Die rooikop en die redakteur en ander stories. André P. Brink
kan ek jou weer sien?” vra hy dringend.
Sy suig aan ’n grassie. “Môre ná kerk of so, as jy wil.’
“Sal jy dink oor die saak?”
“Watter saak?”
“Om verder te gaan studeer. Jy móét.”
“Hoekom?” vra sy soos ’n kind.
Hy onderdruk ’n wreweligheid. “Jy’s dit verskuldig – aan jouself en aan die wêreld.”
Sy lag klinkklaar en hardloop die groen oewer uit. Bo wuif sy met ’n hand. “Tot siens!”
Hy bly daar staan, midde-in die wêreld. Hy is net bewus van een dringende besef: sy mág nie hier bly nie. Dit gaan hy bewerk, hoe lank hy dan ook hier sal moet bly.
Dit was moeilik, bitter moeilik. Hy het Marieke dikwels gesien, elke slag daaroor gepraat. Soms, as hy op ’n weeksoggend by die wit skoolgeboutjie verbykom, het hy die kinders hoor sing en gaan staan om te luister. Af en toe sou sy voorsing om hulle iets nuuts te leer. Daardie stem …! Eenkeer het sy by ’n Kersfunksie vir die mense gesing. En die blote gedagte dat hulle dit maar so as vanselfsprekend aanvaar, wou hom gek maak.
Saans het hy dikwels gaan kuier en dan sou sy soms sing. ’n Slag of wat het hy haar begelei. Maar sy wou net nie kopgee nie. Hy het die Steyns oor die saak gaan spreek, een oggend toe sy in die skool was.
Hulle het geluister, nie juis mooi begryp hoekom hy so gretig was nie.
“Sy moet self besluit,” het hulle gesê.
Hy het die dominee gaan spreek.
“Kan u dan nie help nie?” het hy gevra. “Dis onmoontlik dat daardie stem hier verlore gaan.”
“Ek vra my af of dit werklik ’n kwessie van verlore gaan is,” het die dominee aan sy pyp getrek.
Dit wou hom mal maak, daardie sentimentaliteit. Kon hulle dan nie besef wat hulle aan haar het nie?
Hy was al aan die moed opgee, byna twee weke ná sy koms, toe hy een middag alleen saam met Marieke rivier toe stap. Dit was die eerste keer dat hulle ná daardie eerste slag weer soontoe is. Hy het nie weer oor die saak gepraat nie, gehoop dat sy dit sou doen. Maar sy het argeloos vertel van haar klasse, van insidente op skool, van die vreugdetjies van haar lewe.
Toe het sy lank stilgebly en ineens na hom gekyk: “Anton, is dit lekker in die stad?”
Hy het vinnig opgekyk en haar fyn gesiggie bestudeer, maar daar was niks anders as ’n vraagteken in haar oë nie.
“Natuurlik,” het hy gesê. “Musiek, kuns, lewe – soveel daarvan as wat jy maar kan inneem.”
“Is die mense anders daar?”
“Hulle is fyner van gees,” het hy ietwat versigtig geantwoord. “Hulle lewe dieper, het meer kans om deur te dring tot alles wat mooi is.”
Hy het gehoop dat sy sou verder gaan, maar die hele middag het sy dit onaangeroer gelaat.
Dit was twee dae voor sy weer op haar terloopse, impulsiewe manier oor die saak gepraat het: “Kom daar baie mense na so ’n musiekkonsert toe?”
“O ja!” Hy het begin uitwei, dit so mooi as wat hy kon geskilder.
Sy het met ’n snaakse uitdrukking geluister, toe opgestaan om te loop. Sy was ’n paar tree weg toe sy omdraai.
“Anton?”
“Hallo?”
“Kom kuier vanaand weer by ons. Jy was vier dae laas daar.”
“Natuurlik!” het hy verras ingewillig. Hy kon nou eenmaal nie vatkans aan haar kry nie.
Dit was die Saterdag van daardie week, pas ná koffie, dat sy in die tuin voor haar huis ’n roos afgepluk en in sy knoopsgat gesteek het. Haar vingers het effentjies gebewe.
Hy het sy hande liggies op haar kaal arms gelê en in haar oë afgekyk: “Marieke?”
Daar was iets vreemds aan haar wat hy nie kon peil nie.
Sy het afgekyk grond toe. “Sal jy my help as ek stad toe gaan, Anton?”
’n Vreugde het in hom opgestoot. “Natuurlik! Bedoel jy …?”
“Sal jy nooit vir my kwaad word nie?”
“Natuurlik nie,” het hy verseker, dol soos ’n kind met ’n nuwe speelding.
Die twee dae daarna, voor hulle sou weggaan, het Anton iets vreemds in die dorpie se houding begin aanvoel. Voorheen was almal so hartlik soos oom Theuns-hulle, maar nou was dit of hulle hom ontwyk het. Miskien was dit sy verbeelding, maar toe die dominee hom ook in die dorp voorkeer, was die twyfel weg.
“Jy het ’n verantwoordelikheid op jou, broer,” het hy gesê.
“Ek sal haar laat studeer, dominee,” het hy verseker. “Sy sal die wêreld aan haar voete hê. Besef u watter stem sy het?”
Die predikant het sy kop geskud. “Jou verantwoordelikheid is meer as dit. Jy wil haar ’n nuwe mens maak. Maar elke mens is verantwoordelik vir dit wat hy skep.”
Hy het net sy skouers opgehaal. “’n Sedelessie,” het hy besluit.
Die Steyns was baie ernstig toe hy Marieke die dag kom oplaai.
“Jy moet goed vir haar sôre,” het die tante hom eenkant gekry. “Ons is lief vir die kind. En … sy is lief vir jou, jong.”
“Lief?” het hy verbaas gefrons, toe gelag. “Ag, tante verbeel tante maar. Daar is nie sprake daarvan nie.”
Tog het dit bietjie gepla hier binnekant. Sou dit die verandering in Marieke se houding verklaar: dat sy hom liefhet? Maar dit was tog onmoontlik. Hulle doen hierdie stap tog suiwer ter wille van haar kuns.
So is hulle daar weg.
Die stad het Marieke betower, soos hy verwag het. Die eerste ruk was sy ’n skone kind. Hy het haar maar laat begaan en begin reël vir haar lesse. Gelukkig kon hy ’n netjiese woonstel vir haar naby sy eie kry; hy het selfs ’n klavier gereël. Teenoor geeneen van sy vriende het Anton ’n woord oor Marieke gerep nie. Heeltemal in die stilligheid het hy haar haar lesse laat neem, ure per dag vir haar begelei. Soms het sy ná so ’n oefening in ’n stoel neergesak en met moeë, toe oë bly lê en rus. Dan het hy moed ingepraat. Hulle sou die wêreld verower.
“Jy gaan ’n nuwe mens word!” het hy op ’n dag verseker. “Jou tegniek verbeter elke dag. En met daardie stem …!”
Sy het dig teen hom kom staan, sy kraag reggetrek. “Is dit so belangrik, Anton? Is jy nie tevrede met my soos ek is nie?”
“Natuurlik nie!” het hy gesê, sonder om te snap wat sy bedoel. “’n Kunstenaar kan nooit tevrede wees nie.”
In hom was die vuur van sy onderneming. Hy sou haar skep, ’n nuwe mens maak. Hy kon lag oor haar vorige tuiste. Hulle sou haar nooit ken as hulle haar nou moes sien nie!
Sy was ’n maand in die stad toe hy ’n klein private konsert in sy woonstel gereël het. Die paar gaste was uitgesoek: ’n vooraanstaande konsertbestuurder, ’n paar professors, enkele musiekkritici.
Marieke was bleek en vir die eerste keer het hy gewonder of sy dalk te hard gewerk het.
“Voel jy gesond?” het hy haar bekommerd gevra.
Sy het met skigtige oë na hom gekyk. “Ja. Maar ek is so bang, Anton.”
Hy het haar speels gesoen. “Dit sal goed gaan, Marieke.”
Daar was kleur in haar wange toe hy teruggaan na sy plek.
Die aand was ’n ontsaglike sukses. Die gaste kon hul ore nie glo nie. So ’n stem was eenvoudig ongehoord in die stad. Marieke het bietjie gespanne en senuweeagtig daar gesit en luister na wat hulle sê, heeltyd net haar oë op Anton gehou