Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan

Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan


Скачать книгу
jy wil my oor iemand uitvra.”

      Lucille skink eers melk in haar tee en voeg drie lepels suiker by. “Ja. Hoe goed ken u … julle … die Peense?”

      Kira en Liana wissel ’n blik. Kira weet sommer haar suster dink ook aan Geert se bewering dat Jaco Peens baie by die rivier geparkeer het.

      “Ons ken hulle van sien en so aan, maar ons is nie vriende nie,” sê Liana. “Lettie Peens en Monique Brand het alewig oor en weer gekuier. Ek skat hulle was beste vriendinne.”

      Moedswillig sê Kira: “Waarom vra jy?”

      Haar vermoede dat Riki weer geskinder het, word beaam, maar nie op die manier wat sy verwag het nie.

      “Mevrou Smit beweer dat meneer Peens geld by die Brands wou leen, want hy is glo in finansiële moeilikheid.”

      “Wat? Ek dag Jaco Peens rol in die geld,” roep Liana uit. “’n Ander ou se geldsake is ook dikwels duister.”

      Lucille kyk haar onderlangs aan. “Professor Brand het glo geweier.”

      Kira frons. “O, en toe probeer Jaco dit uit Monique kry?”

      “Hoe weet u dit?” vra Lucille onmiddellik.

      Kira kan haarself skop. Nou moet sy verduidelik. “Nee, ek bespiegel maar net. Sy was in eie reg glo skatryk. Hulle was in elk geval goeie vriende.”

      Die kaptein kyk bykans agterdogtig na Kira. “Sou u beweer dat sy hom besonder simpatiekgesind was?”

      “Sy motor is onlangs dikwels hier naby geparkeer gesien.” Kira kry dadelik spyt dat sy dit verklap het.

      Liana sien blykbaar haar ongemak, want sy kom tot haar redding. “Geert de Boon, my vriend wat langs professor Brand woon, het dit beweer.”

      Kira kyk hoe die kaptein die inligting registreer en dat sy weer ’n aantekening in haar boekie maak.

      “Meneer De Boon is ’n prokureur met ’n praktyk op die dorp, nè?” sê-vra die kaptein.

      Kira knik. “Ja, hy is.”

      “Jou tee word koud, Lucille,” sê Liana. “Terloops, jy kan maar die ge-u los. Ons is Liana en Kira – ons is nie formele mense nie.”

      Lucille roer haar tee en teug daaraan. Sy knik instemmend, al keur sy dit nie regtig goed dat ’n mens te eie raak met getuies en verdagtes nie. Sy ken Liana darem al ’n paar jaar lank. Die twee susters het haar in elk geval pas ’n goeie leidraad gegee. Wat as die Peens-kêrel uit magtelose woede vir Monique Brand aangeval het? Nadat sy ook geweier het om hom te help, en dit terwyl hy desperaat is?

      Was hy nie dalk verlief op haar nie? Toe wil sy niks meer van hom weet nie en hy word so kwaad dat hy haar vermoor? Passiemoorde het immers baie variasies.

      Die tuinman het dit gesien en toe slaan Peens hom katswink en gaan gooi hom in die rivier. Hy sal sterk genoeg wees om dit te kan doen, en sonder dat iemand hom sien, natuurlik. Wel, dis nog ’n moontlikheid om op te volg.

      Liana skink vir haar ook tee, maar sy staan en kyk na Lucille. “Dis natuurlik moontlik dat Jaco Peens ’n vreeslike uitval met Monique gehad het … Wag, ek moet liewer nie jou werk oorneem nie.”

      Lucille se oë is waaksaam. “Professor Brand was weg en die honde het meneer Peens geken omdat hy gereeld hier gekuier het?”

      “Nee, wag,” sê Kira. “Waarom sou hy Monique wou doodmaak as hy dalk ’n verhouding met haar gehad het?”

      “Hier’s ’n baie groot slang in die gras,” knik Lucille.

      “Lettie,” sê Liana opgewonde. “Sy het uitgevind en in haar woede, vernedering en jaloesie haar mededinger vermoor.”

      “Daar is nou so baie verdagtes dat arme Lucille nooit die saak opgelos gaan kry nie,” merk Kira droog op.

      Lucille kyk uitdagend na haar. “Watch my. Ek sal dit nog uitpluis, al is daar hoeveel aandagafleiers. Hierdie saak gaan my maak of breek.”

      “Dan hoop ek dit maak jou,” sê Kira en sien met verbasing dat Lucille vir haar die mooiste glimlag gee.

      “Dankie vir die tee, maar ek moet nou gaan,” kondig sy aan. “Julle was vandag ’n groot hulp.”

      6

      Lucille lui die voordeurklokkie. Sy hoop die prokureur is tuis, want sy het spesiaal op dié tyd gekom om hom kans te gee om van die werk af te kom. Dis nog lig en dis soel vanaand, sodat sy wens sy kon nou gaan stort.

      “Toe nou,” sê sy hardop. “Maak oop. Ek het nie lus om met jou te sukkel nie.”

      Eers ná ’n ruk gaan die deur oop en daar staan die man in sy baaibroek. Nie sleg nie, dink sy. Liana Trollip het goeie smaak.

      “Meneer De Boon, ek is jammer om al weer te pla, maar daar is net iets wat ek met u wil uitklaar.”

      Hy stoot sy onderlip uit asof hy dink dis nie geleë nie, maar sy kyk hom dwingend aan.

      “Goed dan,” willig hy in. “Ek weet nie wat ek u meer kan vertel as die bure nie, maar kom in. Gee u om as ons agtertoe gaan? Ek was besig om die swembad skoon te maak, daarom dat dit my so lank geneem het om die voordeur te kom oopmaak.”

      “Nee, ek gee nie om nie. Enige plek is goed genoeg om te gesels.”

      Toe hulle deur die huis loop, dink sy dat dit glad nie sleg lyk vir ’n vrygesel se plek nie. As hulle sou afhaak, kan Liana net so kom intrek en alles sal reg wees. Die huise in dié straat is almal so keurig. Dis soos iets in tydskrifte of flieks. Een van daardie flieks waar die plek so perfek is en die mense op die oppervlak ook, maar eintlik is daar gevaarlike onderstrominge en geraamtes in die kaste.

      Geert de Boon beduie dat sy op ’n stoel langs die swembad kan sit. “Ek hou maar aan met blare uitskep, want mense kom kuier en ek wil nie ’n morsige swembad hê nie, maar ek sal alles hoor wat u sê.”

      Lucille sit en kyk na hom. Mooi gebou, en hy maak gereeld swembad skoon. Net anderkant die heining woon die Brands. Sou hy en die mooi buurvrou nie soms oor die muur gesels het nie, of waar ook al? In die straat, op die inrit, as hulle mekaar in die dorp raakloop? Hy sou haar tog raakgesien het, want sy was beeldskoon en sy sou hom seker ook raakgesien het, want hy is nogal aantreklik. Hy het nog nie met Liana Trollip getrou nie. Wil hy sy brood aan albei kante gebotter hê? ’n Vrou hê, maar ook vry wees? Het hy ’n oog vir mooi vroumense? Die meeste mans het maar, dink sy wrang.

      Dit lyk asof hy selfbewus is, maar hy weet natuurlik hy lyk goed in daardie kleinerige baaibroek. Mooi bene ook. Blond, soos Hollanders gewoonlik is.

      “U wou my iets vra,” onderbreek hy haar gedagtegang en bly staan om blare uit die net te haal.

      “Ja. Ek was by die Trollip-susters en hulle het beweer dat u gesê het dat u dikwels meneer Jaco Peens se motor hier geparkeer gesien het. Is dit waar dat hy dikwels hier was?”

      Sy sien hy lyk half verleë, half vies. “Nou ja, Liana-hulle het u vertel, en dit is so. Ek wou nie sommer teenoor u skinder soos ’n ou vrou nie. Jaco Peens se motor wás dikwels hier, ook met tye dat ek geweet het professor Brand is óf by die werk óf uitstedig.”

      Lucille skryf in haar boekie. “Goed, ek wou dit by u self gehoor het, nie tweedehands nie. Was sy motor byvoorbeeld op die dag van haar dood hier iewers geparkeer?”

      “Nie wat ek gesien het nie, maar ek het dalk net nie opgelet nie. In die oggende is ek haastig werk toe en daardie dag is ek vroeg weg.”

      Nog een wat so naby en tog so ver was, dink sy meewarig.

      “Wanneer het u laas vir meneer Peens gesien?”

      “Ek is nie seker nie. En ek gaan nie raai en jok nie.”

      “U het mevrou Brand taamlik goed geken, nie waar nie?”

      Hy kyk haar takserend aan. “Ja, natuurlik. Ons het dan


Скачать книгу