’n mening gelug nie, want daar is nooit daarvoor gevra nie. Hulle het geen eiendom besit nie, want hulle was eintlik self net maar die eiendom van die een of ander man. Dit is waarom Abraham twee keer kon lieg oor die feit dat Sara sy vrou was. Dit is hoekom Lea met Jakob getrou het voordat Ragel dit kon doen. In teenstelling met mans was vroue se “verbruikerswaarde” belangriker as hul waarde as mens. Met hierdie wete in gedagte moet ’n mens verstaan dat daar situasies kon opduik waar vroue tot drastiese optrede sou oorgaan om hulself te verdedig. Dink aan Tamar wat haar skoonpa, Juda, gekul en verlei het sodat sy ook ’n nageslag in die lewe kon bring. Tog was Vader-God se genade so groot oor Tamar dat sy in Jesus se geslagsregister genoem is.
Maar terug by Lot en sy dilemma. Wat was eintlik sy dilemma? Was dit sy vrou en dogters en hul toekoms? Of die feit dat hy alles in sy lewe verloor het? Waar hy eens ’n skatryk man was, het hy sy lewe geslyt as ellendige grotbewoner sonder enige besittings.
Of was die ware dilemma dat Lot nie die heiligheid van God kon kies bo die verleidelikheid van die wêreldse dinge nie? ’n Mens lees dat hy met die manne van Sodom gepraat het oor hul voorkeure en optrede, sonder om te besef dat die invloed wat hulle op hom en sy gesin gehad het, veel groter was. Lot se keuse om in Sodom aan te bly het sy gesin se lot bepaal. Hierdie keuse het slaggate in sy twee dogters se lewenspad veroorsaak wat hulle almal later duur te staan sou kom.
’n Mens kan jou hoegenaamd nie die skok en trauma voorstel daardie laaste nag in Sodom, toe al die mans van die stad voor Lot se deur vergader het om daarop aan te dring dat die twee mansgaste na buite sal kom nie. En dan Lot se oplossing – ek het twee dogters wat maagde is. Gebruik hulle. Nou goed, Lot se woorde was eintlik “en doen met hulle soos dit goed is in julle oë ”, maar kom dit nie op dieselfde neer nie?
Wat op aarde moes deur die dogters se gemoed gegaan het toe hul pa hulle openlik aanbied as prooi van hierdie opgesweepte bende? Sou hulle respek vir hom verloor het? Of vrees beleef het? Kwaad geword het? Of is dit moontlik dat die gebruike van Sodom hulle ook reeds so pervers gemaak het dat hul oordeel in elk geval besoedel was? Dit is ook belangrik om te onthou dat albei dogters reeds verloof was, maar hul verloofdes het nie Lot se vermaning dat die stad vernietig gaan word, geglo nie. Daarmee was albei se toekomstige mans ook saam met die stad sommer net skoonveld!
Ná die vlug uit Sodom en nadat hul ma êrens langs die pad agtergebly het, was Soar hul tuiste. Soar was ook bestem tot vernietiging, maar omdat Lot verkies het om daarheen te gaan uit vrees dat hy nie tot in die berge sou kon vlug nie, is hierdie dorpie gespaar.
Maar daarna was Lot vreesagtig. Wat as dieselfde lot Soar ook uiteindelik tref? Hierdie vrees het Lot gedring om in ’n grot in die berge te gaan bly. Lot het gevrees. Onthou dat 1 Johannes 4:18 leer: Waar daar liefde is, is daar geen vrees nie, want liefde dryf die vrees buite en vrees verwag straf. Ja, vrees verwag straf. Lot het gevrees en sy dogters moes vir die gelag help betaal.
Hierdie twee dogters moes totaal moed verloor het. Daar was nou geen geleentheid meer om ’n man te kry nie. Omdat vroue in daardie tyd geen regte gehad het nie, is ’n vrou sonder man of kind waarlik as bedelaar vir die wolwe gegooi. Desperaatheid moes hulle gedring het om die ondenkbare te doen – om hul pa dronk te maak, sonder sy wete by hom in te gaan en so vir elkeen ’n kind te verwek. Die name wat die kinders gekry het, vertel die verhaal. Moab beteken “van sy vader” of “van die moeder se vader”. Die tweede dogter het haar seun Ben-Ammi genoem wat “stam” of “mensegroep” beteken. Die betekenis dui ook op “seun van my bloedverwant” en hou ook die betekenis in van “ingeteel wees”. Ons weet dat enigiets wat sterk op een familie ingeteel word, mens óf dier, biologiese verswakking meebring. Hierdie gedagte is deel van die betekenis van hierdie naam.
Sonder skroom verklaar die betekenis van die name waar hierdie twee seuns vandaan kom. Moab sou die vader van die Moabiete word en uit Ben-Ammi het die Ammoniete gekom. Albei hierdie volke het, deur die toedoen van die HERE, grondgebied oos van die Jordaan verkry. Vandag nog heet die bergreeks oos van die Dooie See die Moabitiese berge.
Aanvanklik het Moses opdrag gehad om nie die Moabiete en Ammoniete te pla nie. Maar toe het Moabitiese vroue mans onder die Hebreeuse volk bekoor en uiteindelik verlei om te deel in hul aanbidding van afgode. Boonop het die konings van die Moabiete en Ammoniete Bileam betaal om God se volk te vervloek. Hierdie optrede het veroorsaak dat God sy hand van beskerming oor die twee volke teruggetrek het.
Wat moet ons leer uit die treurige lewe van Lot se twee dogters? Was daar ’n spesifieke slaggat wat hul lewenswiele vernietig het, waarin ons nie ook moet beland nie?
God is heilig (Lev 11:44). Sy heiligheid is sekerlik een van sy diepste kenmerke. Heilig beteken rein, skoon, onbesmet. Dink daaraan: Daar is heeltemal niks negatiefs aan die God in wie ons glo nie. Hy versorg en kan niemand seermaak of op enige manier te na kom nie (Jes 58:11). Hy is nie ’n mens dat Hy kan lieg nie (Num 23:19). Hy is net goed (Ps 136). Hy vergeet van niemand nie (Heb 13:5). Sy karakter is volkome bo verdenking (Jes 46:9-11). Omdat Hy so rein en so suiwer is, kan geen onreinheid in sy teenwoordigheid bly staan nie.
Kyk watter groot rol speel bloed en vuur in die hele Bybel. Alles wat onrein is, moet verbrand of simbolies deur bloed bedek word.
Hoe gebeur dit? Ons moet heiligheid en heiligmaking begin verstaan en dan oefen om hierdie pad te stap.
Om te groei in heiligmaking vra vir ’n gesindheidsverandering. Slegs as ons ’n leerbare gees het, sal die Gees van God ons kan oortuig van dinge in ons wat moet verander. Dinge soos gewoontes, ’n liefde vir dinge wat ons weghou uit ons Skepper se teenwoordigheid. Ook byvoorbeeld onvergewensgesindheid en bitterheid, selfs rassehaat.
Deur skulderkenning en belydenis sal ons dinge kan aflê en stelselmatig nader groei in sy teenwoordigheid. Heiligheid en heiligmaking is ’n vereiste vir ware intimiteit met die Groot EK IS. In die hele kwessie van heiligmaking speel die bloed wat Jesus aan die kruis gestort het ’n baie belangrike rol. Jesus se bloed het betaal vir die ongeregtigheid van die ganse mensdom. Ons het nodig om dit te glo en ons eie te maak.
Glo jy dat Jesus ook vir jou gesterf het? As daar dinge is wat jou pla en wat jy weet tussen jou en ons Vader staan, bely dit met opregte berou. Spreek dan die woorde hardop uit dat jy vas glo Jesus se bloed kanselleer dít wat jy bely heeltemal uit. En leef dan met ’n begeerte om nie weer in dieselfde slaggat te trap nie.
Wanneer ons kies om hierdie pad van reiniging voor ons Vader te stap, moet ons ook leer om onsself af te sonder van dít wat ons van voor af gaan