Louisa du Toit Omnibus 12. Louisa du Toit
vat en drink.” Byna sê sy “suip”. Sy druk die porseleinbeker as ’t ware in haar suster se hande. Sy het die koffie ekstra sterk gemaak en Babs s’n swart gelos, met genoeg suiker dat sy nie sal kla nie.
“Ja, maar ons het nie die kinders genooi nie.”
“Ek sê mos dis reg. Huibrie het by hulle kom bly, so hulle is sekerlik al in droomland. Drink jy maar jou koffie, soos Brenda sê.”
Haar naam uit sy mond, die eerste keer sonder voorbehoud, klink nie onaangenaam nie. En dis duidelik dat hy mense ken, dat hy Babs se ligte dronkverdriet kan eien vir wat dit is. “Hulle sou van die tjips en roomys gehou het,” sê sy net vir hom. Vir Babs is sy die duiwel in.
“Daar is roomys in my yskas.”
“Ek sal sjokoladesous saamgee,” belowe Brenda, dankbaar oor sy samewerking met die onhanteerbare Babs.
“Dit sal gaaf wees, dankie.” Hy is hoflik. “Ek sal probeer om dit nie self te steel nie. Prima.”
“My suster wie se soettand haar dit veroorloof,” gee sy darem die lof wat Babs toekom.
“Origens,” sê hy ook net tot Brenda, asof Babs dit nie sal begryp nie, “is dit beter dat hulle tuis gebly het. Ek probeer dit nie onnodig onder hulle aandag bring hoeveel hulle mis nie.”
Dit slaan haar redelik stom. Sy soek nie na ’n ontboeseming – beslis nie nou, en dalk nooit nie. Daar is steeds iets, wel duskant koelheid, maar sonder enige belofte van toegeneentheid, wat haar in sy teenwoordigheid vervul.
Dis nie net die wete dat hy aan ’n ander vrou behoort, wat die omstandighede ook al is nie. Want by Neels het sy nooit so gevoel, selfs toe Lina nog daar was nie. Dis eerder ’n totale afstand tussen haar en Pressly, soos dag en nag wat ewiglik van mekaar wegskram, behalwe om mekaar in oomblikke van skemering voorwaardelik aan te raak.
In plaas van haar mond te hou, sny Babs weer in: “Ek het vir Brentjie gesê hulle sal heel eerste met die keramiekpaddatjie wil speel, en dan die pynappel wil eet.”
“Barbára,” prewel Brenda onder haar asem.
Pressly glimlag egter met een mondhoek. “Raai, dis presies wat ek gedink het toe ek jou rangskikking sien.”
“Vat dit vir hulle,” bied Babs oorhartlik aan. Sy skarrel na die tafel wat nou na ete onaantreklik geword het. Sy kom druk die ornamentjie in sy hande.
“Dankie, maar nee dankie. Dis duidelik jy ken nie kleintjies nie. Albei kry iets, of niemand kry iets nie.”
“Vat dan die peer ook.”
Pressly sit met ’n onwaarskynlike vredesoffer in elke hand: ’n nagemaakte goue amfibie en ’n onryp vrug.
Brenda staan op en verlos hom daarvan. Aan haar suster sê sy: “Hou op grawe, jy maak die gat net dieper.”
“Die pynappel dan?” hou Babs waarlik nog aan. “Jy sny dit van bo af in die lengte deur.”
Nou lag Pressly, maar nie veroordelend nie. “Jou suster het goeie raad gegee, miesies Kilian. Doen dit nou net.”
Hy staan op, met die vermoë wat hy het om ingehoue te beweeg ten einde sy haas te verdoesel. Selfs as hy skarrel, verloor sy tred nie ritme en word sy stem nie verhef nie. “Ek moet terug by die huis kom, my suster Huibrie – my halfsuster, eintlik – moet nog na haar plek toe terugry.”
“Alleen?” vra Brenda.
“Soms laai ek die tweetjies met slaapklere in die kar en begelei haar. Maar dis gelukkig nie ver nie en sy is ’n stoere spesie.”
Brenda klem haar hande ineen. Laat Babs tog groot asseblief nie die “nare dierasie” ophaal nie. Maar Babs is poegaai. Om van een bottel rooi minus twee ander glase so aangeklam te raak, is seker beduidend. Dalk het Babs in hierdie stadium van haar lewe teen min dinge enige weerstand of veerkrag.
“Die susterlike bakleiery herinner my: Julle sjokolade lê in my kar, jammer. Een vir elk, sodat julle nie moet dwarstrek nie.”
“Ek sal saam uitstap,” bied Brenda aan. “Wag net vir die sjokoladesous.” Sy vind ’n bakkie wat dig seël in die laai waar die oopmaker was.
“As ek geweet het wat die aard van julle nagereg is, het ek dalk iets anders as sjokolade gebring.”
“Toe maar, ons kan dit môre op pad geniet. Babs, los die skottelgoed, ek sien net ons gas weg.”
En daarmee is sy saam met hom buite in die skerp koel aandlug met die gedreun van verkeer wat in volle krag toeslaan. “Op pad, sê jy?” vra hy terwyl hy die motor oopsluit en die sjokolade uithaal.
“Dankie. Ja, ons twee ry môre bietjie huis toe.”
“’n Mooi dorp, Dennedal, ek het al daar deurgery. Hoewel die hoofpad verlê is, het ek spesiaal afgedraai. Ook nie so baie dennebome soos ek gedink het nie. “
“Nee, hulle hou nie so goed in die suidelike halfrond nie. Word nie baie oud voor die kruin bars en hulle ’n gevaar word nie. Ontplof as weerlig dit tref. Die paar wat in ons tuin oor is, is ver genoeg van die huis af. O, gee dit atmosfeer! Die wind ruis anders deur naalde as deur plat blare.”
“Ons almal het seker maar daardie stukkie Europese erfenis in die bloed. Ek talm om te kyk of jy veilig by julle voordeur aankom.”
“Bedagsaam, dankie.”
“Die aand was aangenaam. Hou jou suster dop, nè? Sy laat my aan ’n touloper dink.”
“Sonder balanseerstok,” vul Brenda aan. “En, ja, dis waarom ek hier is, om haar dop te hou.”
“Met alle dankbaarheid dat my Sentrum daarby kon baat, hoop ek jy kan gou teruggaan.”
Moet sy die ooglopende “Waarom”-vraag vra? Maar hy brei self uit: “Jy hoort daar. En wie of wat ook al daar is, jy treur tog te swaar.”
Sy luister verbaas. Sy, treur? Is dit dan sigbaar? En het dit haar oneffektief gemaak? Mis hy die toewyding saam met die bekwaamheid?
“Toe maar,” raai hy sonder moeite. “Dit tas nie jou werk aan nie. Ek wens die Sentrum kon jou behou.”
“Mevrou Clutie is binnekort terug.”
“Reg. Maar ek sal Elsa Heunis moet laat gaan. Geen keuse, die Sentrum het nie sulke onsekerhede nodig nie.”
“Is daar ’n ander manier van lewe as met onsekerhede?” vra Brenda en tree agtertoe sodat hy kan inklim en ry. Onthou dan dat hy wag om haar veilig te sien ingaan, en haas haar voordeur toe. Sterker as ooit voorheen, voel sy hoe bar en blootgestel hierdie woonkompleks so langs die breë dubbelweg is. G’n wonder dat sy soms dopgehou voel nie.
Huis Nommer Drie het tog reeds ’n veilige klein ark geword. Die geure van goeie voedsel en koffie hang nog tussen die mure. Babs het, wonder bo wonder, begin afdek, nogal netjies soos hulle geleer is sodat daar nie onnodige kriesels kos agterbly en die skottelgoedwater bederf nie.
“Ek sal opwas, kom jy in die bed,” beveel sy.
“Om my roes af te slaap?” bits Babs. “Vir jou inligting, ek is of was nie dronk nie.”
“Net verdrietig, ek weet. Ons voel maar almal soms verdrietig.”
Daarmee is Babs se wapens uit haar hand geslaan, en sy gaan kamer toe, nie sonder ’n blik na die twee klein toegedraaide pakkies nie.
“Tjoklits vir die pad,” belowe Brenda. “Of vir by die huis. Ek sal ook ander peuselgoedjies insit. Nie te veel nie, dan kla Ma weer.”
Babs is getroos soos ’n kind, en Brenda is eindelik alleen met haar gedagtes. Die hoofgedagte is een van dankbaarheid: dat sy die hele aand in Pressly se geselskap nie die ongemak gevoel het wat sy gewoonlik in sy teenwoordigheid ervaar nie.
In die enkele minuut daar langs sy motor was dit selfs asof hulle gekwelde gedagtes mekaar halfpad tegemoetkom.
4