Louisa du Toit Omnibus 12. Louisa du Toit
terug moet gaan. Asof sy dit móét peil, of andersins die res van haar lewe onvolledig bly.
Tiny oorweeg sy volgende woorde asof hy in die hof staan. Maar toe hy praat, gee sy stemtoon te kenne dat hy nie ontwyking sal duld nie: “Jou ma sê Babs het met ’n vreemde verhaal gekom. Oor die foon, in die hitte van die stryd tussen haar en Tom. Sy het hierdie Elvis-agtige man betrek. Of sy vrou dan.”
“Ai Pa, dis nie baie oorspronklik om na Elvis te verwys nie. Dink Pa regtig hy is nie voorheen daarmee verpes nie?”
“Vir my en jou ma bly Elvis besonders,” antwoord hy nadenkend.
“Ja, ek weet Ma is mal oor sy Wooden Heart. Maar Hans Pressly se van het twee s’e en een e. So sê hy dadelik vir almal. Anders sou ek ook met die spelling gesukkel het.”
“Het Babs met daardie storie die waarheid beet?” vra hy reguit.
“Pa wou eenkeer ’n nuwe kar koop, toe erken Pa dat mens dan maklik ’n fout in jou ou kar vind. Babs het dinge teen Tom gesoek. Sy het hom nie eers regtig daarmee gekonfronteer nie. Sy wou skei. Dis my eerlike mening.”
“Lyk die kind soos Tom?” volhard hy priemend.
“Alle blonde dogtertjies op vier lyk vir my eenders.”
“Dis ’n antwoord, dankie. Dat jy self nie seker is nie.”
“Is mens ooit seker van iets, Pa?” Haar en Pressly se gesprek by sy motor gisteraand.
“O, ja. Ek is doodseker daarvan dat jou ma sal aanhou soek tot sy ’n spotgoedkoop jonkmanskas van stinkhout by ’n goor pandjieswinkel kry.”
Daarmee herinner hy haar aan sy geslypte vermoë om die angel uit ’n situasie te haal.
En oor Neels Mostert word steeds geen woord gepraat terwyl hulle terug huis toe dwaal nie. Op die stoep sit Babs en Magreeth, met blonde koppe naby mekaar, deur ’n tydskrifbylaag en blaai. Wenke hoe om meer kleur in jou huis te bring, merk Brenda. En die twee het nog nie eers een keer vanoggend vasgesit nie.
Die Saterdag gly loom en tevrede verby met brokkies gesels, spanne rus, in die tuin sit en kyk hoe kwetterende glasogies ’n feesmaal van vuurrooi bessies geniet. Lateraan handjie bysit vir die braai waarvoor skynbaar net Neels en die Doorns oorkom.
Van ’n skoonheidsritueel kom daar nie veel nie. Stort en skoon aantrek sonder grimering of parfuum, besluit Brenda. As haar hare effens langer was, het sy dit ook styf weggebind om te toon dat sy niks het om weg te steek, geen geheime gelaatstrekke of verborge gevoelens wat dalk op haar gesig kan deurslaan of teen haar slape pols nie. Nou laat sy net haar hare in die son droog word. Dis goed gesny en dig, daar is geen stilering nodig nie.
Toe Magreeth en Babs wel ligweg begin redekawel oor of maaskaas of crème fraîche die beste sal wees, met eersgenoemde Magreeth se keuse vir die kaaskoek wat sy beoog, bied Brenda aan om dit te gaan koop. Drie bakkies, nogal, wat vir Tiny laat kreun oor soveel hedonisme, net om te hoor: “Jy eet darem fluks saam.”
Dis ’n goeie geleentheid om ’n bietjie van Babs af weg te kom. In alle eerlikheid moet Brenda erken dat dit haar by tye wil baasraak om onafgebroke by haar suster te wees. Om elke oomblik te moet kalmeer, moed inpraat, te let op wat jy sê of nie sê nie, teregwysings te rig wat onmiddellik berou word of deur Babs teruggekaats word.
En ook ’n geleentheid om, op ’n veilige afstand van Neels Mostert se huis af, onder ’n verskuilende straatboom stil te hou en lank te sit en staar. Ontwerp in oorleg met Lina, is die huis uitsonderlik sonder om opvallend te wees. Sandkleurige mure op verskeie vlakke smelt saam met die natuurlike omgewing asof dit ’n deel is van die koppie aan die voet waarvan dit geleë is. Dis ’n abstrakte, kubistiese ontwerp, met verskuilde deure en vensters wat diep skaduwees werp.
Binne die huis was sy nog nooit. Sy het slegs mense hoor oe en aa, en sy het die artikel gelees. Verslind, as ’t ware. Oor die vermenging van tydloosheid en moderniteit. Oor die gesublimeerde tinte, die teksture, die illusies.
“Bra kleurloos,” het Magreeth gereken.
’n Gevoel van uitgeslotenheid gryp Brenda aan. Sy wil liewer vir Neels belewe soos hy op kantoor is, warm en werklik, ’n gewone beroepsman wat tee drink en sy naam teken met ’n swaaitjie van die “M” en wat vir kliënte sê, as Brenda hulle inbring: “Môre, môre, kom gerus binne. Waarmee verkul jou vriendelike prokureur jou vandag?”
Sy weet nie hoe om hierdie ander Neels te vind wat soos ’n grotbewoner in sy eie habitat wegskuil nie, asof hy sy vrou gebalsem het en haar bewaak teen indringers van buite.
Nooit, sedert Lina oorlede is, het hy skynbaar weer onthaal of mense uitgenooi nie. Self was Brenda in elk geval nooit genooi nie, Tiny en Magreeth ook nie. Dit was nie ’n kwessie van moedswillige uitsluiting nie; dit was eerder asof Neels te veel ontsag vir sy ouer vennoot gehad het om maatjie-maatjie te wil speel. Hy het immers geweet dat Tiny en Magreeth hulle eie beleë vriendekring het.
Dis nou van ’n plek soos Dennedal: Jy is met almal vriendelik, maar nie met almal vriende nie. Daar is kodes wat hulleself in aansyn roep en vestig. Waarom sy nooit uitgenooi is nie, het Brenda nooit bevraagteken nie. ’n Paar jaar jonger as die Mosterts, was sy deel van ’n ander vriendekring, ou skoolmaats wat begin werk of huis opsit het.
Sy het wel begeer om te sien hoe Neels werklik leef, ontspan, maar het ook geweet hoe pynlik dit vir haar sal wees. Liewer ’n waas om hom hou. Om te fantaseer, is genadiger as om iets te sien realiseer. Maar nou is die tyd vir fantasie verstreke. Sy is ’n jong vrou wat na hom hunker, en hy is ’n beskikbare alleenloper wat beslis nie onbewus van haar is nie. Dat haar pa hom en die Doorns vir ete uitnooi, is beduidend; sy weet net nie in watter opsig nie.
So byna vergeet sy van die drie bakkies maaskaas vir Magreeth se kaaskoek, en dit terwyl die geil krummelkorse reeds gereed staan.
“Houvas die krans, oom Wolf!” beveel Neels laggend.
As oorwegend Nederlands ken die goedige Jack Doorn waarskynlik nie vir Jakkals en Wolf nie, maar hy speel saam. Hy staan met die belaaide rooster asof dit ’n krieketkolf is waarmee hy die bal inwag. Die sissende vet van die skaaptjops het die kole laat ontvlam, en Neels verleen noodhulp deur water te sprinkel.
“As ’n mens net lank genoeg wag, dood die vlamme vanself,” gee Babs raad. Sy het nie tydens haar huwelik met Tom Kilian geleer om haar neus uit ’n man se braaiery te hou nie.
Neels reageer geduldig: “En sê nou dit brand al erger hoe langer jy wag?” Hy help Jack om die rooster nommerpas terug op die kole te kry.
Die atmosfeer is meteens gelaai. Of is dit net vir my en hom? wonder Brenda ademloos. Dat hy vir ’n breukdeel van ’n sekonde in haar oë gekyk het voor hy antwoord, ontsenu haar. Dis so goed of hy het haar aangeraak met die warmte van sy bedrywige hande. Dis die eerste boodskap wat hy hoegenaamd na haar toe deurstuur. ’n Boodskap dat hy ’n man is, dat hy wag met gedwonge geduld wat teen sy drif beur.
Sy sit skoon bestorwe met die mengeldrankie wat Tiny gebring het voor hy weggeroep is telefoon toe. Magreeth peuter nog met slaai in die kombuis. Die geur van die kaaskoek wat uit die oond gehaal is, bereik hulle hier waar hulle op tuinstoele by die steengeboude braaiplek verkeer. Die aand begin reeds verskemer en maak alles sag.
Die ete is aan die vroeë kant aangesien daar nie regtig middagete was nie. Dit was meer ’n deurlopende gepeusel as iets anders. Daar is nogtans binne gedek, aangesien die aande buite reeds te koel raak.
Onyra is binnetoe om voor die spieël ’n stukkie pietersielie van haar tande te haal. As die oomblik nie so intens was nie, sou Brenda haar slap kon lag oor die ligte geskoor wat die episode voorafgegaan het. Babs en Onyra kon mekaar uit die staanspoor nie veel nie. Hulle ken mekaar net van terloopse kontak en iets in hulle samestelling bots onweerlegbaar.
Soet skimpe het meteens begin rol toe Onyra met die aankoms vir Babs sê: “Jy ’t ’n besonderse bloes aan. Ek het iets soortgelyks gehad, en ek was so jammer toe dit gedaan is. Dit was lekker om werk toe aan te trek.”
Babs was soos ’n lui huiskat wat tot