Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan
Lucille bloedrooi. Hemel, wat sal die man van haar dink? Sy klink so onprofessioneel!
Sy loer na hom om sy reaksie te sien, maar hy sit met ’n stroewe gesig by die venster en uittuur. Sy ontspan weer. Dalk het hy nie agtergekom wat sy gesê het nie.
Hemel, maar die man is stunning. Dan is hy nog sjarmant en galant daarby. Die soort wat jou eerste laat instap en vir jou die deur oopmaak. Outyds maar oulik. Sy ma het hom mooi grootgemaak.
Sy loer na hom en die gedagte kom by haar op dat dit net lekker kan wees as daardie sterk arms jou omhels en daardie mooi mond jou soen. Nee, sy mag nie só aan ’n verdagte dink nie. Dis uiters onprofessioneel.
Al meer begin sy die nare vermoede kry dat iemand wat jaloers was sy vrou ingedoen het. Iemand wat hom wil hê. Daardie mooi professor van langsaan kon dit maklik gedoen het. Sy is wel slank, maar sy lyk fiks en dus sterk genoeg. En sy was in die omtrek. Sy het die motief, want hy het haar vir sy vermoorde vrou gelos. And hell hath no fury like a woman scorned. Dis nou een stukkie Shakespeare wat sy ken, want dis iets wat almal altyd vir mekaar aanhaal. Al het dit lank gelede gebeur, het die haat en jaloesie waarskynlik soos ’n kanker aan die professortjie gevreet. Toe wag sy net tot die tyd en omstandighede ryp is en Reinhard Brand uithuisig, en sy slaan toe.
Maar waarom sou dit haar so lank geneem het? Sou die gedurige vaskyk in die skone Monique haar naderhand skoon van haar trollie afgestoot het?
Die honde ken haar en die tuinier ook. Maar sou sy die tuinier ook kon uitwis? Hy was dalk ’n getuie. Dalkies het hy te vroeg vir werk opgedaag en haar op heterdaad betrap, besig om die mes in te druk in die vrou wat haar liefde verydel het.
Hoe sou sy dit reggekry het om die tuinier te oorrompel?
Nogtans, sy moet ondersoek word. Sy het kwansuis gaan draf en die konstabel het bevestig dat sy beswete by die moordhuis aangekom het. Iewers moet daar getuies wees wat haar sien draf het.
Hier is baie drade in hierdie lap verweef, Lucille Wiid, vertel sy haarself. Jy sal hulle baie mooi moet uitpluis.
Nadat sy die professor afgelaai het, ry sy tot langs die rivier en hou in ’n skaduryke kol stil. Sy moet dink. Dínk.
Die professor kon skelmpies teruggekom en sy vrou vermoor het, en toe die tuinier opdaag, moes hy uit die weg geruim word. Toe glip die professor weg en maak asof hy heeltyd in Kaapstad was.
Meteens is Lucille Wiid se oë vol trane. Sy het lanklaas gegrens. Sy wil nie hê dié man moet die moordenaar wees nie. Wat makeer haar tog vandag dat sy so simpel is? Dis daardie lyk wat so sleg gelyk het. Sy ril van kop tot tone.
Eers nadat sy lank daar gesit het, skakel sy die motor met ’n sug aan. Sy moet gaan hoor wat die nadoodse ondersoeke alles opgelewer het.
Reinhard sit nikssiende in sy studeerkamer en herleef die lykuitkenning. Hy vryf oor sy gesig en hare asof hy die herinnering wil wegvryf. Gewelddadige dood is sowaar nie aangenaam om te aanskou nie.
Hy sal vir arme Abel se vrou pensioen betaal, anders krepeer sy. Abel was die broodwinner.
Wat het hy wat Reinhard is nie gedoen nie? Wat het hy nie alles weggegooi nie? Die lewe het ’n manier om jou te straf. Die wet van vergelding, word dit genoem. As hy nou in die gemors is, het hý dit veroorsaak.
Meteens het hy ’n oorweldigende begeerte om Kira te sien. Kira soos sy was, met haar pragtige oë vol liefde en stralend van geluk. Haar blink hare en soenbare mond. Die manier waarop sy hom kon terg en dan klokhelder daaroor lag.
Hy kreun. Hy moet vergeet van haar, homself regruk, en gaan kyk hoe dit met Riaan gaan.
Riaan was lief vir arme ou Abel. Hy gaan huil as hy hoor Abel is dood. Meteens besef hy dat Kira en Liana niks van Abel weet nie en seker die jongste nuus sal wil hoor. Hy sal tog maar oorstap soontoe.
Hy maak die Trollips se hekkie oop en stap met die tuinpaadjie langs voordeur toe.
“Hallo,” groet hy toe hy Kira se slanke figuur herken waar sy besig is om gesiggies in ’n blombak te plant.
Sy staan blosend op, half verskrik, soos ’n diertjie wat deur ’n groter dier bedreig word. Dit maak hom sommer week.
“Lyk my ek maak jou skrik. Almal is ook so op hulle senuwees deesdae.”
“Hallo, Reinhard. Ek het jou maar net nie hoor aankom nie, dis al. Jy het altyd so gesluip …”
Sy byt op haar lip. Nee, herinneringe moet sy nie ophaal nie. Sy hurk weer sodat sy haar blosende gesig kan wegsteek. “Wag dat ek net die laaste plantjie vasdruk, dan kan ons gesels.”
Hy wag geduldig, maar sy is skoon onhandig, so bewus is sy van die groot figuur wat met sy duime in sy denim se sakke staan. Hy is besig om haar openlik te bekyk, asof hy wil bepaal presies hoe sy daar uitsien.
“Klaar,” kondig sy aan en trek die plastiekhandskoene uit. “Het jy lus vir koeldrank, of tee?”
“Koeldrank sal lekker wees, dankie.”
“Maak jou solank op die stoep tuis, dan gaan haal ek dit.”
Sy haas haar binnetoe en dink: Liana is nie hier nie, ek is alleen by hom. Waar dit altyd vir haar wonderlik was, is sy nou skrikkerig vir hom. Sy kan haar emosies skaars in bedwang hou en al raas sy met haarself, kan sy nie help om soos van ouds op hom te reageer nie.
“Ek het ongelukkig slegte nuus,” vertel hy haar toe sy met die koeldrankglase uitkom en hom een gee. Hy sit dit op die tafel neer, vleg sy vingers ineen, leun vorentoe en kyk haar stip aan. “Die polisie het Abel, ons tuinier, se lyk in die rivier gekry.”
Kira skrik so groot dat sy haar koeldrank stort. Vinnig sit sy die glas neer en probeer die nat kol afvee.
“Liewe hemel, nie arme Abel ook nie,” prewel sy. “Ons ken hom al jare lank.”
Reinhard frons diep en hy lyk bleker as gewoonlik. Spore van spanning wys op sy gesig. “Dis heel waarskynlik nie hy wat Monique vermoor het nie. Hy was in elk geval ’n goeie ou. Soos die kaptein gesê het: the plot thickens.”
Hy glimlag wrang, sit regop en neem sy koeldrankglas. Met een teug ledig hy dit. “Ek wou julle net kom vertel voordat julle dit in die koerante lees. Dis verstommend hoe alles in die pers uitslaan.”
Kira sit hom lam in die lyf en aanstaar. Abel is nou as verdagte uitgeskakel. Wie is dan skuldig?
5
Kira haas haar na die voordeur toe die klokkie lui en daar staan kaptein Lucille Wiid.
“Môre, professor. Ek hoop ek is nie nou ongeleë nie, maar ek sal met u en u suster ’n paar woorde moet wissel.”
“Liana is dorp toe, maar ek verwag haar binnekort terug. Wil u nie inkom nie?”
“Gee u om as ons op die stoep sit? Dis ’n mooi tuin, en buitendien is dit vrek warm.”
“Goed, kom ons sit hier.”
Die kaptein neem plaas op die stoel waar Reinhard slegs ’n halfuur gelede gesit het. Kom sy ook om die nuus van Abel se dood mee te deel? wonder Kira.
Daar is iets omtrent dié jong vrou wat vertroue inboesem. Sy kan nie help om van haar te hou nie. Wat jy sien, is waarskynlik wat jy kry. Sy is oop en eerlik en het ’n aangename gesig. Nie mooi nie, maar ook nie onaansienlik nie. Bietjie oorgewig, maar alles is in proporsie. Mooi tande ook, en goed versorgde naels. Haar praat is ’n mengsel van plat en hoogdrawend, wat nogal amusant kan wees.
Karools die kat kom aangestap, stert omhoog, en vly hom teen die kaptein se bene aan. Sy buk af en streel hom.
“Haai, jou mooi ding. Is dit ’n mannetjieskat?”
“Ja, sy naam is Karools en jy kan gevlei voel dat hy by jou flikflooi.”
“Ek hou van katte, veral rooies.”
Karools loop na Kira en spring op haar skoot. Die kaptein glimlag. “Lief vir sy ounooi. Ek het ook ’n kat. Haar naam