Die rooikop en die redakteur en ander stories. André P. Brink
later het sy uitgevind dat hy elke dag daar vir haar gaan wag het, gehoop het dat sy weer sou kom.
Sy het hom bly afweer, bang omdat hy goed geklee was en sy net een goeie rok gehad het wat sy buitendien nooit sou dra nie: die bloue wat Albert vir haar gegee het. Maar Martin het nooit ongeduldig geword nie. Hy het nooit iets gesê oor haar voorkoms of oor die buurt nie. Sy het vanself begin om meer aandag aan haarself te gee, om geen ander rede nie as dat sy nog ’n binneste, ’n vroulike trots gehad het. Sy het in ’n wassery gewerk, die hele liewe dag. Dit het haar hande rooi en lelik gemaak, maar wat sou dit so erg saak maak? Af en toe het sy gedink aan die geld wat Albert vir haar gestuur het en wat sy nooit gesien het nie. Maar sy het geen wrok meer gevoel nie; miskien was dit alles tog maar haar verdiende loon omdat sy Albert liefgehad het.
Die verandering het onmerkbaar stadig gekom. Martin se vreemdheid het weggeraak en hy het gewys dat hy regtig belang stel; nooit onbehoorlik nie, maar altyd met die doel om te help. Sondae het hy haar kom haal kerkhof toe.
Sy het hom drie maande geken toe hy voorgestel het dat hulle ’n steentjie op Driesie se graf sit. Ter wille van haar kind het sy dit toegelaat. Daar was trane in haar oë toe die klein wit steentjie die eerste dag daar op die graffie verskyn het. En vir die eerste keer het sy opreg dankbaar teenoor Martin gevoel. Die skuheid het verdwyn. En toe hy haar weer na haarself begin uitvra, het sy vertel, brokkig en sonder plan, maar met iets soos ’n vreugde in haar binneste.
Sy het vertel van haar jeug in die weeshuis, die minderwaardigheid teenoor ander dogtertjies, die strewe en verlange om mooi klere te hê. Van die vreemde oom wat eendag in die straat vir haar ’n sjieling gegee het en gesê het dat sy pragtige oë het … Van haar pos as tikster in ’n klein besigheid en van Albert wat eendag daar ingekom het. Al die verlange in haar binneste het sy uitgestort. Daardie wondermooie dae van liefde tussen haar en Albert, dae van blink son en koel water en ongerepte drome. Albert se ouers en hulle afkeer wat hulle nooit voor hom geopenbaar het nie. Smalende verwysings na verskil in stand en opvoeding … Hulle troue, ten spyte van al daardie teenstand.
En toe die oorlog.
Hy is vroeg in 1940 weg. Twee weke ná sy vertrek het sy ontdek dat hulle kindjie aan die kom is. Sy het by sy ouers ingewoon en hom dadelik laat weet. Sy briewe was so heuglik, so opgewek, so vol vooruitsigte. Hy het so geglo aan die toekoms, was so vol glansende ideale.
Háár lewe was anders. Dit het ondraaglik geword om gedurig die verwyte en subtiele beledigings van sy ma te verduur. Sy het ontdek dat haar skoonma haar briewe oopmaak en die geld wat Albert stuur, verwyder. Daar was ’n geweldige rusie. Ná sy geweier het om haar kindjie aan hulle af te gee, is sy weg van hulle. Albert se briewe was nou ongereeld en kort. Driesie het die verlede en die hoop wakker gehou. Toe is hy dood …
Martin het met soveel begrip geluister. Hy het beter werk vir haar gekry sodat sy ’n woonstel kon huur. Albert was ’n krygsgevangene nog van voor Driesie se dood af en daar was niks meer om die herinneringe lewend te hou nie. Snags het sy nog gedink aan die verlede en aan hulle liefde. Maar dit was alles so oneindig ver. Dit het ’n ander wêreld geword. Intussen was Martin altyd daar, vriendelik, bedagsaam, opreg. Hy het nooit, ooit iets onredeliks verwag nie. Sy weet dat hy haar liefhet. Sy weet dat sy hóm liefhet. Maar nie een van hulle het ooit ’n woord daaroor gerep nie.
Net af en toe het een ’n vlugtige droom geopenbaar oor die toekoms as hulle dalk, dalk aan mekaar sou behoort. Dit was al amper drie jaar dat Albert nog nie van hom laat hoor het nie. Miskien was hy dood. Sy het nooit gewens dat dit so moet wees nie. Dit sou sondig wees. Maar in werklikheid was hy tog al dood in haar binneste.
’n Maand gelede het sy brief gekom. Martin was by haar toe dit kom.
“Wat is dit, Susan?” het hy gevra toe sy die koevert laat val.
Met bewende vingers het sy dit weer opgetel. “Nee, niks.”
Hy het haar stil sit en beskou. Onhandig het sy die koevert oopgeskeur. Miskien was sy verniet die kluts kwyt, maar in haar binneste het sy geweet dat sy Albert se handskrif altyd sou herken.
Hy is vrygelaat. Die drie-en-twintigste Desember sal hy in Johannesburg aankom. Die skip kom die vorige aand in Tafelbaai aan. Hy verlang.
Dit was al. Die hele brief het nouliks een velletjie dun lugpospapier beslaan.
Hy verlang.
Dit was sy skrif. Maar dit was nie Albert self nie. Dit was iemand met toevallig dieselfde naam en handskrif uit ’n ander wêreld wat nie meer aan haar behoort het nie.
“Susan …?”
Sy het die brief opgevou en kon dit nie weer in die koevert kry nie. Martin het by haar kom staan.
“Albert kom terug,” het sy gesê.
Hy het geen enkele woord gesê nie.
“Martin …?” Sy wou met haar hele hart hê dat hy moet praat.
Daar was g’n emosie op sy ernstige gesig nie. “Dis gaaf, Susan. Ek is bly.”
Die dae daarna het sy oortuig geraak dat sy verspot was om haar te ontstel. Albert bestaan tog nie meer nie.
Daar het weer ’n brief gekom wat geen twyfel gelaat het nie. En nou het sy haar gedurig bly inprent: Albert kom terug. Albert kom terug. Haar man kom terug. Sy is gretig om hom weer by haar te hê. Sy het hom lief. Sy hét hom lief.
Vandag is dit die drie-en-twintigste. Oor twee dae is dit Kersfees. Daar is klaar ’n tinteling in die lug, ’n glimlag op elke gesig in die straat.
Sy bly maar soek vir ’n grys pak.
By die stasie-ingang kyk sy weer op haar horlosie. Kwart voor vier. Mense stroom verby. Te midde van almal voel sy eensaam, ’n rietjie in ’n groeiende stroom.
Sy stryk ’n kreukel in haar rok reg. Haar blou rok.
Dit was Kersdag 1939, ’n maand voor Albert weg is, dat sy dit gekry het. Hulle was saam by die see, sy vir die eerste keer in haar lewe. Somer en son en sand en die ver wit van branders op die kim.
Die rok was die mooiste wat sy nog gehad het: blou soos die verste see of soos die lug heel bo op ’n oop dag.
Hy het haar vroegoggend wakker gesoen. “Liefsteling!”
Sy het met borrelende blydskap in sy blou oë gekyk. “Ek het jou lief, Albert!”
Sy het die rok kerk toe aangehad die oggend. Hulle het ’n klein grys klipkerkie gekry. Die dominee was ’n ou mannetjie met ’n kort wit bokbaardjie en fletse, vriendelike ogies. Alles was so gemoedelik, so goed, so eg.
Daarna het hulle gaan stap, myle langs die see af, sy met haar skoene in haar hand.
“As ek weer terug is ná die oorlog, kom ons terug hiernatoe,” het hy belowe.
Sy het opgekyk na sy gesig, die nabyheid van sy groot, sterk liggaam gevoel. “Jy moet terugkom, Albert.”
Hy het haar gesoen. “Ek sal, liefsteling. Dan sal dit nog wonderliker wees as nou. Ons is nog so jonk. Ons sal soveel ryper wees, nè? Soveel meer in staat om die mooiste dinge te waardeer.”
“Moet jy gaan?” het sy gehuiwer, soos ’n kind aan hom geklou.
Hy het vol oortuiging geknik. “Ek moet, Susan. Ek glo dit met my hele hart. Dis iets wat roep, hier binnekant.”
Hy was altyd so vol oortuiging, so vol geloof in homself en in die lewe.
Dit was so ’n onvergeetlike dag in hulle samesyn. En die blou rok het sy altyd gebêre. Al haar ander mooi klere het sy verkoop ná sy van sy ouers weg is en vir haar en Driesie se bestaan moes spartel. Net hierdie een het sy oorgehou, omdat dit die herinnering aan hulle mooiste dae saam sou wakker hou.
Sy gaan met die trap op en loop in die rigting van die perron. Hier het sy van hom afskeid geneem daardie Januarie toe hy weg is. Hulle het aan mekaar geklou, soos skulpe aan rotse.
“Ek sal vir jou wag, Albert,” het sy belowe. “Ek sál!”
Deur