Louisa du Toit Omnibus 12. Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 12 - Louisa du Toit


Скачать книгу
het te kenne gegee dat jy ook moet veg om die kinders te behou. Ek weet net, dis nie so maklik vir ’n ouma om minderjariges in haar sorg te kry as daar een toereikende ouer oorbly nie.”

      “Dit troos om te weet.” Hy staan saam voordeur se kant toe: “En nou het ek jou tog belas, en dit met skinder en derms uitryg. Die woorde wat my ma altyd gebruik het as my pa oor sy eerste vrou begin uitpak, of oor sy dogter Huibrie.”

      “Ek het dit nie ondervind as derms uitryg nie. Wees gerus.”

      “Ek hoop jy het dit teen môre vergeet. Jy kom tog weer Sentrum toe?”

      “Jy was eerlik, so laat ek ook wees: Ek het vandag swaar teruggekom.”

      “Ek weet. Die weemoed in jou oë is sterker, indien moontlik.”

      Sy praat bo-oor: “My suster is nou my prioriteit. My opdrag van die paterfamilias was dat ek haar terug op haar voete moet help.” Met goedige humor voeg sy by: “Nogal moeilik. Sy lig nooit haar voete behoorlik op nie. Of praat ek nou uit die huis?”

      Sy glimlag is hierdie keer eg. “Laat ek dit so stel: Ek ken die voetstappe van elke werknemer of personeellid, en ek weet as dit mevrou Kilian is wat op die stoep aankom.”

      “Aangeslof kom,” verbeter sy, bewus daarvan dat hierdie skynbare lomperigheid deel van Babs se bekoring is. Spits hy dalk sy ore daarvoor?

      Sy brand om te weet of hy van Babs se teorie oor Pippa bewus is, maar vra nie. Sy het haar sending voltooi en wil nou tuiskom.

      Hy stap saam tot by haar motor, maak die deur oop toe sy oopsluit, wag tot sy haar sit kry. Sê dan: “Bedank kan ek jou nie. My alfabet maak nie daarvoor voorsiening nie.”

      Sy wil sê dat hy net nie ’n gewoonte daarvan moet maak nie, maar dit sou onsensitief wees. “Bly ek kon help. Ek is redelik dom met kleintjies, maar hulle is maklik.”

      “O, hulle weet van beste voetjie voorsit. As jy hoor hoe hulle saans in die bad te kere gaan, sal jy dit nie glo nie.”

      Brenda lag. “My ma het altyd gesê sy gryp net in as daar bloed is. Maar een aand piets Babs my met die nat waslap deur die oog. Ek skrou natuurlik harder as wat nodig is. Ek onthou hoe my keel geskraap het. My ma het ons met die plat hand oor ons nat boude kom streep. Toe moes jy die geskree hoor. My pa se ingrype was die volgende stap.”

      “Is dit net julle twee?” Dit reën nie op die oomblik nie, maar hy lyk klam en verslae daar waar hy buite die motor staan, ’n man volkome alleen.

      “Tussen ons het my ma ’n seuntjie verloor.”

      “Elke huis het sy kruis.” Hy staan agteruit toe sy aanskakel. “En nou moet jy alleen ry,” sê hy berouvol. “Is dit reg as ek jou suster bel en sê jy het nou net gery?”

      “Los maar, sy het dalk net aan die slaap geraak. En soos ons tuis sê, ’n half geslaapte Babs is ’n Barbára.”

      “Mag ek dan vra dat jy my bel as jy daar kom?”

      “Billik,” stem sy in.

      “As ek dit durf sê: Jy het ’n gawe om dinge beter te maak. Of beter te laat voel.”

      “Ek probeer nie, maar dankie.” Sy voel ook getroos, want haar algemene gevoel is dat sy te koel, te ongeraak voorkom.

      Sy ry voorspoedig, met die pad nou stiller as vroeër vanaand. Toe sy regoor Edelhof kom, is sy weer eens onkant betrap, soos die eerste keer. Sy kon nie betyds na die regterbaan beweeg, waar die afdraaipyl wys nie.

      Sy sit haar flikker aan en hou asem op vir die kar agter haar, met ligte wat vol oor haar skyn. Sy wag vir die getoeter, met of sonder ’n slag teen haar agterbuffer. Maar dit swaai betyds, peul aan haar regterkant verby. Geen toeter.

      Die náskrik bons in haar bors en haar litte voel lam. Sy weet sy het gefouteer, maar die ander bestuurder het te vlak agter haar gery, en mag ook nie regs verbysteek nie.

      Dan verstyf sy. Die karretjie wat weer vlak voor haar inswaai, is mosgroen. Dit kon sy sien terwyl haar eie ligte sekondes lank op die verdwynende agterkant flits.

      Dis dieselfde verbleikte een wat sy vroegaand gesien het toe sy en Babs tuiskom. Die een wat aan die oorkant van die straat gestaan het, en waaroor sy liewer niks wou sê nie. En ’n inwoner is dit beslis nie, dan sou die bestuurder geweet het wat hy doen. Tensy dit ’n terloopse besoeker of oorslaper is, wat nog met die bane en afdraaie fouteer. Maar nee, die waarskynliker moontlikheid is dat hierdie een haar gevolg het, bereid om te doen presies soos sy, ten einde op haar spoor te bly.

      Haar skrik verdiep. Moet sy eers ’n paar draaie ry, ingeval die bestuurder wou omdraai en terugkeer, om hierdie keer gemaklik uit te draai en haar enduit te volg? Pressly kan dit tog nie wees nie. Hy sit tuis vasgekeer met die kinders; en wat kan hy baat deur haar te volg, as hy haar pas gesien het? Buitendien het sy die gevoel ook Vrydagaand gekry toe hy na die saameet by Edelhof uitry.

      Tom? Wat op Babs spioeneer? Of iemand daarvoor huur? Waarom? Hulle storie is verby, hulle wou skei, en hulle het. Of wou hy nie? Is hy vervul met ’n obsessie dat, as hy haar nie kan kry nie, niemand anders haar sal kry nie? Maar sy speurder moet dan beter ingelig word oor watter suster Babs is. Hulle lyk nie eers eenders nie. Dink Tom dalk die Rabies sweer saam om Babs buite sy bereik weg te voer?

      Indien nie Pressly of Tom nie, wie anders dan op die wye aarde?

      Die ekstreem belaglike gedagte dat Neels daaragter kan sit, verwerp sy meteens. Hoekom sou hy haar wou laat dophou? Hy het maande lank, en gisteraand spesifiek, al die kans in die wêreld gehad om haar gevoel te toets, en hy het nie.

      Hierdie situasie doen my geen goed nie, besluit sy terwyl sy, nou sonder enige verkeer van agter, veilig afdraai en agter Babs se motor onder die afdak stilhou. Nie net die omgewing nie, maar ook haar suster, Edelhof, die Sentrum, Pressly en sy geteisterde gesin, doen haar enige goed nie.

      Verloor sy haar sin vir werklikheid? Daar sal meer as een mosgroen karretjie in die stad wees, en groen is ’n kleur wat maklik verbleik. Sy weet nie wat om te dink, wat om te glo, wat om te wens nie.Weet nie wat sy begeer of waarna sy hunker nie. Selfs om Neels Mostert se geliefde te wees, lyk op hierdie oomblik na ’n totale onmoontlikheid en onwenslikheid, om nie te sê ’n onveiligheid nie.

      Die nag en die wêreld is wyd om haar toe sy uitklim en byna oorhaastig Nommer 3 se voordeur opsoek. Haar sleutel is aan die motorsleutels. Durf sy hoop dat Babs onthou het om die sleutel binne uit te trek?

      Babs het wel onthou. Wat meer is, sy is nog wakker. Só laat is dit immers nie, nog voor halftwaalf. “Dank die hemel jy is veilig hier,” bars dit uit haar. Dit lyk of sy in die huis rondgedwaal het.

      “Hoe dan anders?” antwoord Brenda terwyl sy gou vir Hans bel en kortliks noem dat sy tuis is. Hy praat niks verder nie.

      “Ek het tien duisend tonele bedink hoe jy verongeluk of gekaap of beroof word.”

      “Gelukkig nie. Het jy met Pa-hulle gepraat?”

      “Ja, hulle het ook duisend onheile bedink oor hulle twee bloedjies op die langpad. Skynbaar begin bel net nadat ek en jy weggery het na Hans toe.”

      Brenda hoor nou dat Babs se stem dik is, haar neus toegetrek. “Hoekom het jy gehuil?” vra sy. “Seker nie oor my nie.”

      “Sommer, ek was alleen.”

      “Jy sal maar daaraan gewoond moet raak. ’n Mens kan aan alles gewoond raak. Met genoeg tyd.” Nie net aan ’n verlore liefde nie, maar ook ’n vergeefse een.

      “Goed, as jy dan moet weet, ek het oor Tom gehuil. Hy kon harder baklei het om my te hou.”

      “Sou jy jou laat hou het?”

      “Hoe was die vrou toe jy daar kom?” Duidelik genoeg het Babs se gedagtes van Tom na Erika Pressly gespring.

      “Die ergste was verby. Hy het haar ’n kalmeerpil gegee en weggevat. Gaan haar medikasie laat evalueer.”

      “Kalmeerpil?”


Скачать книгу