Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan
se dood vertel,” sê Kira.
Lucille se wenkbroue lig. “O, het hy? Ja, die arme man. Ek veronderstel hy het iets gesien en moes toe uit die weg geruim word, maar dit moet natuurlik bewys word.”
“Abel was ’n goeie mens. Ons het hom jare lank geken. Ek kon nie glo dat hy moord sou pleeg nie. Foei tog, sy arme familie.”
“Ja, ek kry sy vrou jammer. Hy’t gelukkig nie meer klein kindertjies nie, sy kinders werk al. Hulle sal darem seker na hulle ma kan kyk. Daar is ’n paar ander goed waaroor ek wonder. Hoe goed ken u vir mevrou Riki Smit?”
“Wel, ek weet sy is al professor Brand se sekretaresse van voordat hy getroud is.”
Lucille speel met haar pen en kyk af na die notaboekie asof sy aantekeninge daarin lees. Toe kyk sy Kira deurpriemend aan. “Vandat u en professor Brand verloof was?”
“E … ja.”
So, die kaptein het daardie inligting al gekry, dink Kira. En nou vermoed sy dat ek jaloers op Monique was.
Sy kyk Lucille vas aan. “Dit beteken sy is al meer as vyf jaar lank sy sekretaresse. Dis ongeveer hoe lank hy met Monique getroud was.”
“Dit moes vir u ’n vreeslike slag gewees het toe hy u los vir die oorledene.”
Is sy werklik simpatiek, of is haar stemtoon nou geveins? wonder Kira. Sy gaan maar doodeerlik met die kaptein wees, al maak dit haar dalk ’n verdagte.
“Ek het gedink ek gaan dood só seer het ek gekry.”
“Sjym, ek kan dit begryp. Nou moet ek jou reguit vra of die jaloesie aan jou gevreet het?”
“Ja, natuurlik het dit. Ek het Monique gehaat en wou nie met haar vriende maak nie, maar dit beteken nie dat ek haar sou vermoor nie. Teen dié tyd het ek mos al vrede gemaak met die verlies.”
Lucille maak ’n gebaar met haar hand. “Ek beskuldig u nie, professor, ek vergewis my maar net van alle vorige verhoudings wat professor Brand gehad het.”
“Ek vermoed Riki Smit het oor my by u geskinder?”
Die kaptein grinnik, maar lyk asof sy haar bedink en die grinnik verdwyn byna onmiddellik. “Ja, sy het heelwat te vertel gehad.”
“Dan ken u mos my storie in detail,” merk Kira droog op.
“Ek moet dit van u kant ook hoor – nie net van iemand wat dalk nydig of bevooroordeeld is nie.”
“Dink mevrou Smit dat ek tot moord in staat was ná al die tyd wat verbygegaan het?”
“Helaas, ja. Maar ek kan nie te veel uitwei nie. Ek vermoed egter dat haar lojaliteit aan die professor ietwat … e … oordrewe is.”
Lucille kyk hoe die mooi vrou voor haar hierop reageer. Gaan sy jaloers wees? Dit sal insiggewend wees.
Kira pers haar lippe opmekaar. “U bedoel dis meer as lojaliteit? Eerder verliefdheid? Sy was nog altyd gaande oor hom.”
Lucille skud haar kop meewarig. “Ai, dis nou die soort man wat vroumense die sonde in sal lei. Ekskuus, dis baie onprofessioneel van my om dit kwyt te raak.”
Kira glimlag wrang. “Maar dis ongelukkig waar. Op skool en universiteit het die meisies vreeslik vir hom geval en ek het destyds besluit dis iets waarmee ek maar moet saamleef. Ek is nie van nature jaloers en besitlik nie. Dis net …”
“Toe Monique in sy lewe gekom het dat u jaloesie ervaar het?”
Kira sug. “Ja. Ek het maar te goed gesien dat ek nie by so ’n beeldskone en ryk meisie kon kers vashou nie.”
“Skoonheid vergaan, maar deug bly staan. Geld is ook nie alles nie.”
Kira kyk verbaas na haar.
“Mense word maklik deur skoonheid verblind,” voeg Lucille by. “Daardie man het blykbaar ’n prys betaal … Maar nou sê ek te veel.”
Sy skryf iets in haar boekie en Kira hou haar dop. Daar is iets simpatieks omtrent dié kaptein, dink sy. Sy is nie ’n harde polisievrou wat lyk asof sy al alles aan die skadukant van die lewe gesien en beleef het nie.
“Was u al ooit verlief, kaptein?” vra sy.
Die bruin oë ontmoet hare en in hulle dieptes sien sy meteens kwesbaarheid.
“Ek was al. Dit het nie uitgewerk nie. Ons was saam in die polisiekollege.”
Dan weet jy hoe seer maak ’n liefdesteleurstelling, dink Kira.
Lucille skraap haar keel. “Nou ja, dit is seker maar goed dit het nie uitgewerk nie, want ek hou van my werk, terwyl Soois wou hê ek moes gou ophou en kleintjies kry.”
Nee, dink Lucille, die seerste was toe haar pa met ’n ander vrou weggeloop het en hulle – haar hartseer ma en hulle drie kinders op laerskool – net so gelos het. Maar sy gaan dit nie voor dié vreemde vrou noem nie, al lyk sy ook hoe goedhartig. Voorkoms kan misleidend wees. Buitendien wil sy nie hê Kira Trollip moet haar jammer kry nie. Sy moet ook nie lyk asof sy swak plekke in haar mondering het nie.
“Het u geweet dat mevrou Smit karate geneem het?” vra sy die professor, wat haar met ’n skuinsgedraaide kop sit en betrag asof sy haar hart en gedagtes kan lees.
Kira is opreg verbaas. “Nee. Het sy al ’n swart gordel of iets?”
“Nee, nog nie, maar sy het lank karate geneem en sy beweer sy kan haar teen enige aanvaller verdedig.”
“Dit beteken dat sy nie so tingerig is soos sy voorkom nie.”
“Juistemint. Sy is sterker as wat sy lyk.”
Kira lig een wenkbrou vraend. “Is sy ook ’n verdagte?”
“Wel … ja. Sy het net soveel rede soos enigiemand anders gehad om ’n wrok teenoor mevrou Brand te koester. Jaloers te wees.”
Ná ’n stiltetjie vra sy: “Hoe laat gaan u in die oggende draf?”
Kira is dadelik op haar hoede. “Ek staan sesuur op en draf ongeveer ’n halfuur tot ’n uur lank.”
“Het u die oggend van mevrou Brand se dood enigiemand of enigiets verdags gesien of gehoor?”
“Nee. Die straat was stil. Anderkant die rivier het ek studente gekry wat ook draf. Ek het agtergekom iets is nie pluis nie, want ek het al van die berg af gehoor dat sirenes hier onder loei. Toe ek terugkeer, sien ek die polisievoertuie en ambulans voor die Brands se huis staan.”
Lucille skryf in haar boekie, dan klap sy dit toe. “Ek wou eintlik met u suster ook gesels het.”
“Sal ons tee drink en haar nog tyd gee om op te daag?”
“Dit sal gaaf wees, dankie.”
Kira gaan kombuis toe. Sy kom agter dat sy liggies bewe. Genade, wat gaan nou met my aan? wonder sy. Ek hoef mos nie bang te wees nie.
Om haar kalmte te herwin, maak sy sommer self tee. Sy is verlig toe sy Liana se motor hoor aankom. Dankie tog vir ’n weerligafleier.
Liana en die kaptein is druk aan die gesels toe sy met die skinkbord tee op die stoep uitgaan.
“Haai, sus, Lucille vertel my nou wat die nadoodse ondersoek opgelewer het,” sê Liana.
Kira sit die skinkbord neer. “Dis seker taamlik voor die hand liggend, of hoe?”
Lucille kug. “Mevrou Brand is met ’n mes gesteek waarvan die lem breed is, soos ’n slagtersmes. Die tuinier is oor die kop geslaan met ’n harde, stomp voorwerp. Hy is ook in die gesig geslaan of geskop. Die persoon of persone wat albei moorde gepleeg het, moes sterk gewees het.”
Kira voel hoe haar maag draai. “Hoe aaklig! Dis nie te sê ’n man het dit gedoen nie, is dit?”
Lucille skud haar kop. “Nie noodwendig nie. Ek sou dit byvoorbeeld ook kon regkry.”
“Sal